Читать книгу Wit Wolf - Stefaans Coetzee - Страница 11

HOOFSTUK 6

Оглавление

Cliffie, Koper en die lewe op die plaas

Twintig mense is dood en 46 ernstig beseer in verskeie bomaanvalle waarby die Afrikaner-Weerstandsbeweging (AWB) voor 1994 se verkiesing betrokke was. Maar op daardie tydstip het ek nie van hierdie interessante stukkie voorgeskiedenis geweet nie. Op 24 en 25 April het elf AWB-lede pypbomme by verskeie taxistaanplekke geplant, onder meer in Bloedstraat, Pretoria, Breëstraat, Johannesburg en in Germiston. Hulle het ook ’n motorbom laat afgaan op die boonste parkeerarea van die Jan Smuts-lughawe, soos dit toe nog bekend gestaan het.

Al elf is aangekeer en tussen drie en vyftig jaar tronkstraf opgelê. Vier – Nicolaas Clifton “Cliffie” Barnard, Etiene le Roux, Jan de Wet en Abraham “Koper” Myburgh – het daarna vroeg in 1996 uit die Diepkloof-gevangenis in Johannesburg ontsnap.

Agterna het Etiene dit gou duidelik gemaak dat hy sy bande met die ander wil verbreek. Cliffie, Koper en Jan de Wet is toe na Andrew “Tommie” Thomson se plaas Erasmuskloof buite Hankey in die Oos-Kaap. Tommie was ook deel van die Israel Visie en het hulle skuilplek gegee. Jan se vrou, Sanet, het ook saam met hulle op die plaas gebly. Sy het glo “dinge gedoen” wat Cliffie en Koper gehinder het. Oor wat die “dinge” was, het hulle agterna verskil. Maar die twee het besluit om haar “stil te maak” en ’n plan beraam. Die mans moes bedags beurte maak om vuurhout bymekaar te maak. Eendag, toe Jan buite sig daarmee besig was, het Cliffie en Koper hul kans gekry. Hulle het Sanet oorval en terwyl die een haar vasgehou het, het die ander een haar met ’n kussing versmoor.

Agterna het hulle verskil oor hoekom hulle Sanet vermoor het. Volgens een het Sanet ’n verhouding met ’n polisieman aangeknoop, wat ’n risiko vir hulle ingehou het. Die ander een het gesê dat Sanet hulle wou dwing om te getuig voor die Waarheid-en-versoeningskommissie (WVK), wat later sou plaasvind. Die ergste vir my van die hele saak was dat Cliffie, wat gehelp het om Sanet te vermoor, die diens by haar begrafnis gelei het. Daar sou eers jare later geregtigheid vir Sanet de Wet wees toe die twee weens haar moord gevonnis is.

Nou, hier op Jan se plaas, het my pad met dié van Cliffie en Koper gekruis. Koper en sy vrou, Irene, het op ’n dag op Jan Voetbol se plaas opgedaag. Jan het vir my gesê hulle is armblankes wat baie swaar kry en ook op die plaas gaan help. Ek was totaal onbewus van Koper se terreur-geskiedenis. Ons het dadelik ’n geskikte plek gesoek waar ’n tydelike boskamp met tente in ’n dig beboste gebied vir hulle ingerig is. Koper en Irene het in die een tent ingetrek.

Kort daarna het Cliffie, sy vrou, Lorraine, en hul seuns, Skoene en Francois, ook op die plaas aangekom. Hulle het in ’n groot tent in die kamp gaan bly. Skoene se naam is eintlik Quintin, maar hy is nooit so genoem nie. Cliffie se oudste seun het nie saamgekom plaas toe nie.

Reeds die eerste oggend het ek agtergekom hulle is beslis nie onskuldige armblankes soos Jan beweer het nie. Dít het ek besef toe Cliffie op sy heel eerste oggend op die plaas vir my gesê het om te gaan kyk of daar nie vreemde spore by die motorhekke is nie. Armblankes sonder enige bymotiewe sou nie daaroor bekommerd gewees het nie. Aangesien ons reeds met planne teen die staat besig was, het ek geweet die mans is deel van die sameswering.

