Читать книгу Ys - Rudie van Rensburg - Страница 10

7

Оглавление

Van: Jack MacArthur

Aan: Peter Read

Ek het gister in die galery van die Huis van Verteenwoordigers na jou pleidooi geluister. Volgens jou statistiek lyk dit asof die seerowerprobleem nou regtig handuit ruk en beter veiligheidsmaatreëls op die VSA se handelsroete verby die Afrika-kus is inderdaad belangrik. Ek stem saam dat ons ’n groter veiligheidsplig teenoor ons handelskepe het en sal jou voorstelle steun wanneer dit aan die Senaat voorgelê word.

Terselfdertyd wil ek jou daarop wys dat ons in die afsienbare toekoms alternatiewe seeroetes kán benut as ons dadelik werk maak daarvan. Aardverwarming is ’n feit, ook die smeltende ys in die Noordpool. As gevolg daarvan maak die Russe toenemend gebruik van die Bering-seestraat tussen Alaska en Rusland – Poetin verwys al daarna as die volgende Suez-kanaal. Hulle benut gereeld die Noordoosdeurvaart, wat al sedert 2007 ysvry is gedurende die somermaande, as handelsroete tussen Europa en Asië. Dis 30% korter as die Afrika-roete, wat hulle baie aan brandstof spaar én die seerowergevaar uitskakel.

Omdat ons nie oor genoeg ysbrekers beskik om die Arktiese roetes te benut nie, het Amerika net uit ’n handelsoogpunt ’n groot agterstand teen die Russe. ’n Ja-stem vir my energiewetswysigings kan hierdie situasie omkeer.

* * *

MacArthur se oproep vroegoggend het Willie ontstel. Hoekom het hy nie sélf daaraan gedink nie? Die senator is reg – hulle kan nie bekostig om slegs die assistent uit te haal nie.

MacArthur is nie net ’n uitgeslape politikus nie, sy brein werk ook soos dié van ’n krimineel. Wat nie vir Willie ’n verrassing is nie. Hy ken die senator se geskiedenis: hoe hy in sy jong dae as sekretaris van ’n vakbond in Detroit met die Mafia saamgewerk het om sake in die staalbedryf te manipuleer. MacArthur het juis sy vrou, die enigste kind van ’n Texas-oliebaron, by die bruilof van ’n Mafiabaas ontmoet. Kort ná hul troue het MacArthur se skoonpa gesterf in ’n “ongeluk” by ’n olieboor, sodat hy skielik toegang tot miljoene dollars gehad het.

Willie skud sy kop. Hoe anders het hy MacArthur nie opgesom met hulle eerste kennismaking nie. Dit was twaalf jaar gelede in die Kongo, en hy was pas aangestel as hoof van ’n sekerheidsmaatskappy in Kinshasa. Sy span se eerste taak was om ’n senaatsafvaardiging uit Amerika onder leiding van MacArthur op te pas.

Volgens die inligting wat Willie vooraf versamel het, het MacArthur in daardie stadium nog nie groot blieps op die politieke radarskerm veroorsaak nie. Die Republikeinse establishment het hom wel as effe voortvarend beskou, iemand wat geneig is tot wilde uitsprake sonder om seker te maak van sy feite. As ’n ryk man van Texas was daar ook fluisteringe dat hy sy pad in die politiek oopgekoop het, maar dit was beperk tot kleiner aangeleenthede in streeksverband.

MacArthur het by Willie die indruk geskep van ’n eerlike en reguit man. Terselfdertyd was die senator beïndruk met Willie se veiligheidsmaatreëls in die DRK en sy status as voormalige kolonel van Suid-Afrika se hoog aangeskrewe teenkorrupsie-eenheid. Op sy laaste aand in die Kongo het MacArthur Willie na sy hotelkamer ontbied en hom ’n werkaanbod gemaak. “Om vir my en ’n paar van my kollegas in Washington take te verrig,” het MacArthur gesê. Die betaling wat hy aangebied het, kon Willie onmoontlik van die hand wys.

Maar anders as wat Willie verwag het, het die take niks met veiligheid uit te waai gehad nie. Die MacArthur-clan het hom gebruik om geraamtes uit die kaste van hulle politieke teenstanders te grawe. As voorkomende maatreël moes Willie hom in Chicago vestig sodat hy nie in Washington ’n bekende gesig word nie.

Afgesien van MacArthur se gereelde blitsbesoeke het hy min direkte kontak met sy ander werkgewers gehad, en later was MacArthur verreweg sy grootste opdraggewer. Die mildelike vergoeding en groot bonusse ná suksesvolle operasies was ’n aansporing om net sy beste werk vir sy topkliënt te lewer. Mettertyd het die take egter meer uitdagend geword, met moord ook op die agenda.

Ondanks sy weersin in dié opdragte kon Willie nie bekostig om terug te deins nie. Behalwe dat MacArthur binne ’n oogwink sy Amerikaanse werkpermit kan beëindig, kan hy nog vinniger van hom ontslae raak. Willie weet heeltemal te veel van die senator se bedrywighede vir dié om polities veilig te voel as hulle verhouding sou versuur.

Met ’n sug stuur Willie sy gedagtes terug na sy huidige dilemma. Nog iemand sal doodgemaak moet word, wat groter eise aan Viking en Fortuin gaan stel. Maar daar is nie nou ’n ander uitweg nie.

* * *

Vanoggend is Shaheena heel eerste by die werk. Sy maak koffie, skuif agter haar lessenaar in en sit die rekenaar aan. Sy gaan haar skootrekenaar mis, maar sy sal vrede moet maak daarmee dat Elton dit by die huis gebruik.

