Читать книгу Wit Wolf - Stefaans Coetzee - Страница 13

HOOFSTUK 8

Оглавление

’n Gewillige moordenaar vir Pa Jan

Vandag wil ek soveel as moontlik swart mense doodmaak. Dit was my oorheersende doelwit toe ek die volgende oggend in Worcester se Adderleystraat stap onderweg na die Narotam-apteek waar ek my bom moes plant: Wanneer mense in die toekoms aan Kersfees dink, wanneer hulle einde November, begin Desember Kersversierings ophang en Kersliedjies in winkelsentrums hoor, moet dit vir ’n groot klomp van hulle pynlike herinneringe bring.

Ek, Jan Voetbol en Mark Hammond het die oggend vroeg Worcester toe gery. Nie ek of Mark het geweet waarheen ons op pad is nie. Ons het ook nie omgegee nie, want die dorp was nie vir ons van enige belang nie. Die datum wel.

Jan het in Kerkstraat stilgehou, ’n ent van die Shoprite-winkelsentrum af. Hy het toe vir Mark gaan wys waar hy sy ploftoestel moes laat afgaan. Daarna het hy my kom haal en na die plek geneem waar ek my bom moes laat ontplof. Ons het vooraf ooreengekom dat Jan eerste sy ploftoestel sal laat afgaan. Ek en Mark sou tot aksie oorgaan sodra ons die slag hoor.

Jan het sy bom by Shoprite in Russelstraat in ’n sement-vullishouer gesit, baie na aan die Kersboom wat voor in die winkel by die ingang gestaan het. Dié houer is doelbewus gekies sodat die sementstukke bykomende skrapnel kon wees om meer skade aan te rig.

Dit was 24 Desember, net voor eenuur die middag. Die strate het gewemel van mense wat skarrel om Kersgeskenke te koop, vir oulaas inkopies te doen. Oral was Kersliggies en vrolike Kersversierings. In meer as een winkel het Boney M “Silent Night” oor die luidsprekers gesing. Terreur was die laaste ding in enigiemand se gedagtes.

Ons het vir alles voorsiening gemaak, veral om vinnig weg te kom en nie self in die chaos van die ontploffings vasgekeer te word nie. Die springdoppie in elke bom se vertragingsmeganisme het ons drie minute gegee om van die toneel weg te kom voordat dit afgaan. My bom en Mark s’n sou enkele sekondes ná mekaar ontplof, maar op verskillende plekke.

Ek het my ploftoestel in ’n blou plastiekvullisblik buite die Narotam-apteek geplaas. Ondertoe in die straat is die polisiekantoor, die hof en die poskantoor. Reg oorkant die apteek is ’n Duitse kerk. Langs die apteek was ’n klomp stalletjies waar informele smouse handel gedryf het.

Toe ek Jan se ploftoestel hoor afgaan, het ek myne se lont met ’n brandende sigaret aangesteek. Op daardie oomblik het ek totaal niks gevoel nie. Ek was daar om ’n sekere taak uit te voer, en ek het dit gedoen. Wanneer ek nou daaraan dink is dit vir my ondenkbaar dat ek so koud en klinies kon wees. Ek kan nie eers iets anders daarvoor blameer nie. Ek was nie babelas nie, ek was totaal nugter en ek was daar om mense se lewe te verwoes.

Die sigaret waarmee ek die ploftoestel aangesteek het, het ek by Cliffie gekry. Hy het vir ons elkeen ’n sigaret gegee om die springdoppie se lont aan te steek. ’n Sigaret-aansteker se vlammetjie sou dalk doodgewaai word, maar die sigaret se kooltjie was sterk genoeg om die lont te laat brand. Ek rook nie en nadat ek die lont aangesteek het, het ek oor die pad gestap en die sigaret vir ’n swart man gegee wat van voor aangekom het.

Oorkant die pad in ’n groot park het Mark aangestap gekom met sy ploftoestel, steeds toegedraai in geskenkpapier, in sy hande. By die kar het hy vir my gesê hy kon dit nie aangesteek kry nie. Ek was onmiddellik woedend, want ons doel was juis om mense dood te maak.

