Читать книгу Wit Wolf - Stefaans Coetzee - Страница 7

HOOFSTUK 2

Оглавление

Donker dae

Reeds met die intrapslag in Winburg se kinderhuis het daar moeilikheid op my gewag. Op my eerste dag is ek ingelig dat die jonger seuns met badtyd eerste moet bad – ’n reël wat niemand durf verontagsaam nie. Ek het vir my warm water ingetap en voordat ek die kouewaterkraan kon oopdraai, het een van die groter seuns ingekom en my in die bad gestamp. Toe ek vervaard uitspring, haak die kraan my langs my boud en ruk ’n hele stuk vel oop. Die bloed het uit die wond gestroom.

Ek het geweet as ek na die huismoeder gaan, sou sy aandring op ’n verduideliking en dit sou veroorsaak dat die skuldige seuns gestraf word. Ek kon net dink watter kettingreaksie dit sou hê en ek sou aan die verloorkant wees. Hierdie wond sou ek self moes dokter, het ek in my onkunde besluit.

Later het ek besef die tyd in die kinderhuis was die heel donkerste in my grootwordjare, selfs erger as amper twee dekades agter tralies. Ek ril nou nog as ek dink aan die neerdrukkende greep van algehele verlorenheid wat my oorval het toe ons die dag voor die kinderhuis stilhou. Die wete dat daar niemand in die hele wye wêreld met sy miljarde mense is wat my liefhet nie, die gedagte dat ek vir niemand iets beteken nie, het diep seergemaak.

Winburg, 120 km van Bloemfontein, is die oudste dorp in die Vrystaat en lê reg langs die N1, wat die Kaap met Pretoria verbind. Mense ry deesdae maklik verby die dorpie. Ai, kon die maatskaplike werkers nie maar daardie dag vir ’n hoender uitgeswaai en ook verby die dorpie gery het nie?

Van die ouer seuns in die kinderhuis was boelies en my grootste uitdaging was om hulle te hanteer. Hulle wou dadelik wys wie is baas van die plaas en as nuweling was ek vanselfsprekend ’n teiken.

Ek is terug kamer toe met die bloeiende wond. Gelukkig was daar twee seuns van my ouderdom op wie ek kon steun, Andries Verdoes en ’n seun wat ek as Oupa geken het. Hulle het my gehelp om die wond so skoon as moontlik te hou. Sonder die nodige mediese sorg het dit stadig gesond geword en was vir die volgende paar weke gevoelig.

Terwyl die wond nog rou was, het ons ’n toets geskryf waarvoor ek nie geleer het nie. As ek druip, het ek geweet, wag daar ses van die bestes op my, soos die gebruik in daardie jare was. Maar Oupa het hom oor my ontferm. Ek het langs hom gesit en hy het aangebied om so te sit dat ek sy antwoorde kon afskryf. Ongelukkig het die onderwyser dit opgemerk en ons kantoor toe gesleep. Oupa het sy bes probeer om te verhinder dat ons slae kry en het uiteindelik met die hele sak patats na vore gekom. Die onderwyser wou hom eers nie glo nie, maar toe die skoolhoof my wond sien, was hy ons genadig. Die wond is toe mooi gedokter en het daarna vinnig genees. Ek het net ’n lelike letsel oorgehou.

In die kinderhuis moes ek vinnig leer om my man te staan. Maar saans het ek dikwels in my bed lê en huil. Alles was vreemd: ek was weg van Fielies, my sussies en natuurlik van my ma. Die kinderhuis was nie my tuiste nie en ek wou glad nie daar wees nie. Ek het net begeer om weer in my eie bed op Virginia te slaap. In die middae wou ek sorgeloos saam met my susters om die blok hardloop terwyl Fielies ons aanmoedig. In die donker, in my kinderhuisbed, was my kussing gou papnat. Ek het besef ek mag nie toelaat dat iemand my hoor huil nie. Wanneer een van die jonger seuns te veel gehuil het, het die ouer seuns ’n laken oor sy kop gegooi en hom met hul vuiste stilgemaak: “Hou op huil, pisbalie! Of ons sal jou rede gee om te tjank!”

