Читать книгу Judaskus - Rudie van Rensburg - Страница 4
1
ОглавлениеKolonel Donald Daniels, bevelvoerder van die Nuwelandse polisiestasie en speurtak, kyk peinsend na die tientalle foto’s wat op die moordtoneel geneem is. Die slagoffer het ’n koeëlwond tussen sy oë, sy mond koddig skeef getrek, die liggeel kopkussing rooi gespikkel op die dubbelbed in die egpaar se slaapkamer.
Hy trek die verslag nader en lees dit weer. Die aand van die moord het ’n hele klompie mense in die huis geslaap: die slagoffer, sy vrou, haar broer, ’n vriend van Johannesburg en die egpaar se drie kinders. Die inbreker het die glaspaneel van die agterdeur stukkend geslaan, die deur oopgesluit en met die trappe opgeklim na die slaapkamers van die groot huis. In die hoofslaapkamer het hy die egpaar gekonfronteer. Hy het die kluis se sleutel geëis, het die vrou van die vermoorde in haar verklaring gesê. Die inbreker was gemasker, maar aan sy spraak kon die vrou aflei hy is swart.
Haar man het sy hand uitgestrek na sy pistool onder die bed. Hy was bewus daarvan dat inbrekers dikwels huise met speelgoedrewolwers beroof, en was moontlik oortuig die inbreker bluf met sy vuurwapen. Maar hy het hom misgis. Toe hy sy pistool uithaal, het die inbreker geskiet.
Volgens die vrou het die inbreker daarna weggehardloop. Die vriend van Johannesburg het dit bevestig. Hy het van die skoot wakker geskrik en onmiddellik uit sy kamer gestorm en gesien hoe ’n donker figuur teen die trappe af skarrel na die kombuis. Hy het die inbreker agtervolg, maar toe hy by die buitenste veiligheidshek kom, was die inbreker al te ver af in die straat.
Die vrou se sieklike broer het niks gehoor nie; hy het voor bedtyd twee slaappille gedrink. Die kinders het ook niks gesien nie, want die vrou het vir hulle geskreeu om in hul kamers te bly en die deure te sluit.
Sy vermoed hul vorige huiswerker kon iets met die inbraak te doen gehad het. Haar man het die huiswerker ’n week vantevore afgedank omdat hulle vermoed het sy steel geld van die kinders. Die feit dat die inbreker presies geweet het waar die hoofslaapkamer is, bevestig dat hy inligting bekom het oor die uitleg van die huis. Hy het ook nie gevra waar die kluis is nie, maar wou weet waar die sleutel is.
Die polisiesoektog na die huiswerker het op niks uitgeloop nie. Die gesin het haar net as Maria geken en sy het slegs vir drie maande by hulle gewerk. Volgens die vrou het sy in Khayelitsha gebly en elke oggend met ’n taxi Rondebosch toe gekom.
Daniels kyk op van die verslag. “Het julle met ál die huiswerkers in die omgewing gepraat? Iemand moet tog weet waar mens Maria kan opspoor.”
Luitenant Daan Nolte skud sy kop. Hy beduie na sersant Robbie August langs hom. “Ek en Robbie was by almal, ons het onderhoude gevoer met amper twintig huiswerkers. Niemand het Maria geken nie. Die meeste huiswerkers daar rond is sleep-ins. Hulle ken mekaar, maar hulle het geen kontak met dié wat daagliks van buite inkom nie.”
“Ek het ook met die taxibestuurders gepraat,” sê August. “Nie een van die klomp wat daai area serve weet van ’n Maria nie. Hulle drop-off zone is ook ’n hele entjie van die moordhuis af. Hulle laai soggens ’n moerse lot mense af en weet nie eintlik wie hulle is of waar hulle werkplekke is nie.”
Daniels knik. “Ek sien in die verslag julle het geen vreemde vingerafdrukke gekry nie.”
“Nee, mevrou Barlow sê die inbreker het handskoene gedra,” sê Nolte. “Da Silva het die plek gefynkam vir ander forensiese leidrade. Absoluut níks van belang gekry nie.”
“Voetspore buite?” vra Daniels.
August skud sy kop. “Die grootste deel van die erf is gepave.”
“En julle sê hy het toegang tot die erf gekry deur die veiligheidshek?”
