Читать книгу Ys - Rudie van Rensburg - Страница 11
8
ОглавлениеVan: Jack MacArthur
Aan: Delia Mickelson
Delia, jou belangrike bydraes as komiteevoorsitter van die toerismeportefeulje het nie ongesiens verbygegaan nie. Jy doen uitstekende werk! Tog dink ek julle komitee kyk ’n geleentheid mis: die buitengewone toerismemoontlikhede by die Noordpool.
Tot dusver was die VSA se probleem dat hy homself nie as ’n Arktiese nasie beskou nie, omdat slegs Alaska aan die Noordpool front. Daarom het ons toerismebedryf nog nie sy fokus soontoe verskuif nie. Is jy bewus daarvan dat die eens gevaarlike Noordwesdeurvaart tussen Alaska en Kanada nou ’n voorste toeristebestemming is? Met die hoeveelheid poolys wat reeds gesmelt het, is daar talle passasiersbote wat jaarliks duisende vakansiegangers ’n opwindende “Arktiese ervaring” gee. Al hoe meer private bote van hoofsaaklik Noorse en Russiese avontuursoekers word ook deur ons Alaska-kuswag in die deurvaart opgemerk.
Met ’n lughawe in Barrow op die mees noordelike punt van Alaska, is die moontlikhede legio om die Noordpool die fokus van ’n nuwe toeristebestemming te maak. En soos jy behoort te weet, sal my komitee se energiewetswysigings die weg daarvoor baan.
* * *
Spesiale agent Ted Lipinsky, met notaboekie in die hand en ’n lêer vasgeknyp onder die arm, stap peinsend terug na sy kantoor in die FBI-hoofkwartier in Washington.
Agter sy lessenaar kyk hy vlugtig na die aantekeninge wat hy in sy baas se kantoor gemaak het. Die saak is by sy baas aangemeld deur die president se stafhoof, na aanleiding van ’n uitlating deur ’n ou studentevriend van hom. Volgens die stafhoof vermoed doktor Bill Weismeyer van die organisasie Global Green daar was gemene spel met die verdwyning van doktor Donald Carter, Global Green se grootbaas.
Carter was op ’n navorsingsending in die Noordpool en word al die afgelope drie weke vermis – vermoedelik dood. Volgens Weismeyer was sy baas baie goed vertroud met toestande daar en is dit onwaarskynlik, nee, ondenkbaar dat Carter die slagoffer sou word van slegte weersomstandighede. Hy was ’n oorversigtige man met deeglike kennis van Arktiese gevare en een wat eenvoudig nie risiko’s sou neem nie. Weismeyer meen Carter is uit die weg geruim om te voorkom dat hy ’n referaat lewer by ’n omgewingskonferensie wat binnekort in Suid-Afrika plaasvind. Joernaliste van oraloor woon dié tweejaarlikse konferensie by en Carter sou skokfeite oor toestande in die Noordpool openbaar, spesifiek oor hoe die geldgierigheid van groot moondhede tot versnelde Arktiese verval lei.
Weismeyer se teorie is dat Jack MacArthur die waarskynlikste mens is wat van Carter ontslae sou raak. Dié skatryk senator van Texas staan bekend as die felste groen-hater in Washington, en hy is die voorsitter van ’n komitee wat binne weke energiewetswysigings wil deurdruk wat glo katastrofiese gevolge vir die Noordpool inhou.
Lipinsky skud sy kop. En daar gaan konfronteer die stafhoof waaragtig vir MacArthur met sy ou vriend se ongetoetste stellings! Hoe dom kan jy wees?
Weismeyer, aan die ander kant, was dalk nie so dom nie. Hy gaan nou in Carter se plek die referaat lewer, en hy het seker gemaak dat ás sy aantyging meriete het, MacArthur dit nie sal kan waag om aan hom te raak nie. Kom hy iets oor, sal alle vingers dadelik na MacArthur wys. Nie dat Lipinsky dink die senator sal so onnosel wees om in die lig van die aantygings wel van Weismeyer ontslae te raak nie.
“Die hele saak moet uiters sensitief hanteer word, Ted,” het sy baas gemaan. “Weismeyer het geen bewyse vir sy aantygings nie. Die FBI wil nie onnodig met Jack MacArthur swaarde kruis nie. Hy is deesdae baie invloedryk en is ook ’n groot buddy van president Trump.”
Lipinsky weet vandat die president die vorige FBI-direkteur afgedank het, trap sy baas uiters versigtig.
“Ons het die afgelope tyd wel ’n oog gehou oor MacArthur se doen en late,” het sy baas voortgegaan. “Daar het dinge onder ons aandag gekom wat die toeval nogal uittart, hoewel daar geen grondige bewyse is dat MacArthur betrokke was nie. Agent Donaldson, wat verlede jaar in die vliegtuigongeluk in Minnesota gesterf het, het die MacArthur-lêer bygehou. Sedertdien het niemand nog weer verantwoordelikheid daarvoor aanvaar nie.”
Hy het die lêer oor die lessenaar na Lipinsky geskuif. “Dis nou joune. Maar ek sê weer: Trap versigtig. MacArthur is nie die soort man wat jy as ’n vyand wil hê nie.”
* * *
“Nog een!” roep Viking uit.
Willie knik. “Verkieslik die persoon in die kamer reg langsaan. Dit moet lyk soos ’n rooftog in die hotel waarvan ons man ’n toevallige slagoffer was. Sorg dat sy waardevolle besittings én die tweede persoon se besittings uit die kamers verwyder word. Dit sal verseker dat die polisieondersoek nie net fokus op ons man in kamer 103 nie.”
