Читать книгу Ys - Rudie van Rensburg - Страница 4

1

Оглавление

Van JFK af ry Willie Nel met die trein onderdeur die East River na die Groot Appel. Hy klim by ’n moltreinstasie af, maar besef eers hy was oorhaastig toe hy in 79th Street uitstap. Hy wink swetsend ’n taxi nader, nie bereid om sy swaar tas die hele ent te dra nie.

Vandag bewonder hy nie soos gewoonlik die wolkekrabbers van Manhattan nie. Die kenmerkende energie van die voetgangers op die sypaadjies behou ook nie sy aandag nie.

Die vlug van Alaska af was uitputtend. Hy was van Juneau na Chicago op pad, maar moes op die laaste nippertjie sy kaartjie kanselleer en ’n vlug na New York bespreek. Wat sou MacArthur in New York doen? En hoekom sy dringende behoefte om vandag te ontmoet? Die sending van twee weke gelede was tog suksesvol; niemand vermoed enige onraad nie.

Die taxi laai hom in West 88th Street af. Hy stap ’n draai om ’n stomende mangat voordat hy met die tas teen ’n paar trappe opsukkel na die sypaadjie.

The Fast Food Mecca is ’n tipiese systraatrestaurantjie, eerder die uithangplek van die omgewing se kantoorwerkers as ’n toeristetrekpleister. Die plek is swak verlig en die reuk van ou kookolie en aartappelskyfies hang swaar in die lug. Daar is nog geen teken van MacArthur nie. Willie gaan sit teen die venster vir ’n uitsig op die straat.

Minute later stop ’n swart limousine aan die oorkant van die straat. Die agterdeur word oopgemaak en senator Jack MacArthur klim uit. Met ’n swaaiende wysvinger gee hy instruksies aan die chauffeur voordat hy oor die straat waggel.

In die restaurantjie sien hy Willie dadelik en wink hom met ’n breë glimlag nader. “Kom ons gaan sit daar agter waar dit stiller is,” sê hy met sy dralende Texas-aksent.

Hy vee met ’n rooi sakdoek die sweet van sy voorkop af en bestel ’n worsbroodjie met skyfies en ekstra tamatie-en-uiesmoor. Willie bestel net koffie.

“Nie honger nie?” vra MacArthur.

“Ek’t op die vliegtuig ontbyt geëet.”

MacArthur leun met sy arms op die lendelam tafeltjie wat onder sy gewig kreun. “Ek’s bly jy kon dit maak.” ’n Sweetlagie blink op sy bolip.

“Wat doen jy in New York?” vra Willie.

“Vir vinnige sake hier. Ek’s môre weer op pad terug Washington toe.”

“Wat’s so dringend dat ek hierheen moes kom?”

MacArthur sug. “Sy assistent vermoed iets.”

“Sy assistent?”

“Ja, ek moes jou ingelig het oor die man, maar ek het nie besef die donner gaan so lastig wees nie. Jou manne moes hóm ook eintlik uitgehaal het.”

“Waarop grond hy sy vermoedens? Nie eens die media ruik onraad nie.”

“Op niks. Sê net sy baas sou nooit daar iets oorgekom het nie. Daarvoor was hy glo te versigtig en het hy die toestande te goed geken.”

“Hoe het dit by jou ore uitgekom?”

“Hy’t met die president se stafhoof gaan praat. Hulle was glo destyds klasmaats op Harvard. Die stafhoof het my gebel. Dis duidelik die assistent dink ek of een van my komiteelede ‘mag iets daarvan weet’, soos hy dit gestel het. Verbeel jou!”

“Wat sê jy toe vir hom?”

MacArthur grynslag. “Dat die groenes ’n fanatiese spul is wat niemand ernstig kan opneem nie. En dat ek en my komitee sy universiteitsvriendjie se gat hof toe sal sleep as hy voortgaan met sulke wilde en ongegronde aantygings.”

’n Kelner met tamatiesousvlekke op sy wit baadjie bring hulle bestelling. MacArthur neem ’n groot hap van sy worsbroodjie. Sous loop in twee dun straaltjies uit sy mondhoeke aan weerskante van sy ken af. Hy vee dit met ’n papierservet af, maar ’n dun streep sous bly op ’n bolwang agter.

Hy kyk na Willie. “Ons sal van die assistent ontslae moet raak.”

“Sal dit nie juis agterdog wek nie? Niemand neem hom tog seker ernstig op nie?”

