Читать книгу Tryna du Toit-omnibus 1 - Tryna du Toit - Страница 10

Оглавление

Hoofstuk 7

Toe Johan voor tweeuur Saterdagmiddag voor Andries Celliers se huis stilhou, is Annie al lankal gereed. Van vroeg die oggend af was sy aan die gang en ’n oggend was nog nooit vir haar so lank gewees nie. Dit het gevoel asof die ure moedswillig talm. By tye was daar ’n opgewondenheid in haar wat sy nie kon verklaar nie; soms so ’n angstige onrus dat sy nie kans gesien het om haar belofte aan Barry na te kom nie. Maar die hele tyd het sy tog geweet sy sou gaan, en nie net omdat sy vir Barry belowe het nie. Die uur van vergelding het aangebreek, maar sy verwelkom dit. Ná die skuldbekentenis wat sy vandag wil maak, moet daar uiteindelik verligting volg van die stremming waaronder hulle verkeer, ’n stremming wat vir haar by die dag meer onuithoudbaar word.

Sy het al alles gedoen waaraan sy kon dink om te doen. Vroeg vanoggend al was sy met die snoeiskêr in die tuin; sy het arms vol doubelaaide rose en angeliere en dahlias binnegebring en die huis lyk self soos ’n blomtuin. Sy het haar kamer netjies gemaak van die dak tot die vloer, sy het tydsaam haar hare gewas … en toe was dit nog lank voor elfuur. Sy het toe maar later besluit om winkels toe te stap, want hier in die huis kon sy dit nie meer uithou nie.

“Het Moeder iets nodig, ek gaan gou winkel toe?”

“Nee, dankie, Annie … of wag. Kry tog vir my ’n paar nommer 10-breipenne, een van my penne het al weer gebreek.”

“Goed. Ek is nou-nou weer hier, hoor.”

Die eerste persoon wat sy teëkom, is Piet. Half nukkerig groet hy haar en wil eers aanstap toe hy weer omdraai en na haar toe kom.

Toe Piet haar vroeg die oggend bel om te hoor of sy die aand saam met hom bioskoop toe gaan, ’n blote formaliteit soos hy gemeen het, het Annie hom meegedeel dat sy die aand op Swartkoppies sou deurbring. Piet het teëgepraat en mooigepraat, maar sy het koel geantwoord dat sy nie daarvan droom om nie haar afspraak na te kom nie. Toe Piet later agterkom dat Annie vasbeslote was, het hy die telefoon neergesit sonder om vir haar tot siens te sê.

Annie se groet is gevolglik koel, en bedaard stap sy aan sonder om verder enige ag op hom te slaan. Dit is te veel vir Piet. Sulke behandeling is hy nou darem nie gewoond van ’n meisie nie. Van pure skok en nie-weet-wat-om-te-doen-nie rek hy sy treë om saam met Annie te stap.

Ná so ’n rukkie sê hy: “Kom saam, Annie. Ek wou net ’n koppie tee gaan drink.”

“Nee dankie, Piet, ek gaan net gou winkel toe vir Moeder.”

“Toe, kom. Jy het my ’n lekker streep getrek, Annie. Jy weet mos al dat ek jou Saterdagaande vra om uit te gaan.”

Annie kan lag vir Piet se kinderagtige egoïsme. Wanneer dit hom pas, ja, vra hy haar. Maar sy het haar nog altyd die reg voorbehou om ja of nee te sê vir sy uitnodiging, en af en toe hét sy nee gesê, juis omdat sy nie in die vaste gewoonte wil kom om saam met hom uit te gaan nie.

“Nee, Piet,” sê sy nou. “Ons het nog nooit ’n gereelde afspraak vir enige aand gehad nie.”

“Jy kon darem geweet het,” sê hy nukkerig. “Onthou nou in die toekoms dat ek jou Saterdagaande uitneem as ek hier is.”

Annie kyk die jong man peinsend aan. Soos ’n nukkerige seuntjie wat van ’n plesier ontneem is en almal sy ontevredenheid wil laat voel, loop hy langs haar, en met ’n skielike helder blik sien sy Piet soos hy waarlik is. Nie die sjarmante, wêreldwyse jong man met sy aantreklike agtergrond van rykdom en jare in die buiteland, wie se aandag haar in die begin ongetwyfeld ’n bietjie gevlei het nie, maar ’n seuntjie wat nooit grootgeword het nie en wat, tensy ’n wonderwerk gebeur, ook nooit sal grootword nie. Deur hul onverstandige, selfsugtige liefde het Piet se ouers hom die grootste voorreg van almal ontneem, die voorreg om sterk en selfstandig te ontwikkel, ’n innerlike krag op te bou wat hom die nodige anker in die lewe moes gee. Dit kan nie altyd goed gaan met Piet nie. Die dag moet ook kom wanneer leed en teleurstelling sy deel sal wees. Die dag moet ook kom dat hy voor die wete te staan kom dat sy geld nie alles in die wêreld kan regmaak nie. Voorwaar, dit sal ’n groot en ’n bittere ontnugtering wees! En of Piet dit te bowe sal kom, hang net af van hoeveel staal daar in sy karakter ingewerk is gedurende die dertig jaar van sy bestaan.

