Читать книгу Judaskus - Rudie van Rensburg - Страница 19

16

Оглавление

Kassie besluit om eers te gaan rook voordat hy sy brein knak oor hoe om by die nasate van die organisasie se stigters uit te kom. Sy longe roep met ’n luidspreker na nikotien.

Hy kry Cliffie Arendse in die vierkant. Dié het al meer ophou rook en weer begin as wat Kassie kan onthou. Cliffie verklaar gereeld so vol oortuiging dat hy nóú sy laaste sigaret gerook het dat dit elke keer ’n skok is om hom weer met ’n sigaret te sien.

Kassie weet Da Silva is heeltyd besig met kantoorweddenskappe oor wanneer Cliffie weer gaan begin rook. Hy het eenkeer gesien hoe Da Silva skelm ’n sigaret in Cliffie se boonste lessenaarlaai sit.

“Besig?” vra hy ná die eerste paar trekke.

“Ja, redelik,” sê Cliffie. “Maar ek staan nou eintlik en dink aan arme ou Boontjie. Het sy vrou vanoggend gebel. Sy sê dis nou nie meer lank nie, die kanker het versprei.”

“Ek hoor so.”

“Die wêreld is darem bleddie klein. Die afgelope tien jaar al speel ek mos snoeker by die klub hier anderkant in Rondebosch. Een van my gereelde partners, ou Klippies Kritzinger, noem toe mos Vrydagaand sy swaer is so siek aan kanker. En jou wragtigwaar, daar kom ek agter Boontjie is sy swaer! Ná al die jare wat ons saamspeel, ontdek ek dit nou eers.”

Kassie knik, maar hy luister nie meer nie. Hy druk sy sigaret halfpad dood en druk dit versigtig terug in die pakkie. Met ’n “Cheers, Cliffie” haas hy hom kantoor toe.

By sy lessenaar bel hy mevrou Knobel. Sy is verras om so vinnig van hom te hoor.

Hy vertel haar dat hy die name van haar man se makkers gekry het. “Ek weet mevrou het gesê u ken nie die name van die ander lede van die organisasie nie, maar dalk het u wel van hulle geken sonder om te weet hulle is deel van die organisasie.”

“Ja, dis moontlik. Hoewel ek en Daniel maar ’n klein vriendekring gehad het, en ek kan nie dink dat een van daardie mans by die organisasie betrokke sou wees nie. Hulle vrouens sou tog iets laat val het, nè?”

Hy lees vir haar die vyf name.

“Ek het vir Markus Moller geken! Nie goed nie, maar hy was lank Daniel se prokureur. Hy’s al in die 1980’s oorlede.” Sy bly ’n oomblik stil. “Markus se vrou en hul enigste seun is ’n klompie jare later saam in ’n motorongeluk dood. Siestog, ek het destyds nog op Daniel se aandrang Markus se skoondogter gaan besoek om te simpatiseer.”

“Het mevrou sy seun geken?”

“Nee, glad nie. Maar hoekom gaan praat jy nie met die skoondogter nie? Karen Moller. Sy weet dalk meer van die organisasie se doen en late as ek. Haar oorlede man sou tog sy pa in die organisasie opgevolg het, nè?”

“Weet mevrou waar ek haar in die hande kan kry?”

“Ja, ek het haar ’n tydjie gelede toevallig hier op Hermanus raakgeloop. Toe het sy gesê sy bly steeds in hulle huis in Groenpunt. Ek kan die straatnaam nie meer onthou nie, maar jy behoort haar in die telefoonboek te kry.”

Kassie bedank haar en groet.

Mevrou Knobel is reg: die gelyste Karen Moller bly in Groenpunt.

Hy is gelukkig, sy antwoord die foon ná net ’n paar luie.

“Het u vir Daniel Knobel geken?” vra hy nadat hy homself voorgestel het.

“Ja … nie eintlik goed nie, maar my skoonpa en hy het bande gehad. Hy’s mos destyds deur daai reeksmoordenaar doodgemaak.”

Kassie vertel haar van die nuwe inligting oor Knobel se dood. “Dit laat die polisie glo die geheime organisasie waaraan u skoonpa en heel moontlik u man ook behoort het, het belangrike inligting wat ons kan help in die ondersoek.”

Sy weet onmiddellik van die organisasie. “Ja, my man het daaraan behoort, maar hy’s lank voor oom Daniel al in ’n motorongeluk oorlede.”

“Ek besef dit, maar kan ek nogtans met u kom gesels? Ek sal graag wil hoor wat u van die organisasie se bedrywighede weet.”

“Kaptein Kasselman, dit sal nie nodig wees nie. Ek weet regtig nie veel daarvan nie,” sê sy beslis. “My man was maar altyd geheimsinnig daaroor. Maar dit wat ek wel van hulle weet, is dat hulle net goeie dinge gedoen het. Ek kan my nie indink hulle sou iets van oom Daniel se dood weet en dit nie aan die polisie oorgedra het nie.”

“U sê hulle het goeie dinge gedoen?”

“Wel, ja … vir hul mede-Afrikaners. Ek weet hulle het onder meer geld geleen vir voornemende entrepreneurs. Volgens my man het hulle ook beskerming gebied aan sulke entrepreneurs.”

“Watse soort beskerming?”

Sy lag. “Niks sinisters nie. Hulle het net gesorg die opposisie in dié sakemanne se omgewing kry opdraande.”

“Ek verstaan nou nie?”

“Jammer, dis al wat my man gesê het. Hulle het baklei vir die Afrikanersaak – wat ’n mens nie kan sê van vandag se spul ruggraatlose Afrikaners nie.”

“Weet u of hulle nog bestaan … die organisasie?”

“Ek … ek twyfel. Nee, ek weet regtig nie,” sê sy dan vinnig. Té vinnig na Kassie se sin.

Hy lees vir haar die name van die ander mans, maar sy sê sy ken niemand.

Toe Kassie aflui, peins hy lank oor die gesprek.

Karen Moller se man is lank voor Daniel Knobel oorlede, dus klink die Moller-roete na ’n doodloopstraat. Behalwe vir die “beskerming” waarvan sy gepraat het. Die organisasie klink vir hom soos ’n soort Boeremafia. En enige Mafia-agtige organisasie is bekend daarvoor dat hulle mense laat verdwyn.

Sy het ook nie baie oortuigend geklink toe hy gevra het of die organisasie nog bestaan nie. Sou sy dalk nog met hulle kontak hê?

Judaskus

Подняться наверх