Читать книгу Ys - Rudie van Rensburg - Страница 12

9

Оглавление

Van: Jack MacArthur

Aan: Terry Webster

Ek stem saam met jou dat olieboordery in die Noordpool slegs winsgewend is wanneer die olieprys hoog is. Dit sal BP, wat met hul Northstar-projek reeds in die 1980’s daar geboor het, ook vir jou kan sê. Maar die olieprys fluktueer soos die wêreld se aandelebeurse, daarom kan ons ons nie blind staar teen tydelike insinkings in die prys nie.

Dis ’n feit dat die gebied aangrensend aan Alaska heel moontlik die rykste olievelde in die Arktiese gebied het. Volgens die VSA se jongste geologiese opname word geskat dat die hele Arktiese gebied sowat 90 miljard vate olie huisves, waarvan 25 miljard vate in Alaska se water is. Dit sou kortsigtig wees om ’n potensiële geldbron van hierdie omvang te ignoreer omdat olie nie deurentyd winsgewend ontgin kan word nie.

Die oliemaatskappye werk voortdurend om hul toerusting te verbeter, wat Arktiese aanpasbaarheid en kostebesparing verhoog. Binnekort gaan ’n lae olieprys hulle nie keer om winsgewend sake te doen nie. Die tyd om die pad vir hulle oop te maak, is nóú.

* * *

Dis skuins voor vier in die middag toe Kassie aan die voordeur van ’n huis in Parow klop. Sedert gister het hy al vyf beleggers besoek, maar nie een het verdag voorgekom nie. Almal is briesend vir Dippenaar – een het selfs gesê hy’s bly “die donner” is uit die lewe gehelp – maar Kassie het dit nie nodig geag om hulle alibi’s na te gaan nie. Hy kon aan hul oë en lyftaal sien hulle is onskuldig. Buitendien was drie van hulle heeltemal te tengerig om Speknek Dippenaar fisiek aan te vat.

’n Forsgeboude man in sy sestigs maak oop. “Ek wil niks koop nie en ek het genoeg assuransie,” sê hy nors nog voor Kassie kan praat.

Kassie lag verleë. “Ek wil niks verkoop nie, meneer Maartens. Ek is van die polisie en ons voer onderhoude met almal wat onder John Dippenaar se skelmstreke deurgeloop het.”

“Mag hy in die hel brand,” brom Maartens. “Kom binne.”

Hulle gaan sit in ’n beknopte sitkamer. Maartens skakel die TV af. Die tafeltjie langs sy stoel staan vol leë jogurtbakkies. In sy een mondhoek sit ’n strepie pienk jogurt, merk Kassie.

“Hoe het dit gekom dat u geld by Dippenaar belê het?”

Maartens trek sy vingers deur sy grys haredos. “Ons het in die ou dae saam klubrugby gespeel. Ek’t die bliksem vertrou.”

“Was hy hier by u huis om die belegging te werf?”

Maartens knik. “Ja, kak in my kop gesit en praat van die helse goeie maandelikse rente wat hy waarborg. Ek het al my aftreegeld by Ou Mutual gevat en dit by die skelm wetter belê.”

“Hoe lank gelede was dit?”

“’n Jaar terug.”

“En was die maandelikse rente goed?”

“Sewentien persent … wel, tot die koerante ’n paar maande terug stories oor hom begin skryf het. Einde verlede maand het ek boggherol gekry.”

“Het u hom toe gekontak?”

“Ja, ek was einde verlede maand by sy kantoor. Toe sê hulle vir my hy’s uit op sake.”

“En u het hom nooit weer probeer kontak nie?”

Maartens snork. “Ek het elke liewe dag soontoe gebel, maar niemand het geantwoord nie. Toe sien ek in die koerant hy’s dood.”

“Dippenaar is drie en ’n half weke gelede vermoor. Kan u onthou wat u op daardie spesifieke Woensdag gedoen het en waar u oral was?”

Anders as die ander mense wat Kassie ondervra het, lyk Maartens nie ontsteld of verontreg omdat hy dalk as ’n verdagte beskou word nie.

“Niks besonders nie,” sê hy terwyl hy Kassie stip in die oë kyk. “Die oggend kafee toe gegaan en toe heeldag in die tuin gewerk.”

Kassie vind dit vreemd dat hy so vinnig kan onthou wat hy so lank terug spesifiek op daardie Woensdag gedoen het.

“Ek sal graag ook met u vrou wil gesels.”

“Sy’s drie jaar terug oorlede. Ek bly alleen.”

’n Telefoon lui in die aangrensende vertrek. Maartens maak verskoning en stap uit.

Kassie verspeel nie tyd nie. Hy staan vinnig op, haal sy sakdoek uit en drapeer dit oor sy hand. Tel ’n jogurtbakkie daarmee op, draai dit versigtig toe en sit dit in sy windjekker se sak.

Colyn het genoem dat daar vreemde vingerafdrukke op ’n agterste skuifdeur in Dippenaar se kantoor was. Hulle vermoed dis hoe die moordenaar ongesiens toegang tot die kantoor gekry het. Die skuifdeur lei na Dippenaar se motorhuis en volgens die ontvangsdame het nét hy daardie uitgang gebruik. Moeite werd om die vingerafdrukke op die jogurtbakkie met dié op die skuifdeur te vergelyk, besluit Kassie.

