Читать книгу Ys - Rudie van Rensburg - Страница 14

11

Оглавление

Dis ’n trietsige Kaapse winteroggend, maar vir Frankie is dit die mooiste dag van die afgelope vyftien jaar. Hy is skaars bewus van die fyn reën wat op hom neersif en in straaltjies uit sy hare langs sy nek afloop.

Met die reuk van vryheid in sy neusvleuels en die vooruitsig dat hy binnekort Sue se warm lyf teen hom gaan vasdruk, gee hy nie om om soos ’n verkluimde hoender in net ’n kortmouhemp, jeans en plakkies in die halfskemer op die sypaadjie te wag nie.

Hoe lank het hy nie oor hierdie dag gedroom nie! Hoe het hy nie die tyd om gebid om uiteindelik hier te kan staan nie.

Hy het effens vroeër uitgekom as die amptelike tyd. Die bewaarder wat hom uitgelaat het, het gesê dis twintig voor sewe. Die horlosie in die papiersak waarin sy paar besittings van vyftien jaar gelede weggebêre was, werk lankal nie meer nie. Hy het dit in sy broeksak gesteek en dadelik sy trouring aan sy vinger gewikkel. Die pakkie Lexington en Bic-aansteker wat nog in die papiersak was, het hy sommer in ’n vullisdrom gegooi. Die rookgewoonte het hy gou in die tronk gelos omdat hy nie die swartmarkpryse kon bekostig nie.

’n Afgeleefde Toyota, met radioluidsprekers wat ten hemele doef-doef, ry verby en stop ’n entjie verder by die gevangene wat saam met hom uitgekom het. Twee mans, ’n vrou en ’n kind bondel by die kar uit. Die blye weersiens, luidrugtige krete en omhelsings laat Frankie glimlag. Hy ken die man nie, maar kon sien sy medegevangene is net so bly soos hy toe hulle by die hek uitstap.

“Hierie institution sien my nooit weer nie, brother,” het hy met ’n breë glimlag gesê toe hulle hier op die sypaadjie kom staan het.

Die derde gevangene se mense het klaar vir hom gewag – ’n kombi vol familielede. Hulle is dadelik weg met ’n toetergeskal en skreeuende bande.

Frankie wuif toe die Toyota verby hom ry. Sue behoort nou enige oomblik hier te wees met haar rooi Golf.

Hy trek sy oë op skrefies toe motorligte aankom. ’n Groot dubbelkajuit-dieselbakkie ry stadig verby, draai by die sirkeltjie om en kom stop langs hom.

’n Man met blonde krulhare leun by die venster uit.

“Is jy Frankie Kriel?” vra hy.

* * *

Kassie hou brigadier Fortuin stip dop. Dalk het hy hom verbeel, maar hy kon sweer daar was ’n tikkie blymoedigheid op haar gesig te bespeur. Haar oë het vir ’n oomblik versag toe Colyn haar inlig oor Maartens se telefoonrekords.

Maar sy’s gou weer onder vriespunt.

“Wat’s jou volgende stap, kaptein Colyn?”

“Volgens die lab-mense gaan ons nog twee dae wag vir die vingerafdruktoetse. Hoewel hulle dit as ’n prioriteitsaak hanteer, kan hulle nie vinniger nie, want die afdrukke op die jogurtbakkie is min en van ’n swak gehalte.”

Colyn tik op die uitdrukke van die telefoonrekords. “Maar hierdie dui vir my daarop dat Maartens beslis ’n verdagte is. My voorstel is dat ons hom en die ontvangsdame vandag nog inbring vir ondervraging.”

Die brigadier skud haar kop beslis. “Te gou. Hééltemal voortydig, kaptein.”