Ek en Koper het van die begin af nie langs dieselfde vuur gesit nie, terwyl Koper en Mark weer maklik oor die weg gekom het. Ek het wel by Cliffie aanklank gevind, want hy het net een doel voor oë gehad – om soveel as moontlik swart mense voor die voet uit te moor. Dit was ook my doelwit. Ons was albei super-rassiste gewees.

Ek is seker Koper sou nie in die tronk beland het as sy en Cliffie se paaie nie gekruis het nie. Net soos Jan my beïnvloed het, het Cliffie Koper beïnvloed om sekere dinge te doen. Het Cliffie nou die nuwe vaderfiguur in my lewe geword in die plek van Jan? Nee, gewis nie. Ek het steeds die grootste bewondering gehad vir Jan, of Pa Jan soos ek hom genoem het, maar ek het gou besef hy is nie ’n kryger nie. Jan was ’n rugbyspeler, skrywer, boer, selfs ’n vurige rassis, maar nie ’n kryger nie. Dit was groepsdruk wat hom daardie bom laat plant het.

Cliffie het altyd gesê jy kry drie soorte stryders: die vlagswaaiers, die baksteen-skieters en die vuurvreters. Die meeste AWB-lede was vlagswaaiers. In vandag se tyd sal dit die Facebook-generaals met hul Facebook-dissipels wees, dié met hul skiet-praatjies en oorlogskrete. Volgens Cliffie was die baksteen-skieters mense soos Dries Kriel wat poskantore en treinspore opgeblaas het – nuttelose teikens in sy oë. Dries het net springstof gemors. Vir die vuurvreters, het Cliffie gesê, was dit nie kwantiteit wat tel nie, maar die kwaliteit. Ons het onsself as vuurvreters beskou. In Cliffie se oë was dit die mense wat “koppe vat”. Ons was wel by sabotasie betrokke, maar dit het al hoe belangriker geword dat ons tot ware aksie oorgaan, dat ons “koppe vat”.

Ek het graag in die boskamp gaan kuier en dan het ons saans op boomstompe om die kampvuur gesit en gesels. Die gesprekke was meestal oor die Israel Visie-geloof.

Die kampvuur-gesprekke het ook begin gaan oor die motorbom wat ons wou laat ontplof om swart mense dood te maak. Die manne se twee groot generaals, Klipdrift en Coke, het ook soms saans saamgekuier. Hoe later dit geword het, hoe meer het die manne gedrink – en hoe losser het hul tonge geword en hoe waaghalsiger hul planne. Dit was werklik soos die spreekwoord sê: Hoe later, hoe kwater. Weens Fielies se drankprobleem het ek vroeg-vroeg onderneem dat ek nie my mond aan drank sal sit nie. En as ek ingee, sou dit slegs by geleentheid en binne perke wees.

Daar was ’n bepaalde rangorde in die groep met Jan as die leier. Cliffie was wel ’n kolonel in die AWB se Wen-kommando, maar hy het Jan se leierskap gerespekteer. Ons planne het stadigaan begin vorm aanneem. Ons vier – ek, Cliffie, Koper en Jan – sou elkeen 20 pypbomme maak wat ons binne ’n maand in vier provinsies sou laat ontplof. Cliffie was gretig om saam met my te werk omdat ek nie bang was om dood te maak nie. Hy het geglo ek en hy sou goed saam werk en suksesvol wees. Vir my was sy aanvaarding, en die amperse bewondering deur ’n ouer man, die dryfkrag om meer waagmoedig te wees. Cliffie het my as sy gelyke aanvaar en ek wou niks doen om hom teleur te stel nie.

Kort daarna het ons met basiese springstofopleiding begin. Cliffie, Koper en Jan het my al die truuks geleer. Ons het ’n pypbom se plofkrag op ’n ou karwrak op die plaas getoets. Ek het gelukkig ’n basiese kennis van elektrisiteit gehad wat my gehelp het om alles oor stroombane makliker te verstaan.