Annie se gesig verraai niks van haar innerlike gewaarwordinge nie, en toe Piet ongeduldig na haar kyk om te sien waarom sy hom nie antwoord nie, sê sy kalm: “Dankie, Piet. Ek sal graag weer saam met jou uitgaan, maar moenie dat ons dit so vas bepaal nie.”

Toe Johan die voordeurklokkie lui, wag Annie tot Andries vir hom die deur oopgemaak en hom binnegebring het voor sy te voorskyn kom.

Slank en mooi gebou, onberispelik netjies soos gewoonlik in ’n spierwit rok, ’n fraai blos op haar wange, is sy ’n volmaakte prentjie van skoonheid, maar daar is geen teken by Johan te bespeur dat die prentjie hom geval nie. Hy neem haar raket en haar jas, en Andries haar tassie waarin haar skoon klere is, en saam stap hulle na sy motor.

Toe die motor wegry, dink Annie daaraan dat dit die eerste keer is dat hulle alleen saam is behalwe af en toe op skool wanneer Johan skoolsake met haar bespreek, en byna twee maande het verstryk vandat Piet se motor daardie Sondagmiddag met Johan s’n gebots het.

Sy voel verleë en ongemaklik en sit maar stil langs Johan, haar hande styf inmekaar gesluit – al wat haar spanning verraai.

’n Rukkie lank praat Johan ook nie, toe draai hy skielik na haar en sê glimlaggend: “Nog bang dat ek jou sal byt, Annie?”

Annie bloos effens, maar antwoord nie.

“Ek praat met jou, Juffrou.”

“Ek het gehoor, meneer De Kock.”

“Waarom antwoord jy dan nie?”

“Het jy dan ’n antwoord verwag, meneer De Kock?”

Johan lag en sê: “Toe maar, ek weet jy’s nog bang. Wat ’n skuldige gewete tog nie kan doen nie, nè, Annie.”

Versigtig antwoord Annie: “Ek het nie ’n skuldige gewete nie.”

“Dan behoort jy een te hê. Jou gewete behoort jou so te pla dat jy snags nie jou oë kan toemaak nie,” sê hy half in erns, half in luim.

“Waarom?” vra sy styf, dankbaar dat hy haar help. Maar meteens neem dinge heeltemal ’n ander wending.

“Annie,” sê hy, “dit het my toevallig ter ore gekom dat jy mense laat verstaan dat ek verloof is.”

Onthuts kyk Annie na Johan, maar hy hou die pad aandagtig dop.

“Wat bedoel jy, meneer De Kock?” vra sy verskrik.

“Net wat ek sê.”

“Maar ek het vir niemand gesê dat jy verloof is nie. Hoe kon ek? Ek weet niks van jou sake af nie.”

“Jy het dit nogtans gesê.”

“Waar kom jy daaraan?”

“Kobie het vir my gesê.”

“Kobie?” sê Annie met teësin.

“Ja, Kobie. Kort nadat ek hier gekom het. Wil jy stry?”

Verslae kyk Annie voor haar. Dit ook nog. Sy kan Kobie braai. Daardie oggend in die kombuisie … sal sy dit ooit vergeet? Maar hoe gruwelik het Kobie haar woorde verdraai! Die klein koket sal natuurlik ook enige wapen gebruik om die man se belangstelling gaande te maak.

Toe Johan skielik voor ’n hek stilhou, wil sy uitklim om dit oop te maak, dankbaar vir die paar oomblikke van grasie wat haar gegun word, maar Johan sit sy hand op haar arm en sê: “Net ’n oomblikkie, Annie. Ons is amper by die plaas en ons het nog baie om oor te gesels. Wat weet jy van my nooientjie in die Boland?”

Annie trek haar arm weg en kyk na Johan met byna dieselfde uitdrukking op haar gesig as daardie eerste oggend in die personeelkamer toe sy uitgevind het dat hy haar nuwe hoof is en sy, onthuts en verleë, nietemin haar man gestaan het.

“Ek weet niks van haar nie. Kobie was besig om die gek te skeer en ek het vir haar gesê om eers uit te vind of … of …”

“Of?”

Byna onhoorbaar volg dit: “Of jy nie ’n nooientjie in die Boland agtergelaat het nie.”

Daar is stilte.

“Wou jy dan so graag weet, Annie?” verdraai hy ná ’n rukkie moedswillig haar woorde.

“Nee, dankie,” sê sy koel. “Ek stel nie belang nie.”

“Ja. Daarvan het jy nog nooit ’n geheim gemaak nie. Maar kom ons laat staan nou vir Kobie en die nooi in die Boland en ons kom ’n bietjie nader.” Hy bly weer so ’n rukkie stil en vervolg toe: “Waarom hou jy nie van my nie, Annie?”

Dit is ’n bietjie onverwags.

Sy moes ook nooit toegelaat het dat hy die leiding geneem het nie. Nou is alles bederf. Dinge is ook al te ver heen om te hoop dat hulle kan regkom. Onverskillig sê sy: “Meneer De Kock, dink jy nie ons is besig om ons tyd te mors nie? Barry sal al vir ons wag.”

