Читать книгу Die waarheid oor verhoudings - Stefan Blom - Страница 27

Verhoudingsvaardigheid

Оглавление

Sit die gesprek op die rak

Dié vaardigheid waar jy stilbly as jy iets dink of voel en eers praat wanneer jy gereed is, is om ’n gesprek op die rak te sit of ’n blaaskans te vat. Dit beteken jy stel die gesprek uit en praat eers later wanneer julle al twee voorbereid en kalm genoeg voel om die kwessie met respek te bespreek.

As jy ’n onderwerp op die rak sit omdat jy te ontsteld is, moet jy dit liefs nie vir langer as 24 of 48 uur daar los nie. Dit raak dikwels net te pynlik om langer te wag, en boonop dui dit op ’n gebrek aan respek vir mekaar en julle verhouding. Julle belofte aan mekaar is dat julle binne ’n dag of twee die onderwerp sal ophaal en verder sal gesels. Hoe gouer julle gereed is, hoe beter.

Twee praktiese vaardighede kan paartjies help om ’n gesprek op die rak te sit. Die eerste een is om ’n glasfles neer te sit waar julle dit gereeld sal raaksien, en notas met gespreksonderwerpe daarin te sit soos dit opduik. Op dié manier kan julle sien as iets bespreek moet word, en dan moet julle binne die volgende dag of twee daaroor praat. Enigiets van huishoudelike kwessies tot dieper emosionele dinge kan vir ’n latere gesprek in die glasfles gesit word.

Die tweede vaardigheid is om te sê as jy ’n onderwerp op die rak moet sit of ’n blaaskans daarvan moet vat. In daardie oomblik van ontsteltenis moet jy ook sê wat ’n goeie tyd sou wees om te praat. Jy kan byvoorbeeld sê: “Ek is nie nou reg om te praat nie, maar kan ons môreoggend oor ontbyt gesels?” of “Ek wil graag hoor wat jy sê, maar nie nou nie. Kan ons vanaand praat?” Elke paartjie moet hulle eie metode kry. Die vaardigheid om ’n gesprek op die rak te sit kan jou verhouding heelwat uitputtende en skadelike gesprekke spaar.

As jy nie hou van die glasfles-idee nie, kan jy bloot wys jy wil praat deur te vra: “Wanneer kan ons gesels?” of “Ek moet met jou praat” of “Wanneer sal ’n goeie tyd wees vir ons om te sit en gesels?” Die feit dat jy die moed het om te wys jy wil praat, verdien respek en moet beloon word met die beste, eerlikste gesprek wat julle kan hê.

Dit is nie ’n vaardigheid wat jy kan gebruik om gesprekke te vermy nie, maar ’n hulpmiddel wat jou verhouding kan beskerm. Dit is ’n noodsaaklike vaardigheid om skade in ’n oomblik van ontsteltenis te voorkom en ’n stuk gereedskap wat jy kan inspan om beter na julle verhouding en mekaar om te sien.

Die een wat ’n blaaskans vra, probeer die verhouding beskerm, want hy of sy vind die manier waarop julle met mekaar praat, wat die rede ook al is, is net te erg of ontstellend. Jy het die reg om jou verhouding te beskerm. Die goue reël van die blaaskans is dat die een wat die gesprek op die rak sit, daarvoor verantwoordelik is om dit weer binne ’n dag of twee op te tel. As jy ’n blaaskans vra en dit nie doen nie, vermy jy die olifant in die vertrek, wat heel moontlik nog groter ontsteltenis en seerkry gaan veroorsaak.

As jou lewensmaat oor iets wil praat en jy het ’n blaaskans gevra, is dit jou verantwoordelikheid om die aandag en tyd af te staan wat die onderwerp verdien. Indien jy dinge ignoreer wat vir jou geliefdes belangrik is, kan dit selfs as ’n gebrek aan ’n verbintenis, respek en liefde beskou word.

Vrae oor julle verhouding

•Wat sou vir ons verhouding die beste manier wees om ’n onderwerp op die rak te sit?

•Wat verkies ons om vir mekaar te sê as ons ’n onderwerp op die rak wil sit?

•Watter metodes sal nie vir ons verhouding werk as ons ’n onderwerp op die rak sit nie? Hoekom nie?

Die waarheid oor verhoudings

Подняться наверх