Читать книгу Die waarheid oor verhoudings - Stefan Blom - Страница 25

Verhoudingsvaardigheid

Оглавление

Wys ware belangstelling

Jou fokus in ’n gesprek is eerstens om te wys jy stel belang in wat jou lewensmaat regtig ervaar, en tweedens om te verstaan wat hy of sy vir jou sê. Jy moet nooit daarop fokus om reg te wees of om dinge reg te maak of ’n oplossing te kry nie, want ware belangstelling en begrip is die oplossing.

’n Gevoel van ’n oplossing kom wanneer julle al twee voel julle word raakgesien, erken en verstaan. Dié oomblik is ’n verligting vir die meeste mense – wanneer jy sien jou lewensmaat probeer jou regtig verstaan en wys opregte belangstelling in wat jy sê. Om raakgesien te word is pragtig en dit laat ons intens geliefd voel.

’n Bereidheid om mekaar se ervarings van die lewe te probeer verstaan, is ’n liefdesdaad.

Jy wys jy stel belang en is bereid om te verstaan deur jou televisie of selfoon af te skakel en jou verhouding jou onverdeelde aandag te gee deur jou lewensmaat in die oë te kyk wanneer julle praat. As jy jou bes doen om te wys jy stel regtig belang en verstaan wat met jou gedeel word, is dit die beste gesprek wat julle kan hê. Dit bring julle nader aan mekaar en maak die band tussen julle sterker.

Vrae oor julle verhouding

•Wanneer ons gesels, wat doen ons wat ons laat voel ons word misken en nie gehoor nie?

•Wanneer ons gesels, watter optrede wys ons stel regtig belang?

•Wat kan ons vir ons verhouding belowe oor hoe ons van nou af ware belangstelling sal wys?

Die waarheid oor verhoudings

Подняться наверх