Ek weet ek was nie al een wat in die donker gehuil het nie, maar die ander het geleer om dit te smoor. Saans in my bed het ek altyd net een gebed bly bid, soos ’n plaat wat vashaak: Liewe Jesus, ek wil asseblief nie doodgaan voordat ek my ma weer gesien het nie. Ek het nie gevra vir ’n nuwe rooi BMX-fiets of mooi karretjies om mee te speel nie, slegs om met my ma herenig te word. God was doof vir my gebed en iewers langs die pad het hierdie klein seuntjie ophou bid.

My sussies was ook in Winburg se kinderhuis, maar ons kon mekaar nie enige tyd sien nie. In die middae by die swembad, ’n heerlike groot swembad, was daar gewoonlik tyd om met mekaar te gesels.

Die kinderhuis was nie net een gebou nie, maar verskillende huise, elkeen met ’n huismoeder en huisvader. Ons kinders het in kamers in die huis gebly. Ons huismoeder se seun was omtrent ons ouderdom en hy moes in die middae saam met ons om die tafel sit en huiswerk doen. Ek onthou goed hoe ons altyd om die etenstafel gesit en wag het vir kos. Daar was silwer bakkies op die tafel waarin die botter en konfyt was en ons kon nie waag om gedurende die tafelgebed ons oë toe te maak nie, want dan steel iemand die botter en konfyt!

Die heel eerste vuisgeveg waarin ek betrokke geraak het, was op my eerste dag in Winburg se laerskool. Op Virginia was ek nog ’n voorbeeldige seuntjie, selfs ’n biblioteekprefek. Ek het nie geweld geken nie, en al het ek boks as ’n sport beoefen, het ek nog nooit teen iemand baklei nie. Skielik was dinge anders. In elke skool kry jy maar jou boelies wat altyd kyk wie hulle kan afknou. Hulle het spottend aan my gekarring dat ek ’n wesie sonder ouers is. Dit kon nie anders as om op ’n vuisgeveg uit te loop nie.

Daar was baie ander dinge wat my hard gegiet het. Ons het op ’n graslose veld rugby gespeel en as jy geduik word, het die velle gewaai. Nog ’n gunsteling-speletjie was “Ysterman”. ’n Klomp seuns het in ’n sirkel gestaan met een in die middel. Die seuns wat die sirkel vorm, staan met een voet effens gelig van die grond, die ander een nie. Sodra een nie langer so kan staan nie, mag hy die een in die middel uit die sirkel stamp. Dan jaag almal hom en sodra hulle hom kry, word hy geskop totdat hy dit regkry om weer veilig in die sirkel te kom. Ek het vinnig geleer om die veiligheid van die sirkel betyds te haal.

Op ’n dag moes ons in die klas ’n Moedersdag-kaartjie maak as ’n skoolprojek en ek het botweg geweier om dit te doen. Vir my was dit ’n sinlose oefening. Hoekom moes ek dit doen as ek nie iemand gehad het vir wie ek dit kon gee nie. Vandag voel ek skaam oor die manier waarop ek die juffrou geantwoord het: “Ek het nie ’n ma nie, juffrou, so vir wie moet ek die kaartjie maak?” wou ek weet. Daarna het ek ’n wrewel in Moedersdag, Vadersdag en Kersfees ontwikkel.

’n Mens moenie verskonings soek nie maar die aanpassing was vir my uiters moeilik en dit het ’n negatiewe uitwerking op my skoolwerk gehad. Ek het net in hardloop belang gestel, want ek kon dit beter doen as kinders met ouers. Die res het my nie eintlik meer geïnteresseer nie en dit was duidelik sigbaar in my skoolwerk.

Die emosionele verwerping wat ek beleef het, het my laat glo dat ek eintlik nutteloos is. In my kop het een gedagte bly maal: My ma wou my nie hê nie, nou my pa ook nie. Ek het begin glo as Fielies regtig vir ons lief was, sou hy ophou suip en ons by die kinderhuis kom haal het.

