Читать книгу Tryna du Toit-omnibus 1 - Tryna du Toit - Страница 13
ОглавлениеHoofstuk 10
Die tweede kwartaal het sommer uit die staanspoor teen ’n vinnige pas begin.
Die eerste rugbywedstryd om die Pienaar-beker sou binne ’n paar weke plaasvind en Johan en Abie was aan die begin byna elke middag met die seuns op die rugbyveld besig; Annie moes die dogters afrig vir korfbal, die skoolkermis was om die draai, die tenniswedstryde nog aan die gang, en met dit alles is geen verslapping van skoolwerk toegelaat nie. Want die seuns het baie gou al geleer dat Johan nie van plan was om rugby ten koste van hul skoolwerk aan te moedig nie. Daarvoor was hy al te lank onderwyser en hy het geweet dat die ouers maar baie skeef sou opkyk as hy ’n klomp voetbalgeesdriftiges oplei wat nie terselfdertyd die paal haal in hul eindeksamens nie.
Sy metode was eenvoudig. As ’n seun of dogter se werk nie die dag bevredigend is nie – vanmiddag geen voetbal- of korfbaloefening nie. Ouderwets, maar dit het wonderlik gewerk met die sportentoesiaste. Met die paar wat nie belang gestel het in sport nie het hy op ’n ander manier te werk gegaan, en Annie kon eerlik nie sien dat al die buitemuurse bedrywighede van die kinders, wat dit so geniet, enige afbreuk doen aan hul werk nie. Daarby was hul lewens voller, interessanter en veelsydiger as ooit tevore en is die belangrike vrye tyd goed in beslag geneem.
Dit was waarlik ook ’n plesier om die genot en geluk te sien wat die kinders uit die lewe put. Maria was natuurlik die ooglopendste van al die gevalle. Sy was klein en rats en het ’n natuurlike aanleg vir sport gehad, en sy het haar verlustig in die buitewêreld waarvan sy so lank uitgesluit was. Baie gou was sy ook heeltemal ’n ander meisie. Haar bleek gesiggie het geblom soos ’n rosie en die bruin oë het getintel van lewenslus en plesier. Haar werk was weliswaar nie so volmaak soos vroeër nie, maar ná die eerste paar weke het dit haar skynbaar nie veel gehinder nie. Annie het egter besorg begin opkyk toe die peil van Maria se werk stadig maar seker meer en meer daal.
Een middag, kort nadat die skool begin het, kom Johan, op pad na die voetbalveld wat net langs die korfbalveld geleë is, kyk hoe die meisies oefen. In ’n kort voetbalbroekie, bruingebrand ná sy onlangse vakansie, staan hy op die kantlyn en wag tot die meisies se rustyd aanbreek en Annie na hom toe kan kom.
“Dit lyk of julle goed vorder, Juffrou.”
“Ja, heeltemal goed. Ons verdedigers het nog ’n bietjie oefening nodig.”
Op dié oomblik het die korfbal waarmee die meisies besig was om doele te gooi na hul kant toe gespring en Maria het dit voor hul voete kom wegraap.
“Middag, Meneer,” glimlag sy skaam en is onmiddellik daarna weer weg met die bal.
Johan kyk haar agterna, sy oë sag, vol goedkeuring, en Annie kyk jaloers en ongelukkig weg. Dat Maria sy gunsteling is, het sy lankal vermoed, maar dit help nie om die onstuimige gewaarwordinge hier binne-in haar hart tot bedaring te bring nie.
“En toe, Annie,” vra hy, “was ek reg in Maria se geval?”
“Jy was reg,” antwoord sy. “Ek het ook nooit daaraan getwyfel nie. Maar het jy verwag dat Maria se werk so gaan verslap?”
“Ek weet self nie wat ek verwag het nie, Annie, maar al sou Maria nie ’n boek oopmaak nie, sou dit my nie hinder nie. Dit is maar die swaai van die slinger, van die een uiterste na die ander. Gee haar maar ’n bietjie tyd dat sy haar uitbaljaar, die ewewig sal wel herstel word. Op die oomblik is die sproete op Maria se neusie vir my mooier as die beste stukkie werk wat sy kan inhandig.”