“Barry kan maar ’n bietjie wag. Ons is in elk geval vroeg. Ek dink ook nie dis tydmors nie, ek sou graag wou weet.” Weer is daar stilte tussen hulle terwyl Johan na die regte woorde soek. “Luister, Annie, as jy vir my sê waarom jy nie van my hou nie, sal ek vir jou sê waarom ek nie van jou hou nie.”

Verras kyk Annie skielik na hom, haar oë agterdogtig, maar Johan de Kock is blykbaar doodernstig.

“Sal ek maar begin – ek kan dit in ’n paar woorde doen – of wil jy liewer nie hoor nie?”

Annie se lippe is styf en koud en met moeite uiter sy die paar woorde: “Laat ek hoor.”

Johan draai om om reguit na haar te kyk. Sy oë rus op die mooi, fyn profiel tot sy onwillig haar gesig na hom draai, toe sê hy saggies: “’n Mooi klein meisietjie met ’n silwerstem, maar bederf, kinderagtig, selfsugtig, onmanierlik – ja, Annie, al dié dinge en meer was jy teenoor my. Die middag toe ek gekom het, het jy deur jou onverskilligheid my motor stukkend gery, maar omdat ek, soos jy gemeen het, ’n vreemdeling was, het jy my laat gaan sonder om eens verskoning te vra. Nee, wag, dis nou my beurt. Later het jy jou pa gestuur om wat jy verbrou het, te probeer regmaak, maar jy het nog nooit self die moed gehad om na my toe te kom nie. En die hele tyd dat ons saamgewerk het, was jy koud, onwillig en dislojaal, te bang ek sal iets voorstel wat sal indruis teen jou plesier. En as ek jou die slag eerlik en opreg vra waarom jy nie van my hou nie, dan kom jy met ontwykende woorde soos netnou: dat ons besig is om ons tyd te mors. Nou toe, ek is klaar. Dis nou jou beurt.”

Maar Annie is stil. Bleek en verslae sit sy daar, nie in staat om ’n woord te sê nie. Johan het die vaste grond onder haar voete uitgeslaan en verleë tas sy rond om êrens weer vastrapplek te kry.

Johan is reg. Alles wat hy gesê het, is waar. Sy het haar soos ’n moedswillige kind teenoor hom gedra … en net vanoggend nog het sy so volwasse teenoor Piet gevoel.

“Toe Annie, ons het ’n ooreenkoms aangegaan. Is dit maar eerlik net ’n geval dat jy nie van my hou nie, of het dit jou heeltemal ontsenu dat ek jou daardie eerste middag gesien het soos jy regtig is?”

Of hy dit nou so bedoel het, weet sy nie, maar Johan se woorde laat ’n skielike drif in haar gemoed opbruis. Sy draai haar gesig na hom en die bruin oë flikker kwaai. Vir ’n oomblik vergeet sy dat hy die skoolhoof is.

“En watter reg het jy, Johan de Kock, om my so te oordeel? Ek wás onverskillig daardie middag en ek hét my sleg gedra teenoor jou. Maar ek het vreeslik geskrik, ek was verbouereerd en ontsteld, en jy het alles in jou vermoë gedoen om my meer om te krap.

“Waar was jóú hoflikheid, jóú ridderlikheid, daardie middag toe ek dit so bitter nodig gehad het?”

Daar speel ’n snaakse glimlaggie om sy mond en dit wakker haar drif verder aan. Dit gee haar moed om dinge te sê wat sy nooit anders sou durf waag het nie. “En daardie middag het jy my veroordeel – jy, die volmaakte, Johan de Kock. Daarom hou ek nie van jou nie: Jy is te eiegeregtig, te selfvoldaan. Soos ’n Kersvader het jy hier tussen ons gekom en mildelik van die geskenke in jou groot sak kom uitdeel … tot die oneindige bewondering en aanbidding van die skoolkinders en almal wat jou sien.”

“Net Annie Celliers hou nie van die Kersvader nie … as hy vir ander mense geskenke bring.”

“Nie van so ’n selfvoldane, onaangename een nie.”

Johan draai weg van Annie en sit ’n lang tyd strak voor hom en kyk.

“Ja, Annie,” sê hy eindelik, “dit gee jou seker groot plesier om my die bietjie tevredenheid wat ek uit my werk gekry het ook te ontneem. Sê vir my, jy sê ek is selfvoldaan, eiegeregtig en wat nog alles, maar sou jy nou meer van my gedink het of meer van my gehou het as ek heeldag weifelend en onseker en apologeties voor julle en die skoolkinders gestaan het? Die vader weet, daar is baie dae dat ek weifel en onseker is, graag julle raad wil vra, baie dae dat ek jou wou raadpleeg oor die meisies, maar elke keer as ek na jou toe wil gaan, dan begewe my moed my heeltemal. En dit is nog iets wat ek teen jou het: Jy het nie die reg om die beroep van onderwyseres te kies as jy nie hart en siel in die kinders en hulle werk belang stel nie.”

“Ek ís geïnteresseerd.”

“Jy is nie. Jy gebruik jou werk maar net as ’n tydverdryf tot tyd en wyl ’n geskikte man opdaag.”

“Dit is nie waar nie. Jy is ’n haatlike man …” begin Annie en voel toe dat die trane wat al lankal dreig om te kom nou nie meer gekeer wil word nie. Moet dié skande haar ook nog oorkom! Sy byt op haar lippe, maar dit wil nie help nie, en skielik verberg sy haar gesig in haar hande.

