Читать книгу Ys - Rudie van Rensburg - Страница 15

12

Оглавление

Die gloeilampie teen die plafon verskaf genoeg lig dat Frankie uit die staanspoor besef daar is nie uitkomkans nie. Die staaldeur en vensterlose sementmure laat selfs ’n tronksel in Pollsmoor na ’n vriendeliker omgewing lyk.

Op die vloer lê ’n dun matrassie met ’n opgerolde slaapsak bo-op. Langsaan is ’n bottel water, ’n halwe brood en ’n appel op ’n stuk koerantpapier uitgepak. In die hoek staan ’n toiletrol langs ’n leë verfblik. Die plek ruik na ou motorolie.

Frankie gaan sit plat op die matrassie, skud die slaapsak oop en vou dit om hom. Dis vrek koud hier binne. Sy gedagtes hardloop soos wegholperde oor die oggend se gebeure. Hoekom het die mans in die bakkie hom ontvoer en hier opgesluit? En hoe weet hulle van Sue? Duidelik was dit ’n liegstorie dat sy karprobleme het en hulle gevra het om hom by Pollsmoor te gaan oppik.

Sy moet teen dié tyd al van haar kop af wees van bekommernis. Hulle was seker skaars weg by die tronk toe sy daar opgedaag het. Sy sou nou al by die gevangenisowerhede navraag gedoen het, maar dit gaan niemand help nie. In die skemer sou niemand hom in die bakkie sien klim het nie.

Hy swets onderlangs. Wat veronderstel was om die gelukkigste dag in sy lewe te wees, het in ’n aaklige nagmerrie verander.

Hy spits sy ore, maar hoor steeds geen geluide van verkeer of mense in die omgewing nie.

* * *

“Die ou mannetjie by wie ek nou was, sal nie eers ’n duik in ’n drol kan slaan nie, wat nog te sê vir Dippenaar om die nek gryp en dooddruk!” blaas Rooi in Kassie se oor toe hy sy selfoon antwoord. “Ons mors ons donnerse tyd!”

Kassie glimlag. “Ek weet, maar dit gaan nie help om daaroor te kla nie. Hoeveel mense moet jy nog sien?”

“Vier. En hulle bly flippen ver uitmekaar.”

“Ek’t darem net drie oor. Een is met vakansie.”

“Lucky you,” sug Rooi.

“Nou toe, sien jou môre,” sluit Kassie die gesprek af.

Hy kyk weer op sy kaart om seker te maak van die roete na die volgende belegger, maar sy foon lui voor hy kans kry om die kar aan te sluit.

Dis Piedt, buite homself van opgewondenheid.

“Colyn het gesê ek moet jou ook inform. Helse breakthrough, bru! Die receptionist is Maartens se dogter! Wat sê jy dáárvan?”

Kassie fluit deur sy tande. “Sy dogter!”

“Ja, nou married met ’n ander surname, maar beslis sy dogter.”

“Het julle die brigadier al gesê?”

“Ons is nou op pad terug office toe om haar te loop vertel.”

“Bel my as ek en Rooi ons onderhoude kan stop.”

Piedt lag net. “Brigadier Terror sal daai nooit toelaat nie, bru.”

* * *

Die eerste oproep van Willie se aasvoëls is nie bemoedigend nie.

“Tot dusver is Lipinsky silwerskoon. Topstudent gewees by die West Point Military Academy, later ’n gedekoreerde kaptein by die 10th Mountain Division. Hy’s twaalf jaar gelede deur die FBI gewerf.”

“Getroud?” vra Willie.

“Wewenaar. Sy vrou is vyf jaar gelede aan borskanker dood.”

“Kinders?”

“Nee.”

“Is daar ’n nuwe vrou in sy lewe?”

“Nie volgens ons inligting nie. Dit lyk of hy lang ure werk. Ons het hom gisteraand van die kantoor af gevolg en hy’t eers tienuur by die huis gekom. Seker nie nog tyd vir vroue nie.”

“Belangstellings?”

“Hy’s lid van Chambers Bay-gholfklub, maar volgens hulle voorgee-databasis het hy ’n jaar laas gespeel.”

“Ouers?”

“Sy pa is vroeg dood en sy ma het weer getrou. Sy bly nou in Miami. Al die jare ’n huisvrou gewees.”

“Niks anders nie?”

“Absoluut niks.”

“Julle het net tot môre.”

“En as ons dan nog niks het nie?”

“Moenie jou daaroor bekommer nie.”

* * *

Lipinsky tokkel ingedagte met sy vingers op die lessenaar. Kearnsey weet nie veel van Willie Nel nie. Hy het bloot opdrag van Donaldson gekry om uit te vind wie MacArthur so gereeld in Chicago besoek.

Volgens Kearnsey het Nel ’n klein kantoor in die John Hancock-sentrum. Op die deur staan hy is ’n kommunikasiekonsultant en beeldpoetser. En dis al wat hy van Nel weet.

Lipinsky sug en kom orent, bêre die lêer in die kluis. Hy het Kearnsey gevra om meer inligting oor die sogenaamde beeldpoetser te kry. Nie veel meer wat hy kan doen totdat hy van hom gehoor het nie.

* * *

Shaheena kyk na die twee opgewonde speurders voor haar en beduie Colyn moet praat.

“Die ontvangsdame is Maartens se dogter,” sê hy.

Sy voel dadelik opwinding in haar are bruis. Gewoonlik raak sy nie sommer bly oor ’n saak voor dit nie deeglik uitgepluis is nie. En sy weet nie of haar desperaatheid om die saak vinnig op te los nou haar oordeel beïnvloed nie, maar ná haar sweetsessie op die foon met die omgekrapte polisiehoof kon sy nie vir beter nuus gevra het nie.

“Is julle honderd persent seker daarvan?”

Colyn en Piedt knik ywerig.

“Ons het haar vanoggend gevolg toe sy by haar huis wegry,” sê Colyn. “Sy is reguit na Maartens toe. Seker ’n uur daar vertoef. Toe vat ek sommer ’n kans op Facebook en daar kry ek dit: Sarie Maartens Beyers. Ek het na die foto’s op haar blad gekyk en op Maartens se foto afgekom, met die inskrywing: ‘My liewe pa is vandag drie-en-sestig. Kyk hoe goed lyk hy nog.’”

“Hoe weet jy dit was Maartens? Kaptein Kasselman was mos by hom.”

“Ons het sy foto in Dippenaar se files gekry. Dit stem ooreen met die Facebook-foto.”

Shaheena staan op. “Bring haar dadelik in vir ondervraging.”

“Moet ons nie eers … wag vir die … vingerafdrukke nie? Soos brigadier vroeër gesê het,” stamel Colyn.

“Nee, ek’t van plan verander.”

Ys

Подняться наверх