Читать книгу Kraak - Rouxnette Meiring - Страница 8

Оглавление

2

’n Vulliswurm op pad na die energiedepot kom slurpend en snuiwend om die hoek van ’n gebou in Weeslaan met Buitengrag af, en Kaleb druk my agter hom teen die muur vas, sy sterk arm warm oor my maag.

Die wurm seil heuphoogte by ons verby, sy flikkerende rekenaar-oë soekend na vuilgoed of na die uitlaatpunt onder in Buitengrag om aan vas te suig.

“En nou? Hy sal ons mos niks maak nie.”

“Al die rekenaars is gekoppel.” Kaleb laat rus sy agterkop teen die klipmuur. Hy lig sy ken en kyk vir ’n oomblik na die volmaan.

Wit asemrook hang bo sy gladde bruin profiel en sy lippe is … Wat is dit aan hom? Ek skrik toe hy skielik begin praat. “As hulle ons by die kinderhuis begin soek, kan hulle op die vulliswurms se databasis ingaan … Kom, ons gaan haar verloor.” Hy loer om die hoek en vat my hand. Trek my agter hom aan. Elektrisiteit.

“Liewer nog een blok hier af in Weeslaan as agter die wurm aan.”

Ons loop in Breestraat se fietspaadjie af. ’n Ent verder sien ons hoe die nagrok-skim uit Bloem voor ons in Breestraat af sweef …

“Mooi. Sy’t ook uit Buitengrag gedraai, seker die wurm sien volg.”

Die stad lê bedrieglik stil en rustig in die volmaan. Die meeste mense steur hulle nie meer aan die aardbewings nie en dié wat wel ’n storie daarvan maak, drom op die pleine saam. In die Kunsgebou speel die simfonieorkes, al was daar kort tevore ’n aardbewing. Die orkeslede lyk of hulle in die lug hang, helder verlig op die glasverhoog, die gehoor in die donker. ’n Paar mense staan buite of sit in hul gondels in Breegrag om te luister.

’n Lugskip gly dynserig voor die maan verby.

“Het jy gesien waar sy gedraai het?” vra Kaleb.

Ek het nie.

Hy wys met sy ken: “Daar voor by die sop-depot, in Waalstraat regs. Met daai nagrok-storie wat sy aanhet, gaan hulle haar nou-nou optel!”

’n Stadsgondel kom geluidloos om die hoek en gly deur die skadu’s wat die kokerboomlaning gooi en ’n selfstuur soek ’n passasier. Ek sien hoe Kaleb probeer om nie haastig te lyk nie.

Twee vroue staan by die stad se sopgebou. Regteroë voor retinaskan, houers warm sop gly uit. Vir ’n paar oomblikke loop ons deur lug dik met die reuk van boontjiesop. Ek was nie vanaand in die eetsaal nie, onthou ek toe ons in Waalstraat afdraai. Ons het haar ingehaal. Amber is gelukkig nooit gejaagd nie. Sy staan voor ’n gebou op die boonste hoek van Loop- en Waalstraat. Sy kyk op haar polser, dan in die lug op. Sy stoot die houtdeur oop.

“Nou verloor ons haar! Mdisi!” vloek Kaleb en hardloop vooruit na die klipgebou. Ek’s klaar moeg, maar hardloop maar agterna – ek wil nie later alleen in ’n donker gebou ingaan nie. Toe hy die deur oopstoot, is ek weer agter hom. In die donker voorportaal is ’n stel trappe wat boontoe en ondertoe lei. Daar is ook twee hysbakke waarvan een se liggies brand. Kaleb lyk onseker oor waarheen om te gaan.

“Kyk hier …” wys hy en ons buk by ’n ronde deksel in die vloer. Dis van dieselfde klein baksteentjies gemaak as die res van die vloer, met ’n swart ysterhandvatsel wat plat vou. “Ek dink ek het iets witterigs hier sien flits toe ek die deur oopgemaak het – dit was dalk die mou van haar rok toe sy die deksel toestoot.”

Kaleb maak ’n klein beweging tussen sy duim en wysvinger en die polser aan sy gewrig verlig ’n paar lang, gekrulde blonde hare wat onder die deksel uitsteek. Amber met haar wilde bos rastalokke – oral haak ’n sliert vas.

Hy lig die deksel af.

“Gaan jy saam of bly jy?” Ek aarsel. In die lig wat sy polser in die gat gooi, sien ek ’n houttrap wat ondertoe begin lei en dan raak alles swart. Ek is bang vir donker en ek’t noutevrees, selfs in my drome. Maar ek wil nie hê Kaleb moet dink ek raak maklik bang nie.

