Читать книгу Die waarheid oor verhoudings - Stefan Blom - Страница 22

Verhoudingsvaardigheid

Оглавление

Besluit wat regtig saak maak

As jy dit dink en voel, is dit jou reg en verantwoordelikheid om dit te deel. Dit beteken nie elke gedagte of emosie is relevant en belangrik nie. Om alles te deel sou ’n uitputtende fout wees. Sif eerder deur jou gedagtes en deel net dié wat regtig ’n verskil kan maak aan jou en die lewe van jou verhouding. Die slaaptoets is ’n eenvoudige maatstaf hiervoor. As jy met ’n gedagte of gevoel gaan slaap en die volgende dag nog net so sterk daaroor voel, is dit iets wat vra om gedeel te word. Wanneer ’n gedagte of emosie wat jy vir jouself hou jou verhouding se groei belemmer of spanning veroorsaak, moet jy dit deel.

As ’n onderwerp belangrik is vir jou, maar nie vir jou lewensmaat nie, is dit steeds relevant vir julle verhouding. Wat vir die een saak maak, is miskien nie vir die ander een belangrik nie, maar as jy in ’n verhouding is waar julle al twee se ervarings saak maak, moet jy dit verwelkom as een lewensmaat iets deel wat vir hom of haar belangrik is. Moet nooit stry oor of dit ’n “groot” of “klein” onderwerp is nie – wat vir jou klein is, is miskien vir jou lewensmaat groot en verdien dus aandag.

Wat vir een lewensmaat saak maak, moet altyd vir die verhouding saak maak.

As jy skrikkerig is om te sê wat jy op die hart het omdat jy miskien ’n bakleiery verwag, of as jy nie veilig genoeg voel om jou sê te sê nie, moet jy met die volgende vaardigheid begin: hoe jy ’n ooreenkoms kan bereik oor hoe, wanneer en waar jy kan praat, of om nie te praat voordat jy gereed is nie.

Vrae oor jouself

Dié vrae kan vir jou leiding gee:

•Wat het ek op die hart wat regtig belangrik is vir my en vir my verhouding?

•Watter punt of kwessie in ons verhouding het ’n beter begrip nodig?

•In watter opsig voel ek regtig misverstaan of misgekyk in my verhouding?

•Watter punt of kwessie sou ek wou hê my lewensmaat moet beter verstaan?

Die waarheid oor verhoudings

Подняться наверх