Viking tuur voor hom uit. “Dis seker nie onuitvoerbaar nie, maar dit verhoog die risks.”
“My kliënt is bereid om julle elkeen ’n ekstra vyftigduisend te betaal.”
Viking en Fortuin kyk vlugtig na mekaar, knik dan gelyktydig – die gierigheid in albei se oë opvallend.
“Oukei, dis ’n deal,” sê Viking.
“En jy’s doodseker dis uitvoerbaar van die balkonne se kant af?” vra Willie.
“Ja, dis die easy part. Genoeg struike vir cover om ’n kort leer te gebruik en skuifdeure op die balkonne. Dis kinderspeletjies om daai slotte oop te kry.”
“En jy’t ’n untraceable skietding en silencer?”
“Jip … nog een van die ysters wat ek en jy geconfiscate het by daai Smiley Face gang wat die restaurante so beroof het.” Viking lag. “Ek het dit nooit gedeclare nie. Altyd gedink ek kan dit iewers in die toekoms gebruik.”
Willie kyk na Fortuin. “En jy’t ’n kandidaat?”
“Die keuses was limited, maar ek dink dié ou is die beste bet van die drie wat nou goodbye sê vir Pollsmoor.”
“Laat ek hoor.”
“Die ou se naam is Frankie Kriel. Een-en-veertig jaar oud, vyftien jaar in die slammer gewees vir moord. Ek het die koerantberigte op Google gaan tjek – hy het sy broer gepot toe hulle ná sy pa se dood oor die erfporsie gefight het. Kriel het gesê hy’t uit self-defence geskiet, want sy broer wou hom met ’n ysterpyp doodbliksem. Maar die court het bevind hy praat kak. Hy’t glo nie ’n skrapie aan hom gehad nie.”
“Wanneer kom hy uit?”
“Oor drie dae.”
“Dis twee dae te vroeg. Ons man boek eers oor vyf dae by die hotel in.”
“Not a prob,” sê Viking. “Ek sal hom op my plot in Joostenbergvlakte aanhou. My stoorkamer het nie vensters nie en is so solid soos ’n tronksel in Pollsmoor.” Hy grynslag. “Frankie sal minstens at home voel.”
Willie frons. “Ons kan nie bekostig dat hy weet waar jy bly nie.”
“Hy sal nie weet nie. Ons sal hom blinddoek.”
“Afhanklikes?”
Fortuin skud sy kop. “Volgens Correctional Services se records het hy net een besoeker in sy hele tyd daar gekry: Sue Kriel, sy vrou. Hulle’t nie kinders nie. Hy het haar adres in Monte Vista opgegee as die plek waar hy gaan bly during parole.”
“Op parool! Wat van die toesigbeampte? Hy gaan donners gou onraad merk as Kriel van die aardbol af verdwyn.”
Fortuin wuif Willie se beswaar weg. “Sy eerste aanmelding by die parole officer is eers volgende week Vrydag. Teen daai tyd is ons job gedoen en is hy al ingespit en toegegooi.”
Willie skud sy kop. “Hel, kêrels, ek weet nie so mooi nie. Wat van sy vrou?”
“Not to worry,” sê Viking. “Ek en Elton het al gepraat. Ons sal haar Woensdagoggend so teen drieuur by die huis gaan visit. Dit sal soos ’n ongeluk lyk,” grinnik hy.
’n Koue rilling loop langs Willie se ruggraat af. Hy het al vergeet hoe ’n gewetenlose bliksem sy ex-partner is. Onwillekeurig kom die beeld by hom op van Viking wat die skerp punt van ’n breipen in ’n dwelmsmous se oog druk toe dié nie wou praat nie.
“Die beauty van die plan,” sê Viking, “is dat ek en Elton dan seweuur die môre vir Frankie gaan oppik by Pollsmoor. Dis die tyd wat hulle uitkom. Ons sal vir hom sê sy vrou het ons gestuur, want sy het car problems. Dan hou ons hom hostage tot hy die job gedoen het en belowe hom ’n moerse klomp geld om vir vroutjie op ’n lekker holiday te treat. Hy gaan mos nie weet sy’s al ’n goner nie.”
“Ek hou van die afpers-deel,” gee Willie toe, “maar waar werk sy? Dalk is sy ’n nagskofwerker, soos ’n verpleegster of iets. En in die twee dae voordat ons die job afgehandel het, kan haar werkgewer na haar soek.”
“Dis uitgesort,” sê Fortuin. “Sy’s ’n receptionist by ’n dokter in die stad. Ek’t haar gebel, gesê ek wil haar by die werk kom sien oor life assurance. Sy’t gesê sy stel nie nou belang nie, maar sy’s in any case van Woensdag af vir ’n maand lank op leave.”
Willie kom orent en gaan staan voor die venster. Dis bewolk en mistig, tipiese Kaapse eendeweer. Hy draai na sy besoekers.
“Hel, ek’s onseker oor dié storie. Daar’s net te veel goed wat kan skeefloop. Sê nou maar die vrou se bure of ’n vriendin kom besoek haar Woensdagoggend en kom op haar lyk af? Dit gaan die cops dadelik na Frankie laat soek.”
Viking lag. “Jy worry te veel, boss. Ons het ’n plan vir daai een ook.”