“Wil jy hê ek moet hier waghou?”

“Vir wat? Ek dink hierdie opening is weer een van daai goed wat party mense sien en party nie. Dié wat nie moet sien nie, sien nie.” Kaleb lig met sy polsflits so ver moontlik in die donker af.

“Gaan die gewone trappe nie maar na dieselfde plek toe nie?”

“Wat’s die kanse? Buitendien, sy’s hier af, so dis waar ons moet af.”

“Ek kyk net gou of niemand aankom nie.” Ek spring op voor hy iets kan sê, stoot weer die deur oop en snak diep teue koue naglug in, om te probeer moed skep vir die donker trappe.

Soms kry mens die seereuk deur die koepelpoort by Gragbeheer tot hier in die stad, maar vanaand kom daar ’n luggie reguit van die berg af met die skerp reuk van fynbos, alles met koepellug-regulering. Waalstraat en Loopstraat lyk leeg sover ek kan sien.

Terug by die gebou in. Net Kaleb se kop steek nog bo die gat uit en hy lyk geïrriteerd. “Wat het jy so lank gaan maak?”

“Hier’s ek nou.” Ek gaan sit eers met my bene in die gat, draai dan op my maag en klouter agter Kaleb aan.

“Oppas vir die derde trap, hy voel effens vrot – en stoot die deksel terug op sy plek.”

Die donker sluk ons in.

Toe ek af kyk, sien ek Kaleb se polsflits wys ’n rot wat aan die onderpunt van die trap wegskarrel. Ek prop ’n stuk van my vlegsel in my mond om nie te gil nie. Na nog ’n paar trappe staan ons op die klam grondvloer. Daar is ’n gang wat strek so ver as wat Kaleb se polsflits kan lig, skuins afdraand, dieper die ingewande van die stad in. Ons begin loop. Die wande is plek-plek van klip, maar meestal is dit net klam grond en in die bewe-lig van die polsflits lyk dit amper lewendig.

Hoe het sy geweet waarheen om te gaan?

Dit lyk my ek het hardop gewonder, want Kaleb sê: “Dis Amber. Hoe weet sy dinge?”

“Dink jy die tonnel is gegrawe in die tyd toe hulle nog moltreine hier gehad het?” Ek weet ek praat te veel, maar dis my senuwees.

“Wie weet, dis in elk geval voor die see ingekom het.” Hy lig met sy polsflits teen die mure en bokant van die gang. Hy kyk seker of hy van die stad se elektroniese oë kan sien.

“Kom, sy’s al ver.” Kaleb begin drafstap. Hy’s korter as ek, maar fikser en sterker en ek sukkel om naby sy ligkol te bly. By ’n draai voel dit of die gang teen ’n skerper hoek begin daal. Dit ruik na muf en modder … en iets sinteties wat my aan niks herinner wat ek naam kan gee nie. Hier en daar blink ’n oog en ek wil nie eers raai waaraan dit behoort nie.

Ek kyk oor my skouer, raak yskoud. Dit lyk of die wande nader aan mekaar beweeg, asof die gang nouer en donkerder word, en dis asof iets vir my kyk … Of is dit weer my verbeelding? Vorentoe …

Die pad kronkel al hoe meer – eers na links, dan na regs, asof dit nie tot ’n besluit kan kom nie. Ons daal dieper. Die bodem raak natter, ons begin plas-plas loop.

Om die volgende hoek sien ons vir Amber.

Daar’s lig voor in die gang. Die sintetiese reuk kom dalk daarvandaan? Waar’s Kaleb? Hy was dan nou net voor my! Moet ek omdraai en hardloop?

Dan sien ek hom voor my, platgedruk teen die donker wand van die muur, en ek ontspan. Hierdie verbeelding van my gaan my nog laat riw.

Daar’s nie net lig voor ons nie, maar klank ook – ’n deurmekaarspul van stemme, mense wat opgewonde praat in bekende en onbekende tale, en die geluide van voorwerpe wat rondgeskuif word.

Ons volg Amber stadig, al teen die muur langs. Sy loop sonder om te huiwer die lig binne. Ek verwag dat die stemme skielik sal stil raak, maar hulle hou aan praat. Dis asof Amber in die niet in geloop het, opgelos het in die lig voor haar. Ek en Kaleb bly agter in die donkerte.