“Nee, Annie,” sê hy sag, “jy moenie huil nie. Hoe sal jou mooi gesiggie lyk as ons daar by die mense aankom?”

“Ek gaan nie verder … saam … met jou nie,” snik Annie. “Neem … n-nou vir my huis toe.”

“Hoe kan ek jou huis toe neem? Dink jy al weer net aan jouself, jou eie gevoelens? Wat van die mense wat vir jou wag, vir jou klaargemaak het? Kom,” sê hy, en hy neem haar hande voor haar gesig weg. “Kom ons vee jou gesiggie af.” En met sy eie sakdoek vee hy die trane van haar gesig af en stoot die hare weer netjies terug.

“Nou ’n bietjie poeier.”

Sy maak haar sakkie oop en neem die poeierkwas uit, maar hy neem dit by haar.

“Ek sal dit self doen,” sê sy.

“Sit stil, ek kan dit beter doen.”

En moeg, uitgeput na die veelvuldige emosies van die laaste halfuur, laat sy hom sy gang gaan. Hy probeer die traanmerke uitwis en toe hy klaar is, kyk hy met ’n vreemde, sagte flikkering in sy grys oë na die fraai gesiggie en sê half spottend, half teer: “Mooi Annie.”

Toe hulle eindelik weer op pad is, sê Johan: “Ek weet jy’s baie kwaad vir my, Annie, maar ons kan nie nou die ander mense se middag gaan bederf met ons rusie nie. Ons twee sal maar vanmiddag moet toneelspeel. Kom ons speel daardie eerste ontmoeting daar by die koppie het nooit plaasgevind nie, dat vanmiddag ook uitgewis is, dat ons nou sommer net twee jong mense is wat lekker gaan tennis speel. Sien jy kans?”

“Ek sal probeer,” sê sy sag.

“Nou toe, en nie so bedees nie. Ons gaan heerlik tennis speel; kyk net watter lieflike middag is dit. Gaan jy en Piet ons Woensdagmiddag pak gee?”

“Ons gaan probeer.”

“Ek dink darem nie ons sal dit toelaat nie.”

“Ons sal sien,” antwoord sy, glad nie meer so bedees nie.

Toe hulle op Wag ’n Bietjie kom, ontmoet Barry hulle by die motor. Sy oë gaan vlugtig van Annie se gesig na Johan s’n, maar hy sê niks nie.

“Middag, Barry,” groet Johan. “Jy het ’n wonderlike middag bestel vir ons tennis.”

“Middag, mense. Ja, ons is reg vir julle. Ons het al gespeel.”

Barry se bure, die Steyns, en Letty Rossouw, wat die naweek by hulle deurbring, sit op die grasperk langs die tennisbaan.

“Julle is laat,” groet Frank Steyn. “Was jy bang ons sal jou weer in die dam gooi?”

“Ek laat my nie twee maal in dieselfde dam gooi nie,” antwoord Johan. “Kom, wie sal dit waag om Annie en my te pak?”

“Toe, jy, Barry, ek en Rita wil eers rus.”

“Kom, Letty, die Bolander praat weer groot vanmiddag.”

Letty Rossouw, Barry se maat vir die toernooi, is ’n lang, mooigeboude meisie, die dogter van sy buurman, Koos Rossouw. Sy kan goed tennis speel, maar haar spel is ’n bietjie wisselvallig en sy beweeg stadig op die baan. Johan en Annie is te goed vir hulle en wen maklik.

Toe Barry en Letty wegloop om die Steyns in hul plek te stuur, sê Johan aan Annie: “Ek beny Piet sy maat, Annie.”

Annie se wenkbroue wip en sy kyk Johan agterdogtig aan. Johan lag.

“Hoe lyk dit vir my jy vertrou nie die wapenstilstand nie, Annie?”

“O, ek sien, jy is besig met toneelspeel.”

“Vir die oomblik was ek nie. Mevrou Coetzee speel baie mooi; op die agterlyn veral is haar spel skitterend, maar sy speel byna nooit by die net nie, en ek hou van ’n maat langs my by die net. Dis ’n plesier om saam met iemand te speel wat so vinnig beweeg.”

“Kom, Annie,” maak Frank Steyn ’n einde aan die gesprek. “Die Bolander kan nie altyd vir hom die beste maat neem nie.”

So teen sononder staak hulle die tennis, want Annie, Letty, Johan en Barry wil nog eers gaan swem voor hulle vir ete Swartkoppies toe gaan.

“Wie gaan gou saam met my die koppie uitklim,” wil Johan weet. “Ek is nou lus om die wêreld van daar bo af te sien. Is jy te moeg, Annie?”

Annie is nie moeg nie en Barry en Letty wil ook saamgaan.

“Nou toe, gaan julle kinders maar,” sê Rita. “Soveel energie het ek tog nie. Frank en ek sal maar solank huis toe gaan en kyk of daar kos is. En as julle te laat kom, kry julle net wat oorbly, hoor.”

“Ons wil nog gaan swem ook,” sê Letty. “Sal dit dan te laat wees?”