Sy tuur peinsend voor haar uit, kyk dan na Colyn en Piedt. “Ek wil hê julle twee moet alles uitvind oor Maartens en die ontvangsdame se verlede. Ek gee julle tyd tot oormôre om terug te rapporteer, wanneer ons die uitslae van die lab af gaan kry. Onthou, die vingerafdrukke kan wel wys Maartens was in Dippenaar se kantoor, maar dit bewys nog nie hy’t hom doodgemaak nie. Maar ek stem saam dat sy telefoonrekords heel moontlik dui op ’n komplot waarby meer as een mens betrokke was.”

Colyn en Piedt knik gedienstig.

“Tussen ons vier moet ons nog twaalf beleggers gaan sien. Is dit nodig om daarmee voort te gaan?” vra Colyn.

Kassie hou asem op. Hy hoop van harte die antwoord is negatief. Hy is doodseker dit gaan net ’n mors van tyd wees.

“Ja, dit is.” Sy kyk na Kassie en Rooi. “Julle moet daai taak nou ten volle oorneem. Rapporteer oor twee dae terug saam met kaptein Colyn-hulle.”

Sy kom fronsend orent. “Onthou, tyd is nie aan ons kant nie. Die polisiehoof soek resultate. Oor twee dae moet hierdie saak so goed soos afgehandel wees.”

* * *

Lipinsky haal die MacArthur-lêer uit sy kantoorkluis. Skande dat hulle nie toegelaat word om sulke inligting op die rekenaarstelsel te stoor nie. Niemand in die ganse Amerika buiten die FBI werk nog met papierlêers nie.

Maar hy weet daar’s historiese redes vir die volgehoue gebruik van die lêers. Te veel dinge is verkeerd hanteer in die tyd van J. Edgar Hoover, die legendariese grootbaas van die FBI. Die grootste verleentheid in die Buro se geskiedenis was toe onafhanklike ondersoekers in opdrag van die Kongres die FBI-kantore in Hoover se laaste jare deursoek het. In die proses is skandelike stories opgediep – van transkripsies van Martin Luther King se telefoongesprekke wat afgeluister is tot ongemagtigde lêers oor amper ’n halfmiljoen Amerikaners, sowel as bewyse dat dié inligting gebruik is om sekere politieke doelwitte te bereik.

“Ongemagtigde ondersoekinligting oor vooraanstaande Amerikaners mag onder geen omstandighede op rekenaar gestoor word nie,” het die direkteur beklemtoon toe Lipinsky destyds by die Buro begin het. “Ons kan maklik van papierlêers ontslae raak as daar weer ’n ondersoek oor ons bedrywighede kom – daarom die snippermasjiene in al die kantore. Maar inligting op rekenaars kan nie so maklik uitgewis word nie. Daar bly altyd ’n digitale voetspoor agter.”

Lipinsky blaai weer vlugtig deur die lêer. Buiten die geval van die anti-wapenaktivis, was daar beslis ook ander voorvalle wat verdag voorkom: die advokaat wat in ’n huisbrand verkool het nadat hy ’n stokkie wou steek voor ’n groot sake-ontwikkeling op die rand van ’n natuurreservaat buite Houston – die ontwikkelaar ’n neef van MacArthur. Die Demokratiese senator wat in Colorado met sy sportmotor van ’n krans na sy dood geval het ná dreigemente dat hy onthullings gaan maak oor ryk Republikeine wat Federale besluitnemers omkoop vir persoonlike gewin. En les bes die hoëklas-prostituut wat voor ’n trein op die New York-stasie beland het nadat ’n foto van haar saam met MacArthur in ’n poniekoerant verskyn het – ’n foto wat MacArthur as “gedokter” afgemaak het. En in geen van die gevalle kon die polisie bewyse van gemene spel kry nie.

Wat Lipinsky ongemaklik laat voel, en wat hy nog nie hardop aan enigiemand genoem het nie, is die feit dat sy kollega Donaldson in ’n vliegongeluk oorlede is. Tot dusver kon die lugvaartowerhede nog geen verklaring gee oor waarom die splinternuwe sessitplek-vliegtuig skielik enjinprobleme ontwikkel het nie.

