Читать книгу Judaskus - Rudie van Rensburg - Страница 10

7

Оглавление

TJ sit met opgetrekte bene op die sitkamerbank, die grootskerm-TV se afstandbeheer in sy hand. Hy kyk nie regtig na die rugby nie, sy gedagtes by Snake se fokkop met die oom in Bloemfontein. Dit het hulle albei geld gekos, tien donnerse duisend rand! Toe Daisy vanoggend die maand se salarisse in die bruin koeverte aan hulle gee, het hy en Snake elkeen net dertigduisend gekry.

Toe hy by Daisy kla hoekom hy ook vir Snake se fout moet hoes, het sy net haar skouers opgetrek. “Moenie by my tjank nie, ek het net die koeverte by die poskantoor gaan haal. Bel vir V as jy ingedoen voel.”

Dit gaan nie help nie, weet TJ. ’n Jaar gelede het Snake hom ook geld gekos. Toe darem net vyfduisend rand.

“Jy’s die leier van operasies, TJ,” het V destyds gesê toe hy kla. “As een van julle se stupid optrede die hele land se nuusmedia aan die skreeu kry, word julle beboet as span. Sulke goed maak die cops net hiperaktief – dit weet julle bleddie goed.”

En dit oor ’n stoepkakkertjie! Hulle het by ’n paleis van ’n huis in Pretoria ingebreek, Waterkloof. Die huismense was by vriende vir ’n paartie; hy en Snake moes vinnig werk. Die mense se keffertjie het aanhou blaf en hap na hul hakskene. Terwyl Snake met die kluis besig was, het TJ in die hoofslaapkamer gaan kyk of daar nie ook juwele is nie. Toe hy terugkom, was die hondjie stil … en weg. Hy’t nie vir Snake gevra waar die brakkie is nie.

Toe hy die volgende dag Beeld oopslaan, was daar niks oor die inbraak nie. Hy was happy; zero publicity hou V-hulle aan die smile.

Toe, twee dae later, op Beeld se voorblad: die gevreet van die stoepkakkertjie lewensgroot op ’n foto saam met sy huismense “in gelukkiger dae”. Die opskrif: Hondjie dood in vrieskas gekry ná juweeldiefstal. Dit het ’n helse medialawaai afgegee. Tot die nuus op SABC en e.tv gehaal.

Dat Snake die brakkie lewendig in die freezer kon prop, vertel baie van die man. Hulle woon en werk nou al drie jaar saam, maar wat in daai aap se kop aangaan, sal TJ seker nooit kan uitfigure nie. Snake weet van kluise oopmaak en om deur klein openinge te klouter, maar sy upper storey bly ’n mystery.

Nou moet hy wéér die punch vat vir Snake se fout. Die man gaan hulle nog eendag in diep kak kry. Hulle kan nie bekostig om die volgende job op te neuk nie.

Dis al ’n bietjie meer as drie jaar gelede wat die Orde TJ gekontak het. Hulle het alles van hom geweet: staandemaglid in die army, toe in charge van ’n sekuriteitsfirma se patrollie-eenheid in Joburg, toe hoof van sekuriteit by ’n Randse juwelierskettinggroep. Hulle het ook goed geweet hy het omtrent fokkol verdien, fancy title ofte not.

Hy was reg vir ’n verandering. Lankal geskei van sy vrou, vervreem van sy kids, dik vir sy armgatbestaan – die Orde se timing was perfek. Op 37 was hy nog jonk genoeg vir ’n nuwe uitdaging, al is die risiko’s hoog. Hy moes aanmeld by ’n huis in Aucklandpark, en daar het hy Snake ontmoet, toe ook pas gewerf deur die Orde. Snake se claim to fame is dat hy by drie verskillende firmas gewerk het wat kluise vervaardig en installeer.

V en E het hulle ingewag by die huis. Gemasker. Tot vandag toe het TJ nog nooit hulle gesigte gesien nie, maar die twee gemaskerdes het bleddie intimiderend gelyk.

• • •

Die hoop dossiere op Kassie se lessenaar kantel vir die soveelste keer om. Hy vat ’n klomp van die lêers en sit dit langs sy stoel op die vloer neer. Hy’s nie so gelukkig soos Daniels om ’n vliegdekskip vir ’n lessenaar te hê nie.

Sy oë kyk al oorkruis vandat hy twee dae gelede inligting begin soek het oor die Snawelman, soos Daniels die slagoffer nou amptelik gedoop het. Tussen Kassie en Magrieta het hulle elkeen seker al deur ’n vyftigstuks dossiere geswoeg.

Die probleem is hulle weet nie regtig waarna hulle soek nie. ’n Vermiste, is Kassie se beste raaiskoot. Maar dis nie vanselfsprekend nie. Wat dinge verder bemoeilik, is dat die Snawelman ongeveer sewe jaar gelede dood is, wat beteken hulle moet deur alle onafgehandelde dossiere van tussen vyf en nege jaar gelede werk. Dis ’n móérse lot en nog ’n bietjie.

Kassie stoot sy stoel steunend terug. Tyd om ’n dampie te gaan slaan. Net toe hy wil opstaan, kom sersant Rooi Els met lang treë aangestap.

Rooi is uitasem, breë glimlag op sy blinkgeswete sproetgesig. “Bingo, Kassie, bingo!” sê hy en oorhandig twee groot koeverte.

“Wat’s dit?” vra Kassie.

“Ek’t ’n match vir Snawelman se tanne gekry!” sê Rooi ekstaties. Hy beduie na die venster bo Da Silva se lessenaar. “Net hier skuins agter die mall, by ’n klein praktyk. Van Tonder is die tandarts. Hy’t sewe en ’n half jaar terug nog ’n kroon vir Snawelman ingesit. Hy’t daai skets van Snawelman en die X-rays van sy tande net een kyk gegee, toe sê hy daai groot neus en bek vol stopsels herinner hom aan ’n man wat járre terug by hom was. En wragtig, daar strike ons goud.” Hy beduie na die twee koeverte. “Tjek maar self.”

Kassie bekyk die eerste koevert se dokumente. ’n Afskrif van die man se ellelange geskiedenis by die tandarts wys sy naam is Daniel Knobel, geboortedatum 3 Junie 1924, Rondebosch-adres. In ’n kort verklaring skryf dokter Van Tonder die X-strale stem honderd persent ooreen met die stel wat hy het en die tande behoort sonder twyfel aan Knobel. Die X-strale van die lab en die tandarts is in die ander koevert.

Kassie sit die twee stelle langs mekaar en bestudeer dit aandagtig. Dan kyk hy op na Rooi, wat angstig wag op sy reaksie. “Nice werk, Rooi, baie nice. Dis ons man. Gaan vertel vir die kolonel van jou deurbraak.”

Rooi se sproetgesig blom. “Thanks, Kassie. Ek gaan hom sommer nóú sê.”

Kassie kyk die jong sersant agterna terwyl hy na Daniels se kantoor drafstap. Die ouens hier spot agteraf met Rooi oor sy kort, dik lyfie, maar daai mannetjie gaan nog ’n verdomde goeie speurder word, dink hy. Rooi se geesdrif vir die job ken geen perke nie, en dis al wat ’n mens van ’n partner kan vra.

Judaskus

Подняться наверх