MacArthur skud sy kop. “Ek het nie ’n keuse nie. Die bliksem gaan nou in sy baas se plek die referaat by die konferensie lewer, wat beteken hy sal die aandag van die wêreldmedia geniet. Hy kan besluit om sy vermoede oor sy baas se verdwyning uit te basuin. Kan jy dink watse slegte publisiteit dít kan afgee? Al Amerika en Europa se voorste omgewingsjoernaliste gaan by die konferensie wees.”

“Sal hy dit waag?”

“Jou raaiskoot is so goed soos myne. Maar die referaat gaan op sigself groot golwe maak, wat ek nie nou kan bekostig nie. Dis waarom ons in die eerste plek van sy baas ontslae wou raak.”

Hy tik met sy voorvinger op die tafeltjie. “Die referaat is geskeduleer vir twee weke van nou af. ’n Dag of twee daarna stem die Huis van Verteenwoordigers oor my komitee se voorgestelde wysigings aan die energiewet, en ’n paar dae later dien dit voor die Senaat. Ek moet nog ’n klomp Kongreslede voor daardie tyd swaai, en die referaat kan my hele appelkar omgooi.”

Willie reageer nie. Die besonderhede van die Amerikaanse politiek interesseer hom nie.

“Tot nou toe lyk dit of ons op die meeste Republikeine in albei huise se steun kan reken,” gaan MacArthur voort, “maar dis nog nie ’n gegewe nie. Prominente mediaberigte oor die referaat kan fataal wees – groen kwessies is mos deesdae die Washington Post en hoofstroom-TV-stasies se bleddie stapelvoedsel. Dit kan ’n paar van die Republikeine en veral die klomp draadsitters van die Demokrate oortuig om teen die wysigings te stem.”

Hy grinnik, vat nog ’n hap van sy worsbroodjie. “Gelukkig is ons president ten gunste daarvan. Hy meen aardverwarming is ’n bullshit-konsep wat die Chinese geskep het om Amerikaanse vervaardiging nie-mededingend te maak. Maar soos jy weet, is selfs sý hande afgekap as die Kongres dit nie goedkeur nie.”

“Jack, ek wil nie jou oordeel bevraagteken nie. Ek was nog altyd bereid om die vuilwerk te reël, want jy betaal goed. Maar tree jy nie nou oorhaastig op om die assistent te wil uithaal nie?”

MacArthur lag. “Komende van jou is dit nogal ’n verrassing! Jy sien gewoonlik vir enigiets kans.”

Hy leun vorentoe. “Hierdie voorsitterskap van die komitee is vir my belangrik, Willie. Alle oë is op my om te sien of ek die wysigings kan deurdruk. Dit sal ook as maatstaf dien om te wys of ek met toekomstige presidentsverkiesings ’n geskikte kandidaat kan wees.”

Hy neem ’n skyfie, doop dit in die sous en hap behaaglik. “Oor ’n honderd jaar van nou af wil ek nie net ’n terloopse voetnota in die geskiedenisboeke wees nie. Daar moet hoofstukke aan my gewy word. In Washington noem hulle dit aspirasie.”

Willie knik net. Is dit bloot politieke retoriek of dink MacArthur regtig hy staan ’n kans? wonder hy. Of betaal die oliebase MacArthur onder die tafel deur om te sorg dat hy die wysigings aanvaar kry?

Willie vermoed dis laasgenoemde. Die Republikeine sal nooit iemand met so ’n duistere verlede as presidentskandidaat steun nie. MacArthur het net te veel geraamtes in die kas – en hy behoort dit te weet. Maar dis nie Willie se plek om met die senator daaroor te redekawel nie.

“Reg, ek maak soos jy sê,” stem hy in. “Waar bevind die assistent hom nou? Jy wil hom seker geëlimineer hê voor hy na die konferensie vertrek?”

“Juis nie. Dan soek ons vir moeilikheid. Jy sal hom by die konferensie moet gaan uithaal.”

“In Suid-Afrika?”

MacArthur glimlag. “Ek het gedink jy sal bly wees om jou geboorteland weer te besoek. Blykbaar is ’n lewe daar deesdae nie veel werd nie. Laat dit soos ’n inbraak lyk wat skeefgeloop het. Jy moet seker nog betroubare vriende hê wat jou daar kan help? En die gunstige wisselkoers behoort hulle dienste baie bekostigbaar te maak.”

“Ek was twaalf jaar laas in Suid-Afrika.”

“Maar jy’t nog vriende daar?”

Willie knik.

