Читать книгу Wit Wolf - Stefaans Coetzee - Страница 4

VOORWOORD

Оглавление

Ek het Stefaans Coetzee se naam vir die eerste keer in 2002 by die oud-Vlakplaasbevelvoerder Eugene de Kock gehoor. Ek het De Kock gereeld in die Pretoria-Lokaal-gevangenis besoek en hy het genoem dat hy besorg was oor die jong man wat saam met hom daar aangehou is.

Stefaans is van Upington na Pretoria oorgeplaas en het in dieselfde afdeling beland waar verskeie regses aangehou is. Onder hulle was Clive Derby-Lewis, moordenaar van die destydse leier van die SA Kommunistiese Party, Chris Hani, en Koper Myburgh, Jan Voetbol van der Westhuizen en Cliffie Barnard, almal lede van die Afrikaner-Weerstandsbeweging.

Daar het De Kock die saadjie by Stefaans geplant wat sy pad na versoening oopgemaak het. Hy het hom oor die jong man ontferm net soos Jan Voetbol jare tevore gedoen het. Maar waar Jan Voetbol ’n ontvanklike jong seun in ’n wêreld van haat en uiteindelik moord ingelyf het, het De Kock positiewe energie in Stefaans se doellose lewe agter tralies geblaas. Hy het vir hom ’n positiewe vaderfiguur geword.

De Kock het my gereeld uit die tronk gebel en van Stefaans se probleme vertel. Ek het mettertyd uit ons gesprekke agtergekom watter stryd tussen De Kock en Jan Voetbol gewoed het om die hart en siel van die jong Stefaans. Aan die een kant was die fanatiese Israel Visie-geloof waarmee Jan en sy twee luitenante, Cliffie Barnard en Koper Myburgh, Stefaans onder hul beheer wou hou. Aan die ander kant het Eugene eerlike goedheid in Stefaans se hart raakgesien en hy wou hom help.

Ek het toe begin om Stefaans oor naweke in die tronk te besoek. Dit was in die tyd toe hy met die hulp van sy staatmaker-vriendin dr Magriet Haasbroek na sy slagoffers begin uitreik het.

De Kock het dit sy lewenstaak gemaak om Stefaans te red. Ek het hierdie stryd eerstehands ervaar. Hy het telkens tydens my besoeke en in driftige telefoonoproepe my hulp gevra. Soms was hy regtig moerig. Dan het ek geweet daar was weer harde woorde en dreigemente tussen hom en Jan Voetbol oor hoe die Israel Visie-klomp met die jong man se kop gesmokkel het. Ander kere kon ek die desperaatheid en moedeloosheid in sy stem hoor.

Die magstryd het jare geduur, maar De Kock het nooit moed opgegee nie. Hy het geweet Stefaans het een brandende begeerte in sy hart wat hom uiteindelik sou red uit die Israel Visie se kloue – sy begeerte om met sy slagoffers versoen te raak.

Vir my was die hoogtepunt van Stefaans se pad na versoening een middag laat in Januarie 2013 toe ’n groot groep van sy Worcester-slagoffers in die Vredestrein op Pretoria se stasie aankom. Hulle was doodmoeg ná die lang rit en ’n onseker afwagting het in die gespanne atmosfeer geheers.

In die groep was Olga Macingwane, ’n tenger vroutjie wat dié noodlottige dag in Shoprite ernstige beenbeserings in die ontploffing opgedoen het. Vir my was dit ’n merkwaardige geleentheid om haar te ontmoet in die hotel waar die groep tuisgegaan het en met haar te gesels. Dit was duidelik dat sy respek onder die ander afgedwing het. Ondanks haar nagmerrie-ondervinding het hierdie merkwaardige vrou daarin geslaag om vanaf nêrens uit te styg tot ’n leier in haar gemeenskap. Vandag is sy iemand wat internasionaal gerespekteer word.

Die dag toe ek Olga ontmoet het, het die spanning hoog geloop – hul ontmoeting met Stefaans in die tronk het voorgelê. Niemand het geweet wat om te verwag nie …

Vir my is Stefaans Coetzee die verpersoonliking van versoening in ons land. Sy lewensverhaal van swaarkry, verkeerde keuses en uiteindelike bevryding moet aan die wêreld vertel word as voorbeeld vir ons almal.

DE WET POTGIETER

Wit Wolf

Подняться наверх