Читать книгу Die waarheid oor verhoudings - Stefan Blom - Страница 11

Stap 1: Stop die skade nou

Оглавление

Ons was almal al daar.

Jy kies ’n onderwerp en doen jou bes om jou gedagtes en gevoelens daaroor te deel. Kort voor lank skree julle egter op mekaar, of een van julle stap uit. Op daardie oomblik voel jy selfs nog meer seergemaak en ontsteld; nie een van julle voel die ander een verstaan hom of haar nie. Julle voel nie veilig genoeg om eerlik met mekaar te wees nie. Die atmosfeer is gespanne, soms dae aaneen – totdat jy die moed het om weer te probeer, net om weer dieselfde paadjie te loop. Julle leer om stil te bly en elkeen julle eie lewe te lei. Jy begin jou innerlike gedagtes en gevoelens met vriende of familie deel; die afstand tussen julle word al hoe groter totdat julle soos vreemdelinge onder een dak voel wat net ouerskap deel.

In sulke tye van afstand soek ons troos. Ons skep ’n vals sin van liefde en intimiteit deur gemaksones te skep. Jy bring meer tyd by die werk of saam met vriende en familie deur. Jy sit jou aande voor ’n skootrekenaar of die televisie om. Julle leer om in dieselfde ruimte te leef, maar vermy dit om regtig enigiets te deel. Dit is waarop dit neerkom wanneer jy jou verhouding in gevaar stel.

Die meeste paartjies vra vir my hoe hulle dié patroon kan verbreek. Hulle voel verlore, asof hulle vasgehaak het, en weet nie hoe om uit dié groef te kom nie. Hoe kan ons dit regkry om ontsteld te wees én te sê hoe ons voel, maar steeds naby aan mekaar te voel? Hoe kan ons dié aaklige siklus van baklei en stilstuipe verbreek?

Ingeval julle nie weet hoe om ’n gesprek te voer sonder om mekaar seer te maak nie; dít is nie hoe jy ooit met enigiemand praat nie. Of jy in ’n intieme verhouding is of nie, om so met enigiemand te praat is nie goed vir jou of jou verhoudings nie.

As jy jou verhoudings seermaak, maak jy ook jouself seer.

Voordat jy begin praat, verwyder al die maniere van praat wat jou en jou verhouding kan seermaak. Nes jy ’n wond sal skoonmaak voordat jy ’n pleister daarop sit, moet jy jou verhouding van al jou skadelike maniere reinig voordat dit gesond kan word.

As julle optrede of manier van praat skade berokken, moet liewer niks doen of sê voordat julle geleer het hoe om mekaar met respek te behandel nie. As jy nie kalm en met respek kan praat nie, moenie praat voordat jy gereed is nie.

Die beste gesprek wat jy kan hê, is ’n gesprek wat die minste skade berokken.

Die meeste paartjies baklei meer oor hóé hulle met mekaar praat as wát hulle vir mekaar sê. Hoe julle dinge vir mekaar sê, is dikwels baie meer skadelik as wat gesê word. Hoe julle met mekaar praat, sal bepaal hoe julle gesprekke verloop. Hoe gouer julle julle seermaakmaniere van doen laat staan, hoe beter vir julle verhouding.

’n Skadelike gesprek is een waarin julle:

•op mekaar gil of skree;

•’n skerp of sarkastiese stemtoon gebruik;

•mekaar name noem of etiketteer (“jy is onnosel, belaglik, oorsensitief of mal”);

•mekaar stamp, krap of slaan, of mekaar rondstoot of -trek;

•deure of kasdeure klap of goed breek;

•stilstuipe kry en weier om te praat as ’n vorm van straf (passief aggressiewe gedrag);

•julle liefde en gedagtes van mekaar weerhou, en weier om te praat of belangstelling te wys;

•vloek;

•mekaar in die rede val;

•dreigemente oor julle verhouding maak of dinge sê wat julle nie bedoel nie (“Ek doen dit nie meer nie!” of “Jy sal nog eendag spyt wees!”); of

•veralgemenings maak (“Jy doen dit altyd!” of “Jy doen nooit ’n ding nie!”).

Hoewel ons almal weet ons moenie mekaar so behandel nie, sukkel die meeste paartjies om dinge kalm te hou en met respek op te tree.

Hoekom praat ons al hoe harder en skree ons op mekaar as ons maar net gehoor wil word? Hoekom baklei ons keer op keer as ons weet dit bring ons nêrens nie? Ek het agtergekom hoe meer ons voel ons word misverstaan, hoe meer verhef ons ons stem. Ons skree om gehoor te word. Ons baklei om raakgesien en verstaan te word, want ons glo as ons mekaar regtig liefhet en respekteer, sal ons lewensmaat ons verstaan en belangstel in ons gedagtes en gevoelens.