“Nee, ek speel maar, daar is baie tyd. Geniet julle dit maar. Frank, waar is ons dogter?”

“Sy is by ou Fytjie in die kombuis,” sê Annie. “Ek sal haar gou gaan haal.”

“Toe maar, Annie, ek sal haar gaan haal. Hardloop julle maar, ek sien julle netnou.”

Wag ’n Bietjie se huis lê aan die voet van ’n klipkoppie.

“Kom, Annie,” sê Johan aan haar, “kom ons kyk of ons voor hulle bo kan wees.”

Hy neem haar hand en vinnig, rats in hul tennisskoene, hardloop hulle die koppie uit tot bo teen die hoogste klip, met Barry en Letty kort op hul hakke.

Die lieflike nasomermiddag talm nog. ’n Blou mistigheid hang oor veld en rant en ’n mens voel asof jy teug ná teug van die skoonheid kan indrink.

Duidelik hoorbaar in die stilte is die gekwê-kwê-kwê van die wilde-eende wat sorgeloos heen en weer sweef oor die dam daar in die vlei.

Diep onder die indruk van die skoonheid staan die vier jong mense roerloos teen die klip.

Letty begin eerste roer.

“Kom, julle het nou genoeg gekyk.”

Maar die ander drie staan nog.

“Ek weet nie waarom die digters so dweep met die lente nie,” sê Johan stadig. “Vir my is die nasomer baie, baie mooier.”

“Ja, vir my ook,” sê Annie, en haar stem is sag.

“Nee, kyk,” sê Barry, “die geleerdheid dryf julle nou tot raserny. So is julle darem nie geoorloof om afbreuk te doen aan die ou tradisies nie. Leer julle dan nie meer die kinders ‘Oktobermaand’ nie?” en hy val ook sommer weg:

Dit is die maand Oktober

Die mooiste, mooiste maand,

Dan is die dag so helder

So groen is elke aand.

“Nee, ou maat, Leipoldt bo! En tog, ek dink darem hy kon iets gesê het van die jong ou lammertjies.”

Hulle lag hom almal uit en Johan sê spottend: “’n Boer en sy roer, ja: maar nie ’n boer en die digkuns nie. Laat staan dit maar vir die skooljuffrouens en -menere.”

“Ag, ek dink julle praat almal onsin,” sê Letty. “Kom, ek wil gaan swem.”

Klaar geswem, gaan Annie en Letty in die mooi, groot gastekamer van Barry se huis aantrek, en Annie wonder vir die hoeveelste keer wanneer Barry van plan is om te trou. Hy moet seker by tye vreeslik alleen wees hier op die plaas, en hy bly nou al amper drie jaar so alleen. Daar is so baie meisies – Letty ook onder hulle – wat maar te gewillig sal wees om mevrou te kom speel op Wag ’n Bietjie. Maar Letty sal nie deug nie. Sy is nie Barry se gelyke nie, nie in verstandelike of geestelike ontwikkeling nie. Self ’n boeredogter, hunker sy steeds na die dorp. Sy het ook nie gerus voor haar pa vir hulle ’n huis op die dorp gekry het nie en sy bring die meeste van haar tyd daar deur, wanneer sy nie by haar vriende rondkuier nie. Nee, nie Letty nie, hoewel Barry haar taamlik dikwels uitneem. Hy moet nou maar nie moedeloos raak en sommer ’n vrou vat net om ’n vrou te hê nie. Maar hy is gelukkig blykbaar nie haastig nie.

Vir haar gedagtes om van Barry na Johan te dwaal … nou ja, dit is doodnatuurlik. Maar sy kan nie haar gedagtes toelaat om by Johan stil te staan nie. Daar is te veel teenstrydige emosies. Daarvoor sal sy moet wag tot ’n meer geleë tyd, wanneer sy alleen en ongehinderd weer die hele gesprek kan oordink, die kaf van die koring kan skei.

Toe sy in die eetkamer kom, staan Johan, klaar aangetrek, voor ’n outydse portret wat teen die muur hang.

“Ek het nou net juffrou Annie Celliers hier ontdek.”

“Ja.”

“Wat bedoel jy met ‘ja’? Dis mos nie regtig jy nie.”

“Dis ook Annie Celliers, Barry se mammie.”

“Waarlik! Annie, jy lyk sprekend op haar.”

“Ja, almal sê so.”

“Staan ’n bietjie teen die muur hier by die portret. Ek wil nog kyk.”

Annie leun teen die muur en kyk kalm en rustig na hom terwyl sy oë van haar na die portret gaan. Dieselfde tintelende bruin oe, dieselfde fynbesnede gesiggie, die mond soet en ferm, op ’n haar eenders. Die hare van die Annie in die portret was anders gekam en sy het ’n pragtige rok vol valletjies en tierlantyntjies aangehad, anders kon sy die meisie gewees het wat hier voor hom teen die muur leun.

“Is dit nie wonderlik nie?” vra hy vir Barry wat toe net by hulle kom.

“Ja.” Barry steek sy hand uit en trek een van Annie se bruin krulle. “Nou kan jy verstaan waarom sy my so om haar pinkie kan draai.”

Die donkerte begin vinnig toesak toe hulle by Swartkoppies aankom waar die Steyns op hulle wag.

