Читать книгу Judaskus - Rudie van Rensburg - Страница 3

Proloog

Оглавление

Jopie Bleekwater neurie ’n wiegeliedjie uit sy kinderdae terwyl hy die binnegoed van ’n vullissak inspekteer. Hy vroetel deur die inhoud. Dié mense het vis gevreet dat dit by hulle ore uitkom. Soveel grate en visbokse het hy nog nie in een sak raakgeloop nie. Dis net I&J en Sea Harvest waar jy kyk.

Hy swaai wild met sy arms om twee lastige seemeeue te verwilder. “Voertsek! Hier’s ’n hele blerrie misipale dumping area vir julle en da’ kom neuk julle hier om my rond!”

Hy kom op ’n wekker af, skud dit ’n paar keer, maar die wysers bly staan. “Kort dalk net nuwe batteries,” mompel hy en sit die wekker in een van die sakke in sy Checkers-trollie. ’n Gekraakte koppie en gebuigde naelvyl vind ook hulle weg na sy trollie. Sy vrougoed gaan bly wees oor die vyl … en oor die botteltjie Vaseline wat hy vroeër ontdek het. Hy’t al vir haar ’n hele pharmacy opgebou.

“Haai, Jopie Bleekwater, en as jy va’oggend so sitten woel met jou eie thoughts?” sê ’n stem agter hom.

Dis Beauty Appel. Sy staan onvas op haar maer bene en wieg. Seker weer die bloutrein gery.

“Nee, Beauty, ek werk vandag om kla’ te kry. Ga’ nie heeldag hier rondhang tussen die meeue en die stink nie. Da’ wag werk by die huis, die vrougoed is besig om die shack te redecorate.”

“Oeee, ghrênd, nè! Ek moet seker ok weer shack opsit. Die geslapery onner die brug issie goed vir my bors ’ie.” Sy druk ’n droë hoesie uit terwyl sy in die trollie loer. “Al iets van value gekry?”

“Ja,” spog Jopie, “’n wekker … hou tyd en als. Ma’ verder kyk ek ma’ nog. Mens weet mos nooit wanneer jy iets groots ga’ strike nie.”

“Reken, nè? Verlere week kry ek toe mos ’n vacuum cleaner hier. Spotless, sê ek jou, Jopie. Van die expensive soort ok nog.”

“En toe?”

“Nee, fok, wat sal ek nou met ’n Hoover onner die brug maak?” lag sy met ’n tandelose mond. “Het ou Sammy Tieties geruil … vir ’n drinkdingetjie. Dit hou my at least warm innie aande.”

Sy hurk langs hom en skeur ’n sak oop, beskou die inhoud met ’n geoefende oog. “Kyk nou hier! Net ’n spul vuil babydoeke. Arme kind het omtrent aan’t kakke gegaan.”

“Ja, ’n baby se maag kan mos ma’ neuk.”

Beauty vroetel tussen die sakke, spring dan skielik vervaard op. “Jou wetterse duiwel!” skree sy en beduie na die sak wat sy oopgeskeur het. “Kyk daar, Jopie, dan sê jy vir my of my oë my verneuk!”

Hy staan op en leun versigtig oor die sak. “Hiertjy!” skree hy en gee ’n paar treë terug. “Dis ’n blerrie skeletonvinger, Beauty! ’n Mens sinne!”

“Sê ek mos, Jopie!”

Hulle skuifel stadig nader. Jopie skiet die gebeente met ’n stokkie uit die sak. Die boonste lit breek af toe dit op die grond val.

“Nogals brittle ok,” sê Beauty.

Jopie druk-druk met die stokkie daaraan. “Al lankal afgesny,” oordeel hy. “Dis ou been hierie. Het lank iewers innie nat gelê, kyk hoe’t die mos oppie ding gegroei. Ons sal die poelieste seker moet loop vertel.” Hy krap die boonste lit nader en skuif dit teenaan die res.

“Boggher die poelieste, Jopie.” Sy spoeg ’n kousel met ’n boog op die grond. “Nee, los die poelieste uit. Ons willie onnodig prob-lems vir onsselwers maakie.”

“Ja, jy’s seker reg. Dis after all net ’n vinger.” Hy krap verder in die sak. “Kom ons kyk net of hier nie nog anner body parts issie.”

Beauty hurk oor die vinger. “Dis mos ’n helse lang vinger dié! Sieka ’n man s’n gewees.”

Jopie staan steunend op. “Nee, hier’s net ’n klomp ou blare in.” Hy gaan hurk langs Beauty.

“Iewers in Canada of Japan of een of ander African country kap hulle mos mense se hanne af wat steel.” Beauty giggel. “Wonner wat hy gedoen het om sy vinger afgekap te kry … dalk oppie verkeerde plek ingedruk.”

Jopie bekyk die gebeente fronsend. “Ja, isse lang vinger.” Hy meet versigtig met sy wysvinger. “Blerrie lank, moet ’n groot ou wees. Hy was seker’ie pleased toe hulle sy vinger sommerso afsit ’ie.”

“Hy’t dalk self sy vinger afgesit.”

“Nou hoekom sal hy só stupid wees?”

“My oompie het sy vinger met ’n electric saag afgesny, maar dit was ’n accident,” sê Beauty. “Dit kon gebeur het, hoor!”

“Ja,” gee Jopie toe, “ma’ dan kook jy nie eers die vleis af en gooi die been sommer saam met die anner garden rubbish in ’n sak nie.”

“Nou wat moes hy doen? Dit innie backyard begrawe?”

“Die dokters werk nou se dae ’n vinger weer aan.” Jopie skud sy kop, druk sy kakiepet reg. “Ons sal seker ma’ net ka’ raai oor wat gebeur het.”

Sy kom regop. “Ja, nou’t ek ok als gesien. ’n Skeletonvinger!”

Hy kap ’n paar keer met sy hak in die harde grond, buk af en vee die los kluite eenkant toe. Dan krap hy die beentjies tot in die gat, gooi dit toe en trap die grond vas.

“Nou vir wat begrawe jy dit?” vra sy verbaas.

“Dit ka’ mos nou nie so vingeralleen hier lê nie, Beauty!”

Sy trek ’n nuwe sak nader en skeur dit oop. “Fok, Moedertjie Maria!” roep sy uit en slinger die sak eenkant toe. Sy retireer ’n paar treë, haar hande op haar wange.

“Wat byt nou?”

“Die anner parts van die skeleton is in daai sak, Jopie!”

Judaskus

Подняться наверх