Читать книгу Die waarheid oor verhoudings - Stefan Blom - Страница 15

Stap 5: Probeer eers kalmeer

Оглавление

Om te hoor jy moet kalmeer as jy ontsteld is, is vir die meeste mense soos ’n rooi lap voor ’n bul. Jy hou waarskynlik nie daarvan om dit te hoor nie, maar die werklikheid is dat jy eers kalm moet wees wanneer jy oor jou ontsteltenisse praat.

Probeer kalmeer voordat jy praat

Omtrent al die paartjies wat deur die jare by my kom aanklop het, is ontsteld, seergemaak of kwaad wanneer hulle die eerste keer by my spreekkamer instap. Dit is egter waar dat jy kalm moet word voordat jy kan begin praat, want die ontstelde lewensmaat en die kalm een is gewoonlik twee heeltemal verskillende mense!

Jou doel is om te gesels, nie te baklei nie

Om te kan sê – en nie te skree nie – wat jy op die hart het, moet jy eers kalmeer. Dit is niemand anders se verantwoordelikheid om jou te kalmeer of vir jou te sê jy moet kalm word nie – dit is altyd jou eie verantwoordelikheid om jouself te kalmeer. As jy nie daarvan hou om te hoor jy moet kalm word nie, kyk na jou eie verantwoordelikheid hier. Wat jou ook al ontstel het, die werklikheid is dat jy altyd daarvoor verantwoordelik is om jou kant skoon te hou deur kalm te bly.

Hoe kalm julle al twee is wanneer julle begin gesels, sal bepaal hoe suksesvol julle gesprek is. Die feit dat jy ontsteld is, is ’n teken dat julle moet gesels, maar nie dat julle moet baklei nie. Die vraag is: Kan jy jou ontsteltenis deel en nie skree nie?

Al jou ontsteltenisse is ’n uitnodiging om te praat

Wanneer jy ontsteld is, is jou verhouding besig om met jou te praat en jou leiding te gee. Dit benadruk dat ’n gesprek nodig is. Elke ontsteltenis wat nie gedeel word nie, is ’n verspeelde kans om julle band te verstewig. Om ontsteld te wees gaan nie oor kalm word nie. Dit is bloot ’n boodskap dat jy jou moet voorberei vir ’n gesprek.

Die beste gesprekke begin in ’n kalm, ontspanne ruimte. Die waarheid is eenvoudig: As jy nie kalm voel nie, moet jy nie praat nie. Om te kalmeer is om jouself en jou reaksies waar te neem en op te hou om reaktief te reageer. Dit gaan daaroor om na jouself en jou verhouding te leer kyk, jou gedagtes en gevoelens agtermekaar te kry, en nie sommer te reageer op alles wat na jou kant toe kom nie.

As jy dink oor jou verhouding eerder as om net daarop te reageer, kan dit onmiddellik kalmte bring

Ons gesels die lekkerste oor “ontsteltenisse” wanneer ons gereed en ontspanne voel, daarom bespreek baie paartjies ’n onderwerp wanneer hulle met vakansie is. Sodra ons ontspanne begin voel en die energie en krag vir ’n gesprek het, probeer ons met mekaar praat.

Maar die lewe is nie ’n vakansie nie! Ons het nooit genoeg tyd nie en voel gedurig gespanne en moeg. En wanneer ons só voel, probeer ons ons sê sê… ons innerlike gedagtes en gevoelens deel. Dit is geen wonder dat die meeste gesprekke dan op ’n skreesessie afstuur nie.

Dit blyk dat wanneer jy ontsteld voel, is dit nie ’n goeie tyd om te praat nie, maar eerder ’n goeie tyd om jou gedagtes agtermekaar te kry. Die beste gesprekke begin uit ’n kalm plek en waar deeglik besin is oor die tyd en plek vir die gesprek. Dié twee faktore sal bepaal hoe die gesprek verloop.

As een van julle nie kalm is nie, wag dat julle al twee kalm word voordat julle praat. Om kalm te wees beteken nie jy is nie ontsteld nie. Jy is waarskynlik nie kalm nie, maar eerder seergemaak en tereg ontsteld. Dit gee jou egter nie die reg om sonder respek te praat nie.

As jy seergemaak of ontsteld voel, is dit nie jou lisensie om ander seer te maak nie.

Om te kalmeer is makliker gesê as gedaan. As jy nie kalm voel nie, is dit dikwels ’n goeie idee om meer te doen en minder te praat – om gesprekvoering minder belangrik te maak, maar eerder daarop te fokus om te ontspan en julle tyd saam te geniet. Dit is dan wanneer julle ’n aangename atmosfeer vir ’n gesprek skep. Die moontlikheid van ’n konstruktiewe gesprek is baie groter met ’n goeie, kalm ruimte as beginpunt.

Energie en kalmte is nodig vir ’n goeie gesprek

Die geheim is om eers te kalmeer en jou energievlak hoër te kry. Maak seker jy het die energie vir die gesprek en dat jy kalm genoeg is om jou diep gedagtes en gevoelens te deel. Dit is ’n tyd om te besin, nie te reageer nie. Dit is vir die meeste paartjies moeilik om die vaardigheid te bemeester, maar dit is een van die belangrikstes wat enigiemand in ’n verhouding kan aanleer.

Jy kry dikwels eers ware perspektief wanneer jy wegstap en ontspan, en dan na jou verhouding kyk

Wanneer ek besig is met terapie, wonder ek dikwels hoekom paartjies so sukkel om vir die regte oomblik vir ’n gesprek te wag. Hoekom is dit so moeilik om eers te kalmeer en dan ’n goeie tyd te kies? Een van die redes is ’n geskiedenis van pogings om te praat wat dan vinnig in ’n lelike bakleiery ontaard, waarna hulle moed opgee omdat hulle voel hulle kom nêrens nie en net moeg raak vir probeer. Die belofte om later te praat word nooit nagekom nie. Nie een van hulle glo die woorde “Kom ons praat later daaroor” nie, want dit gebeur nie. Daardie oomblik wanneer jy iets te sê het, voel soos jou enigste kans – een waarvoor jy sal baklei. Wanneer die een sê: “Nie nou nie; ek is moeg” of “Kan ons later hieroor praat?”, is dit vir die meeste paartjies soos ’n rooi lap voor ’n bul. Dit is gewoonlik ook die einde van die gesprek, waarna een van julle dikwels verwaarloos en verwerp voel, al is dit nie so nie.

Vrae oor jouself

•Hoe kalmeer ek myself wanneer ek ontsteld is?

•Hoe kan ek ophou om groter ontsteltenis in my verhouding te veroorsaak wanneer ek regtig ontsteld is?

•Wat kan ek in ’n oomblik van ontsteltenis of woede doen om te kalmeer?

•Hoe kan ek my gedagtes kalmeer wanneer ek ontsteld is?

Die waarheid oor verhoudings

Подняться наверх