Читать книгу Ys - Rudie van Rensburg - Страница 8

5

Оглавление

Van: Jack MacArthur

Aan: Mo Dobson

Mo, ek verneem jy het groen besware oor ons Arktiese planne. Maar synde ’n man wat in Irak een van ons land se mees gedekoreerde militariste was, weet ek die Russe se hernude militêre opbou onder Poetin is ook vir jou ’n bekommernis. In die Council on Foreign Relations-verslag wat pas op my lessenaar geland het (ek heg ’n afskrif aan), word voorspel dat die Noordpool teen 2050 heeltemal ysvry gaan wees. Tans stel die dele wat reeds gesmelt het, ongekende uitdagings aan ons kuswag in Alaska. Volgens hulle maak die nuwe, oop water die VSA uiters kwesbaar vir vyandelike aanvalle.

Die Russe het onlangs grootskaalse militêre maneuvers in die Arktiese sirkel uitgevoer met 38 000 troepe, meer as 50 skepe en 110 vliegtuie – relatief naby aan die Alaska-kus. Volgens die CFR-verslag is militêre teenwoordigheid in die Noordpool ’n besliste strategiese prioriteit vir die Russe. Van hulle “bear bombers” is al verskeie kere in Alaska se lugruim gewaar. Indien my komitee se voorgestelde energiewetswysigings aanvaar word, sal dit die weg baan vir ons weermag om hierdie dreigende gevaar die hoof te bied. Dit sal ook groter vryheid van beweging aan ons kuspatrolliebote waarborg.

* * *

Elton Fortuin is amper so lank soos Viking en net so breedgeskouer. In sy vroeë veertigs, skat Willie die man. Hoewel hy aantreklik is, het hy die onnatuurlike rooi gelaat van ’n harde drinker.

Nie die ideale kandidaat vir die taak voorhande nie, dink Willie, maar daaraan kan hy nie veel doen nie. Hy is uitgelewer aan Viking se oordeel. En hy is bly hulle kan vanaand al die beplanning doen, want tyd is beperk.

Volgens Viking het Fortuin dadelik die aanbod aanvaar. “’n Kwartmiljoen praat hard genoeg,” het hy vroeër vanaand oor die foon gesê van die casino af waar hy Fortuin opgespoor het.

Nou sit die twee regoor Willie op die rusbank in sy hotelkamer.

“Het jy Elton volledig ingelig oor wat julle moet doen?” vra hy.

“Jip,” sê Viking.

Willie kyk na Fortuin. “En jy’s honderd persent in op die deal?”

Fortuin grynslag. “Bring it on.”

“Right, eerstens julle vergoeding. Ek sal môreoggend vyftigduisend in elkeen se bankrekening inbetaal. Die res kry julle wanneer die taak suksesvol afgehandel is. Is dit reg so?”

Albei knik.

“Julle het nou twee take wat binne die volgende twee dae afgehandel móét word. Daarna kan ons verder beplan.”

Willie trek die kaart van die Waterfront nader en vou dit op die koffietafel oop. “Ons man gaan in hierdie hotel bly,” beduie hy, “op die randgebied van die Waterfront. Dis nie een van die fancy vyfsterre nie, maar ’n driester. Ek het vanoggend soontoe gebel en vasgestel hy’s bespreek in kamer 103 – een van die agt rookkamers in die hotel, wat almal op die eerste verdieping is. Dit kan die job net vergemaklik. Een van julle moet môreaand by die hotel inboek en op ’n rookkamer aandring – ek sal die koste daarvan later vergoed. Kyk of daar toegang van ’n balkon na die kamers is, want dit sal die maklikste en veiligste manier wees om die teiken se kamer te bereik. Indien nie, sal ons ’n toegangskaart moet kloon om in die kamer te kom – wat net bykomende uitdagings gaan stel.”

“Ek ken die hotel so ’n bietjie,” sê Viking. “Die eerste verdieping se balkonne kyk uit oor die besoekers se parking bay. En daar’s heelwat struike, wat die job maklik behoort te maak.” Hy kyk na Fortuin. “Is dit reg as ek volunteer om die recce te doen? Ek het nie ’n vrou wat lastige vrae kan vra as ek ’n nag uitslaap nie.”

Fortuin knik.

“Right, dan gaan jy, Viking,” sê Willie. “Die tweede taak is die belangrikste. Julle moet iemand opspoor om die teiken uit te haal. Uiteraard moet dit iemand wees wat nie gewetensbesware het om dood te maak nie. Julle kan hom soveel geld belowe as wat julle wil, want ons gaan hom nie betaal nie. Sodra hy die job afgehandel het, moet julle van hom ontslae raak. Daarom moet hy verkieslik geen afhanklikes hê nie.”

“Shit, Willie, daai een gaan ’n taai toffie wees,” sê Viking. “So ’n ou moet darem al ’n skietding in sy lewe hanteer het, anders kan dit ’n helse disaster afgee. Ons kan nie net die eerste die beste bergie gryp nie.”

“Hoekom kan een van ons twee dit nie doen nie?” vra Fortuin. “Dis nie asof ons nog nooit iemand moer toe geskiet het nie.”

