Читать книгу Judaskus - Rudie van Rensburg - Страница 15

12

Оглавление

Ná net drie kloppe aan die deur maak mevrou Knobel vir Kassie en Rooi oop.

Sy is ’n kort, gesette vroutjie met silwergrys hare en groot donkerbruin oë. Kassie skat sy moet naby aan tagtig wees, maar sy lyk nog op en wakker. Sy loop regop, met vinnige, kort treetjies voor hulle uit sitkamer toe.

Haar woonstel op die derde verdieping van ’n luukse blok het ’n asemrowende uitsig op die see. Die plek is ruim en sonnig, die meubels antiek, die tapyte duursaam. Teen die een muur in die sitkamer hang ’n klomp geraamde foto’s in twee reguit rye. Swart-en-wit troufoto’s, talle portrette van haar man, die groot neus prominent, en foto’s van hulle twee saam. Hy troon bo haar uit. ’n Lang man gewees, soos die lab-verslag sê. Die afwesigheid van foto’s van kinders of kleinkinders val Kassie op.

Hy en Rooi gaan sit op die groot leerbank oorkant mevrou Knobel. Sy gaan sit op die punt van ’n klein houtstoel.

“Ek is bly julle het my man se beendere gekry, nè?” Sy kug. “Nou kan ek hom darem behoorlik begrawe en …” Sy vee vinnig met haar hand oor haar oë. “Dit was maar moeilik destyds … om so sonder sy stoflike oorskot van hom afskeid te neem.”

“Ek kan dit glo, ek kan dit glo,” sê Kassie.

Rooi knik ook simpatiek.

“Hoe het julle ná al die jare uitgevind Broeksma was nie my man se moordenaar nie?” vra sy met ’n frons.

Kassie struikel oor sy woorde om te verduidelik. Hy moet konsentreer om die gegewens so sensitief as moontlik oor te dra.

Sy luister aandagtig, skud dan haar kop. “En die poeliesman wat die saak destyds hanteer het, was só seker Broeksma was die skuldige! Hy wou nie regtig luister na wat ek te sê gehad het nie.”

“Wel, dis waarom ons vandag hier is … om te luister na wat mevrou se vermoedens was,” slaan Kassie die gaping.

“Kyk, dis ook maar net vermoedens, nè? Maar dit het my tog gepla dat hulle dit nooit ondersoek het nie … Eintlik kon ek die polisie seker nie kwalik neem nie. Dit was so vaag, en ek kon nie enige name verskaf nie.”

“Name?” vra Kassie.

“Ja, dis eintlik ’n lang storie.”

Hy glimlag. “Ons het tyd. Vertel asseblief.”

Sy leun effens terug in haar stoel. “My man het ’n konstruksiemaatskappy besit. Hy het nooit personeel gehad nie, net elke keer ’n klomp mense gekontrakteer wanneer hy ’n projek gekry het. Hy’t baie keer groot staatskontrakte gekry. My man het goed gedoen vir homself, nè?” Sy kyk af na haar hande. “Maar hy het ook ’n ander bron van inkomste gehad waarvan ek min geweet het. Destyds het ek vermoed sy verdwyning kon daarmee verband hou.”

Kassie knik. “Ons luister graag.”

“Daniel was altyd so geheimsinnig daaroor. Hy het aan ’n organisasie behoort, nè? Amper iets soos die Broederbond, maar klein, het hy eenkeer gesê. Die organisasie het soms saam projekte aangepak. Wat dit was, weet ek nie. Hulle het elke maand twee, drie keer vergader by ’n plek onbekend aan my.”

Sy skuif rond op haar stoel. “Al wat ek van die hele affêre weet, is hoe die organisasie ontstaan het. Dit was tydens die Tweede Wêreldoorlog. My man was lid van die Ossewabrandwag, nè?” Sy lag verleë. “Vir julle jonger mense is dit seker Grieks. Maar die Ossewabrandwag was destyds ’n beweging wat simpatie met Hitler gehad het en wat gekant was teen Jan Smuts se beleid dat Suid-Afrika saam met die Engelse teen die Duitsers moet baklei.”

“Ek weet so ’n ietsie van hulle,” sê Kassie, “ek het altyd gehou van geskiedenis.”

Rooi skud sy kop − duidelik Grieks vir hom.

“Ja, die Ossewabrandwag was maar ’n rowwe spul, nè? Hulle het allerlei terreurdade gepleeg. My man en ’n klomp van sy makkers het een aand ’n spoorlyn iewers in die Karoo opgeblaas. Hulle is gevang en in ’n interneringskamp gegooi op Koffiefontein in die Vrystaat. Ek dink hulle is langer as ’n jaar daar aangehou. Om en by 1942 of 1943.” Sy lag verleë. “Hy was toe natuurlik nog nie my man nie, nè? Ek was daardie tyd maar sewe jaar oud.”

