Читать книгу Die waarheid oor verhoudings - Stefan Blom - Страница 18

Hoofstuk 2

Оглавление

deel jou waarhede (eerlik en met sorg)

Een van die beste geskenke wat jy jou verhouding kan gee, is om jou waarhede – jou gedagtes en gevoelens – te deel.

’n Ware gesprek is een waar twee mense hulle gedagtes en gevoelens eerlik en met sorg deel. Die beste gesprek wat jy kan hê, sal jou verhouding van ’n gevoel van afstand na ’n hegte band neem, en van spanning na nabyheid.

Een van die beste maniere om die nabyheid van ’n hegte band te ervaar, is om wat in jou kop en jou hart is te deel. Daardie gevoel van afstand en verwydering gaan oor alles wat jy nie sê nie, en veroorsaak die spanning in jou verhouding. Die verwydering wat jy ervaar omdat jy dinge nie eerlik deel nie, voel soos spanning in enige verhouding. Dié spanning is die lewe se konstante herinnering dat jy eerlik moet word. Die vinnigste manier om van hierdie onaangename spanning en gevoel van verwydering ontslae te raak, is om julle waarhede te deel. Die gevoel van verwydering is dus jou uitnodiging om te deel wat jy op die hart het.

Wat jy nie vir jouself en die mense om jou sê nie, skep die afstand en verwydering wat jy voel.

Al jou gedagtes en gevoelens wat vir jou saak maak en wat jy nie deel nie, veroorsaak die spanning en afstand wat jy in jou verhouding ervaar. Daardie woorde wat jy nie sê nie, sit tussen julle soos ’n rots op ’n smal paadjie. Julle kan mekaar nie sien nie, want daar is so baie in die pad. Wanneer julle oor daardie rots begin praat, begin julle die pad na nabyheid oopmaak.


Wanneer jy jou waarhede deel, maak jy jou vry van die swaar las van emosies en gedagtes wat jy so lank vir jouself moes hou. Dit verander die ervaring van jou verhouding. Ons is vir eerlike, hegte bande gemaak, daarom is ons verplig om te deel wat in ons kop en ons hart aangaan. Selfs al is dit soms pynlik om die waarheid te hoor, het eerlikheid ’n kragtige, bevrydende uitwerking. Saam met die pyn of seermaak van die waarheid kom verligting, en dan beweeg jy nader aan ’n sterker band. Ware verhoudings is altyd eerlike verhoudings.

Een van die belangrikste doelwitte van enige verhouding is om te sê wat jy op die hart het – om jou waarhede met sorg te deel. Gelukkige paartjies deel dit wat in hulle hart en kop aangaan met sorg en eerlik, en baie gereeld.

Die beste manier om te sê wat jy op die hart het, is om dit eerlik, taktvol en met deernis te doen.

Dit is nie maklik om die waarheid oor jouself, jou verhoudings en jou lewe te praat nie, maar ons kan nie anders as om te deel wat in ons hart en kop aangaan nie. Sodra jy die moed het om uit jou hart te praat, gee jy ’n tree weg van die gevoel van verwydering in die rigting van ’n hegte band.

Dit is nie veronderstel om maklik te wees nie; dit moet net eerlik wees.

Jy hoef nie te hou van wat jy hoor nie. Die gesprek moet net eerlik, geduldig en baie eg wees. Dit is nie maklik om te hoor jy het jou lewensmaat ontstel, seergemaak, kwaad gemaak of teleurgestel nie. Wie hou nou daarvan? Eerlikheid kan julle nader aan mekaar bring, maar kan ook julle verhouding ontstel. Die ontsteltenis wat egter saam met eerlikheid kom, is nooit ’n probleem nie, want dit is deel van die proses wat julle nader aan mekaar bring. Jy moet die ontsteltenisse verwag en dit leer hanteer. Dit is een van die belangrikste vaardighede in enige verhouding: om eerlik te wees en om die gevolge van jou eerlikheid te kan hanteer.

Die waarheid oor verhoudings

Подняться наверх