Hierdie lelike, destruktiewe bakleiery laat my wonder: Stel jy nie belang in wat jou lewensmaat regtig dink en voel nie? Is dit so belangrik vir jou om reg te wees dat jy nie jou lewensmaat kan hoor nie? Hoekom hou ons aan om mekaar op so ’n destruktiewe manier te behandel as ons weet dit werk nooit nie?

Ons baklei vir ons reg om gesien en gehoor te word.

Ons moet nooit baklei om reg te wees nie.

Ons weet hoe om te baklei, mekaar seer te maak en ons verhoudings ’n knou te gee. Ek weet nie van jou nie, maar niemand het ooit met my gepraat oor hoe ’n mens praat en nie praat nie, en hoe ’n mens met liefde kan verskil nie.

Ons probeer desperaat dat ons lewensmaat ons verstaan en raaksien. As jou lewensmaat regtig snap wat jy sê – wanneer jy voel jy word raakgesien – voel jy hy of sy het jou lief en respekteer jou. Op daardie oomblik voel jy weer kalm.

Hier is die grootste drie foute wat paartjies maak wanneer hulle ’n meningsverskil het:

Val mekaar in die rede. Die meeste paartjies voel hulle gaan vergeet wat hulle dink as hulle dit nie onmiddellik sê nie. As julle mekaar in die rede val, kry julle verhouding natuurlik ’n nog groter knou. Die vanselfsprekende oplossing is bloot om beurte te maak. Maak aantekeninge as jy bang is jy gaan nie onthou wat jy wou sê wanneer dit jou beurt is om te praat nie.

Skree en gil. In die klassieke skreesessie sê die een lewensmaat: “Hou op om op my te skree!”, waarop die ander een reageer: “Ek skree nie op jou nie… Ek praat hard.” Op ’n snaakse manier was ons almal al daar – ons baklei oor of ons baklei. Wanneer paartjies vir my vra: “Dink jy ek skree?”, is die antwoord eenvoudig: “As jou lewensmaat dink jy skree, is dit skree vir hom of haar.” Jy moet jou lewensmaat se ervaring respekteer. Julle hoef nie saam te stem nie, en julle hoef nie daarvan te hou nie, maar jy moet aanvaar dat dit net te veel is vir jou lewensmaat om te hanteer. As jy sy of haar ervaring respekteer, sal jy die volume afdraai. Op ’n skaal van een tot tien kan een persoon miskien ’n volume van drie verduur, en die ander persoon agt – miskien omdat hy of sy Italiaans is!

Hoe dit ook al sy, jou verdraagsaamheid of sensitiwiteit vir volume of ’n harde stemtoon word bepaal deur hoeveel jy geslaap het, jou hormone, wat jy vir ontbyt geëet het, hoe jou ouers baklei het, en baie ander faktore. Dit is egter ’n eenvoudige waarheid: As jou lewensmaat sê jy praat te hard, dan is dit te hard vir hom of haar. Jy moet dit respekteer en sagter praat. ’n Mens se sensitiwiteit of verdraagsaamheid vir volume moet nooit bevraagteken word nie, maar bloot gerespekteer word.

Stilstuipe: As julle mekaar vermy of die rug toekeer. Dit is die ander kant van die skree-en-gil-munt. Om ’n gesprek te vermy of stil te bly kan net soveel skade aanrig soos skree en gil; dit is net die stil weergawe. Ná ’n ontsteltenis of meningsverskil weier jy bloot om deel te neem. Jy raak dikmond en nukkerig soos ’n kind, en vermy ’n volwasse gesprek. Die gevoel dat jy in die moeilikheid is sonder dat jy weet hoekom, kan baie pynlik wees. Niemand hou daarvan om dae aaneen in ’n gespanne stilte te leef nie. Die logiese oplossing is om so gou as moontlik te sê wat jy wil sê, eerder as om ’n gedoente daarvan te maak. Wanneer jy ontsteld is, sê wat jy op die hart het!

Elke verhouding het ’n keerpunt waar jy nie meer kan omdraai nie – ’n punt waar jou skadelike gedrag die kernervaring van jou verhouding begin vernietig. Julle bakleiery kan julle liefde en respek vir mekaar laat verbrokkel. Leer ken dus julle vernietigende patrone so gou as moontlik en belowe mekaar om julle bes te doen om nooit weer daarin te verval nie. Net julle kan ’n einde maak aan die skade en dan ’n nuwe manier van praat kry wat julle liefde eer.

Om die skade te beëindig wat die band tussen julle vernietig, is een van die belangrikste stappe in enige verhouding. Julle moet ’n nuwe verhoudingsooreenkoms sluit met die belofte dat julle nie weer met mekaar sal praat op ’n manier wat nie julle liefde eer nie.