Daar’s ’n groot vertrek, helder met die blouerige skynsel van kernlig. Kaleb staar na die perfekte liggame in deurskynende plastiekklere. Beslis onwettige immigrante uit Lug-Eurasië – die nuwe, gekloonde mense wie se liggame ’n perfekte manlike of vroulike vorm het. Dis die eerste keer dat ek van dié mense in lewende lywe sien. Ek het hulle al op polsnuus gesien, maar alle kontak tussen ||Hui !Gaeb en Lug-Eurasië en Subsiber-Amerika is deur die ||Hui !Gaeb-owerhede verbied. Handel met die res van Chinafrika word streng gekontroleer.

Ek stamp aan Kaleb wat oopmond na die mense staar. Om te dink dat hulle normale liggaamsfunksies ook verander is – iets wat deur ||Hui !Gaeb verbied word. Hier spaar ons nog nie op lyfgeriewe nie.

Die sintetiese reuk is nou so sterk, ek kan dit omtrent proe.

Amber is besig om na een van hulle se verkoopsware te kyk. Sy is die enigste jongmens tussen almal en duidelik uit ||Hui !Gaeb, maar dit lyk nie of enigiemand haar opmerk nie. Drie kategorieë artikels word verkoop. In die middel is ||Hui !Gaeb se natuurlike, organiese produkte – klere van pynappelvesel, rosig gekleur met kokosneutdop, bamboesgras- of syrokke en hennepsandale, bokmelk, insekbiltong, ongekleurde kaas, bokmelkbotter en outydse boeke met prentjies in. Dinge wat heeltemal onbekend geword het in ondergrondse Subsiber-Amerika, die res van Chinafrika wat uit los plase bestaan, en Lug-Eurasië. Van die mense ruik aan die kos en praat opgewonde daaroor.

Teen die een muur af is ge-G-de nywerheidsprodukte van Subsiber-Amerika, alles sinteties. Ons het in ||Hui!Gaeb nog net gehoor daarvan – ragfyn klere wat glo so warm soos woljasse is, aarbeie so groot soos pomelo’s wat maande lank vars bly, roomys wat nie drup of smelt nie.

Amber lyk spesifiek geïnteresseerd in die derde groep items teen ’n ander muur af: towerware wat uit die Eurasiese luglande en hul alien-kolonies kom – streng verbode in ||Hui !Gaeb. Die owerheid vrees dit wat die wetenskap nog nie kan verklaar nie.

“Dis ons eie mense wat ons uitverkoop. Lug-Eurasië kruip ||Hui !Gaeb van haar onderkant af binne. Wat soek Amber hier?” sis Kaleb.

Die dun pypies wat voor aan die Lug-Eurasiërs se middelvingers vas is, is seker wapens – nog iets wat ||Hui !Gaeb lankal nie meer ken nie. Die geweldlose stad. Net vrees word nog toegelaat.

My oog vang ’n jong meisie wat eenkant teen die muur leun – die enigste ander jongmens buiten Amber. Dit lyk of sy die gebeure bloot staan en dophou. Sy dra ’n lang, donkergroen syrok. Haar swart hare is hoog in ’n bokstert vasgemaak en iets aan haar voorkoms is uitlands, luglands dalk – oë waarvan die hoeke effens boontoe trek. Dalk net ’n mode, dit word so geverf of tydelik verander. Ten spyte van haar swaar grimering skat ek haar nie ouer as veertien of vyftien nie. Nou lyk dit of haar oë Amber volg.

Amber kyk tydsaam deur nog items uit Lug-Eurasië: klein potjies wat enigiets eetbaars kan optower waarvoor jy wens; leë raampies waarin ’n skyngram van iemand na wie jy verlang duidelik raak; speelgoedkarretjies wat jy soos ’n troeteldier kan grootmaak en eendag in kan rondry …

Amber was klaarblyklik op soek na iets spesifieks. Sy buk en lig ’n voorwerp onder ’n paar houers uit. Dis ’n outydse handspieël. Sy kyk lank daarna. Sy draai dit om, voel daaraan, ruik daaraan. Die binnekant lyk vloeibaar – amper soos kwik. Dit bult na die kante toe uit toe sy druk daaraan, maar dit loop nie oor nie.

“Nou moet sy wragtig hier uit kom,” prewel Kaleb. “As sy iets koop, is sy dood.”

Die meisie met die donkergroen syrok hou haar steeds dop.

Dan kom die bekende trilling onder ons voete.

Kraak

Подняться наверх