Swartkoppies se huis is nog soos dit deur die oorspronklike eienaar gebou is, ’n man sonder veel verbeeldingskrag of estetiese gevoel, wat selfs in die jare van welvarendheid nooit die begeerte gevoel het om sy huis te laat moderniseer of verfraai soos Wag ’n Bietjie en so baie huise in die distrik nie.

Rita en Frank is tydens die depressie getroud en vir ’n paar jaar was dit maar ’n worstelstryd vir die jong boertjie om kop bo water te hou. Daar was nie sprake van huis verbou of ander ingrypende veranderings aanbring nie.

Frank het voor hul troue ’n bietjie gehuiwer om die fyn nooientjie van hom, wat haar hele lewe in die dorp gewoon het en so lief was vir blomme, musiek en alles wat mooi is, te vra om in so ’n onaantreklike ou huis te begin. Die voorkamer veral was ’n somber, lelike kamer wat ’n mens dadelik tot swaarmoedigheid gestem het, en in die vorige eienaars se leeftyd het dit meestal toe gestaan.

Maar dis wonderlik wat ’n bietjie vindingrykheid en ’n paar blikke verf kan doen. Rita het die kamer met veelkleurige gordyne en kussings, helder blompotte, altyd gevul met die keurigste blomme, en ’n paar geweefde matte teen die mure omskep in ’n sonnige, opgewekte vertrek wat ’n getroue weerspieëling was van ’n natuur wat niks sombers en onaantrekliks kon duld nie.

“Wie sê ’n glasie bier?” sê Frank toe hulle in die huis is. “Of sal ons Bolander liewer ’n bietjie wyn verkies?”

“Nee, dankie, ’n biertjie sal lekker smaak.”

“Ek dog die Bolanders drink net wyn,” sê Rita. “Glase vol, sommer voor brekfis al.”

“Toe maar, laat staan julle nou vir Johan. Ek hou van die Bolanders,” sê Letty.

“Dankie, Letty. Kom sit hier by my dat ons saam die fort kan hou. Maar as julle boere ooit weer so teen sononder in die dorp is, kom drink gerus ’n glasie wyn saam met my. Ek verwag nou nie eintlik om ’n fynproewer hier tussen julle te kry nie, maar kom nogtans. Ek is seker julle het nog nie sulke wyn geproe nie.”

“Is jou pa ’n wynboer?” vra Frank.

“Wynboer, vrugteboer. Stook ’n bietjie brandewyn ook.”

“Ons sal verseker kom. Maar waarom help jy dan nie boer nie?”

“Ek het twee broers wat help. My kop het maar altyd weggestaan.”

“Kom, nog ’n glasie bier, Barry? Johan? En toe, Anna-patat, waarom so stil? Of luister jy maar as die grootmense praat?”

“Ek is so flou van die honger, ek spaar maar die bietjie krag wat ek nog het,” antwoord sy glimlaggend.

“Nou kom, ek voel net so,” en hy gryp haar hande en trek haar uit die stoel op.

Hulle het smaaklik geëet aan die geurige kos.

Ná ete moes hulle eers rus, en lui en tevrede het elkeen ’n sitplekkie op die stoep gesoek. Johan het langs Annie gestap en, seker nog toneelspelend, haar hand geneem.

“Kom, Annie, kom sit by my.”

Saam gaan hulle op die reisdeken op die lae muurtjie sit. Opgeruimd het die klomp gesels en, almal rugby-entoesiaste, is dit nie lank nie of hulle het vir Johan en Barry aan die gesels oor hul rugbyjare.

Die twee het jare lank saam rugby gespeel, eers vir die Hoër Jongenskool in die Paarl waar hulle saam was, en daarna op Stellenbosch, waar die koerante destyds vol was van hul sprankelende spel.

Toe Barry se kursus ná vier jaar voltooi was, moes hy plaas toe, want sy oupa, wat intussen die boerdery vir hom waargeneem het, was later van jare maar baie kranklik. Tog wou hy nie toelaat dat sy kleinseun huis toe moes kom voor hy sy landbougraad behaal het nie. En daarmee was Barry se rugbydae op ’n end. Hy het nog een of twee maal deelgeneem aan Curriebekerwedstryde, maar sy oupa se gesondheid het vinnig agteruitgegaan en die verantwoordelikheid van die plaas se bestuur het geheel en al op hom gerus.

Johan, wat twee jaar langer op Stellenbosch aangebly het, is later gekies om saam met die Springbokke na Engeland te gaan, en die jaar daarna het hy weer teen die besoekende Wallabies gespeel.

Annie het sonder om deel te neem aan die gesprek langs Johan gesit en luister na wat die ander gesels. En Johan se diep, rustige stem, nou opgewek soos hulle lewendige beelde uit die verlede oproep, en jeugdige lag toon ’n nuwe Johan aan haar.

Die ernstige jong skoolhoof, so pligsgetrou, so verdiep in sy werk, is vanaand weer ’n sorgelose student, wandelend langs die paaie van sy jeug, en Annie is vervul met berou as sy dink dat sy ook bygedra het tot die ergernis en bekommernis van sy lewe as hoof van Saailaagte se skool.

“En wat is dit met Annie vanaand? Het sy haar tong ingesluk?” vra Frank skielik, en Annie skrik wakker uit haar mymeringe.