“Jy praat kak,” het ek hom toegesnou. Ek het dadelik besef die oomblik was te groot vir Mark en hy het bokkoors gekry. Soos wanneer ’n onervare jagter sy eerste bok moet skiet en hy nie die skoot kan afvuur nie. Op daardie oomblik was ek so kwaad vir Mark, maar vandag wens ek dat dit eerder ek was wat nie mans genoeg was om mense te vermoor nie.

Toe Jan by die motor aankom, het ek by hom daarop aangedring dat ons Mark se ploftoestel moet laat afgaan, maar hy wou net so vinnig as moontlik wegkom. “Ek het my ID-boek verloor,” is al wat hy gesê het.

Dit was ’n groot fout. Hy het sy beursie met sy ID-boek daarin saam met hom geneem. Die kakiebroek wat hy aangehad het se sakke was vlak en dit moes uitgeval het. Ek was woedend. Ek wou teruggaan om die ID-boek te gaan soek en Mark se ploftoestel te laat afgaan, maar Jan het geweier.

Ons drie het in die kar geklim en rustig uit Worcester gery – om te jaag, sou agterdog wek. Ek kon myself nie kalmeer nie. Die hele sending was om soveel as moontlik van die vyand te vermoor, en nou ry ons met ’n moordwapen in die kar terug plaas toe. Mark se bom kon nog ’n paar vyande doodgemaak het!

Die polisie het reeds buite Worcester padversperrings opgestel, wat ons verwag het, maar ons is veilig deur. Valse inligting is versprei dat swart mense Shoprite wou beroof en in ’n kar gevlug het. Die polisie was dus op die uitkyk vir ’n ander voertuig. Later het ons by ’n dam stilgehou waar Mark sy ploftoestel in die water gegooi het. Ek het die res van die rit geslaap, steeds ongelukkig oor hoe dinge verloop het.

Terug op die plaas het Cliffie dadelik nadergestaan toe ons stilhou en my gelukgewens met ’n suksesvolle operasie. Hy het oor die radio van die bomontploffings gehoor en ook dat net twee ploftoestelle afgegaan het. Hy het dadelik geweet dit is Mark wat kleinkoppie getrek het. Eintlik was Mark, nes ek en Benjan, maar nog ’n kind gewees, nie ouer as 21 of 22 jaar nie.

Die ontploffings het die lewe van 5 mense geëis, onder wie 3 kinders. Altesame 67 ander is beseer. Die man wat teen die vullishouer met Jan Voetbol se bom geleun het, is later as die 35-jarige Samuel Jalile uitgeken. Hy het ’n paar kilometer van Worcester in die De Wet-nedersetting gewoon en in die boubedryf gewerk. Sy suster se dogter, Maxi, het by hom gebly. Dié noodlottige oggend het hy vir Maxi gesê hy gaan Shoprite toe om vleis en boerewors te koop. Later, ná die ontploffings, het sy Samuel gesoek. By die polisiekantoor het hulle bevestig dat hy in die ontploffing dood is. Albei sy bene is afgeruk.

Die negejarige Xolani Matshoba het dié dag in Shoprite se ingang saam met Samuel gesterf. Die geweld van die slag het sy een been afgeruk en hy het hom doodgebloei. Sy suster Nomonde vertel hy het die oggend saam met haar winkels toe gegaan omdat sy klere vir hom sou koop vir Kersfees. Sy was toe 33 jaar oud. Toe sy uit Shoprite kom kon sy hom nêrens kry nie en is toe huis toe. Onderweg het sy gehoor dat ’n bom in die sentrum ontplof het nadat sy daar weg is. Sy het haar ma laat weet en hulle het Xolani gaan soek, maar niemand is naby die toneel toegelaat nie. Later het hulle gehoor dat hy daar dood is.

Nog ’n negejarige, Juaneen April, was naby die ingang toe die bom ontplof. Die slag het haar maag oopgeruk en sy het later op die operasietafel beswyk. Een van die mense op die toneel het later vertel hoe die huilende meisietjie aangestrompel gekom het met haar verskriklike maagwond en snye oor haar lyf waar glasskerwe haar getref het. Juaneen se vierjarige boetie, Jennewil, is ook ernstig beseer maar het oorleef.

Die 13-jarige Andile Matshoba was ook naby die bom en het ernstige beserings opgedoen. Hy is die volgende dag in die Tygerberg-hospitaal oorlede. Die twee Matshoba-seuntjies was verlangs familie en het albei in Zwelethemba gebly.

