Читать книгу Die waarheid oor verhoudings - Stefan Blom - Страница 19

DIE VOORDELE VAN EERLIKHEID IN VERHOUDINGS

Оглавление

’n Hegte band en nabyheid is twee van baie voordele wat jy sal geniet as jy jou waarhede deel.

Wanneer jy afgesny voel en afstand in jou verhouding ervaar, is dit dikwels omdat jy nie kry wat jy nodig het nie, en stilbly daaroor. As jy sê wat jy op die hart het, kry jy dalk net wat jy nodig het en verwag. En as jy dit nie sê nie, kry jy dit nie en bly jy vol van daardie leë verwagtinge. Dit is nie jou lewensmaat wat jou seermaak of ontstel nie – dit is jou eie verwagtinge waaroor jy stilbly. Verwagtinge is onuitgesproke, stille behoeftes. Wanneer jy eerlik praat oor wat jy verwag, word jou verwagtinge behoeftes. Van daardie oomblik van waarheid af – wanneer jy regtig eerlik raak oor jou behoeftes – sal jy beter begin voel omdat julle mekaar ’n kans gee om mekaar se behoeftes te deel. ’n Behoefte wat nie openlik gedeel word nie, is ’n verspeelde geleentheid om geluk en nabyheid te ervaar.

Wanneer jy dinge eerlik deel, beweeg jou verhouding van ’n plek waar jy raai na ’n plek waar jy weet. Die dinge wat ons dink maar nie deel nie, laat ons altyd raai, wonder en bevraagteken, en kan selfs tot obsessiewe gedagtes lei. As ons nie weet wat in ’n verhouding aangaan nie, is ons geneig om die ruimtes met twyfel, aannames en vrae te vul. Jy begin dikwels vrae vra oor jou verhouding en mettertyd begin jy in jouself twyfel. Om nie te weet wat aangaan nie, is nadelig. Jy moet dus dankbaar wees as jou lewensmaat vir jou sê wat hy of sy regtig dink of voel, selfs al ontstel dit jou, want dan weet jy presies waar jy staan. ’n Duidelike, eerlike posisie is altyd beter as om te moet raai wat aangaan.

Dit is belangriker om te weet as om nie te weet nie.

Nog ’n voordeel van eerlikheid is groei en beweging. Verhoudings kan net met eerlikheid en groei oorleef. Hoe gereeld jy deel wat in jou gedagtes en hart aangaan, sal die lewe van jou verhouding bepaal. As jy nie die waarheid praat nie, sal jy nêrens kom in jou verhouding nie. Jy sal altyd op dieselfde plek vasgevang bly.

As jy nie in beweging en groei belangstel nie, stel jy nie in die toekoms van jou verhouding belang nie. Ons weet almal dat ons mettertyd verander – dat groei onvermydelik is. Dit is ’n uitgemaakte saak dat jou verhouding soos jou lewe sal verander.

Beweging is liefde.

As jy die tyd neem om jou diepste gedagtes te deel met iemand wat jy liefhet of wil liefhê, en daardie persoon wil dit nie hoor nie, stel hy of sy nie regtig in jou belang nie. Dan moet jy jouself vra hoekom. As ’n gelukkige verhouding daaroor gaan dat ons deel wat in ons hart en kop aangaan, en die persoon met wie jy dit deel kan of wil jou nie hoor nie, moet jy jou afvra: “Hoekom sou iemand wat my liefhet of in my belangstel, nie bereid wees om na my gedagtes en my hart te luister nie? Het ons nie die soort verhouding wat ons toelaat om dinge eerlik te deel nie?”

Die waarheid oor verhoudings is: As julle mekaar liefhet, sal julle saam groei deur dinge te deel. ’n Verhouding wat nie met verloop van tyd beweeg nie, sal nie oorleef nie.

Jy het die reg om jou gevoelens en gedagtes te deel.

As jy in ’n ware verhouding is, het jy die reg om jou gedagtes en gevoelens te deel. En as jy in ’n gelukkige, eerlike verhouding wil wees, moet jy bereid wees om te luister na wat gedeel word. As jy nie in dié proses van deel belangstel nie, is jy ook nie geïnteresseerd in of gereed vir ’n ware verhouding nie. Wat is die punt van ’n verhouding waar deel nie verwelkom word nie?

Jou innerlike gedagtes en gevoelens is altyd belangrik en relevant vir jou verhouding, want dit is deel van jou – en deel van jou identiteit. Daarom moet dit nie net gehoor word nie, maar ook aangemoedig en verwelkom word. Dit is ’n voorreg om in die mees private gedagtes van die mense rondom jou te deel; jy moet jou respek op presies dieselfde manier toon as wat jy terug sou verwag.

Wanneer paartjies hulle diepste gedagtes en gevoelens tydens terapie deel en die een lewensmaat die ander gedurig in die rede val of ’n bakleiery begin, vra ek:

•Stel jy nie in jou lewensmaat se gedagtes en gevoelens belang nie?

•Is dit nie oukei vir jou om te luister wat jou lewensmaat op die hart het nie?

•Wil jy nie hoor wat jou lewensmaat regtig dink en voel nie?

•Wil jy nie ook gehoor en verstaan word nie?

In verhoudings voel en ervaar ons die lewe op verskillende maniere. Dís die kern van enige verhouding. Ons het almal verskillende waarhede. Julle hooffokus is om mekaar se verskillende ervarings te eer, te verwelkom en te sien. Dan sal julle mekaar regtig sien vir wie julle is.

As jou gedagtes en gevoelens nie in jou verhouding in ag geneem word nie, as jou ervaring nie belangrik is nie, en as julle mekaar nie probeer “sien” nie, maak dit jou ongelukkig. Die rede is eenvoudig.

Dit maak seer om nie raakgesien te word nie.

Wanneer jy jou gedagtes en gevoelens deel, herinner jouself dus dat dit jou hooffokus is om te sien en raakgesien te word. Dit is ’n ervaring van ware liefde.

As ons raakgesien word, voel ons geliefd.

As jy weet wat jou ontstel en wat jy uit jou verhouding nodig het, maar sukkel om dit oor te dra op ’n manier wat jou laat voel jy word verstaan en raakgesien, is dit nodig dat jy verhoudingsvaardighede aanleer. Dié vaardighede is belangrik vir alle verhoudings, en enigiemand kan dit leer.

Die waarheid oor verhoudings

Подняться наверх