“Annie is seker verveel deur die rugbypraatjies?” sê-vra Johan aan haar.

“Annie? Annie val nog gereeld van die pawiljoen af as die spel net ’n bietjie opwindend word,” spot Barry.

“Skaam jou, Barry. Oor ek daardie een dag misgetrap het …”

“En die ou vet Jood om die nek geval het,” lag Barry heerlik. “Ek wens julle kon haar gesien het. Die ou Jood was so aangenaam verras. Dit was verlede jaar se Curriebekerwedstryd so teen die einde van die spel toe Viljoen so pragtig deurgebreek het. Maar Annie het nooit die drie gesien wat hy gedruk het nie.”

Ná hulle Annie genoeg geterg het, verdwyn Rita ongemerk, skakel die radiogram aan en vra of hulle nie ’n bietjie wil dans nie. Byna onmiddellik kom die onweerstaanbare klanke van die Blou Donou-wals en geredelik staan hulle op. Johan se sterk vingers sluit weer om Annie se arm, terwyl hy vra: “Sal jy met my dans, Annie?”

En of dit nou buite op ’n boereplaas in die Karoo of in die beste danssale van die wêreld gedans word, die Blou Donou is en bly ’n verruklike wals, en Annie gee haar sonder verdere terughouding oor aan die betowering van die oomblik. Toe die musiek ophou, gaan sy staan, nog in die sirkel van sy arms, en doen moedswillig niks om los te kom nie.

Dis nie net Kobie wat kan koket speel nie, dink sy, en skielik bring die gedagte aan Kobie haar tot besinning. Vinnig staan sy terug en Johan laat haar onmiddellik gaan. Maar die volgende oomblik begin die musiek weer en Johan sê glimlaggend: “Ons toegif, Annie.”

’n Oomblik aarsel sy, toe sê sy: “Nie meer nie. Ek is dors. Ek gaan eers ’n bietjie water soek.”

Sonder ’n woord stap Johan saam met haar by die huis in.

Later moes Annie vir hulle sing. As sy kon loskom, sou sy liewer nie gesing het nie, want Johan se woorde is nog vars in haar geheue, en laat haar baie selfbewus voel. “’n Mooi klein meisietjie met ’n silwerstem.”

Maar hulle wil geen verskonings hoor nie en Annie moet klavier toe loop.

“Sing vir ons ‘The end of a perfect day’, Annie,” kommandeer Frank, lui uitgestrek op die rusbank.

Om Annie se mond verskyn ’n vlugtige spotlaggie, maar onmiddellik verdwyn dit weer.

“Goed, Frank,” willig sy in, en Rita begin die begeleiding speel.

En weer, soos tevore, voer die helder, lieflike stem Johan mee. Die ander is ook nog nie tevrede nie en sy moet weer en weer sing.

Toe het Rita koffie en toebroodjies bedien en daarna het hulle weer gedans.

“Gaan jy weer met my dans, Annie?” vra Johan ná hy met elk van die ander ’n beurt gehad het, en met ’n onverwagte glimlag stem sy in.

“Weet jy, meneer De Kock,” begin sy toe hulle wegdans, maar Johan val haar in die rede.

“Johan is die naam, Annie.”

“Weet jy,” herhaal sy sonder om ag te slaan op sy woorde, “dat ons na die laaste toetswedstryd teen die Wallabies in die Kaap sou gaan kyk het? Ons en Barry sou gaan. Ons plekke was bespreek en alles reg toe word sy oupa so siek dat ons nie kon gaan nie.”

“Ja,” sê Johan, “ek weet. Barry het my gesê. Hy is kort daarna dood, nie waar nie?”

“Ja,” sê Annie sag, en die opgewekte stemming is meteens weg.

Vir ’n rukkie dans hulle in stilte, toe sê Johan tergend: “Ek is jammer, Annie, dat julle nie Kaap toe kon kom nie.”

En omdat die diep, tergende stem ’n snaar in haar gemoed aanroer wat haar onverklaarbaar diep ontstem en wat sy nie verstaan nie, sê sy spottend: “Ja, ek verstaan jy het daardie dag rugbygeskiedenis gemaak. Maar was daar nie genoeg mense om jou luister te aanskou nie?”

Johan hou haar so ’n bietjie weg van hom af sodat hy in haar gesig kan kyk. Toe sê hy droog: “So? Ek sien die wapenstilstand is verby.”

“En wat dink jy van my toneelspel?” vra sy gemaak opgewek.

“Meesterlik,” antwoord Johan droog. “Eenvoudig meesterlik. Veral jou vertolking van ‘’n Volmaakte Dag’ vind ek onverbeterlik in die omstandighede.”

Vir ’n oomblik is sy stil, uit die veld geslaan, toe lag sy onverwags.

Die musiek jaag met versnellende tempo na sy einde toe en met ’n vinnige blik na die tergende gesiggie, trek Johan haar vaster teen hom aan en probeer haar van haar voete af dans. Vinniger en vinniger draai hulle tot Annie maar haar oë toemaak en haar ratse, vlugge voete hul gang laat gaan. Toe die musiek skielik met ’n oorverdowende geluid van tamboere afsluit, leun Annie, vir die eerste maal in haar lewe duiselig van ’n wals, laggend teen hom aan en wag dat die wêreld eers moet ophou om te draai.