Willie skud sy kop beslis. “My eerste prioriteit lê by my kliënt. Ek en Viking het destyds saam gewerk en jy en Viking het daarna saam gewerk. Loop iets skeef en een van julle word gevang, kan dit na my en uiteindelik na my kliënt teruggetrace word. Ek soek iemand wat nie een van julle op die naam ken nie. Word hy red-handed betrap, weet hy dalk hoe julle lyk, maar dis ook al. Dit sal julle tyd gee om ’n ruk lank laag te lê.”

Waaroor Willie swyg, is dat hy hulle – en dit sluit Viking in – nie kan vertrou om sy eie betrokkenheid stil te hou as hulle dalk gevang word nie. Dis een van die goue reëls wat hy neergelê het sedert hy vir MacArthur werk: Skep genoeg afstand tussen jou en die moordenaar om nie dadelik in die spervuur te kom as dinge skeefloop nie.

“Ek dink nou skielik aan iets,” sê Fortuin. “Ek kan op my vrou se laptop inkom op Correctional Services se notices van ouens wat uit die tronk gerelease word.”

Willie frons. “Jou vrou se laptop?”

“Sy’s ’n cop, maar moenie dat dit jou worry nie,” lag Fortuin. “Wat ek doen, is my besigheid. Sy hoef niks daarvan te weet nie.”

“Elton is reg,” sê Viking. “Dis ’n goeie plek om te gaan soek vir ’n kandidaat. Daar’s niks wat ’n ou wat net uit die tjoekie kom nie sal doen vir groot geld nie.”

Fortuin grinnik. “En baie tronkvoëls is lonely wolves, abandoned deur hulle loved ones.”

* * *

Vroegoggend meld Kassie en Rooi by Colyn se kantoor aan.

Colyn beduie na ’n tafel met ’n groot stapel lêers. “Dis die besonderhede van die beleggers. Ons het dit in Dippenaar se kantoor gekry. Daar was geen data op sy rekenaar nie.”

“Hoe het julle tot dusver te werk gegaan?” vra Kassie.

Piedt sug. “Ons moes elke blerrie naam op die polisiedatabasis invoer om die ouens met krimrekords uit te spoeg.”

“Net sewe name gekry,” knik Colyn. “En almal het geldige alibi’s dat hulle op die dag van die moord nie naby Dippenaar was nie.”

Rooi grinnik. “Jy meen seker alibi’s vir die dag wat die ongeluk gebeur het wat nie aangemeld is nie.”

Colyn se gesig verkleur. “Ek bevraagteken nog die brigadier se vinnige gevolgtrekking oor daai een.”

“Ek’s nogal geneig om met haar saam te stem,” sê Kassie. “As die aanvaller Dippenaar dood wou hê, sou hy sy hande gebruik het. Jy gryp nie iemand om die nek in die hoop dat hy ’n hartaanval gaan kry nie.”

“Dis nie vir my so clear-cut nie,” brom Colyn terwyl hulle om die tafel gaan sit.

Rooi vee oor sy borselkop. “Wat presies het Dippenaar gedoen om sy beleggers die moer in te maak?”

“Ponzi scheme,” sê Piedt. “Duisende mense ingeloop met beloftes van helse hoë interest rates op hulle investments. Toe kry die media snuf innie neus en toe spat die kak behoorlik. Almal wou hulle geld by Dippenaar terughê, toe begin hy duck en dive. Hy’t nooit sy phone geantwoord nie en sy personeel het ook die pad gevat. ’n Dag voor hy Brazil toe sou vlug, het iemand hom in sy office gaan vastrap. Ons het eers drie dae later oppie toneel gekom. Sy receptionist wou iets by die kantoor gaan haal, toe kom sy op ’n dooie Dippies af.”

Kassie skud sy kop. “Kan nie verstaan dat mense steeds val vir beloftes van sulke hoë rentekoerse nie. As die groot maatskappye dit nie vir jou kan waarborg nie, moet jy weet ’n one-man show kan dit nog minder doen.”

“Hy’t veral pensioners getarget,” sê Piedt. “Hulle glo met Bybelversies gegooi om vir hulle te wys hy’s ’n man van integrity.” Hy snork terwyl hy oor sy ken streel. “Fokken skelm son of a bitch.”

Colyn verdeel die stapel lêers in vier en sit ’n hoop voor elkeen neer. “Laat ons maar begin, voor brigadier Terror ons gatte kom skop.”

“Brigadier Terror?” vra Rooi.

Piedt lag. “My bru, julle het nog net inne paar general meetings saam met haar gesit. Ma’ ek en my partner was al to hell and back vandat ons aan hierie case werk.”

Hy beduie na Colyn. “Sien julle daai fifty shades of grey op sy slape? Dit was nie daar voor ons hierie case gekry het nie. Brigadier Terror het dit vir hom persoonlik grey gepaint met ha’ kak. Sy gee pyn-innie-gat a new meaning.”

“Dit kan jy blerrie weer sê,” mompel Colyn.

Ys

Подняться наверх