Читать книгу Judaskus - Rudie van Rensburg - Страница 9

6

Оглавление

Daniels se lessenaar lyk soos altyd … asof ’n kategorie 1-orkaan in sy kantoor gewoed het. Kassie weet nie hoe die man weet wáár wat is nie. Die stapel boeke op die een hoek van sy lessenaar, half versteek onder ’n hoop papiere, lê al die afgelope drie jaar presies in dieselfde volgorde: Byleveld: Dossier van ’n baasspeurder, Criminal Masterminds, Killers in Cold Blood en Al Capone heel bo.

Daniels leun terug in sy stoel toe Kassie oorkant hom gaan sit. ’n Groot glimlag sit breed op sy hoekige gesig.

“Geluk, Kassie! Jy’t toe vir die breakthrough gesorg.”

“Hoe bedoel kolonel nou?”

“My móérketel, het Daan Nolte jou nog nie gesê nie?”

Daniels se woorde knetter soos masjiengeweervuur as hy opgewonde raak.

“Wat gesê?”

“Dat ons gisteraand besluit het om die Barlow-vrou en die Johannesburgse vriend aan te kla van moord. Ons het gistermiddag genoeg bewyse gekry.”

“Ek’s bly om dit te hoor,” sê Kassie. Ou Daan verdien ’n break, dink hy. Nie ’n slegte ou nie.

“Ja, ’n houtbeeld in die sitkamer was die finale nail in hulle doodskis. ’n Stukkie van die liggroen glas van die agterdeur se venster het in die beeld vasgesit. Dit nadat die jongste dogtertjie, ek dink sy’s vyf, met oorgawe vir Daan vertel het haar ma en dié vriend hou baie van mekaar. ‘They kissed the other night behind the bathroom door,’ seg sy toe so ewe vir Daan.”

Daniels lag. “Die media gaan nie hulle luck kan glo met dié juicy storie nie.”

Hy leun onverwags vooroor en steek sy hand na Kassie uit. “Jy verdien ’n handshake. Daai vrou het soveel kak in Daan-hulle se koppe gepraat dat hy en Robbie volgende jaar nog na die skim Maria se sogenaamde handlanger sou gesoek het. Moet sê, die vrou is so bleddie mooi, ek sou haar ook geglo het.”

Kassie trek verleë sy hand terug. “Ek’s bly ek kon help.”

“Brigadier Filander sal ook nog kom hand gee. Ek het gisteraand by die Barlow-huis vir hom gesê jy’t Daan-hulle op die regte spoor gesit. Daan en Robbie het bygestaan … omtrent op hulle batteries gepis.”

Daniels kyk af na die chaos op sy lessenaar, begin vaardig deur die papiere vroetel, bring dan soos ’n kulkunstenaar ’n groot bruin koevert te voorskyn.

“Hoe besig is jy en Rooi?”

“Gewone,” sê Kassie. “Klomp klein sakies, maar darem nie heeltemal oorlaai nie.”

“Right, ek’t vir julle nog enetjie om julle mee besig te hou.”

Daniels haal die inhoud van die bruin koevert uit en sprei dit oop op die enigste kaal kol op die lessenaar. Hy trek ’n dossier nader. “Boontjie se saak gewees. Maar dié arme siel is mos nou afgeboek vir ’n onbepaalde tyd. Die kanker het versprei, sê sy vrou.”

Kassie sug. “Ai, ou Boontjie.” Dit ontstel hom as sy tydgenote sulke goed oorkom.

Daniels kyk vlugtig na die inhoud van die dossier. “Vier maande gelede het twee sakkrappers by die local stortingsterrein hier by die stasie aangekom. Hulle het op ’n sak bene afgekom – ’n mens s’n. Boontjie het gaan kyk en toe die bene vir die lab in Somerset-Wes gestuur.”

Hy tel ’n vel papier op. “Die lab-verslag het gister hier aangekom. Moet sê, die ouens het moeite gedoen. Daai kolonel White daar is ’n wakker bliksem. Hy sê in die verslag dit was ’n wit man, ongeveer sewe jaar gelede dood. Die gat in sy kopbeen ’n duidelike teken dat hy uit die lewe gehelp is met ’n skerp, harde voorwerp. Die man was oud – hulle skat tussen sewentig en negentig. Hulle het X-strale geneem van sy tande. Volgens White was dit nie ’n armgat nie; hy kon bekostig om tandarts toe te gaan én daar’s uitsonderlik baie gewerk aan sy tande. Dit sal dalk goed wees as jy Rooi op die job sit om by elke tandarts in die suidelike voorstede aan te gaan en te kyk of ons nie ’n match kan kry nie. Mens weet nooit.”

Daniels trek ’n skets tussen die velle papier uit. “Hulle het die hulp van ’n proffie by Ikeys ook ingekry. Dié het volgens die skedel en die spierhegtings ’n rekonstruksie gemaak van hoe die ou heel moontlik sou lyk. Hier’s ’n klomp ingewikkelde gebrabbel oor hoe die proses werk, maar dis nie nou ter sake nie.”

Hy draai die skets na Kassie. Dis van ’n man met ’n smal gesig en ’n buitengewone groot neus. “Dis min of meer hoe hy gelyk het. Moes ’n moerse snawel aan hom gehad het.” Hy sit die skets en die velle papier terug in die koevert en oorhandig dit aan Kassie. “Alles joune.”

Kassie knik. “Sewe jaar gelede dood, sê hulle?”

“Jip,” bevestig Daniels.

“Wel, ek sal begin deur na ons onafgehandelde sake te kyk. Dalk is ons gelukkig.”

“Ek het ook so gedink – jy weet self hoeveel onafgehandelde dossiere daar in een jaar kan opgaar. Vra vir Magrieta om jou te help. En bly op Rooi se case, sê hy moet vir jou terugvoer gee oor al die tandartse wat hy besoek het. Dis nou wel ’n sieldodende job, maar dis waarvoor jy ’n sidekick het. As ons daar nie enige joy kry nie, moet jy maar oorweeg om die skets aan die koerante te stuur.”

“Ek maak so,” sê Kassie en kom orent uit sy stoel.

“By the way, ek sien jy’t vir jou ’n nuwe windbreaker aangeskaf. Jy bly maar lief vir rooi, nè?”

Kassie lag verleë. “Ja, Da Silva het dit eintlik in die vakansie vir my woonstel toe gebring. Gesê hy’t nooit vanjaar vir my ’n verjaardaggeskenk gegee nie.” Hy skud sy kop. “Nie dat hy al voorheen iets vir my gegee het nie.”

Daniels glimlag breed. “Fok, dis ’n skelm Porra daai!”

“Hoekom sê kolonel so?”

Daniels beduie Kassie kan maar gaan. “Nee, sommer hardop gedink.”

Judaskus

Подняться наверх