“Ja,” sê Nolte. “Volgens mevrou Barlow is die hek al lank stukkend, hulle was van plan om dit reg te maak. Sy dink die huiswerker het dit natuurlik vir die inbreker gesê.”
“En die rollie wat julle tussen die struike gekry het? Kon julle al iets uitvind daaroor?”
“Dis ’n gesteelde Smith & Wesson, reeksnommer afgevyl,” sê Nolte.
Daniels frons. “Ek kan nie verstaan dat hy sy wapen weggegooi het nie.”
“Ek dink hy’t gepanic,” sê August. “Hy wou ontslae raak van die evidence. Natuurlik bang gewees die skoot het die aandag getrek van die security firm wat die strate patrol.”
Daniels sug. Die druk gaan opbou oor dié saak. Barlow was ’n bekende promotor in beroepsbokskringe. Die media gaan binnekort begin om die SAPD te kruisig omdat daar nog nie ’n verdagte is nie.
Hy weet ook nie of Nolte die regte speurder vir die saak is nie, maar hy het geen keuse gehad nie. Cliffie Arendse is toegegooi met ander sake en Kassie Kasselman was met vakansie. Daniels sou veel eerder die saak vir Kasselman wou gee, maar hy kan Nolte nie nou afhaal nie. Die man is desperaat om homself te bewys as ’n goeie speurder en hy verdien die kans om ’n grote te hanteer.
“Ons is in ’n bleddie doodloopstraat, kêrels,” sug Daniels.
Hy leun terug in sy stoel, wetende hy moet die storie nou subtiel hanteer. Daar is heelwat afguns onder die speurders teenoor Kasselman. Sy suksesse word daaraan toegeskryf dat hy altyd die kans kry om die grotes te hanteer. Maar Daniels weet van beter. Kasselman benader dinge anders as enige ander sterfling en dís wat hom ’n uitsonderlike speurder maak.
Daniels kug voor hy praat. “Daan, ek dink nou sommer aan iets. Waarom vra ons nie vir Kassie om gou sy oor hier te kom gee nie? Jy ken vir Kassie. Hy dink dalk aan iets wat ons nog nie oorweeg het nie.”
Nolte frons hewig.
“Nie dat ek dit oorweeg om die saak vir hom te gee nie,” sê Daniels vinnig. “Julle twee doen ’n goeie job, maar ons is nou in ’n hoek.”
Nolte haal sy skouers op. “Ek het nie eers geweet Kassie is al terug van vakansie nie.”
“Hy’t vandag weer begin,” sê Daniels.
Nolte knik. “Ja, laat kom hom maar. Dit kan seker nie kwaad doen nie.”
Die gebrek aan geesdrif is opvallend in die jonger man se stem. Daniels besluit om hom nie daaraan te steur nie. Hy trek die telefoon nader om Kassie te bel.
• • •
Victor gaan sit steunend op sy bed. Hy leun vorentoe en stut sy kop in sy hande, elmboë op sy knieë.
Alles is vir hom nog onwerklik. Dis sy laaste dag in hierdie plek. Tien jaar van foltering, vasgevang tussen vier vuil selmure, ingehok soos ’n aap in ’n dieretuin, blootgestel aan die sinlose praatjies van sewe ongeletterde skarminkels.
Die afgelope paar weke was die ergste. Hy moes die paar luukse artikels wat ’n tronkvoël met sy karige toelaag kan bekostig, gebruik om die bewaarders om te koop om hom na hierdie sel te verskuif. Ook dat hulle moes stilbly oor die afslag van twee jaar wat hy gekry het op sy twaalfjaarvonnis.
Hy kyk met weersin na sy selmaats waar hulle in twee kringe sit en kaart speel. Hy hoop om hulle nooit weer in sy lewe raak te loop nie.
Hy grinnik. Een van hulle sal hy beslis nie weer raakloop nie.
Dié gedagte laat sy maag op ’n knop trek. Die risiko is groot, maar hy het geen keuse nie. Dis noodsaaklik vir sy plan. En hy gaan nie daarvan afwyk nie.
Soos gewoonlik wanneer sy gedagtes in daardie rigting neig, sak hy op sy knieë af, strek hom op sy maag op die sementvloer uit en stoot sy lyf met forse arms van die vloer af op.
“Een, twee, drie …” begin hy saggies aftel aan die honderd-en-twintig opstote wat voorlê.
Hy word nie moeg nie, want sy kop is op ’n ander plek.