Читать книгу Die waarheid oor verhoudings - Stefan Blom - Страница 13

Stap 3: Kies jou tyd en plek

Оглавление

As jy ontsteld is en iets daaroor wil sê, is nóú nie noodwendig die regte tyd en plek daarvoor nie. Jou behoefte om te praat beteken nie dit moet daar en dan gebeur nie, want 50 persent van die sukses van die gesprek hang daarvan af dat jy die regte tyd en plek kies.

Dit is nooit ’n goeie tyd vir gesels as jy:

•onder die invloed (ná twee of meer drankies) of bedwelm;

•te gedaan;

•te haastig;

•te honger;

•te hormonaal;

•so ontsteld of kwaad is dat jy nie jou emosies kan beteuel nie;

•te gespanne;

•te verstrooid; of

•net nie lus is vir praat nie.

Die slegste plekke waar julle kan probeer gesels, is:

•in die motor (jy het nie die keuse om die gesprek te verlaat nie);

•voor julle kinders;

•voor vriende of familie;

•in die openbaar;

•in die bed of julle slaapkamer;

•voor die televisie; of

•wanneer jy op jou selfoon, skootrekenaar of tablet besig is.

Op sulke tye moet jy leer om te kalmeer, jou gedagtes agtermekaar kry en saam besluit wanneer dit vir julle al twee ’n goeie tyd sal wees om te gesels. Trouens, as julle net nie lus is vir gesels nie, moenie.

Miskien wonder jy nou: Wanneer is ’n goeie tyd vir gesels? Die meeste paartjies wat ek ontmoet, het ’n baie besige, vol en stresvolle lewe. Die geheim is om iewers in julle besige skedule tyd opsy te sit vir gesels en om ’n veilige ruimte daarvoor te skep. Op dié manier eer julle julle liefde en respekteer julle julle verhouding deur dit die tyd en voorkeur te gee wat dit verdien. Dís wat dit beteken om van julle verhouding ’n prioriteit te maak: Julle gee dit ’n oomblik van julle tyd, ’n oomblik in julle besige lewens, waarin dit voor al die ander dinge in julle lewe julle respekvolle aandag kry.

Kies die tyd en plek vir julle gesprek met omsigtigheid, want dit kan die gesprek maak of breek. Die vaardigheid om ’n goeie plek en tyd te kies kan julle verhouding verskeie onaangename en skadelike gesprekke spaar.

Vrae oor julle verhouding

•Wat is die slegste tyd vir ons gesprek, en hoekom?

•Wat is die slegste plek vir ons gesprek, en hoekom?

•Wanneer sou die beste tyd wees vir ons gesprek?

•Wat is ons gunsteling-plek vir gesels?

’N OEFENING VIR JULLE VERHOUDING

As jy altyd besig, moeg en onder druk is, en voel asof jy nooit tyd het vir jou verhouding nie, moet jy afsprake maak vir belangrike gesprekke. Vra:

•Wanneer kan ons tyd maak om oor dinge in ons verhouding te gesels?

•Wanneer sou die beste tyd wees vir so ’n gesprek?

•Maak dan ’n afspraak.

Die waarheid oor verhoudings

Подняться наверх