Читать книгу Judaskus - Rudie van Rensburg - Страница 11

8

Оглавление

V en E het destyds in Aucklandpark lank met TJ en Snake gepraat. Amper te goed om waar te wees: ’n tax-free forty K ’n maand, gratis blyplek, motors, geen overheads behalwe eie kos nie. Petrol, wapens, tools wat hulle nodig het om die job te doen, word deur die Orde betaal of verskaf. In ruil daarvoor moet hulle nou en dan ’n job doen. Min of meer een keer ’n maand, soms twee keer. En hulle hoef nie voor die tyd te worry oor die fyner detail nie, die Orde doen die navorsing en die veldkornette die voetwerk.

Hulle het opleiding in die Kaap gekry, Melkbosstrand. Die Orde het buite seisoen ’n vakansiehuis vir twee maande gehuur, V en E het hulle deur die dril gevat. Dié twee Skimme, soos Snake hulle noem, ken hulle storie: opleiding in die fyner kunsies van inbreek, hoe om teenoor die slagoffers op te tree, hoe om nie leidrade te los nie en hoe die polisie en securityvinke se koppe werk. Die tien gebooie van die Orde is breedvoerig aan hulle verduidelik, ’n bleddie intensiewe kursus.

TJ was verras toe hy hoor hulle moet op Sasolburg bly, maar V wou hulle nie in ’n groot stad hê nie, die cops is te skerp daar. Hul drieslaapkamerhuis op Sasolburg is afgesonder, teenaan ’n park en omring met ’n hoë muur. TJ huur die plek in sy naam en die Orde vergoed hom maandeliks in kontant vir die huurgeld, water en elektrisiteit.

Die Orde maak seker niks kan na hulle getrace word nie. Al vang die cops hom en Snake, is die Orde veilig. Hulle weet nie wat hul werkgewers se regte name is nie, hoe hulle lyk of waar hulle presies in die Kaap woon nie. Shrewd bliksems. Maar solank hulle betaal, is TJ happy … hoewel hy soms onrustig raak oor sy toekoms by die Orde. Dit kan hy nie ontken nie, en dit begin ál meer aan hom vreet.

Iets wat oor en oor by hulle ingedril is, is die Orde se eerste gebod: Jy mag nie steel nie. Dit kom daarop neer dat hulle dit vir geen oomblik moet oorweeg om van die gesteelde juwele te wil pocket nie.

“Vind ons ooit uit een van julle het van die buit vir julleself gevat, hoe klein of gering in waarde ook al, sal dit nie net die einde van julle loopbane by die Orde wees nie, maar ook die einde van julle lewens. En dis ’n belofte,” het V tydens hul opleidingsessie gesê. En hoewel die versoeking soms groot is, weet hy en Snake al twee dit gaan nie die moeite werd wees om dié gebod te oortree nie.

Twee weke nadat TJ en Snake in die huis op Sasolburg ingetrek het, het Daisy haar aangemeld as derde spanlid. Sy bestuur die getaway-kar gedurende operasies. Sy’t van kleintyd af rondgejaag op motorfietse, glo maar altyd ’n wilde kat gewees.

Wat presies Daisy se verhouding met die Orde is, is steeds vir TJ onduidelik. Al deel hulle die afgelope twee maande ’n bed, praat sy nie daaroor nie. Hy vermoed sy doen al jare lank jobs vir die Orde.

Dat sy weet hoe om ’n kar te bestuur, het hy en Snake gou uitgevind. Hulle het amper hulle holle in Kimberley gesien. Hulle het ’n caterpillar gebruik om ’n gat in die buitemuur van ’n diamantstoor te stoot en toe ’n swaar kluis vol diamante op ’n vragmotor gelaai. In ’n afgeleë veld het Snake sy magic op die kluis gewerk, die ding oopgekry ná drie ure se sweet. Hulle was nog besig om die diamante oor te laai toe die cops in hulle hordes aangejaag kom met loeiende sirenes en blou ligte.

Daisy het gewag vir die cops om nader te kom. Dié het hulle in ’n formasie van vier voertuie probeer wegkeer van die grootpad. Sy het met ’n moerse spoed weggetrek, die BMW ’n paar keer in die rondte laat tol om soveel stof as moontlik op te skop en toe deur die nouste van gaps tussen twee bakkies geskiet. Toe hulle al op die grootpad was, het die cops eers besef die BMW het tussen die stofwolke verdwyn.

Gelukkig doen hulle nie meer sulke gevaarlike jobs nie. V het besluit dit maak te veel mediageraas, hulle sal vorentoe net op huise konsentreer.

TJ kyk op toe Snake se seningrige lyf in die deur verskyn. Sy wit hare hang in slierte langs sy gesig af, sy dun lippe getrek in ’n sieklike smile.

“En as jy h-h-hier so alleen l-lê?” Snake wys na die TV. “Nie geweet jy kyk rugby nie. Gedink jy en Daisy is in die k-k-kooi besig. Fokkit, julle k-k-kan darem lawaai in die nagte!”

