Читать книгу Die waarheid oor verhoudings - Stefan Blom - Страница 14

Stap 4: Beskerm jou verhouding

Оглавление

Dit is belangrik om behoorlik te besin oor die dinge wat jou en jou verhoudings met verloop van tyd beïnvloed het. Jy dink miskien daar skort iets met jou verhouding as jy bloot ’n baie stresvolle tyd ervaar. Soms gee die lewe vir jou iets wat jy nie gekies het nie. Dit is maar net die lewe wat met jou gebeur. En as jy beheer het oor die dinge wat met jou en jou verhouding gebeur, moet jy mooi dink oor wat jy in jou lewe toelaat.

As jy jou verhouding aan te veel invloede van buite blootstel, kan dit jou verhouding van binne vernietig.

Jy kan nie altyd alles beheer wat met jou en jou verhouding gebeur nie. Jy kan natuurlik jou reaksies beheer, maar soms is dit vanselfsprekend dat jy nie ’n sekere ervaring genooi of gekies het nie.

Van die buite-invloede wat jy nie kies nie, is:

•enige voorval van toevallige geweld of mishandeling (as jy aangeval, mishandel of verkrag word);

•die dood van ’n familielid of vriend;

•siekte of ’n mediese noodgeval;

•enige soort ongeluk;

•ongenooide inmenging deur familie en vriende;

•werkeise wat jy nie kan beheer nie; en

•om jou werk te verloor (as dit nie deur jou eie toedoen is nie).

Dit is belangrik dat jy eerlik is oor die uitwerking van dié ongenooide invloede op jou lewe. Dit het geen sin om kwaai en krities te wees met jouself as jy nie die invloede in jou lewe ingenooi het nie. Op sulke tye moet jy met sagte oë na jouself en jou verhouding kyk. Dit is immers nie logies om te baklei oor ’n invloed wat jy nie gekies het nie; die lewe is stresvol genoeg. Dit is op sulke tye dat jy beter na jouself en jou verhouding moet kyk.

Aan die ander kant is daar egter baie invloede van buite wat jy kan beheer. Hier is net ’n paar voorbeelde:

•jou alkohol- en dwelmgebruik;

•stres oor geld of die wanbestuur daarvan;

•lang werkure en uitbranding;

•’n affair;

•reis;

•die oopstel van die intieme ruimte van jou verhouding vir ander mense;

•jou verhouding met familie en vriende;

•om vir ander mense te leef en jou gedurig te kwel oor wat hulle van jou dink;

•bouprojekte of verhuising;

•roem of om in die openbaar ondersoek te word; en

•die ruimte waarin jy leef.

As jy meer in voeling met jouself en jou verhouding wil wees, moet jy ernstig oor elke invloed op jou verhouding besin. Byvoorbeeld, om ’n tyd lank nie te drink nie of ’n blaaskans te neem van destruktiewe mense kan ’n goeie begin wees.

Die ervarings waarmee jy jou omring, word deel van jou.

Wanneer jy gespanne voel oor wat rondom eerder as in jou verhouding aan die gang is, is dit tyd dat jy jou verhouding skoonmaak en beskerm. Ek besef keer op keer dat paartjies of individue wat geweldige stres het, hulle lewe baie anders sou ervaar as hulle net nie onder soveel druk was nie. As jy konstant oorweldig, uitgeput en gestres voel, is dit ’n teken dat jy ’n verandering nodig het, beter na jou verhouding moet kyk en dit moet beskerm. Een van die beste stappe wat jy kan doen om jou verhouding te beskerm, is om dit so lank as wat nodig is af te sluit van nadelige invloede van buite. Vat dinge stadiger, skep ’n private ruimte en bring meer tyd met jouself, jou gesin en jou lewensmaat deur.

Vrae oor julle verhouding

Verdiep julle begrip en deernis vir mekaar en julle verhouding deur deeglik te besin oor die dinge wat regtig julle verhouding beïnvloed. Dink na oor dié vrae:

•Wat was in die verlede, en wat is nou, van die grootste invloede op ons verhouding?

•Hoe het dié invloede ons en ons verhouding geraak?

•Hoe kan ons mekaar in dié tyd ondersteun?

•Wat kan ons doen om dinge te verander?

•Hoe kan ons ons verhouding teen nadelige invloede van buite beskerm?

Die waarheid oor verhoudings

Подняться наверх