Ek was nooit regtig ’n ywerige skolier wat hard geleer het nie, maar op Winburg het ek net mooi niks geleer nie. By Fielies het ons nog huiswerk gedoen en hy het seker gemaak dat ons dit doen. In die kinderhuis was daar niemand om ons huiswerk na te gaan nie. Daar was kamtige studie-ure en die jonger kinders het smiddae ná skool by die eettafel gesit en huiswerk doen terwyl die ouer kinders twee maal per dag moes studeer. Sonder die nodige toesig het dit egter nie gebeur nie en uiteindelik moes ek graad vier herhaal.

So het ek en Lindi in dieselfde klas beland. Dit het die band tussen ons twee besonder sterk gemaak en ná my vrylating is dit die een suster wat my dikwels vashou, druk en soen.

Al was die kinderhuisjare die donkerste van my jong lewe, moet ek erken dat die personeel my nie sleg behandel het nie. Winburg is baie koud in die winter, maar daar was altyd kos en skoon klere en ons is eintlik goed versorg. Daar was gereeld mense van die gemeenskap en veral die kerk wat hulle oor die kinderhuiskinders ontferm het. My grootste gestoei in die kinderhuis was met die persoonlike verwerping. Kos, skoon klere, ’n dak oor jou kop en ’n bed om in te slaap kon nie die gat in my hart vul nie.

As ek vandag met kinderhuiskinders gesels, moedig ek hulle aan om hierdie ander “familie” se liefde raak te sien en te omhels. Ons is so behep om te verenig met ons familie wat ons nie wil hê nie, dat ons nie tyd kry om dié mense lief te hê wat hulle wel oor ons ontferm nie.

Hoekom dank ek God vir die kinderhuis? Dit was dan so pynlik? As ek nie in die kinderhuis was nie, sou ek nooit die tronk oorleef het nie. Die kinderhuis was ’n manier waarop God, en ek sê dit met die grootste respek, my voorberei het vir die tyd in die tronk. As ek nie daardie fondament gehad het nie, sou my vonnis vir my te swaar gewees het en sou ek moontlik opgegee het.

Al wat ek gehad het om my herinneringe aan Fielies lewendig te hou, was om te hardloop. Terwyl ek so gedraf het, was Fielies in my gedagtes langs my op die teerpad of iewers langs die atletiekbaan. Menigmale het ek gedroom hoe ons saam aan die Comrades-marathon sou deelneem.

Toe ek met atletiek begin het, het Fielies my Transkaroo genoem. Ek was sy Transkaroo, het hy altyd gesê. Selfs nou nog sluk ek hard aan die knop in my keel wanneer ek dié liedjie van Herman Holtzhausen hoor. Met die aanhoor van “Transkaroo” is Fielies se beeld altyd helder voor my oë.

Transkaroo

Bring haar huis toe

Laat jou ysterwiele rol

Bring haar en maak my lewe vol …

My herinneringe aan my ma se ouers is baie vaag. Ons het hulle nie goed geken nie, maar Oupa Hans en Ouma Alie Bothma het baie druk op my ma uitgeoefen omdat hulle gemeen het dat sy haar kinders verstoot het. Hulle het dit benadruk dat sy verantwoordelikheid moet aanvaar vir haar kinders en ons by die kinderhuis moet gaan haal. Sy het ons een of twee vakansies kom haal om by haar te bly. Met ons terugkeer na Winburg daarna was dit weer van voor af ’n nagmerrie om by die kinderhuisomgewing aan te pas. Ons het ook een Kersfees huis toe gegaan. Dis vreemd, maar ek kan nie veel daarvan onthou nie. Daardie tyd in my lewe word oorheers deur die eensaamheid en verlange wat ek in die kinderhuis beleef het.

Op ’n dag het ons die goeie nuus gekry dat ons hierdie keer vir altyd huis toe sou gaan. Daar was geen trane toe ons die dag van die Winburg-kinderhuis wegry nie. Ek het nooit weer teruggekyk nie. My ma het my immers kom haal. Ek het vas geglo ’n beter lewe wag op my. Hoe verkeerd was ek nie …

Wit Wolf

Подняться наверх