Sy lyk meer ontspanne, leun gemaklik terug in haar stoel.

“Nietemin, my man het vertel die organisasie … of broederskap, soos hy soms na hulle verwys het … het sy ontstaan gehad in die interneringskamp. Hulle het besluit om dit geheim te hou, nè? Die doel was om in die toekoms vir mekaar te sorg.”

Kassie frons. “Te sorg?”

“Ja, dit was sy woorde. Wanneer ons oorsee gaan vakansie hou het, het hy altyd gesê dis danksy die organisasie dat ons dit kan bekostig. Nou en dan het hy my verras met ’n geskenk … ’n mooi rok of juwele, dan het hy gesê dis met komplimente van die organisasie.”

“En hy het in al die jare niks meer oor die organisasie vertel nie, soos hoe hulle hul geld verdien? Hy het geen naam genoem van sy kollegas nie, al was dit net ’n voornaam?” vra Kassie.

Sy skud haar kop. “Daniel was soos ’n geslote boek daaroor, nè? En as jy hom geken het soos ek, het jy geweet jy mors jou asem om te probeer uitvis. Dit het my baie gepla … die geld van die organisasie af. Ek was altyd so bang Daniel hou hom met onwettighede op.”

Kassie vryf nadenkend oor sy ken. “Waarom het u gedink die organisasie het iets te doen gehad met sy verdwyning?”

“Wat ek wel geweet het, was dat Daniel die jongste van die groep gevangenes was. In die laaste vyf jaar van sy lewe was hy die enigste oorlewende van die oorspronklike groep. Die ander se kinders het glo deur die jare hul pa’s se plekke in die organisasie ingeneem.” Sy bly ’n oomblik stil. “Ek en Daniel het nooit kinders gehad nie, nè?”

Sy stryk met ’n benerige hand oor haar hare. “Maar om terug te kom na jou vraag: veral die laaste paar jaar van sy lewe het hy altyd baie ontsteld teruggekeer van die vergaderings. Hy’t natuurlik niks gesê nie, maar ek kon sien iets krap aan hom. Twee dae voor sy verdwyning het hy ’n hewige argument oor die telefoon met iemand gehad. Ek kon nie hoor wat hy sê nie, die studeerkamer se deur was toe, maar hy was by tye baie driftig. Ek het nog nooit so iets by hom gehoor nie. Daniel het nooit sy stem verhef nie, maar daardie aand was hy briesend, buite homself van woede. Hy het selfs geskree op die ander persoon. Ek het maar aangeneem hy het met iemand van die organisasie geredekawel, want hy het agterna niks oor die oproep gesê nie.”

“En dit het u laat dink die organisasie kon dalk betrokke wees by sy verdwyning?”

Sy knik. “Wel, dis al waaraan ek kon dink. Daar was beslis nie ander vyande in sy lewe nie.” Dan verwytend: “Maar die polisieman het my storie afgemaak as onbelangrik. Hy was doodseker Broeksma was my man se moordenaar, nè?”

• • •

Victor staan met ’n sug van die bed op en stap na die lessenaar in die hoek. Hy trek die boonste laai oop, soos hy al ’n paar keer gedoen het, en tel weer die geld wat sy ma vir hom gelos het. Vyftienduisend rand. Tien jaar gelede sou dit soos ’n klein fortuin gevoel het. Nou kan jy blykbaar skaars ’n maand daarmee oorleef. Hy sal die rande moet rek totdat hy sy take uitgevoer het.

Die woonstel was sy ma se eiendom, hy die enigste erfgenaam, dus kos verblyf hom niks. Hy het nie nou al elektrisiteit en warm water nodig nie. Hy hoor dis deesdae buitensporig duur. Daar is ’n paraffienstofie in die kombuis. Koue water skrik hom nie af nie, hy’s dit gewoond ná die tronk. Hy sal vanmiddag kerse, paraffien, koffie en blikkieskos gaan koop. Twee dae gelede toe hy vrygelaat is, het hy net batterye vir die radio en ’n brood gekoop. Hy’t sedertdien nog niks anders geëet nie.

Hy trek die onderste laai oop. Die boek lê presies waar sy ma vir hom gesê het hy dit sal kry. Hy blaas die stof van die harde buiteblad van die A4-oefeningboek af. Ses-en-negentig bladsye. Hy sal oor die volgende paar dae rustig daaraan lees voordat hy sy eerste taak afhandel.

Die boek sal hom in die regte stemming bring.

Judaskus

Подняться наверх