So ’n heilige ooreenkoms herstel die respek en vertroue in julle verhouding. Julle doel is om altyd met liefde en respek met mekaar te praat. Moenie oor dié ooreenkoms redeneer nie – aanvaar liewer julle voorkeure sonder vrae of veroordeling en beskou die ooreenkoms altyd as belangrik en relevant. Maak ’n lys van al die onaanvaarbare optredes en kom ooreen dat julle julle bes sal doen om op te hou daarmee. Julle beloftes vorm ’n nuwe, heilige ooreenkoms, en julle verhouding sal nie oorleef as julle dit nie eer nie.

As mense is ons nie perfek nie en daarom is ons gesprekke ook nie perfek nie. Die doel is glad nie dat jy perfek moet probeer wees nie, maar eerder dat julle julle bes moet doen om die heel beste gesprek te hê wat julle kan hê. Vir gesprekke wat julle nader aan mekaar bring, moet julle eerlik, kalm en oop daarvoor wees om mekaar te hoor en te verstaan.

Julle doel is om op te hou om mekaar seer te maak, en mekaar eerder te begin hoor.

As jou onvolmaakte menslike optrede jou verhouding seermaak, moet jy harder probeer. Neem soveel beurte as wat nodig is om met liefde en respek met mekaar te praat. Jy hoef nie ’n goeie geselser te wees nie – jy moet net na die beste van jou vermoë eerlik wees en optree sonder om seer te maak.

As jy ’n fout maak, soos skree en gil, erken jou aandeel in die skade. Vra om verskoning vir jou vernietigende bydrae en probeer volgende keer harder.

Jou doel is nie om ’n positiewe gesprek te voer nie, maar ’n regte en eerlike gesprek. Dit gaan nie oor positiewe woorde nie, maar oor eerlike, sagte woorde. Dit gaan oor praat, nie skree nie.

Hoe julle teenoor mekaar optree, is die kern van julle ervaring van respek vir mekaar en julle verbintenis tot julle verhouding. Julle band word gevorm deur die manier waarop julle met mekaar praat. Dit is wat sal bepaal of julle liefde, wat op respek en toewyding gegrond is, sal groei of wegkwyn. Dit is hoekom julle dit baie ernstig moet opneem en let op hoe julle met mekaar praat. Altyd.

Vrae oor jouself

•Hoe maak my manier van praat en my optrede my verhouding seer?

•Waar moet ek aan myself werk sodat ek ’n minder skadelike uitwerking op ons gesprekke het?

•Op watter optrede van my is ek nie trots nie, en wat wil ek verander?

•Hoe wil ek eerder optree?

OEFENINGE VIR JULLE VERHOUDING

Oefening 1: Maak ’n lys van skadelike optredes

Sonder om jou lewensmaat te verwyt of te beskuldig, maak ’n lys van al die skadelike optredes (nou en voorheen) wat jy nie meer in jou verhouding wil hê nie. Dit is nie jou geleentheid om te begin baklei nie. Begin deur eers oor jou eie optrede te praat. Elkeen kan een vorm van gedrag op ’n slag byvoeg wat julle nie meer in julle verhouding wil hê nie. Só skep julle ’n lys van skadelike optredes wat julle al twee in die toekoms moet vermy.

Oefening 2: Stel vas hoe julle graag met mekaar wil praat en teenoor mekaar wil optree

Praat nou oor hoe julle graag met mekaar wil praat en mekaar wil behandel. Definieer ’n nuwe manier van praat, meningsverskille hê en saamwees wat goed sal wees vir julle verhouding. Die volgende vrae kan leiding gee:

•Hoe wil ons graag van vandag af vorentoe liewer met mekaar praat en mekaar behandel; ’n manier wat ons liefde en respek vir mekaar sal wys?

•Watter optrede en maniere van praat verkies ons?

Oefening 3: Verbind julle tot ’n nuwe manier van praat

Maak ’n belofte (op papier of in woorde) aan mekaar dat julle jul bes sal doen om skadelike gedrag uit julle verhouding te hou. Wys julle toewyding tot ’n nuwe manier van praat en die toekoms deur dit neer te skryf. Praat oor wat julle gaan doen as julle ’n belofte sou verbreek. As julle mekaar weer met woorde of dade seermaak, moet julle om verskoning vra en dit bespreek. Hier is van die vrae wat leiding kan gee:

•Wat is die voorwaardes van ons nuwe belofte oor hoe ons gaan praat en optree?

•Wat belowe ek aan jou en ons verhouding?

•Wat gaan ons doen as ons ons beloftes aan mekaar verbreek?

Die waarheid oor verhoudings

Подняться наверх