Читать книгу Die waarheid oor verhoudings - Stefan Blom - Страница 6

Оглавление

inleiding

Jou ervaring van jou verhoudings bepaal hoe jy jou lewe ervaar. Dit is ’n eenvoudige waarheid. As jy ’n hegte band met die mense rondom jou het en naby hulle voel, voel die lewe ook goed.

Hegte bande is die pad na geluk.

’n Lewe sonder ware verhoudings is nie ’n goeie lewe nie. Die waarheid is dat ware verhoudings eerlik en heg is – daar is nie ’n ander manier om in ’n verhouding te wees nie. ’n Lewe met hegte, nabye verhoudings is altyd betekenisvoller en ryker.

Ons is in ons wese vir ware, hegte verhoudings gemaak. Ons basiese menslike aard is gemaak vir saamwees, nabyheid en om ’n tuiste te vind in ons verhoudings.

Diere en mense hunker na hierdie manier van saamwees, want daarsonder voel ons onvolwaardig en onvolledig. As jy nie ’n hegte band met jou seun of dogter ervaar nie, of as jy verwyder voel van jou lewensmaat, voel jy ongelukkig. As jy net met dinge en plekke ’n band vorm, voel jy nie volwaardig mens nie. Om waarlik gelukkig te wees het ons ware, hegte verhoudings nodig.

Om hegte bande te vorm en dit te behou is om lief te hê.

Ons is ontwerp vir ware, hegte bande, daarom is ’n eerlike lewe met hegte bande die enigste manier om te leef. ’n Ware verhouding is ’n eerlike een. Hoe nader jy aan die mense en diere om jou voel, hoe gelukkiger sal jy voel. Om nabyheid te ervaar is geluk in aksie.

Die enigste soort lewe wat die moeite werd is, is een waar ons eerlike, hegte bande vorm. As ons verwyder of afgesny voel, voel ons verlore en ongelukkig. Daarom soek ons altyd na ware verbintenisse. Ons het ’n behoefte om ’n hegte band en nabyheid te ervaar met die mense wat ons liefhet.

Ons onthou en koester die oomblikke wat ons werklik met iemand tuis voel en ware nabyheid ervaar. Wanneer ons van die kere praat wat ons regtig gelukkig was, verwys ons na daardie oomblikke wat ons groter nabyheid met onsself en die mense rondom ons ervaar het. Dís die beste oomblikke in ons lewe en die rede is eenvoudig: Hoe nader ons aan onsself en die mense rondom ons voel, hoe gelukkiger voel ons lewe. As jy na ’n kunswerk, jou troeteldier, lewensmaat, tuin of ouers kyk en regtig met hulle kliek en ’n band met hulle vorm, is jy lief vir hulle. In hierdie oomblikke van ware liefde sal jy aangeraak voel, intense emosie ervaar, en sal die lewe vir jou ware geluk bring.

Ware, hegte verhoudings het die mag om ons gelukkig te maak. Miskien is verhoudings al wat saak maak. Miskien is verhoudings al wat ons eintlik het om ons werklik gelukkig te maak.

Hoe dikwels jy eerlik is en ’n hegte band met jouself en die mense rondom jou ervaar, sal bepaal hoe jy jou lewe ervaar. Dink ’n bietjie hieroor. Dit is immers vanselfsprekend dat ’n gelukkige lewe ’n eerlike lewe met nabye verhoudings is, en dat dit die enigste lewe is wat die moeite werd is.

Ons het ’n behoefte om naby te wees aan dit wat rondom ons is, want ’n lewe sonder mense by wie ons tuis voel, sal altyd ongelukkig wees. Die plekke, dinge, mense en diere waarmee ons kliek, en die bande wat ons met hulle vorm, moet eerlik en opreg wees. Ons weet almal dat die bande wat ons ervaar met dinge en plekke glad nie so sterk is soos dié wat ons met mense en diere ervaar nie. Die ironiese waarheid is: Hoe meer besittings jy het, en hoe mooier jou omgewing is, hoe groter sal jou behoefte wees aan mense by wie jy regtig tuis voel. Wanneer ons ons op ’n mooi plek bevind, mis ons daardie mense met wie ons hegte bande het. Dit is hoekom ons ware geluk vind in ons verhoudings met die mense en diere wat ons liefhet.

Die volgende nege hoofstukke wys hoe enige van jou verhoudings van afstand na ’n hegte band kan beweeg:

•stappe wat jou voorberei en ’n konteks skep vir eerlike gesprekke;

•basiese verhoudingsvaardighede wat jy kan gebruik om eerlik en openlik te praat;

•gevorderde verhoudingsvaardighede wat jou kan help om eerlik te praat;

•gevorderde verhoudingsvaardighede wat jy in jou moeilikste gesprekke kan gebruik, veral wanneer julle nie saamstem nie;

•praktiese stappe wat die vertroue in enige van jou verhoudings kan herstel nadat dit verbreek is;

•oefeninge en gespreksonderwerpe wat julle kan help om weer ’n seksuele en intieme band te vorm;

•vrae wat jou sal voorberei as jy met iemand wil begin uitgaan, asook lesse vir uitgaan en om nuwe mense te ontmoet;

•’n eerlike en praktiese gids om jouself lief te hê;

•’n begrip van wat jy prakties kan doen as jou verhouding voel asof dit naby sy einde is, of as jy ’n gebroke hart het omdat jou verhouding verby is; en

•vrae wat gereeld opduik, met antwoorde.

Dié boek is op so ’n manier geskryf dat jy enige onderwerp waarin jy belangstel kan lees. En wie weet, miskien leer jy nog iets oor jouself terwyl jy ’n hoofstuk lees wat jy gedink het nie op jou van toepassing is nie.

Die waarheid oor verhoudings

Подняться наверх