Ná twee minute is Maartens terug.

Kassie staan op. “Dankie vir u tyd. Ek sal graag u selfoonnommer ook wil hê. Op Dippenaar se papierwerk kon ons net u landlynnommer kry.”

“Ek’t nie ’n selfoon nie,” sê Maartens. “Nog nooit een besit nie.”

Op pad uit kyk Kassie belangstellend na die tuin. Hy weet nie hoe dié lappie gras en paar roosbome iemand die hele dag kan besig hou nie. Hy trek weg terwyl Maartens hom fronsend van die stoep af dophou.

Om die hoek hou Kassie stil. Hierdie ou is beslis ’n verdagte. Hy het heeltemal te maklik onthou wat hy op die moorddag gedoen het. En Kassie weet uit ondervinding dat direkte oogkontak as iemand ondervra word nie noodwendig ’n teken van eerlikheid is nie. Omdat ’n blik wat rondspring met leuens geassosieer word, is mense geneig om direkte oogkontak te oordoen wanneer hulle lieg.

Hy bel Colyn op sy selfoon en vertel hom van sy vermoede.

Colyn sug. “Dit gaan weer ’n tyd vat om die vingerafdrukke te vergelyk. Maar dis seker beter as niks.”

“Ek dink daar’s ’n vinniger manier om vas te stel of Maartens skuldig is,” sê Kassie. “Volgens hom het hy elke liewe dag na Dippenaar se kantoor gebel. Dippenaar is die Woensdag dood en die ontvangsdame het eers die Saterdag op sy lyk afgekom. Die berig oor sy dood het toe die Maandag in die koerante verskyn.”

“Wat gaan dit ons help?”

“As Maartens nog op die Donderdag en Vrydag die kantoor gebel het, kan ons met redelike sekerheid aanneem hy’s onskuldig. Maar as hy net tot die Dinsdag gebel het en nooit weer daarna nie, bewys dit hy’t geweet Dippenaar was reeds dood.”

“Goeiste moer, jy’s reg! Ek gaan dadelik sy telefoonrekords trek,” sê Colyn, nou skielik geesdriftig.

* * *

Lipinsky voel skuldig toe hy die MacArthur-lêer nader trek. Sedert sy baas dit ’n paar dae gelede vir hom gegee het, was daar nog nie tyd om dit te bestudeer tussen sy dringende take deur nie.

Die lêer is eers drie jaar gelede geopen, merk hy. Die eerste inskrywing handel oor ’n aktivis wat die dryfkrag was agter ’n beweging wat strenger wapenwetgewing vir die VSA bepleit het. Die man het ’n petisie begin ná die soveelste sinnelose skietery op ’n universiteitskampus en kort daarna een by ’n skool waarin talle jong mense gesterf het. Hy het vier miljoen handtekeninge bymekaar gemaak en sy griefskrif met aanbevelings tydens ’n massaoptog in Washington aan MacArthur oorhandig. Dié was toe voorsitter van ’n komitee wat voorstelle moes oorweeg vir beperkings op die Second Amendment, wat elke Amerikaner se reg waarborg om hom met ’n wapen te beveilig.

Die aktivis het die media aan sy kant gehad, wat hom hope positiewe blootstelling gegee het. Een van sy belangrikste besware was dat MacArthur gereeld op grootwildjagekspedisies gaan en ook in sy jonger dae erepresident van ’n pistoolklub in Texas was. Volgens die aktivis was dit belaglik dat só iemand objektief kan oordeel oor voorgestelde beperkings op die Second Amendment.

Twee weke ná die protesoptog in Washington is die aktivis dood in sy woonstel in Los Angeles aangetref. Homself met ’n pistool in die kop geskiet. Daar is ook ’n arsenaal wapens in sy woonstel gekry. Sy jare lange vriendin het beweer sy was onbewus van die wapens en het gesweer hy was nie die selfmoordtipe nie, tog het die polisie geen bewyse van gemene spel gekry nie.

Die anti-wapenveldtog se borrel het skouspelagtig gebars. MacArthur het in ’n kort verklaring gesê niemand kan so ’n onstabiele karakter se aanbevelings ernstig oorweeg nie. Hy het ook die egtheid van die vier miljoen handtekeninge bevraagteken. ’n Maand later het die MacArthur-komitee geen beperkings op die Second Amendment voorgestel nie.

’n Ligte klop aan Lipinsky se deur laat hom opkyk. Althorp kom ongenooid binne.

“Ek hoor by die baas jy’t nou die MacArthur-lêer. Wou net kom sê ek sal dit by jou oorneem as jy toegegooi is met ander werk. Ek’s nou taamlik los.”

Lipinsky hou nie van Althorp nie. Hy is voltyds besig om sy eie beeld by die base blink te vryf – ’n gatkruiper van formaat.

“Dankie vir die aanbod, maar ek het genoeg tyd,” lieg Lipinsky.

Ys

Подняться наверх