Читать книгу Die waarheid oor verhoudings - Stefan Blom - Страница 28

Verhoudingsvaardigheid

Оглавление

Hou op om te probeer regmaak; probeer eerder verstaan

Intieme verhoudings waar emosies betrokke is, is anders as sake- en alle ander verhoudings. In ’n werkverhouding is daar miskien ’n reg en verkeerd – probleme met voor-die-hand-liggende oplossings. Jy kan egter nie jou intieme verhouding soos ’n werkverhouding hanteer nie, want jou intieme emosies is diep persoonlik en beïnvloed hoe jy dinge ervaar.

Hoe jy die wêreld waarneem, weerspieël jou identiteit – jou persoonlikheid. Werk gaan gewoonlik oor doelwitte wat bereik moet word, produktiwiteit, resultate, mededinging, geld en prestasie; verhoudings gaan oor ’n gevoel van intimiteit, ’n verbintenis, om dinge te deel, eerlikheid, respek, begrip, individualiteit en samesyn. Jou intieme verhouding leef in ’n baie ander wêreld as jou sakeverhoudings, en het ander reëls vir interaksie. Jy kan dus nie jou intieme verhoudings soos jou sakeverhoudings benader nie. Die meeste paartjies sukkel om dit te verstaan. Hulle sien ’n probleem in hulle verhouding en wil ’n oplossing kry; hulle wil regmaak wat verkeerd is. Die “regmaak” van jou verhouding lê egter in die sien en verstaan van mekaar se mees private ervarings.

Om mekaar en julle verhouding te probeer “regmaak” pleks dat julle mekaar se ervaring van die lewe probeer sien en verstaan, kan voel asof julle mekaar nie respekteer nie.

Om julle verhouding te “herstel” is opregte belangstelling in en begrip vir mekaar se ervaring van die lewe nodig.

Om raakgesien en geliefd te voel is dit nodig dat ons mekaar se baie verskillende ervarings as waar aanvaar. Wat waar is vir my – my ervaring – hoef nie vir jou waar te wees nie. Jy het die reg op jou eie, en dikwels baie verskillende, ervaring van dieselfde gebeurtenisse.

Vrae oor julle verhouding

•Wat probeer ons bereik deur dinge “reg te maak” en oplossings te soek vir mekaar?

•As een of al twee van ons in die ou gewoonte terugval om dinge reg te probeer maak of oplossings vir mekaar te soek, hoe kan ons mekaar ondersteun sodat dit nie gebeur nie?

•Wat beteken dit om mekaar te probeer verstaan eerder as om dinge reg te probeer maak en oplossings vir ons verhouding te kry?

•Hoe kan ons mekaar ondersteun wanneer ons mekaar probeer verstaan?

Die waarheid oor verhoudings

Подняться наверх