Читать книгу Wit Wolf - Stefaans Coetzee - Страница 12

HOOFSTUK 7

Оглавление

Ons maak bomme om “koppe te vat”

Cliffie Barnard, Koper Myburgh, Jan en Tommie Thomson het ’n bloed-eed afgelê dat hulle voor ’n sekere datum “koppe moet vat.” Vroeg in Desember is Cliffie, Benjan van der Westhuizen, Koper en Jan na kmdt-genl Dirk Ackermann van die AWB. Hulle wou by hom toestemming kry vir die stigting van die Boere Aanvalstroepe (BAT) en om ’n bomaanval te beplan waarin mense sou sterf. Ek onthou goed hoe opgewonde Benjan by hul terugkeer was.

Hoekom daar besluit is dat die bom-aanval op Worcester sou plaasvind, weet ek tot vandag toe nie – net Jan sal kan sê. Daar was egter twee redes waarom 24 Desember as die teikendatum gekies is.

Op Maandag 23 Desember 1985 is vyf mense, onder andere twee kinders, dood in ’n ontploffing in die Sanlamsentrum op Amanzimtoti. Die bom is deur Sibusiso Zondo, ’n lid van uMkhonto we Sizwe, die ANC se destydse gewapende vleuel, geplant. Dit sou dus die ideale manier wees om wraak te neem hierop.

Die tweede rede was ’n godsdienstige een. Die Israel Visie beskou Kersfees as onheilig en sien dit as net nog ’n heidense fees.

Die aand van 23 Desember 1996 was ek besig om te braai. Die manne het weer hard gedrink. In ’n stadium is ek kombuis toe om iets te gaan haal en het gehoor hoe harde woorde tussen Cliffie, Koper en Jan val. Ek kon nie presies uitmaak wat hulle sê nie maar ek vermoed Jan wou kleinkoppie trek en die ander twee het hom herinner aan die eed wat hulle afgelê het – die eed om “koppe te vat”.

Jan het uit die kombuis gekom en my driftig beveel om alles net so te los. Hy het kortaf gesê ek moet windpomppype gaan haal sodat ons die ploftoestelle aanmekaar kon sit.

Ek was baie opgewonde. Uiteindelik. Ek het in die tronk eenkeer die volgende woorde gelees: “I can promise you that I am more keen to die, than you are keen to live …” Dit is presies hoe ek daardie aand gevoel het. Ek is haastig met die stukke pyp na die waenhuis toe.

Aanvanklik sou ons net twee ploftoestelle maak, maar Mark Hammond, seun van die Hammonds, wat ook op die plaas gebly het, het by Koper gepleit om ook ’n ploftoestel te plant. Ek en Jan was ongemaklik daarmee, maar Cliffie en Koper het Mark gesteun. Ons het toe ’n derde ploftoestel aanmekaargesit. Ons het bloot windpomppype gevat van min of meer 2½ duim (6,3 cm) in deursnee, die een punt toegebuig en dit met ’n hamer plat gekap. Nadat die springstof in die pyp gestop is, is die ander punt vasgedraai.

Die ploftoestel is dan in geskenkpapier toegedraai. Niemand sou dus onraad vermoed wanneer ons met die “Kersgeskenke” na die winkelsentrum toe loop nie.

Ek was fanaties en bereid om alles prys te gee: my sportloopbaan, my jeugdige lewe en elke liewe droom wat ek as kind gehad het. Waarvoor? Dit is geoffer op die volksaltaar en nes die ander manne, het ek geglo ons veg vir God, volk en vaderland. “As jy nie voluit wil gaan nie, moes jy nooit begin het nie,” het Cliffie eenkeer gesê. Daar was dus nie meer omdraaikans vir my nie. Nie dat ek enigsins wou omdraai nie.

Ek kon in my gedagtes hoor hoe my kind my eendag sou vra: “Pappa, wat het jy gedoen toe die vyand ons land oorgeneem het?” Met hierdie daad sou ek iets hê om aan my toekomstige kinders my lojaliteit aan my land te bewys. Ek het die Boerevolk so lief gehad dat ek nie aan my eie toekoms en drome gedink het nie.

Dit wat ek as liefde vir my volk beskou het, was so sterk gewees dat ek bereid was om mense te vermoor. Ek was skaars 19 jaar oud.

Wit Wolf

Подняться наверх