Читать книгу Kraak - Rouxnette Meiring - Страница 17

Оглавление

10

In die grag weerkaats die kleurvolle baniere en plakkate van die Vryheidsfees, vroliker en meer uitspattig as verlede jaar, maar die koepellug lyk dynserig en onheilspellend. My hand maak waterpaadjies in die Buitengrag terwyl ek skuins in die gondel oorleun. Shaka lyk oulik met sy gondelierspet. Hoe het hy dit reggekry om oom Diekie te oortuig dat hy sy werk vir die oggend kan oorneem? Kaleb lê agteroor met sy mooi oë toe …

Ons vaar langs die feesorkes verby. Amber sit regs voor met haar tjello in ’n klankwêreld van haar eie. Die dirigent swaai verniet sy stokkie in haar rigting. Dit moet hom irriteer dat sy nie na hom kyk nie, maar Amber het my al vertel sy voel sy bewegings aan en hoef nie te kyk nie. Dit bly ’n teer sakie tussen hulle. Hulle speel ’n mengsel van baie ou musiek en ||Hui !Gaeb se nuwe komposisies. Dit laat my nostalgies voel – ek verlang na dinge wat ek nie eers ken nie.

Iets torring aan die uithoeke van my bewussyn. Simpatiek, intelligent, iets naby my, wat kommunikeer …

Ek kyk op en sien Shaka hou my dop, geamuseerd. Hy knik met sy kop in Kaleb se rigting. Ek sien nou Kaleb maak of hy slaap maar sy oë beweeg onder sy toe ooglede. Hy lê en luister waaroor ons praat.

Dis skielik vir my ook snaaks en ek sê, “Sj …”

“Kom nou, Kara. Ek is seker Kaleb slaap, ons kan maar gewoonweg praat asof dit een van ons nagtelike ontmoetings is,” sê Shaka.

Ek frons – het darem nie bedoel hy moet van goed soos nagtelike ontmoetings praat nie.

Kaleb se ooglede fladder nog meer. Ek byt op my onderlip om nie te lag nie.

Shaka hou aan: “Ek het ’n maklike manier om uit te vind of mense slaap. Dis ’n capp wat ek ontwerp het. As iemand slaap, doen dit niks, maar as hy maak of hy slaap, is dit uiters pynlik …”

Kaleb wip regop in die gondel. Ek en Shaka lag hardop.

“Welkom terug, broer. Ek’t gedink ons moet dalk begin praat, dan kan ek jou aflaai sodat ek en Kara privaat oor ons seereis kan gesels.”

Kaleb kyk van hom na my, nie seker of Shaka dalk tog ernstig was nie.

“Hy speel net, Kaleb. Maar dis waar, ons moet praat, daar is nie baie tyd nie,” sê ek.

Hy ontspan en maak ’n vingerbeweging wat sy polser aktiveer. “Goed, Shaka, wat sou jy sê het ons nodig as hierdie koepel ingee?”

Shaka hou op roei en kyk eers om hom. Die geraas van die fees maak dit moeilik om selfs mekaar te hoor. In Weeslaan kom die stadsraad op hul oop sweefkar af en wuif vir almal.

Shaka lig sy pet en maak ’n sit-buiginkie. Hulle sal dink dis uit respek, maar ek en Kaleb weet van beter. Hy is vir my verskriklik snaaks en ek kan nie glo hy is ’n paar jaar jonger as ek nie.

“Daar is nou ’n ding wat julle goed sou kon gebruik, afhangende van hoeveel kinders julle moet saamsleep. Maar sover ek weet, is dit die enigste sweefkar in ||Hui !Gaeb. Die stadsraad voel dis ’n onnodige luukse vir sy burgers.”

“Hoe sou ons in elk geval daai ding gelaai hou?” vra Kaleb.

“Ag, die laaiers en omskakeling werk so goed, jy sal geen probleem hê in die son buite die koepel nie.”

“Mdisi, maar dit sou ’n lekker ding wees om te gebruik – die owerste van alle swewers!” Kaleb se oë blink by die gedagte. “Ons kan dalk hulle s’n leen, dis tog vir ’n goeie doel.”

Ek en Shaka lag vir hom.

“’n Ander ding wat julle goed kan gebruik, is een van die Stadsraad se drone – om plekke vooruit te gaan verken, veral gevaarlike plekke,” sterk Shaka Kaleb in sy kwaad.

“Vergeet dit. Ek weier dat ons goed vat wat nie lewensnoodsaaklik is nie,” keer ek voor hulle te opgewonde raak oor al die speelgoed.

“Maar ’n droon kan lewensnoodsaaklik …” begin Kaleb.

“Kaleb!” Ek weet ek klink soos matrone by die kinderhuis, maar dit werk. Hy los dit.

Toe ons onder die volgende brug deurgly, staan oom Diekie op die wal en waai aggressief met sy sakdoek vir ons. Hy skree iets, maar ons kan hom nie hoor nie. Ek besef Shaka het wraggies nie eers sy toestemming gehad nie!

“O dias, hy is al terug!” Shaka beduie vir die oom dat hy net daar voor op die hoek van Wees- en Langgrag sal omdraai. “Kayo. Hier’s wat julle nodig het, en ek moet gou praat of oom Diekie pols my oupa.”

Hy begin ’n lys items opnoem. Gelukkig registreer Kaleb dit dadelik op sy polser, want hy praat te vinnig vir my om alles in te neem. Waar kry ’n mens daardie goed? Ons sal die stadsraad se stoorkelders moet besteel en daarvoor sien ek nie kans nie! Maar Kaleb lyk opgewonde oor alles wat hy moet bymekaarmaak. Vir my voel dit nog onwerklik – die idee dat ons hierdie veilige stad moet verlaat, ’n stad waar absoluut niks fout is nie. Wel, niks behalwe vryheid en die helfte van ons ouers aan die slaap nie. Verder het ons alles.

Toe die gondel voor oom Diekie vasmeer, spring Shaka nonchalant op die wal en begin die oom paai met allerhande praatjies. Kaleb help my uit en ons probeer so gou moontlik wegkom – bewoners van die kinderhuis beland baie makliker in die moeilikheid as jongmense wat by hulle ouers bly.

Ek hoor hoe Shaka my roep, maar Kaleb neem my arm en stuur my vorentoe. Ek kyk om. Hy staan nog langs die gondel met sy hande in die lug asof hy vra: Wat dan van ons twee en die bootreis?

Dit laat my meteens vreeslik hartseer voel.

Kraak

Подняться наверх