Daar was ’n ou murasie nie te ver van die boskamp af nie wat as ons “killing house” gedien het. Cliffie en Koper het albei R4-aanvalsgewere gehad waarmee ek leer skiet het. Ek het al by geleentheid met die ouer R1-aanvalsgeweer geskiet, maar op die plaas het ek vir die eerste keer ’n R4, die weermag se standaard-aanvalsgeweer, in my hande gehou.

Ek het ook geoefen om op ’n kort afstand met ’n pistool te skiet. Jan was sonder twyfel die skerpskutter in ons midde.

Vir ons was terreur 90 persent propaganda en 10 persent aksie. Ons wou nie soos Dries Kriel wees wat bloot sagte teikens opgeblaas en eintlik niks uitgerig het nie. Cliffie wou eerder een aanval loods wat groot publisiteitswaarde het as ’n klomp niksseggende aanvalle wat gou vergete is.

Ons het verskillende ploftoestelle geprakseer. Een was ’n ploftoestel in ’n wynboks. ’n Plaatjie is in die boks gesit met ’n positiewe en ’n negatiewe draad. Sodra iemand die boks optel, maak die twee punte kontak en voltooi die stroombaan, wat dit dan laat ontplof. Los ’n deel van die wynsak in die boks sodat die wyn uit die boks drup, het Jan aanbeveel. Ek sou die wynboks dan naby ’n garage gaan neersit. Die gedagte was dat wanneer ’n swart of bruin mens verbystap, hy vermoedelik die wyn sou sien wat uit die boks drup en dit optel om daarvan in die hande te kry. Vandag is ek dankbaar ons het hierdie plan nooit deurgevoer nie.

Die vorige maand, op 24 September 1996, het ’n grusame moord op twee vroue en ’n dogtertjie ’n sekere dringendheid by ons aangewakker. Ene Dawid “Doggy Dog” Ruiters is middel September op parool vrygelaat nadat hy 13 jaar van ’n vonnis van 17 jaar uitgedien het. Hy en twee medepligtiges, André Solomons en Charles Adams, kaap toe ’n motoris, Willem Mongia, vermoor hom en begrawe sy lyk in ’n vlak graf. Daarna ry hulle met sy BMW op die Weskuspad en roof en steel sover hulle gaan. Hulle besoek ook ou tronkmaats en mettertyd sluit Johannes Bruintjies en Laston Chavula ook by hulle aan.

Gansie Louw het op die plaas Heldersig naby Nieuwoudtville gebly. Die aand van 24 September 1996 was daar twee gaste uit Kaapstad by haar, Julia Fairbanks-Smith en haar driejarige dogtertjie, Emma Wall. Julia, ’n Brit, het na die blomme aan die Weskus en in Namakwaland kom kyk. Johan Viviers, ’n polisieman en vriend van Gansie, het ook die nag op die plaas geslaap. Ruiters en sy bende het hulle oorval en die twee vroue en die meisietjie vermoor. Vir Viviers het hulle vir dood agtergelaat voordat hulle gevlug het, maar hy het oorleef en gaan hulp soek. Solomon en Adams is by ’n padversperring aangekeer, maar Ruiters het ontsnap. Daarna het hy nog moorde gepleeg voordat hy uiteindelik gevang is. Die gemeenskap was tot in hul wese geskok oor die sinlose moorde. In die media is na die bende as die Flower Gang verwys omdat die voorval in die blommeseisoen plaasgevind het – ’n bynaam waarvan Laston Chavula-hulle niks gehou het nie.

Dit was vir ons onaanvaarbaar dat Ruiters een van dié was wat amnestie gekry het toe pres Nelson Mandela aan sekere gevangenes amnestie verleen het. Hoewel die plaasmoorde nog nie naastenby die afmetings aangeneem het van vandag nie, was dit tog iets waaroor ons ons geweldig bekommer het. Dit was olie op die vuur en dit sou ook later een van die eise wees wat die Boere Aanvalstroepe aan die regering gestel het ná ’n bomaanval: die plaasmoorde moes stop.

