Читать книгу Die waarheid oor verhoudings - Stefan Blom - Страница 29

Verhoudingsvaardigheid

Оглавление

Aanvaar dat julle verskillend is

Ons moet aanvaar dat geen twee mense dieselfde ding op dieselfde manier sal sien nie. Ons moet mekaar ons verskillende ervarings gun, en opreg belangstel in hoe ons die wêreld verskillend ervaar. Op ’n manier moet ons probeer om van mening te verskil. ’n Meningsverskil beteken twee mense het die tyd en moed bymekaargeskraap om hulle belangrikste gedagtes en gevoelens te deel, en voel so sterk daaroor dat hulle weier om saam te stem. Paartjies wat nooit van mening verskil nie, bly moontlik stil oor wat hulle regtig dink. Dit was nog nooit goed vir enige verhouding om jou ware gedagtes en gevoelens onder die mat in te vee nie.

As jy die wêreld anders sien as jou lewensmaat en sterk voel oor jou siening, gaan geen hoeveelheid gesprekvoering julle die wêreld op dieselfde manier laat sien nie.

Die geheim is om die bakleiery om reg te wees te los en te aanvaar dat jou mening net vir jou reg is. En wat reg is vir jou, is miskien nie reg vir jou lewensmaat nie. In ’n verhouding tussen twee mense is dit net eenvoudig onmoontlik dat jou ervaring die enigste ervaring, en dus die regte een, is. Die rede is logies: Julle is twee mense wat na die wêreld kyk, nie een nie. Fokus eerder daarop om te aanvaar dat julle al twee altyd reg is, want jou ervaring is joune en jou lewensmaat s’n is syne of hare. Geen hoeveelheid dialoog of debat gaan dit verander nie.

Onthou, mense het verskillende menings en gelyke regte om dit te lug. As jy nie glo jy en jou lewensmaat het gelyke regte op julle eie mening of om dit te lug nie, gaan jy nooit regtig gelukkig wees nie. ’n Verhouding waar jy nie eerlik kan sê wat jy op die hart het en jou gedagtes of gevoelens kan deel nie, sal nooit ’n gelukkige een wees nie. Die waarheid is: As jy nie jou lewensmaat se siening wil hoor nie, wil jy nie ’n regte verhouding hê nie.


Wees bewus van die volgende:

•Mense het gewoonlik verskillende perspektiewe op of menings oor dieselfde gebeurtenis.

•Jy het die reg op jou menings en hoe jy die lewe ervaar. En natuurlik die reg om dit te deel en te sê wat jy op die hart het.

•Niemand se ervaring van die lewe is ooit die enigste regte ervaring nie. Julle is altyd al twee reg, want julle al twee ervaar die lewe op ’n manier wat reg is vir julle.

•As julle baklei om reg te wees, sal julle al twee altyd verkeerd wees en “verloor”.

•Julle moet mekaar se verskillende menings respekteer. Julle hoef nie saam te stem daaroor of daarvan te hou nie, maar doen julle bes om in mekaar se menings belang te stel en dit te verstaan.

•As jy nie dinge uit jou lewensmaat se oogpunt wil sien en verstaan nie, respekteer jy hom of haar nie, want hoe jy die lewe sien en ervaar, weerspieël jou identiteit.

•Jou vorige verhoudings, jou ouers se verhouding, hoeveel jy gisteraand geslaap het en wat jy vir ontbyt geëet het, kan bepaal hoe jy ’n situasie sien. Hoekom kan jy nie net aanvaar dat julle verskillende sienings van die lewe het nie, en dat jy nie altyd reg moet wees nie?

•Jy is nie ’n reaksie op jou lewensmaat se reaksies nie. Sy of haar skadelike gedrag gee jou nie die reg om nog skade aan te rig nie. Jy is vir jou eie reaksies verantwoordelik, nie vir jou lewensmaat s’n nie.

•Hoe jou lewensmaat ook al optree, jy is altyd verantwoordelik om dinge kalm te hou en met respek op te tree.

•Praat namens jouself. Moenie namens jou lewensmaat praat nie, hy of sy sal namens hom- of haarself praat. Vermy sinne wat met “jy” begin; praat eerder namens jouself met “ek”-stellings.

•Die meeste paartjies baklei oor hoe hulle met mekaar praat en vergeet waaroor hulle begin baklei het. Die manier waarop jy sê wat jy op die hart het, oorskadu dikwels die dinge waaroor jy praat.

•Die doel van ’n gesprek tussen twee volwassenes is om te wys julle stel belang in en verstaan mekaar se ervarings van die lewe. Belangstelling is jou eerste stap; ware begrip is iets wat jy met oefening bemeester.

Vrae oor julle verhouding

•Hoe kan ons mekaar herinner dat ons al twee altyd reg is?

•Hoe kan ons mekaar ondersteun om ons verskillende menings te hoor?

•Wat kan ons doen om mekaar te ondersteun as ons begin baklei omdat ons dink ons is reg?

Dit is omdat ons so wonderlik verskillend is dat ons een van die lewe se belangrikste vaardighede moet leer: hoe om te verskil.

Die waarheid oor verhoudings

Подняться наверх