Читать книгу Die waarheid oor verhoudings - Stefan Blom - Страница 16

Stap 6: Besin oor julle persepsies van mekaar

Оглавление

Die een ding wat dikwels in die pad staan van ’n kalm, nie-reaktiewe gesprek, is julle persepsie van mekaar. Dit blyk in ons aard te wees om een slegte ervaring te veralgemeen, en dan daaroor te praat asof die betrokke persoon altyd so is. As jy een keer oor een aspek van jou lewe gejok het, word jy ’n leuenaar wat glad nie vertrou kan word nie. As jy een keer woorde wat seermaak gebruik het, word jy ’n boelie of mishandelaar. Wanneer ons met vriende of familie oor die seermaak-ervarings in ons verhouding praat, voed en bevestig dit dikwels ons algemene negatiewe persepsies oor ons lewensmaat. Nes jy bevestig jou vriende ook jou algemene negatiewe opvattings oor jou lewensmaat en voed hulle jou persepsies.

As mense is ons egter nie algemeen nie – ons is spesifiek. Ons is goed vir mekaar, en soms minder goed. Pasop dat jy nie een of twee spesifieke ervarings veralgemeen nie. Vertroue is nie iets wat heeltemal verbreek word nie – dit word net op ’n spesifieke terrein verbreek. Byvoorbeeld, ek vertrou jou miskien nie met geld nie, maar ek vertrou jou met ons kinders. Wees spesifiek oor die optrede wat jy nie wil hê nie en wat jy wil verander.

Julle veralgemenende persepsies van mekaar kan tydens ’n meningsverskil of gesprek keer dat julle mekaar hoor en ’n kalm gesprek met begrip kan voer. Stellings soos “Jy doen dit altyd…” en “Jy sal nooit…” dui daarop dat jy veralgemenings oor jou lewensmaat maak. Selfs al steek daar waarheid in, kyk of jy oor jou algemene persepsies kan besin en jou lewensmaat se ander kant kan sien.

Vrae oor jouself

•Wat is my algemene sienings van my lewensmaat?

•Watter van dié sienings verhinder dat ek hom of haar regtig sien?

•Wat is die waarheid oor wie hy of sy regtig is?

•Hoe beïnvloed my sienings ons interaksies?

•Hoe kan ek my persepsies regstel en ophou veralgemeen?

Die waarheid oor verhoudings

Подняться наверх