Benjan was deur die week in die koshuis en Jan het hom een middag einde Oktober gaan haal om saam met hom te ry om moontlike terreurteikens te gaan identifiseer. Dit was sowat twee maande voor die Worcester-bomaanval. Terwyl Jan bestuur het, het Benjan die plekke op ’n kaart aangeteken. Die drie plekke was die De Doorns-treintonnel, ’n kragmas met lyne oor die N1 net buite Beaufort-Wes en ’n kragsubstasie naby Drie Susters.

Die volgende stap was om die verskillende ploftoestelle te bou en ons het almal saam daaraan gewerk. Vir die bomaanval op die treintonnel het ons ’n tydmeganisme geprakseer met ’n gesplete tak (een punt positief en die ander een negatief) wat kontak maak sodra die trein daaroor ry. Ek was woedend toe hulle die aand daar weg is met die ploftoestelle. Ek kon help om die bomme te maak, maar is nie toegelaat om saam te gaan om dit te laat ontplof nie. Cliffie, Koper, Benjan en Jan het gery, so daar was nie genoeg plek in die motor nie. Ek het my daaraan getroos dat wanneer ons regtig tot aksie oorgaan, ek deel daarvan sou wees en Cliffie, Koper en Benjan uitgesluit sou wees. (Amper soos die A-Team waar al die aksie aan die einde plaasgevind het, en ek toegelaat was om dit te sien. Dié keer sou ek deel daarvan wees.)

Van die beplande aanvalle op die drie sabotasieteikens was net die een by die De Doorns-treintonnel uiteindelik suksesvol. Ons het die tydmeganisme met die gesplete tak gebruik. Maar Jan-hulle het besluit om die springstof in die tonnel te plant en die skade aan die trein was daarom nie so groot nie. Dit sou veel erger gewees het as dit op ’n draai of teen ’n afdraande geplaas is.

Geen bom is by die kragsubstasie naby Drie Susters geplaas nie. Die substasie was met ’n dubbele elektriese heining omhein en niemand kon naby die teiken kom nie.

Die ploftoestel by die kragmas langs die N1 het nie dié aand ontplof nie. Een van die manne wat die tydskakelaar gebou het, moes iets verkeerds gedoen het. Die volgende aand het Benjan my soontoe geneem en ek het die ploftoestel met ’n gewone springdoppie laat afgaan. Die skade was nie so groot soos wat ons verwag het nie. Hulle het die bom aan die buitenste twee bene van die kragmas geplaas. Omdat die kraglyne so styf gespan was, kon jy al vier pote afskiet en die kabels sou in die lug bly. As die springstof aan die binneste pote vasgemaak was, sou dit wel die kragkabels op die snelweg neergetrek het. Maar die een wat die bom gestel het, het dit nie gedoen nie.

Vandag wens ek natuurlik dat ek eerder by al die sabotasie-aanvalle teenwoordig was as by Worcester se terreur. Al het ek dieselfde vonnis gekry en al was ek dieselfde tydperk in aanhouding, sou ek ten minste nie bloed aan my hande gehad het nie. Oorlog is nie ’n Tom Clancy-videospeletjie nie.

Bom-flieks soos Sylvester Stallone se The Specialist het my aangegryp, maar die aksiebelaaide Blown Away van 1994, waarin Tommy Lee Jones die rol van die Ierse terroris Ryan Gaerity vertolk, het my betower. Ek wou die Boerevolk se Ryan Gaerity wees. Terence Strong se The Tick-Tock Man oor die legendariese Ierse bomplanter Hughie Dougan was die eerste boek wat ek in aanhouding gelees het. Vandag werk ek daaraan om eerder soos Shane Paul O’Doherty onthou te word – as ’n versoener en nie as ’n terroris nie.

Wit Wolf

Подняться наверх