Die bom het sy laaste slagoffer sowat vier jaar later geëis toe Sweetness Busakwe in 2010 dood is – die nagevolge van beserings wat sy in die ontploffing opgedoen het. Sweetness het tydens die ontploffing in Shoprite gewerk. Sy was die broodwinner in die gesin en haar dood het haar ma, Lydia, ’n diabeet, swaar getref. Sweetness se pa is ook ’n jaar of wat later dood en Lydia het vas geglo dat dit weens ’n gebroke hart was.

Hoe suksesvol was ons missie? Die sukses van landmyn-oorlogvoering lê in veel meer as die aantal sterfgevalle. ’n Landmyn maak nie altyd dood nie. Dit ruk soms net ’n been af en die slagoffer lê daar en gil van pyn. Al die mense om hom ervaar sy trauma, sy vrees – dit is deel van sielkundige oorlogvoering. Wanneer iemand in ’n bomontploffing sterf, moet die mense wat oorleef het ook met die pyn en trauma saamleef. In daardie opsig het ons dus beslis in ons doel geslaag.

Agterna het sommige mense beweer dat ons amateurs is omdat die aanvalle op die De Doorns-treinspoor en die kragmas naby Beaufort-Wes onsuksesvol was. Maar met die Worcester-ontploffings het ons presies dit reggekry wat dikwels met terreuraanvalle beoog word: 10% daarvan is aksie en 90% is propagandawaarde.

Vir ons het dit nie net bloot gegaan oor hoeveel mense daardie dag sterf nie, maar oor hoeveel publisiteit die aanval kry. Terrorisme gaan oor vrees wat ingeboesem word. Minute nadat Jan se bom daardie dag afgegaan het en die polisie nog besig was om die gebied af te sper, het my bom voor die Narotam-apteek ontplof. Dit moes skrikwekkend gewees het vir die mense van Worcester wat in die omgewing van die ontploffings was. Vir ons was dit ’n groot sukses. Die publisiteit het gesorg dat mense landwyd daarvan kennis neem dat die regses weer doenig is.

Die polisie het nie geweet wie verantwoordelik was nie en ook nie waar ons geskuil het nie. Agterna wonder ’n mens wat sou gebeur het as Jan se ID nie op die toneel gevind is nie? Maar ek moet die polisie erkenning gee. Terroriste dink altyd hulle is baie slim, maar die polisie sou waarskynlik wel by ons uitgekom het. Dalk nie so vinnig nie en dalk nie voordat nog ’n paar bomme ontplof het en ’n klomp mense gesterf het nie, maar op ’n manier glo ek hulle sou ons wel gevang het.

Ná die mislukte poging in 1984 van die Ierse Republikeinse Leër (IRL) om Margaret Thatcher in ’n bomontploffing in Brighton dood te maak, het die IRL ’n verklaring uitgereik. Dit is afgesluit met dié ysingwekkende woorde aan hul teikens: “You have to be lucky all the time. We only have to be lucky once.” Dit was presies hoe ons gevoel het; ons poging was nie vergeefs nie.

Met die aanvang van die Waarheid-en-versoeningskommissie (WVK) se sittings in 1996 was die nuwe demokrasie in sy kinderskoene, en die sogenaamde reënboognasie waaraan almal gebou het, is meteens tot stilstand geruk. Die publisiteitswaarde van hierdie aanval was genoeg; dit was nie nodig om honderde mense dood te maak nie.

Terwyl ek daardie dag my ploftoestel geplant het, het ek vir geen oomblik daaraan gedink dat wit mense dalk in die ontploffing kan sterf nie. Dalk het ek Cliffie se siening gedeel dat geen wit mens daar moes wees om Kersinkopies te doen nie.

Wanneer ek vandag aan daardie dag terugdink, besef ek dat Jan Voetbol van der Westhuizen die enigste persoon was wat my kon dryf om die ploftoestelle te vervaardig en te laat afgaan. Ek glo nie hy het enigsins vir my omgegee nie; ek was bloot vir hom ’n middel tot ’n doel. Vir my was hy Pa Jan en ek sou enigiets vir hom doen. Hy was die opdraggewer, die laaste besluitnemer en die leier van ons moordbende. Hoe skokkend dit ook al mag wees, ter wille van sy aanvaarding was ek ’n gewillige moordenaar.

Wit Wolf

Подняться наверх