Читать книгу Die waarheid oor verhoudings - Stefan Blom - Страница 26

Verhoudingsvaardigheid

Оглавление

Praat net namens jouself

As jy sê wat jy op die hart het, deel jy jou idees, gedagtes en gevoelens, nie jou lewensmaat s’n nie. Pasop om nie vir jou lewensmaat te sê wat hy of sy voel of dink nie, want dit is nie jy wat met sy of haar hart of gedagtes rondloop nie.

Een van die beste maniere om altyd net namens jouself te probeer praat, is om jou sinne met “ek” en nie “jy” nie te begin. Pleks dat jy sê: “Jy weet nie wat jy doen nie… Jy sê dit elke keer”, probeer eerder namens jouself praat: “Ek wil hê dat jy let op hoe jy met my praat. Ek sal dit regtig baie waardeer as jy…” Wanneer jy namens jouself praat, bly jy in jou baan.

Vir die meeste mense is dit soos ’n rooi lap voor ’n bul wanneer iemand namens ons praat, en dikwels die begin van ’n bakleiery wat nêrens heen gaan nie. Wanneer jy namens iemand anders praat, aanvaar jy miskien dat jy die beste weet of altyd reg is. Natuurlik is jy nooit reg vir julle al twee nie – jy is net reg vir jouself, nes jou lewensmaat net vir hom- of haarself reg is. In eenvoudige taal, julle is al twee altyd reg.

Julle is geregtig op julle eie waarnemings van mekaar en julle verhouding, maar dit is onverantwoordelik en dui op ’n gebrek aan respek as julle namens mekaar praat. Neem besit van wat joune is en praat namens jouself; jy ken jouself die beste. Ek word gereeld daaraan herinner dat jy self – as die persoon wat nog jou hele lewe lank met jou liggaam, verstand en siel saamleef – reeds meer tyd as enigiemand anders saam met hierdie persoon genaamd jy deurgebring het. Jy het beslis ’n beter idee van wie jy is en waarvan jy hou en nie hou nie as enigiemand anders ter wêreld!

Niemand behoort namens iemand anders te praat sonder sy of haar toestemming nie. As jy oor jou lewensmaat se gedagtes en gevoelens wil kommentaar lewer, is dit goeie maniere om eers toestemming te vra. Jy leef nie in sy of haar lyf of kop nie, daarom kan jy eenvoudig nie weet wat die persoon langs jou dink of voel nie.

Vrae oor julle verhouding

•Hoe kan ons mekaar herinner om elke dag in ons eie baan te bly en net namens onsself te praat?

•As ons namens mekaar begin praat, hoe kry ons onsself weer daar waar ons net namens onsself praat?

Die waarheid oor verhoudings

Подняться наверх