Читать книгу Die waarheid oor verhoudings - Stefan Blom - Страница 21

Verhoudingsvaardigheid

Оглавление

Deel jou ontsteltenisse

Wanneer ons voel die mense wat ons liefhet sien ons nie raak nie en gee ons nie erkenning nie, voel ons ontsteld en seergemaak. Om ontsteld te raak en mekaar seer te maak is soms deel van ’n verhouding. Goeie voornemens en om mekaar lief te hê en diep vir mekaar om te gee, beteken nie julle sal mekaar nooit seermaak nie. Om ontsteld te wees is ’n belangrike – en onvermydelike – deel van ’n verhouding.

Jou ontsteltenis beteken die lewe wys vir jou rigting aan.

In moeilike, ontstellende tye vind ek dit is die lewe wat jou en jou verhouding lei. Jou verhouding praat met jou as jy ontsteld of seergemaak voel. Dit sê vir jou jy moet tyd maak om jou innerlike gedagtes en gevoelens te deel. ’n Ontsteltenis is jou uitnodiging om te deel, jou oomblik van waarheid. Elke ontsteltenis wat jy onder die mat invee en ignoreer, is ’n verspeelde geleentheid vir nabyheid.

Die goue reël is: As jy ’n gedagte of emosie het wat jou pla of ontstel, en jy slaap daaroor en voel die volgende dag nog net dieselfde, is dit relevant vir jou verhouding. Jy het ’n behoefte om dit te bespreek. Elke ontsteltenis wat nie bespreek word nie, is ’n verlore geleentheid om ’n hegte band te vorm. Wees eerlik oor wat jy dink en voel, en deel dit versigtig en taktvol.

Hoe gouer jy jou ontsteltenisse deel, hoe beter vir jou verhouding.

Sodra jy ontsteld voel, moet jy jou herinner dat ’n gesprek moet volg. Hoe langer jy jou ontsteltenisse vir jouself hou, hoe slegter is dit vir jou verhouding. Dit staan bekend as jou “omdraaityd”, en dit is ’n vaardigheid. Die tyd tussen die oomblik wat jy ontsteld voel en jou ontsteltenis deel, sal bepaal hoe jy jou verhouding ervaar. Die meeste paartjies wat ek ontmoet, kan dae, maande en selfs jare lank ontsteld bly. Die waarheid is: Elke dag wat jy met ontstellende gedagtes en gevoelens rondloop, is ’n vermorste dag.


Selfs al het jou lewensmaat jou ontstel, is dit jou verantwoordelikheid om jou gevoelens met hom of haar te deel. Jou ontsteltenisse is altyd jou verantwoordelikheid. Jy het ’n verantwoordelikheid teenoor die lewe van jou verhouding om dit te deel. As jy nie jou waarhede deel nie, is ’n krisis onvermydelik. Dit sal sy pad na die oppervlak dwing nes ’n bal wat terugbons terwyl jy dit onder water probeer hou. Wanneer jy dus weer ontsteld voel, onthou om dit so gou as moontlik eerlik en met sorg te deel.

Vrae oor jouself

Die volgende vrae kan jou help met die proses om jou ontsteltenisse te deel:

•Wat ontstel my regtig in my verhouding?

•Wat is in hierdie stadium van my lewe vir my belangrik in my verhouding?

•Wat moet ek vir myself hou, en wat moet ek deel of bespreek? Wat gaan regtig in my binneste aan waaroor ek stilbly?

•Wat het ek nodig of wat verwag ek van my lewensmaat wat ek nie deel nie?

•As ek ontsteld voel, hoe, wanneer en waar kan ek my gedagtes en gevoelens deel?

As jy sukkel om dié vrae te antwoord en nie meer weet wat waar is vir jou nie, of as jy so verlore voel dat jy nie meer weet wie jy is nie, moet jy oor jouself begin besin. Dié proses gaan daaroor om jouself en jou verhouding te sien. As jy verlore voel, is dit goed om jou innerlike gedagtes en gevoelens neer te skryf – skryf is ’n goeie manier van sien. Mettertyd sal jy weet wat regtig in jou kop aangaan. As jy eers kliek wat die waarheid is vir jou, sal jy dit nooit vergeet nie. En as jy eers jouself en jou verhouding gesien het, kan jy nie voorgee dat jy dit nie gesien het nie. Jy kan nie dinge wat jy nie kan sien nie, verander nie. Daarom is dit noodsaaklik om jouself en jou verhouding te ken as jy jou verhouding wil verander.

Die waarheid oor verhoudings

Подняться наверх