Читать книгу Ys - Rudie van Rensburg - Страница 9
6
ОглавлениеVan: Jack MacArthur
Aan: Patricia Mayweather
Patricia, ek het vanoggend na jou radio-onderhoud geluister. Soos jy is ek ook bekommerd oor die impak van olielekkasies in die Noordpool. Die groot oliemaatskappye het my egter verseker hulle sal alles in hul vermoë doen om dit te voorkom. En kom ons wees maar eerlik met mekaar: een of twee klein olielekkasies sal nie die einde van die Noordpool beteken nie.
Ek heg vir jou ’n artikel aan van die hoog aangeskrewe prof. Mike Duffet van die New York-instituut vir Besoedelingnavorsing. Daarin sê hy besoedeling uit aanliggende gebiede soos die hoogs geïndustrialiseerde Europa skep ’n veel ernstiger probleem. Aanvanklik is gemeen dat Arktiese besoedeling grootliks weens chemiese lekkasies plaasvind en dat dit klein en plaaslik is. Die konsensus is egter nou dat besoedeling van oor die wêreld deur riviere, seestrome en atmosferiese sirkulasie noord gedryf word. Die minder sonlig, uitgebreide ysbedekking en lae temperature beteken dat besoedelende stowwe baie stadiger afbreek as in warmer klimate.
My wekroep is dus dat ons eerder ons visier rig op Europese nywerheidsbesoedeling. Om Amerika se pad na die wêreld se rykste oliebronne met dorings te besaai, sal nou die minder wyse benadering wees. Dink mooi voor jy summier ’n nee-stem uitbring teen ons wetswysigings.
* * *
Shaheena se moed sak in haar skoene toe sy Elton se kar in die oprit sien staan. Dis nie sy gewoonte om teen seweuur in die aand nog by die huis te wees nie. Sy sien nie kans om met hóm ook nog te deal nie.
Vandag se gesprek met die polisiehoof het haar ontstel. Sy verstaan hy is onder druk om sy proefneming by die minister te regverdig, maar sy gebrek aan ervaring van praktiese polisiewerk slaan kwaai deur. Boonop sukkel die Johannesburgse SGU ook met ’n moordsaak. Hy verwag die soort kitssukses wat net in TV-speurverhale gebeur. En hoe meer druk hy op haar toepas, hoe hoër word die eise wat sy aan haar speurders stel.
Sy moes vanmiddag vir Colyn-hulle sê sy verwag ’n finale lys van moontlike verdagtes môreoggend op haar lessenaar. Hulle sal deur die nag moet werk, want daar is duisende beleggers.
Sy sug swaar toe sy uit die kar klim. Was sy onredelik? Of raak die uitdagings nou reeds te veel vir haar? Was Elton reg toe hy gesê het sy’t nie haar posisie op meriete verdien nie?
In die ingangsportaal sien sy ’n half-jack op die hoektafeltjie staan. Onoopgemaak – iets om voor dankbaar te wees. Sy stap studeerkamer toe om haar skootrekenaar neer te sit, skrik toe sy sien hy wag haar in.
“Van wanneer af vat jy jou laptop werk toe?” vra hy sonder om te groet.
“Al die laaste maand of wat. Ek verkies dit bo die kantoor se desktop.”
Hy kom orent agter die lessenaar. “Wel, los dit van nou af by die huis. My laptop het sy gat gesien. En my pocket money is nie genoeg om ’n nuwe een te koop nie.”
“Elton, ek sal vir jou ’n nuwe rekenaar …”
Hy skud sy kop. “Los joune net hier,” sê hy bars en skuur verby haar.
In die gang steek hy vas en draai om. “Ek gaan iewers eet. Die brigadier is mos nou te grênd om saans vir haar man kos te maak.”
Sy reageer nie, al is sy aantyging onwaar. Sy was nog altyd bereid om ná werk kos te maak, maar enigiets wat sy nou sê, kan hom net weer trigger.
Toe die voordeur toeklap, gaan sit sy agter die lessenaar.
Sy streel liggies oor haar gekneusde wang. Dit klop van voor af.
