Читать книгу Die waarheid oor verhoudings - Stefan Blom - Страница 17

Stap 7: Skep ’n ruimte met respek vir ’n gesprek

Оглавление

Net soos ’n voël ’n nes bou vir ’n delikate eier, is dit ’n goeie idee as jy ’n nes bou vir gesprekke waar jy sensitiewe onderwerpe gaan ophaal. Om so ’n nes te bou is om ’n konteks vir ’n gesprek te skep… ’n mooi ruimte wat jou nooi om ’n goeie gesprek te hê.


As ’n beginpunt, is dit nie ’n goeie idee om te staan en gesels nie. Dit impliseer dat julle nie ernstig is oor die doel van die gesprek nie. Dit wys eerder dat julle op pad is iewers heen. Dit is die beste om te gaan sit as julle ’n ernstige gesprek gaan hê, want só gee julle vir mekaar en vir julle gesprek die respek wat julle en dit verdien.

’n Rusbank of tafel is ’n goeie plek om ’n gesprek te begin.

Gaan sit op julle rusbank of by julle tafel en begin praat. Dit klink miskien eenvoudig, maar dit is nie – op daardie oomblik voel ons dikwels ontsteld of seergemaak. Onthou, elke keer as jy ontsteld voel of ’n meningsverskil het, is dit ’n uitnodiging om te praat. Deur jou lewensmaat te vra om by jou te kom sit en gesels, wys jy jy is ernstig oor julle verhouding en respekteer dit.

Respekteer mekaar en julle verhouding deur alle elektroniese toestelle af te skakel of eenkant te sit. Geen paartjie kon nog ooit ’n suksesvolle gesprek voor ’n televisie of rekenaarskerm voer nie.

Wanneer jy ’n elektroniese toestel aanskakel, skakel jy dikwels jou verhouding af. Die doel is om op mekaar en julle verhouding in te skakel. Dit is ook nie goed vir julle verhouding om elektroniese toestelle soos ’n televisie, selfoon of tablet na die slaapkamer te bring nie. Intimiteit en skerms werk nie goed saam in dieselfde ruimte nie; skerms moet uit die slaapkamer verban word.

’N OEFENING VIR JULLE VERHOUDING

•Noem die plek waar julle graag ’n gesprek met mekaar wil hê.

•Vertel vir mekaar hoekom julle verkies om julle gesprek op dié plek te hê. En belowe om mekaar in dié ruimte in te nooi wanneer julle aangedui het dat julle wil praat.

Sodra julle aangedui het dat julle wil praat en ’n veilige en gemaklike ruimte daarvoor geskep het, begin praat. Julle is nou gereed om te sê wat julle op die hart het.

Die waarheid oor verhoudings

Подняться наверх