Читать книгу Die waarheid oor verhoudings - Stefan Blom - Страница 9

WEET WAAR JY IS

Оглавление

Om naby te wees aan jouself en jou verhouding is om die meeste van die tyd te weet waar jy en jou lewensmaat emosioneel, intellektueel, geestelik, finansieel en seksueel staan. As jou lewe baie besig is, is dit natuurlik nie altyd moontlik om dit alles presies te weet nie. Paartjies en individue wat nie gereeld ’n bietjie selfondersoek doen nie, sal mettertyd van mekaar verwyder raak en probleme ervaar.

Om nabyheid met mekaar te behou is om te weet waar julle met mekaar staan.

Wanneer julle verwyder voel van mekaar, is dit belangriker om te weet waar jy is as om te weet wie jy is. Op ’n manier weet ons wie ons is, maar ons weet nie altyd waar ons ons in ons lewe bevind nie.

Weet jy wat jy in hierdie stadium van jou lewe dink en voel? Weet jy wat jy vir jouself en jou verhoudings nodig het? Weet jy wat vir jou saak maak… wat regtig in jou lewe vir jou belangrik is?

Weet jy waar jou lewensmaat deesdae is? Weet jy waaroor jou lewensmaat gereeld nadink en wat hy of sy op die hart het? Weet jy hoe dit regtig met hom of haar gaan, en wat hy of sy nodig het?

As jy nie weet nie, is julle miskien in die moeilikheid.

Dit is goed om te weet waar ons ons in die lewe bevind. As jy kan sien waar jy is, en waar jou lewensmaat is, voel jy jy word raakgesien en erken. En om gesien en erken te word voel soos liefde. Jy weet wie jy is en wat jou verhouding is as jy regtig kan sien waar jy is, of waar jou lewensmaat is. Wanneer ons voel ons word raakgesien, voel ons geliefd.

Om te sien en raakgesien te word is om lief te hê en geliefd te voel.

Vir ’n beter insig in waar jy met jouself, jou verhouding en mekaar staan, werk deur van die volgende vrae.

Vrae oor jouself

Een of meer van die volgende vrae kan jou help om oor jouself na te dink:

•Wat het ek in die lewe nodig?

•Waar is ek emosioneel, fisiek, finansieel, seksueel of spiritueel?

•Watter rol speel ek in die “ontsteltenisse” in my verhouding? Wat dink ek was my bydrae tot die ontsteltenisse in my verhouding?

•Wat kon ek anders gedoen het wat vir my verhouding sou kon help en dit verbeter?

•Wat is van my beste bydraes, en waarop is ek trots as dit oor my verhouding(s) gaan?

•Wat is my bydrae om my verhouding gesond te hou?

•Wat dink ek is my redes vir hoe ek in my verhouding optree?

•Wat is my ware bedoelings as dit by my verhouding kom?

•Wat hoor ek, en watter dinge sukkel ek om te verstaan?

•Wat probeer ek sê?

Vrae oor julle verhouding

Een of meer van die volgende vrae kan julle lei as julle oor julle verhouding wil nadink:

•Hoe voel dit deesdae om in my verhouding te wees?

•Van watter ervarings in my verhouding hou ek nie?

•Watter ervarings verkies ek? Hoe wil ek graag hê moet my verhouding wees?

•Wat is my bydrae om my verhouding lewendig te hou?

•Hoe kan ek dit lekkerder maak om in my verhouding te wees?

Vrae oor jou lewensmaat

Een of meer van die volgende vrae kan jou help om oor jou lewensmaat na te dink:

•Wat sien ek wanneer ek na my lewensmaat se optrede kyk?

•Wat voel en dink my lewensmaat regtig?

•Wat probeer my lewensmaat eintlik vir my sê?

•Hoekom dink en voel hy of sy so?

Wanneer jy oor jou lewe besin, is dit ’n goeie idee om ’n paar notas te maak – in jou kop of regte notas. Jy kan jou gedagtes oor jouself en jou verhouding op jou selfoon of skootrekenaar aanteken, of in ’n joernaal. Om notas oor gedagtes en emosies te maak is vir die meeste mense ’n goeie maatstaf om hulle lewe in oënskou te neem. Op dié manier hoef jy nie jou gedagtes iewers in jou geheue te bêre nie, en sal jy duidelike idees hê van waar jy is.

Die waarheid oor verhoudings

Подняться наверх