“Dan kan julle oormôre lekker reünie hou. Jy klim laat vanmiddag op ’n direkte vlug Kaapstad toe. Ek het reeds gereël dat ’n kaartjie vir jou bespreek word. Dit help dat jy nog jou Suid-Afrikaanse paspoort het.”

* * *

Frankie Kriel skud hand met die paroolraad se toesigbeampte. Dié stel hom voor as Ludick, ’n lang man met ’n buitengewoon rooi neus en ’n borselkop.

“Jy’s oor ’n week ’n vry man, Kriel,” sê Ludick toe hulle regoor mekaar in ’n administratiewe kantoor van die Pollsmoor-gevangenis gaan sit.

Daar is niks hartliks aan die manier waarop hy dit sê nie. Hy plooi sy breë voorkop en staar koud na Frankie. “Dit kan die begin van ’n nuwe lewe vir jou wees.”

“Dit gáán, meneer,” sê Frankie vasberade.

Ludick tik met sy vinger op die pak dokumente voor hom. “Saam met jou vryheid kom groot verantwoordelikheid. Net één misstap en jy’s terug in jou sel.”

“Ek weet, meneer. Die paroolraad het so gesê.”

Daar verskyn ’n fyn glimlag om Ludick se mond, maar sy oë lag nie saam nie. “Vergeet eers van die paroolraad. Van die oomblik dat jou pote civviestraat strike, is jou lot in mý hande.”

“Ek sal meneer nie teleurstel nie. Vyftien jaar hier was lank genoeg.”

Ludick skud sy vierkantige kop stadig. “Gmf, dit het ek al te veel kere gehoor. Famous last words van baie van jou buddies hier binne.”

Lyk nie of dié nors bliksem met enige van sy antwoorde tevrede gaan wees nie, dink Frankie. Beter om net sy bek te hou.

Ludick slaan ’n lêer oop. “Ek sien jy’t ’n vaste adres opgegee?”

Frankie knik.

“Wie’s dié Sue Kriel wat die huiseienaar is? Jou vrou?”

Hy knik weer.

Ludick kyk hom sinies aan. “En sy’t jou nooit in dié tyd ingetrade vir ’n ander man nie? Of jou verneuk met iemand anders nie?”

Die bliksem probeer hom uitlok, besef Frankie. “Nee, meneer.”

“Hoe’s julle verhouding?”

“Baie goed, meneer.”

“Besoek sy jou gereeld hier?”

“Elke week, meneer.”

“Watse werk doen sy?”

“Sy’s ’n ontvangsdame by ’n dokter.”

Ludick klap die lêer toe. “Reg, luister nou mooi. Jou paroolvoorwaardes bepaal die volgende: Jy mag nie saans ná tien jou huis verlaat nie. Jy mag nie ’n kroeg of nagklub besoek of in enige openbare plek alkohol gebruik nie. Word jy ooit met ’n vuurwapen in jou besit betrap, kom jy reguit terug tronk toe. Jy mag nie die Wes-Kaap sonder my toestemming verlaat nie.”

Hy kyk stip na Frankie. “En dan die belangrikste … elke Vrydag meld jy presies om eenuur hier aan sodat ek kan hoor of jy vordering maak om ’n werk te kry.”

Weer die siniese trek om sy mond. “Ek sien jy’t darem deur Unisa ’n diploma in biblioteekkunde gekry en gevorder tot hoof van die tronkbiblioteek. Wat het jou besiel om jou tyd só te mors?”

“Ek’s lief vir boeke en ek het gedink …”

“Biblioteke gaan nie in ’n tronkvoël belangstel nie, veral nie ’n tronkvoël wat sy eie broer vrekgeskiet het nie. Jy moet jou visier maar laer instel. Dalk kan jy iewers in ’n biblioteek die vloere skrop of boeke afstof as jy dan nou kwansuis so lief is daarvoor.”

“Sue … my vrou het geld gespaar. Ons het gedink ek kan dalk ’n winkeltjie met tweedehandse boeke begin.”

Ludick se wenkbroue lig. “Behoede my! Nou wil jy jou lyf entrepreneur hou. Wat de fok weet jy daarvan om ’n business te run?”

“Niks, meneer, maar …”

“Presies, jy weet niks! So los jou bullshit-idees en soek ’n regte werk, man. Jy gaan jou vrou se spaargeld nodig hê om te oorleef. Want ek kan jou nóú sê jy gaan nie oornag geholpe raak nie.”

“Maar ek …”

Ludick hou sy hand omhoog. “Ons het klaar gepraat, Kriel!”

Ys

Подняться наверх