“En wat gaan hier aan?” vra Frank, wat nie eens probeer het om saam tyd te hou nie, maar op matige pas enduit gewals het. “Hoe lyk dit vir my Annie wil jou nie laat los nie, Johan?”

Johan lag hardop. “Die Bolander het haar skoon van haar voete af gewals.”

Daar kom van alle kante uitroepe van verontwaardiging, maar die wêreld keer tot sy normale standvastigheid terug en Annie kan weer sonder steun alleen staan. Nog vol lag sê sy niks ter verdediging nie, maar stap glimlaggend saam met Johan na ’n rusbank, natuurlik en op haar gemak met hom soos sy nog nooit was van die eerste dag dat hy op Saailaagte aangekom het nie.

“Ek dink dis tyd dat ons huis toe gaan,” merk sy op, en so stadigaan begin hulle klaarmaak om te ry.

Barry ry saam met hulle tot op Wag ’n Bietjie.

“Het julle nou besluit om in vrede saam te lewe?” vra hy.

Annie, wat voor tussen die twee mans sit, neem haar toevlug tot stilte. Johan, ’n glimlaggie om sy mond, kyk voor hom in die pad en sê ook niks nie.

“H’mm. Ek dog dit was te goed om waar te wees. Sommer oëverblindery?”

“Ons noem dit ’n wapenstilstand,” verklaar Johan uit die hoogte.

“O so! Reken nou net! En hoe lank duur hierdie … e … wapenstilstand?”

“Net tot ons jou uit die motor gegooi het. As jy nie oppas nie, nie eens so lank nie,” sê Johan laggend.

“Ek dink nou glad nie eens julle is snaaks nie,” sê Annie kalm. “Het jy nou besluit om saam Boland toe te gaan, Barry?”

“Ja-a. Ek dink so.”

“Natuurlik gaan jy saam. Ek wil sien of jy nog ’n stok en ’n katrol kan hanteer soos die De Kocks vir jou geleer het,” sê Johan.

By die hek net voor hulle by Wag ’n Bietjie kom, klim Barry uit. “Ek stap hiervandaan, dankie, Johan. Ek is bly julle het gekom. Goeienag. Lekker rusie maak verder, hoor.”

Maar moeg ná die dag se bedrywighede het nie een van hulle lus gehad om die stryd van vroeër weer aan te knoop nie, en sonder om veel te praat is hulle huis toe.

“Kyk die haas se oë, Annie,” sê Johan ná so ’n ruk.

Annie kyk en sien die twee groot, blink oë, vir ’n paar oomblikke ’n volmaakte teiken vir sy vyande.

“Foei tog,” sê Annie, “dat sy eie oë hom nou so moet verraai. En hy soek maar net kossies om te bestaan. Ek is bly jy het nie ’n geweer hier nie.”

“Wie sê ek sou hom raak geskiet het?” vra hy lui.

“Ek dink maar jy sou.”

“Het jy ooit saam gaan springhase skiet, Annie?”

“Party maal saam met Barry as ons op die plaas gekuier het. As almal gaan, wou ek nie alleen agtergebly het nie, maar ag, ek was tog altyd so jammer vir die arme hase.”

Ná ’n rukkie sê sy halfskaam: “Ons is so bly Barry gaan saam met jou vakansie hou. ’n Mens kan hom omtrent nie wegkry van Wag ’n Bietjie af nie. En hy is darem so alleen daar.”

“Ek is bly hy kom saam. Ons het al vantevore een maal saam so ’n hengelvakansie gaan hou en dit vreeslik geniet.”

“Hoekom weet ek dan niks daarvan nie?”

“O, dit was baie lank gelede. Vyf jaar om presies te wees. Jy was toe maar nog ’n baie klein ou dogtertjie.”

Vyf jaar gelede! Toe was sy sewentien en het sy op die drumpel van ’n wonderlike nuwe lewe gestaan.

“Vyf jaar gelede,” sê sy dromerig, “toe was ek klaar groot.”

“Nee, Annie,” sê hy, sy stem laggend, “jy het maar gespeel jy is groot. Net soos jy vandag nog speel jy is groot.”

Dit moes hy nie gesê het nie. Ru ontwaak Annie uit haar droom. ’n Mooi klein meisietjie met ’n silwerstem. Maar bederf, kinderagtig, selfsugtig, onmanierlik.

“Die wapenstilstand is dus verby?” vra sy styf.

En nog steeds laggend antwoord hy: “Jy het dit self netnou al beëindig, Annie.”

En toe sy niks verder sê nie, voeg hy spottend by: “Dit kan tog onmoontlik nie wees dat jy vrede soek nie?”

“Natuurlik nie,” antwoord sy koel en kort daarna is hulle tuis.

Johan gaan saam met haar tot by die voordeur en sê vir oulaas nog tergend: “Ek hoop nie jy sal raas kry omdat jy so laat uitgebly het nie!”

Heuningsoet kom haar antwoord: “Ag, nee. Vader weet ek is in betroubare hande.”

Die volgende oomblik is sy weg en is die swaar voordeur gesluit.

Tryna du Toit-omnibus 1

Подняться наверх