Annie kan nie help om te glimlag nie. Hoe oplettend is Johan tog nie. Natuurlik het almal Maria se bloesende gesiggie opgelet, maar dit sal Johan wees wat die fyn sproetjies raaksien en dit vereenselwig met haar nuwe lewenskrag en energie.
“As jy die meisies wil laat oefen, Annie, kan ons die seuns ’n paar maal teen hulle laat speel. Hulle is ’n bietjie ru, maar sal tog die meisies verbasend goeie oefening gee.”
“Waarlik,” sê sy opgetoë, “dis ’n uitstekende plan. Ons het ook altyd so gemaak en ek wil juis so graag hê hulle moet as ’n span saamspeel en dan is hulle hopeloos te sterk vir die tweede span. Waar was my gedagte tog?”
“Muisneste maak maar so,” terg hy. “Goed, ons sal dan so ’n plan maak. Nou wag, ek moet gaan. Attie staan al baie ongeduldig op my en wag.”
Attie Botha staan so ’n entjie daarvandaan, hande in die broeksak, en kyk hoe die meisies oefen om doele te gooi, maar so elke nou en dan dwaal sy oë met ongeveinsde ongeduld na Johan, asof hy hom wil aanspoor om nou te kom sodat hulle met hul werk kan begin.
“Nog steeds die vurigste bewonderaar van ons Springbokskoolhoof,” sê Annie, maar glimlaggend, sonder die dorinkie wat so dikwels in die verlede haar woorde aan Johan vergesel het.
“Die eerste vriend wat ek op Saailaagte gemaak het,” antwoord hy, sy oë op haar gesig. “Alhoewel dit nie my eerste kennis was nie.” En daarmee is hy weg.
Gaan hy my dan nooit vergewe nie? wonder sy toe sy terugstap na die oefening, en moedeloos en verlangend sug sy. Die vakansie het alles maar net erger gemaak in plaas van beter soos sy gehoop het. Want haar gedagtes het hom agtervolg na sy wêreld van berge en valleie en wingerde en see, en gedurig het sy gewonder: “Wat sou hy nou doen? Waar sou hy nou wees?” En saans was dit altyd erger, want dan kon sy hom nie eens voorstel met ’n visstok in sy hand êrens langs die strand nie.
Dan wou sy liewer nie na haar verbeeldingsprentjies kyk nie en het sy maar haar toevlug geneem tot die een vermaaklikheid ná die ander, sodat sy saans doodmoeg in haar bed kon neerval, seker dat die slaap haar nie sou ontwyk nie.
Haar tante, wat al so lank aangehou het dat sy moet kom kuier, het dan ook ’n sug van verligting geslaak toe hulle Annie weer op die trein gesit het en gedink: “Mag, maar so ’n Karoo-nooientjie het darem vir jou energie.” En tevrede: “Ek is darem bly dat ons haar so ’n lekker tyd kon besorg.”
En die Karoo-nooientjie het so geduldig moontlik gesit terwyl die sogenaamde sneltrein hinkende en pinkende, op sy dooie gemak, deur die Transvaalse Hoëveld kruip, maar met elke draai van die wiele haar tog nader aan Saailaagte bring. En die hele tyd het sy gedink: “Ek verbeel maar vir my hy is so gaaf. Môre as ek hom weer sien, sal ek weet. Dan sal die verliefdheid verby wees.”
Maar dit was nie.
“Lekker vakansie gehou?” het hy vriendelik gesê, en toe laggend: “Ek wed ek weet hoeveel aande jy voor twaalfuur gaan slaap het, Annie.”
“Hoeveel?”
“Nie een nie.”
Hyself het bruin en gesond gelyk en dit was nie nodig om te vra of hy sy vakansie geniet het nie.
“Het jy meneer Du Pré se vis saamgebring?” het sy toe maar gevra.
“Ja, ’n pragtige kabeljou van vier en sestig pond. En dit was nie eens die grootste vis wat ons gevang het nie. Barry het ’n steenbras uitgehaal waaroor hy vir die res van sy dae kan gesels. Hy sal seker graag vir jou vertel hoe hy gesukkel het om die boetie uit die water te kry.”
“Ek sal graag wil hoor,” het Annie gesê. Ek is ook van plan om Barry nog ’n paar dingetjies te vra, dink sy. Ek sal net versigtig te werk moet gaan.
As Barry moet agterkom …