Sy is vies toe trane skielik in haar oë opwel. Toe sy vanoggend opstaan, het sy die nag se aaklige voorval uit haar gedagtes verban. Op pad werk toe het sy vasberade net aan die moordsake gedink. Maar nou kom alles terug na haar. Haar wal van verdediging is nie bestand teen die stortvloed emosies wat in haar opstoot nie.

Elton het kort voor tweeuur by die huis aangekom, het sy op die elektroniese wekker op haar bedkassie gesien. Toe hy langs haar in die bed klim, was die drankwalm oorweldigend. Sy het verstyf toe sy hande oor haar lyf begin streel. Hy moes dit gevoel het, want hy het haar hardhandig op haar rug gedraai en met sy volle gewig op haar geklim terwyl hy haar broekie onder die nagrok afwikkel.

“Nie nou nie, Elton … asseblief, nie nou nie,” het sy gesmeek, maar dit het hom net verder aangevuur. Sy het hom probeer wegstoot, maar hy was te sterk. Soos ’n besete dier het hy sy penis in haar in geforseer.

Haar hande bewe toe sy die koppie na haar lippe bring om te sluk. Hy het my weer verkrag, hamer dit in haar brein terwyl die trane oor haar wange stroom.

Die behoefte om haar las met iemand te deel, raak oorweldigend. Sy strek haar hand uit na haar selfoon op die lessenaar. Haar ma? Een van haar susters?

Nee. Sy sien nie kans daarvoor nie. Hoe sal hulle reageer op die nuus dat die October-familie se liefling ernstige huweliksprobleme het? Nog erger, dat die SGU se nuwe bevelvoerder die slagoffer van mishandeling is? Hulle heldeverering vir haar is té groot. Haar pa met sy swak hart sal dit eenvoudig nie kan verwerk nie.

Op ’n onlangse besoek aan haar ouerhuis het sy toevallig afgekom op plakboeke wat haar ma stilletjies van haar loopbaan maak. “Wou nie hê jy moet weet’ie,” het haar ma gesê. “Jy hou mos nie van ’n gebrêg oor jouselwers nie.”

Twee plakboeke met koerantknipsels van haar skooldae af: hoofmeisie; kaptein van die WP se akademie-hokkiespan – haar naam rooi onderstreep in al die beriggies oor wedstryde; die berig oor haar drie onderskeidings in ’n skool waar sestig persent van die matriekklas gedruip het; haar vele prestasies by die polisiekollege; haar aanstelling by die Valke; die foto van haar en Elton in Die Burger se Bruid van die Jaar-kompetisie wat haar oudste suster sonder haar medewete ingestuur het; ’n fotostaat van haar sertifikaat as beste student van die leierskapkursus in Johannesburg; die talle artikels en berigte in plaaslike koerante toe sy as bevelvoerder van die SGU aangestel is.

“Wat wil Ma daarmee maak!” het sy verleë gesê.

“Vir die mense wys ons Octobers het ook iemand om op proud te wees. Ons is dalk vannie Flats, maar ons staan nie terug vi’ hulle wat al die opportunities innie lewe gekry het’ie.”

Shaheena haal ’n sakdoek uit haar handsak, vee haar oë droog en snuit haar neus. Op pad badkamer toe om haar grimering te herstel, besef sy opnuut sy kan nie haar las met haar familie deel nie.

Nóóit nie.

* * *

Kassie is verheug toe brigadier Fortuin haar kop instemmend knik.

“Julle het goeie werk gedoen,” sê sy. “Maar met agt-en-veertig verdagtes sal kaptein Kasselman en sersant Els julle met die opvolgwerk ook moet help. My voorstel is julle verdeel die name onder mekaar en hanteer die ondersoeke afsonderlik. Ons kan nie bekostig dat julle dit in spanne doen nie.”

Kassie kyk onderlangs na Rooi, wat breed glimlag. Uiteindelik kan hulle twee nou ’n bydrae maak.

Sy tik met haar wysvinger op die lys. “Julle het presies één week.”

Colyn frons. “Met alle respek, brigadier, dis bietjie … tight.”

Haar gesig verhard. “Kaptein Colyn, ek sal besluit wat tight en wat nie tight is nie,” sê sy afgemete. “Hierdie eenheid is veronderstel om vinnige resultate te lewer. Julle word nie soos die res van julle kollegas in die land met hope dossiere belas nie. Hier kan ons voluit gaan vir net een saak, wat ’n helse voorreg is.”

Sy tel die lys met name op en skiet dit oor die tafel na hom. “Elkeen moet twaalf mense opvolg. Drie ’n dag is sekerlik nie te veel gevra nie. Of is dit te tight na jou smaak?”

Colyn se gesig verbleek. Hy kyk behoedsaam na haar. “Uit ondervinding weet ek net dis moeilik om …”

Sy gee hom nie kans om klaar te praat nie. “Nee, kaptein, niks is moeilik as jy dit as ’n uitdaging aanvaar nie. Maar álles is moeilik as jy jou blind staar teen ’n paar struikelblokkies. Dalk moet jy net jou ingesteldheid teenoor jou werk verander.”

Sy kyk beurtelings na elkeen om die tafel. “Is daar nog enige besware?”

Haar vraag word met ’n doodse stilte begroet, al weet Kassie dat Colyn reg is. Dis amper onmoontlik vir ’n enkele speurder om twaalf mense in ’n week op te volg as jy wil seker maak dat elke alibi waterdig is.

Ys

Подняться наверх