Maak dit die toeval nie net soveel groter nie? wonder Lipinsky. En nie een van sy kollegas het ’n wenkbrou daaroor gelig nie. Dalk omdat Donaldson met soveel groter sake besig was, het die MacArthur-konneksie ongesiens verbygegaan.

Hy kyk weer na die string name van MacArthur se vriende en kennisse wat Donaldson gelys het. Die meeste is politici, invloedryke sakemanne en bekende vermaaklikheidsterre.

Hy steek by een naam vas: Willie Nel, kommunikasiekonsultant en beeldpoetser van Chicago – ’n man wat MacArthur gereeld daar besoek, volgens Kearnsey, ’n plaaslike FBI-agent, skryf Donaldson.

Waarom ’n beeldpoetser van Chicago inspan terwyl daardie spesie so volop in Washington is? En tussen hakies: Stel ondersoek in oor hom. Dié inskrywing deur Donaldson was ’n week voor hy in die vliegongeluk omgekom het.

Lipinsky klik op sy rekenaar om hulle Chicago-kantoor se telefoonnommer te kry. Hy sal by Kearnsey moet hoor of Donaldson iets meer oor Nel met hom bespreek het.

* * *

Willie is verlig toe hy die oproep van Viking kry.

Alles het seepglad verloop, rapporteer Viking. Kriel se vrou is suksesvol uitgeskakel en hy het die oggend niksvermoedend in die bakkie geklim. Hom effe teëgesit toe hulle hom wou blinddoek, maar gou ingestem toe Fortuin ’n yster onder sy neus druk.

“Ons sal later met hom oor die job en sy pay gesels. Ons gee hom eers bietjie alleentyd in sy nuwe sel,” sê Viking met ’n runniklaggie.

Toe Willie die foon dooddruk, is sy gedagtes gou weer by sy nuwe opdrag.

Ná sy gesprek met MacArthur het hy dadelik drie van sy knapste dirt-grouers gekontak om Lipinsky se verlede te fynkam. Daar is altyd die moontlikheid dat iemand iewers skeefgetrap het. Soos die keer toe hulle iets moes kry om ’n Kongreslid mee af te pers. Dit was op die oog af ’n onmoontlike taak en selfs MacArthur was skepties oor hul kans op sukses.

Die Demokraat was vroeër ’n predikant, gelukkig getroud en bekend in sy tuisstaat as ’n eerbare politikus met ’n onkreukbare rekord. Sy enigste seun het egter vir die deurbraak gesorg. Dié is as twintigjarige van dronkbestuur aangekla, maar het in die hof skotvry daarvan afgekom toe sy bloedtoetse onverklaarbaar verdwyn het. Willie se grawers het dieper gegrou en die polisieman opgespoor wat die saak hanteer het. Vir ’n stewige omkoopsom het die polisieman met die waarheid uitgekom dat die Kongreslid hom betaal het om van die bloedtoetse ontslae te raak. Hy het ’n verklaring afgelê wat anoniem aan die Kongreslid gestuur is met die waarskuwing dat dit aan die media gelek sal word as hy nie na MacArthur se pype dans nie. Tot vandag toe eet die man uit MacArthur se hand.

Willie se maag trek op ’n knop. Met so min tyd aan hul kant gaan deeglike werk oor Lipinsky se verlede ’n helse uitdaging wees. En MacArthur het gesê as hulle nie binne die volgende twee dae iets bruikbaars kry nie, moet die laaste uitweg gevolg word.

Hy kan ook nie sy ongemak oor Kriel se vrou afgeskud kry nie. Sy was ’n onskuldige slagoffer. Soos Kriel ook gaan wees. Het MacArthur hom dan in ’n totale monster verander?

Sy gedagtes keer onwillekeurig terug na Sue Kriel. Met ’n kussing versmoor, het Viking terloops gesê. Die toneel speel voor Willie se geestesoog af: die weerlose vrou wat deur twee groot mans op ’n bed vasgedruk word, haar gesmoorde krete, die spartelende bene …

Ys

Подняться наверх