Читать книгу Judaskus - Rudie van Rensburg - Страница 12
9
ОглавлениеVictor kan hom nog nie sover kry om iets te doen nie. Die vuil woonstel rus op sy gewete. Sy ma sou die piep gekry het as sy haar woonplek in so ’n toestand moes sien.
Maar sy gedagtes hou hom weg van enige aksie. Hy lê net op sy enkelbed en staar na die plafon.
Wat hy van plan is om te doen, kan skeefloop, weet hy. Lelik skeefloop. Hy kan met sy lewe boet, want hulle sal hom soek, hom jaag met alles tot hul beskikking. Hy ken hulle werkswyse maar te goed.
Andersins kan die polisie hulle voorspring en hom vang. Dié keer sal hy nie tien jaar kry nie, maar lewenslank sit.
Daarvoor sien hy nie kans nie. Dan eerder die dood.
Hy skud meteens sy kop. Sulke negatiewe gedagtes het nooit in die tronk sy gemoed besoedel nie.
Hy staan op, gaan lê op die vloer en begin opstote doen. “Een, twee, drie …” Hy dink aan sy oupa, sy pa en sy ma.
Ná ’n rukkie voel hy beter. Die klein insinking van netnou is seker natuurlik. Niks sal hom keer om sy planne deur te voer nie.
• • •
Kassie onthou die Broeksma-reeksmoordsaak vaagweg. Dit was destyds groot nuus. Broeksma het mense oor die Skiereiland heen met ’n rewolwer afgemaai en hulle dan in die veld begrawe. Hy verbeel hom Broeksma het ná sy inhegtenisname van sy slagoffers se grafte uitgewys, maar hy is nie doodseker nie.
Terug by sy lessenaar soek hy Snoek se nommer in die telefoonboek op. Hy wink vir Rooi nader. “Ek sit dit op speakerphone sodat jy ook kan hoor.”
Hy skakel die nommer. Snoek antwoord ná net twee luie.
“My magtig, Kassie, net ’n wonderwerk jy hou nog daar uit! Al ons ou manne moes mos maar pakkette vat en skoert,” groet Snoek. “Die Broeksma-reeksmoordenaar? Ja, ek onthou die saak goed, was myselwers in die ondersoekspan.”
Kassie vertel kortliks die storie van hoe Knobel se beendere gekry is en hoe hulle hom geïdentifiseer het. “Ons wil die dossier nou net behoorlik afsluit.”
Snoek fluit. “Jong, Kassie, ek’t geweet daai Knobel-ou se geval gaan nog eendag boemerang. En nou het dit gebeur!”
“Hoe bedoel jy?” vra Kassie verbaas.
“Kyk, Broeksma het mos ouens links en regs vrekgeskiet en begrawe. Na bewering agt van hulle. Die bliksem was heeltemal bosbefok. Maar agterna het hy kwansuis berou gehad en ons tot gehelp om die grafte van die vermoordes te kry. Almal behalwe Knobel s’n.”
“Hoe so?”
“Broeksma het gesweer hy’t nie vir Knobel afgestamp nie.”
“Nou hoekom is hy dan verbind met Knobel se verdwyning?”
“Daai doos van ’n hoofondersoekbeampte … Sybrand Vos. Hy’t besluit Broeksma het Knobel vermoor en basta met Broeksma se verklaring. Ons het Broeksma in Rondebosch gevang, nie ver van Knobel se huis af nie. Dit was vir Vos genoeg bewys. Hy’s ’n opregte windgat wat soveel glory as moontlik vir homself wou inoes.”
“Het dit nie in die hofsaak uitgekom dat Broeksma sê hy’t nie vir Knobel vermoor nie?”
“Nee, Broeksma het homself mos net voor die hofsaak in sy sel opgehang.”
“O ja, nou kom die storie terug na my. Het die bewaarders nie nog deurgeloop omdat Broeksma ’n klomp toue … of was dit nou skoenveters? … in sy besit gehad het nie?”
“Einste, skoenveters.”
“Kan jy onthou hoe Broeksma sy slagoffers vermoor het? Net geskiet?”
“Jip, net geskiet. In die hart gepot. Al sewe wat ons opgegrawe het.”
“Knobel is met ’n skerp voorwerp oor die kop geslaan.”
“Kassie, laat ek nou vir jou sê: Broeksma het nog by my gespog oor hoe ’n goeie skut hy was. Hy kon ’n hartskoot op twintig meter met toe oë doen, het hy gesê. Hy’t sy kick daaruit gekry om ouens te pot. As Knobel aan ’n kopwond dood is, was dit beslis nie Broeksma nie.”
Snoek bly ’n rukkie stil asof hy nadink. “En Broeksma het sy slagoffers diep onder die grond begrawe. As jy sê Knobel se beendere, oorgroei met mos, was op ’n stortingsterrein in ’n vullissak, kan ek jou waarborg Broeksma was nie die skuldige nie. Nog iets wat my destyds gepla het, was dat Broeksma uitgepass was toe ons hom vasgetrap het in sy agterkamer.”
“Uitgepass?”
“Ja, asof hy onder verdowing was. Hy’t eers heelwat later bygekom. Hy’t beweer hy weet nie hoe hy daar gekom het nie, maar al die bewyse was daar: sy klere in ’n tassie, sy rewolwer onder die kopkussing – dit maar net terloops.”
“Eienaardig … Wat het Vos daarvan gesê?”
“Dat Broeksma maar net sy babelaas afgeslaap het … hoewel daar geen teken van drank in die kamer was nie.”
“En Knobel se vrou? Het sy enige leidrade verskaf of vermoedens gehad?”
“Nee, ek weet nie. Vos het met haar gaan praat. Maar dié donner was so oortuig hy’s reg dat niks wat sy gesê het ’n indruk op hom sou gemaak het nie. Dalk kan jy weer met haar gaan praat. Ek was destyds vinnig by haar aan om ’n foto van haar man te gaan haal. Sy kan heel moontlik nog lewe, was seker tien of meer jaar jonger as Knobel.”
“Wonder of sy nog in Rondebosch bly?”
“Dié weet ek nie.”
“En Vos?”
“Hy’t dieselfde tyd as ek padgegee by die polisie. Weet nie wat hy nou doen nie, maar ek dink hy bly iewers in die noordelike voorstede. Maar jy gaan net jou tyd mors. Soos ek daai poephol ken, sal hy nooit erken hy was verkeerd nie.”
“Thanks vir die hulp, Snoek. As ek weer in die Paarl is, kom maak ek ’n draai by jou.”
“Nee, maar dis reg. Ek hou vir jou ’n lekker vars snoek op die ys.”
Toe Kassie die selfoon dooddruk, is Rooi op sy voete.
“Bliksis, dis vir jou ’n ding!”
Kassie knik. “En ons het gedink ons kan die dossier finaal sluit.” Hy staar voor hom uit. “Die saak ruik die ene bleddie muishond.”