* * *
Frankie kan beswaarlik sy opgewondenheid beteuel. Toe hy Sue vanaand bel, het sy haar geheim verklap.
“Ek kan dit nie meer vir myself hou nie … dokter Roos het my ’n volle maand verlof gegee! Hy sê ons twee het baie verlore tyd om in te haal. En as ek dan nog ’n maand wil afvat, is dit ook oukei. Hy sal my ten volle betaal.”
Net die gedagte daaraan om ’n maand lank, dalk selfs twee, vir vier-en-twintig uur van die dag by sy vrou te wees, is amper te oorweldigend om te verwerk.
Hy was op ses-en-twintig maar net ’n jaar getroud toe die seldeure agter hom toegeklap het. Maar Sue het deur dik en dun by hom gestaan, hom elke week getrou besoek en moed ingepraat. Sy het hom heeltyd verseker sy glo onwrikbaar dat hy op daardie verskriklike dag uit selfverdediging geskiet het.
Die getuienis in die hof was so verdoemend eensydig teen hom dat selfs sy ma hom nooit weer wou kontak nie. “Jy het die familienaam deur die modder gesleep!” was haar laaste woorde aan hom.
Vir vyftien jaar was Sue sy enigste rots daar buite. Nou is dit sy beurt om haar op die hande te dra.
En hy kan nie wág om dit te doen nie.
* * *
Drieuur die oggend is dit spookagtig stil in Voortrekkerweg in Goodwood. Voor Kassie sy woonsteldeur oopsluit, staan hy eers ’n oomblik en verwonder hom aan dié ongewone stilte.
Hy sluit die deur agter hom, stap kombuis toe en sit die ketel aan. Haal die bottel Creme Soda uit die yskas en sluk sy daaglikse cholesterolpil af, steek ’n Lucky Strike aan. In die sitkamer druk hy Nico Carstens se Trekklaviermeesters in die hoëtroustel. Hy skoffel sy voete op maat van die gesellige klanke van “Gertjie Wintervoël” terwyl hy op die ketel wag.
Hy is vaak, maar hy weet hy sal nie kan slaap voor hy sy koppie rooibos in het nie. Vandat hy heuning in die tee drink, is dit tot vir hom lekker.
Hy wonder of die brigadier tevrede gaan wees met die lys van moontlike verdagtes. Dalk sal hy en Rooi met die ondersoekwerk moet help. Daar’s te veel name vir net twee speurders om op te volg.
Hy hoop van harte hulle word betrek. As hy nog een keer deur daai opleidingsmateriaal moet worstel, skiet hy ’n donnerse kat.
Hulle het vandag goeie werk gedoen. Eers al die Wes-Kaapse beleggers uitgesoek en toe mense geïdentifiseer wat groot bedrae geld by Dippenaar belê het, maar wat nie ouer as sewentig is nie.
Rooi het daarteen kapsie gemaak. “My oupa was op vyf-en-sewentig nog so sterk soos ’n bees!”
Maar Colyn wou nie skiet gee oor die afsnyouderdom nie. Volgens hom was die agt-en-vyftigjarige Dippenaar ’n gesette kêrel en gebou soos ’n rugbystut. “Nie sommer enige outoppie sou dit waag om hom om daai speknek te gryp nie.”
Koppie rooibos in die hand slof Kassie sitkamer toe. Ondanks Colyn en Piedt se tirades oor die brigadier hou hy ál meer van haar. Sy is professioneel en haar werk is haar erns. Dis al wat hy van ’n bevelvoerder vra.
Maar dis nog moeilik om haar as mens te peil, dink hy. Daar is niks warms aan haar persoonlikheid nie. Sy hou hulle almal op ’n ysige afstand. Dalk voel sy effens geïntimideer. Sy moet in haar laat dertigs wees, wat beteken dat al die speurders buiten Rooi heelwat ouer as sy is.
Hy staar peinsend voor hom uit terwyl hy sy tee drink. Tyd sal wel leer of sy positiewe indruk van haar blywend gaan wees.