Читать книгу Judaskus - Rudie van Rensburg - Страница 5

2

Оглавление

Daniels onderdruk met moeite ’n glimlag toe Kassie by die kantoor instap. Die veteraanspeurder het vir hom ’n nuwe windjekker aangeskaf. Weer ’n rooie soos hy die afgelope paar jaar dra, maar dié een se kleur is aansienlik helderder as die verbleikte oue. Die oue het boonop ’n winkelhaak in die een mou gehad en verskeie vetkolle en sigaretbrandmerke.

Almal by die stasie het in die stilligheid oor Kassie se windjekker geskinder. Party het tot weddenskappe aangegaan oor wanneer die onooglike kledingstuk selfs vir Kassie onaanvaarbaar sou raak. Da Silva gaan lekker smile, dink Daniels, hy het voorspel Kassie gaan ná sy vakansie terugkom met ’n nuwe een. Daar’s glo al byna agthonderd rand in die Kassie-windjekkerboerpot.

Kassie se skraal figuur met die geboë houding sak in die stoel langs Nolte af. Dit lyk altyd asof die man van onderdanigheid aanmekaar gesit is, dink Daniels. Kassie vryf oudergewoonte senuweeagtig oor sy platgeroomde hare. Daniels vermoed hy is een van net ’n hand vol wesens in die nuwe millennium wat dié spesifieke room nog gebruik om sy hare styf teen sy skedel te plak. Dis beslis nie van die blink jel wat die jongetjies gebruik om hul hare punt in die wind te laat staan nie.

“Ek vertrou jy het jou vakansie darem geniet, Kassie. Was jy iewers heen?” vra Daniels.

“Nee, ek was maar besig met my seëls,” sê Kassie verleë.

Weer sukkel Daniels om nie te glimlag nie. Kassie se beheptheid met sy posseëlversameling is ook ’n oorbekende feit én gewilde besprekingspunt by die stasie se skinderbrigade. Was die man vir drie vólle weke in sy woonstel in Goodwood met sy seëls bedrywig? wonder Daniels, maar hy vra eerder nie. Daar kan beswaarlik ’n meer sieldodende manier wees om jou waardevolle verloftyd te verwyl.

“Kassie, ek en Daan-hulle wil gou jou mening hoor oor die Barlow-moordsaak,” sê Daniels.

Kassie se wenkbroue lig. “Barlow?”

Dis vir Daniels duidelik dat Kassie nie gedurende sy vakansie koerant gelees of nuus geluister het nie. Barlow se dood was talle kere voorbladnuus en die plaaslike radiostasies gons daaroor. Hy gee Kassie ’n volledige oorsig van die gebeure.

“Ja, dit klink na ’n moeilike een … moeilik,” sê Kassie met ’n frons terwyl hy oor sy ken streel.

Daniels moet strek om die pak foto’s oor die hope lêers op sy lessenaar vir Kassie aan te gee. “Foto’s van die moordtoneel.”

Terwyl Kassie baie tydsaam deur die foto’s kyk, kan Nolte skaars sy irritasie verberg. Ná ’n lang, ongemaklike stilte kyk Kassie op na hom.

“Het julle die moontlikheid oorweeg dat die vrou kon lieg oor die inbreker? Dat daar dalk nie een was nie?”

Nolte skud sy kop en kyk vinnig na August. “Jy kan vir Robbie vra, die vrou en al die ander mense in die huis was baie getraumatiseer. Daar’s geen kans sy bedrieg ons met haar storie nie. Wat laat jou enigsins dink sy lieg?” vra hy met ’n snedige glimlag.

Kassie hou twee foto’s na hom uit. “Dié foto’s.”

Daniels leun oor sy lessenaar om ook die foto’s te sien. Dis foto’s van die agterdeur wat geneem is van binne én buite die huis.

Nolte frons. “Wat aan daai foto’s hinder jou?”

“Die glasstukke wat aan die buitekant op die trappies voor die deur lê,” sê Kassie.

Nolte sug. “Die kolonel het jou mos gesê die inbreker het die glaspaneel van die agterdeur stukkend geslaan.”

“Ek besef dit … maar die meeste glasstukke lê aan die buitekant. Mens kan die moontlikheid nie uitsluit dat iemand dit van binne stukkend geslaan het nie … om die indruk te skep daar was ’n inbreker.”

Vir ’n oomblik hang daar ’n stilte in die kantoor.

“Ek het dit ook gesien, maar dit hang seker af van hoe die slaanwerk gedoen is,” sê Nolte vinnig. “Die ander omstandighede het ons oortuig die glasstukke is nie belangrik nie.”

Daniels frons terwyl hy die foto’s by Kassie neem. “Nee, boys, julle sal dié storie beter moet uittjek. Dalk het Kassie iets beet.”

• • •

Gedurende middagete sit die man skuins oorkant Victor. Hy vreet soos iemand wat dae laas kos gekry het, druk hompe pap in ’n bal, doop dit in die afgewaterde vleissousie en wurg dit vinnig af. Die sous kronkel soos twee kwylstrepe uit sy mondhoeke langs sy ken af.

Victor verag die bliksem. Die fluitjieblaser. Die man wat hulle onmiddellik sal inlig as hy weet Victor kom vroeër uit. Hy moet die drang onderdruk om nie sy plastiekvurk in die man se gesonde oog te druk nie, of sy harsings met die blikbord uit te hamer nie.

Hier in die tronk verteenwoordig die eenoogman alles wat Victor verag. Tog weet hy maar te goed die man is ’n klein ratjie in die groot enjin wat die skip aandryf. Vir Victor is hy egter die eerste struikelblok op sy pad na algehele vryheid. Wanneer hý eers uit die pad is, kan Victor op die enjinkamer fokus.

Dié gedagte laat die vurk in sy hand liggies bewe.

Judaskus

Подняться наверх