Читать книгу Wit Wolf - Stefaans Coetzee - Страница 8

HOOFSTUK 3

Оглавление

Weer stoot my ma ons weg

Ons blydskap was van korte duur. My ma het op Upington in die Noord-Kaap gebly en haar huis was binne loopafstand van die skool. Ek het gedink ons gaan by haar bly, maar sy het ons dadelik in die koshuis gestop. Toe ons nog in die vakansies daar gaan kuier het, het sy by oom Dirk gebly. Nou was sy en oom Pieta Hendricks1 saam. Ek het niks van hom gehou nie.

Sommer die eerste aand was ek al weer in ’n geveg. ’n Seun, ene Willie, wou weet hoe dit voel om ’n kinderhuiskind ’n opstopper te gee. Sy maat het my vasgehou terwyl Willie my geslaan het. Maar daar was wel een kind wat nie omgegee het om met ’n “wesie” bevriend te raak nie – Benjan van der Westhuizen. Min het ek toe besef dat die ontmoeting met Benjan my lewe in ’n drasties ander rigting sou stuur.

Oom Pieta was mal oor gholf en ek het sommer gou sy joggie geword. Ons twee het Saterdae putjie ná putjie saam op die gholfbaan geloop maar tog kon ons geen band vorm nie; inteendeel, ons het nie eens probeer nie. Oom Pieta het soms in woedebuie uitgebars en dit het my bang en op ’n afstand gehou.

Danksy my rol as oom Pieta se gholfjoggie kon ek elke keer R15 spaar. Met die geld het ek vir my ’n fiets gekoop en later ook ’n radio. Ek het ook geld teen ’n reuse-rentekoers uitgeleen aan my susters en ma. ’n Regte Jood, het hulle altyd gespot. Ek het ook dinge wat ek wou hê en nie kon bekostig nie, by my maats geruil vir iets wat ek gehad het. Later het ek vir almal goedjies heen-en-weer uitgeruil en met elke transaksie was iets ingesluit wat ek as fooi gehou het. As middelman het ek dus ’n lekker besigheid opgebou.

In baie klasse het ek gesit en teken en so in my eie wêreld verdwaal. Superheroes, Wolverine en dan Batman bo-aan die lys, was my gunsteling-dinge om te teken. Benjan en Danie Maree (self ’n uitstekende kunsstudent) was die enigste van my maats wat geweet het dat ek kunstig is, want op skool is kuns nooit as ’n “manlike ding” beskou nie. Ek het verkies om dit vir myself te hou.

My kunsjuffrou, Lida Eksteen, het ’n groot impak op my lewe gehad. Sy is briljant, nie net met kuns nie, maar ook met die manier waarop sy met haar studente gewerk het. Ek was bevoorreg om by haar kunsklasse te kry. Juffrou Lida het iets reggekry wat min ander onderwysers kon regkry – ek was nooit stout in haar klas nie. Wanneer sy aan ons verduidelik het hoe om te teken, skilder of beeldhouwerk te doen, het ek altyd heel voor in die klas gesit en my volle aandag gegee.

Eendag het ek iets geteken maar was nie tevrede nie en het dit oudergewoonte opgefrommel en in die snippermandjie gegooi. Sy het dit uitgehaal, gestryk, geraam en teen die klasmuur opgehang. Dit het geweldig baie vir my beteken. Dit het gevoel soos ’n moeder wat haar kleuter se krabbelskets teen die yskasdeur vasplak met magnete. Sy het onbewustelik aan my erkenning gegee, en dit het baie goed gevoel.

Teen die tyd wat ek in die hoërskool was, het ek besef ek is anders as die meeste ander seuns wat net rugby droom, eet en praat. Ek het ook rugby gespeel, maar atletiek, en veral lang afstande, was my passie. Jare lank het ek in alle items koning gekraai, van die 1 500 m tot volle marathons.

Stelselmatig het daar aggressie in my begin opbou. Die emosionele swaarkry van die tyd in Winburg se kinderhuis was steeds in my gedagtes, juis omdat ek geglo het dat ons nou by my ma gaan bly. Toe dit nie gebeur nie, was dit ’n bitter groot teleurstelling. Ons was naby haar, maar nie by haar in die huis nie. Ek het oom Pieta Hendricks hiervoor kwalik geneem en iewers moes ek van hierdie woede ontslae raak. Uiteindelik was dit onskuldige swart mense wat hiervoor geboet het.

Hulle sê as jy nie jou vriende kies nie, kies jou vriende jou. Die vriendekring waarin ek op hoërskool beland het, het as ’n tydverdryf oor naweke saans swart mense aangerand. Dit was in 1992. Nelson Mandela is vrygelaat en die land was besig om gereed te maak vir groot veranderings, maar op Upington was rassisme nog springlewendig en gesond.

In die begin het ons Vrydag- en Saterdagaande in die dorp na swart mense gaan soek wat ons kon aanrand. Later op Sondag- en Woensdagaande ook. Later was enige aand goed genoeg en wanneer die geleentheid hom voordoen, het ons dit aangegryp. Wanneer daar nie ’n geleentheid opgeduik het nie, het ons self een geskep.

Ek onthou een van die voorvalle vandag nog goed. Ons het een aand ’n ou swart man by die Keidebees-kafee raakgeloop. My ma se huis was op die hoek naby die kafee. Hy het met sy fiets voor die kafee gestaan. Jy kon in sy oë sien hy het besef hier kom moeilikheid die oomblik toe die klomp jong seuns nader loop. Hy het sy fiets gegryp, opgespring en weggejaag, maar so gou sou ons hom nie laat ontsnap nie. Ons het hom op ’n ander plek gaan voorlê, maar hy het dit verwag en ons ontduik. Ons was woedend en het hom toe vorentoe ingehaal. Een het die ou man van sy fiets gepluk en die ander het nader gestorm en hom begin skop. “Ek het nie die fiets gesteel nie, ek het nie die fiets gesteel nie,” het hy die heeltyd geskreeu. Hemel, die arme man het gedink ons rand hom aan oor ’n gesteelde fiets! Hy het nie geweet ons aggressie was bloot op sy swart vel gemik nie.

’n Ander keer het ons weer ’n ou swart vrou, wat voor die kafee op die stoep gelê en slaap het, gegryp. Een van die seuns het haar aan die voete getrek en teen die trap afgesleep. Haar kop het geklap-klap al teen die treetjies af. Verbeel jou dit is jou ma. G’n wonder die swart mense haat ons wit mense so nie! Later in die aand is ons weer daar verby. Sy het steeds doodstil gelê waar ons haar gelos het.

Dis onmoontlik om te sê hoeveel voorvalle daar oor etlike maande was. Die polisie het geweet wat ons doen, en sou ons beslis kon vastrek as hulle wou, maar daar is nooit strafregtelik teen ons opgetree nie.

Al het ek in my binneste geweet wat ek doen is verkeerd, kon ek nie daaruit loskom nie. Om deel van die groep te wees was vir my ’n manier om êrens te behoort. Die geweld teen die swart mense het my totaal ingesluk en ek het keer op keer ingewillig om saam te gaan. Op die ou end was die stem van my gewete so flou dat ek dit nie meer kon hoor nie en dit het my nie meer gepla nie. Op ’n vreemde wyse het hierdie geweld my iewers laat behoort, en dit het my gepas. Onder die skoolkinders het ek nou begin naam maak as ’n rassis. Maar niemand sou ooit daardie tyd kon besef in watter opspraakwekkende mate ek later as rassis naam sou maak nie.

1 Skuilnaam

Wit Wolf

Подняться наверх