Sy irriterende runniklaggie weergalm soos ’n sirene in TJ se kop en bloed stoot in sy gesig op. Hy sit regop.

“Sê nog een keer iets daaroor en ek bliksem jou!”

“Jy en w-w-wie?” vra Snake uitdagend. Runniklaggie, nikotiengevlekte tande.

TJ sak terug op die bank. Hy sal Snake maklik gelyk met die grond kan maak, maar hy moet hom inhou. Nie die moeite werd om hom te vervies vir dié aap nie. ’n Bakleiery kan net V se ore bereik en dan het hulle van voor af stront.

“Waar’s Daisy?” vra Snake.

“Die juwele gaan aflewer.”

TJ weet sy vat dit na iemand in Johannesburg. Van daar af gaan dit Doebai toe, het sy eenkeer in ’n unguarded oomblik laat val.

“Wat sê jy v-v-van die Nelspruit job wat a-a-afgestel is?” vra Snake. Hy trek sy vingers stadig deur sy slierte en leun teen die muur.

“V is nervous ná jou fokkop met die omie. Ons moet nou eers vir ’n ruk laag lê voor ons Kaap toe gaan.”

Snake snork. “V is glad te n-n-nervous. Maar ek m-m-maaind nie. Minder werk vir ons. Ek gaan g-g-gou secondhand bookshop toe.”

TJ knik net. Gaan natuurlik weer hier aankom met ’n hele lot Louis L’Amours. Al waarmee Snake hom in sy stuffy kamertjie besig hou, is om te rook, cowboy-boekies te lees en te poep. Hulle hoor hom gereeld. Regte vark.

TJ weet nie hoekom nie, maar hy voel onrustig oor die Kaapse trip. Só naby aan die hoofkwartier sal hulle wragtig nie kan opneuk nie. Die Orde is ’n klomp bliksems. Sou die cops maar net ’n sniff van die Orde kry as gevolg van hom en Snake, sal hulle twee vinnig na hulle grafte gestuur word.

Hy moet meer uitvind oor die Orde, besluit hy. ’n Bietjie assuransie vir homself inbou vir as die pawpaw die fan strike.

• • •

Terwyl Kassie na Magrieta se kantoortjie loop, werk hy uit Daniel Knobel sou negentig jaar oud gewees het as hy nog geleef het. Sewe jaar terug was hy twee-en-tagtig, wat ooreenstem met White se skatting. Hy’s beïndruk met die lab-mense.

Magrieta is verlig hulle het nou ’n naam. Kassie het ’n vermoede sy word oorlaai met werk as navorser/argivaris/administratiewe klerk. Die Snawelman is ’n bykomende las vir haar.

“Ek’s toevallig nou net besig met die K’s,” sê sy opgewonde. Sy krap rond tussen die dossiere op haar lessenaar, maar skud dan haar krulkop moedeloos.

Sy steun toe sy opstaan. “Kom ons kyk net gou by die afgehandeldes. Soms raak die goed deurmekaar.”

Sy kyk beskuldigend in Kassie se rigting. Hy weet sy glo vas die speurders is die skuldiges. Sy krap rond in ’n staalkabinet, haal fronsend ’n dossier uit.

“Daniel Knobel. Saak afgehandel,” lees sy voor op die dossier voor sy dit vir Kassie gee.

Sy loer oor sy skouer toe hy die dossier oopmaak. Daar is net ’n enkele inskrywing, plus ’n fotostaat van ’n foto van die oorledene. Dit stem verbasend ooreen met die gesig wat die prof saamgestel het, groot neus en al. Die saak is by Nuweland-stasie deur Basil Lourens hanteer. Kassie skud sy kop; Basil is twee jaar gelede dood in ’n motorongeluk tydens ’n jaagtog agter huisrowers aan.

Die inskrywing is kort en saaklik: Knobel is as vermis aangemeld deur sy vrou; volgens die datum was dit ses jaar en nege maande gelede. Hy het laatmiddag in ’n park naby sy huis gaan stap en nooit opgedaag vir aandete nie. Die saak is binne vier-en-twintig uur oorgegee aan die Skiereiland se spesiale aksie-eenheid teen georganiseerde misdaad – daar is geglo Knobel se verdwyning hou verband met die Broeksma-reeksmoordenaarsaak wat die eenheid aan die ondersoek was. Broeksma is die volgende oggend naby Knobel se huis in Rondebosch gevang.

Die enigste ander inligting in die dossier is die name van die Broeksma-ondersoekspan. Kassie herken net een naam: Snoek Kruger, wat amper drie dekades gelede saam met hom in Bellville-polisie se derde pluimbalspan gespeel het. Kassie weet Snoek is by die polisie weg en het nou ’n viswinkel in die Paarl. Hy het op ’n keer aandete gekoop by Snoek se Viswinkel – ’n bleddie pap snoek.

Hy sal Snoek moet bel en hoor wat destyds gebeur het.

Kassie is eintlik verlig. Broeksma het Knobel vermoor en nou is Knobel se geraamte opgespoor. Nie veel wat hy en Rooi verder aan die sakie hoef te doen nie. Case closed.

Judaskus

Подняться наверх