Читать книгу Tryna du Toit-omnibus 1 - Tryna du Toit - Страница 4

Оглавление

Hoofstuk 1

Die pad was lank, eentonig en stowwerig en die somersonnetjie het kwaai gesteek, maar hy is nou amper daar; nog net sowat vyf myl as hy dit nie mis het nie. Seker net agter daardie rantjie, mymer hy, en word meteens weer met onsekerheid vervul by die besef wat agter daardie rantjie lê.

Want Johan de Kock, agt en twintig jaar oud, Springbokrugbyspeler, onderwyser, is op pad na Saailaagte, ’n klein dorpie in die hartjie van die Karoo om die verantwoordelike en belangrike pos as hoof van die hoërskool te aanvaar. Sy voorkop wil klam word wanneer hy net daaraan dink. Wat hom besiel het om aansoek te doen vir die pos weet hy nie. Seker maar die rusteloosheid van siel en gees wat so kenmerkend van die Afrikaner is en wat hom vanmelewe sommer die wa laat oppak en die onbekende laat intrek het. En hy het nie eens die ekskuus gehad dat hulle hom die duiwel in gemaak het, soos die ou boer darem gehad het nie. Nee, sommer lus gekry om te trek. Hy het ’n baie lekker betrekking gehad by een van die beste skole in die Boland, goeie vriende, sy ouerhuis was daar, hy het heerlik rugby en tennis gespeel, tyd en geleentheid gehad vir sy geliefde visvang, toe die swerflus hom beetgepak en skielik hier in die hartjie van die Karoo gelos het om die wrange vrugte van sy impulsiewe daad alleen te kom pluk.

Al mymerend ry Johan al hoe meer na die middel van die stofpad toe sonder om dit te besef, maar toe hy die draai om die koppie nader, sien hy wat hy doen en bring die motor weer stadig na sy kant van die pad toe. En gelukkig ook! Want ’n blink blou gevaarte kom die koppie om gestorm, ja, pylreguit op hom af. Hy het net tyd om sy motor na links te ruk toe die ander met skurende bande teen hom verbyvlieg, sy agtermodderskerm vang en ’n hele ent daarvandaan met skreeuende remme tot stilstand kom. Johan hou ook stil en klim uit om die skade te betrag. Die spoggerige blou motor ry reeds agteruit, blykbaar nie te erg beskadig nie, en hy kan intussen die skade aan sy motor bekyk. Die modderskerm is lelik ingeduik en opgefrommel. Kon erger gewees het, dink hy, die kreukels kan weer uitgeslaan word, maar magtie, as dit tien sekondes vroeër gebeur het toe ek nog amper in die middel van die pad was, was ons sowaar almal bokveld toe!

Die motor hou stil en ’n meisie spring agter die stuur uit. ’n Baie oulike meisie – as mens ’n oomblik vergeet dat sy hom ’n minuut gelede so amper-amper verongeluk het. Ook maar asvaal geskrik, dink Johan, toe hy die wit gesiggie en beangste bruin oë sien. Maar voor hy of die meisie ’n woord kan sê, kom die man wat voor by haar gesit het nader en sê, ewe hartlik: “En toe, ou kêrel, wat het dan gebeur?”

Johan kyk hom ’n oomblik aan. Die jong man is van middelmatige lengte, lig gebou, met mooi reëlmatige gelaatstrekke. Waarlik ’n aantreklike kêrel. Hy is onberispelik uitgedos na die jongste mode. Johan, wat al van vieruur vanmôre op pad was, is deeglik bewus van sy stowwerige en gekreukelde voorkoms. Maar al lyk ek soos ’n plaasjapie, dink hy, beteken dit nog nie dat ek onder ’n kalkoen uitgebroei is nie. Ek wonder wat die meneertjie se plan is. Dis tog selfs vir ’n swaap duidelik wat gebeur het.

Hardop sê hy: “Hoe lyk dit vir jou, Meneer?”

Met sy hande in die broeksak, bekyk die jong kêrel die vernielde modderskerm uit die hoogte. “Dié ou paar duikies kan maklik uitgeslaan word. Maar kyk na my pragtige nuwe motor. Magtig, dit het nog nie eens duisend myl geloop nie.”

En wat het dit met my te doen? wonder Johan. Die pragtige motor se agtermodderskerm is baie meer beskadig as Johan se ou motor s’n. Maar dié ou duikies sal ook maklik uitslaan. En in elk geval, wie se skuld is dit? Johan kyk na die meisie wie se skuld dit eintlik is en sien dat sy baie bleek is. Haar hand is styf om die motor waaruit sy pas geklim het se deur geklem en dit lyk vir Johan asof sy enige oomblik inmekaar kan sak. Sonder ’n woord draai hy om, gaan haal sy watersak wat gelukkig nog ’n bietjie water in het, en gooi ’n glasie vol water.

“Drink maar gerus ’n bietjie water, Juffrou.”

“Dankie,” fluister sy en neem die glasie.

Die jong kêrel staan nog altyd met ’n misnoegde uitdrukking op sy gesig na sy mooi motor en kyk, blykbaar nie besorg oor sy maat nie. Johan vererg hom. “Wel, Meneer,” sê hy koel, “daaraan moes jy gedink het voor julle uitgery het. As jy so ’n gevaarlike speelding vir ’n jong kind gee, moet jy bereid wees om die gelag te betaal.”

Die meisie stik meteens in die water en die kêrel word rooi van ergernis. “Wat bedoel jy?” vra hy kwaad, alle hartlikheid vergete, maar Johan slaan geen ag op hom nie.

“Kan ek miskien help?” vra hy ewe simpatiek vir die meisie wat nog hoes en stik. “My ma het ons gewoonlik op die rug geslaan as ons so verstik.”

’n Paar vlammende bruin oë waarsku hom dat dit heel moontlik sy laaste daad op aarde mag wees as hy so iets waag. Vir ’n paar oomblikke verwag hy dat die res van die water in die glasie in sy gesig gaan beland. Toe gooi sy vererg die water op die grond, stop die glas in sy hand en draai haar rug op hom. Maar Johan merk met voldoening dat sy so ergerlik is dat sy skynbaar van haar skrik herstel het.

“Kom, Piet,” sê sy, nog steeds aan die hoes. “Laat ons gaan. Kan jy nie die man ’n tjek gee nie? Dit was tog my skuld, en Vader sal dit met jou regmaak.”

Piet kyk háár nou weer vererg aan. “Ek is glad nie so seker dit was ons skuld nie, en ek is beslis nie van plan om die man ’n tjek te gee nie. Dit sal in elk geval maar ’n paar sjielings kos om die modderskerm weer reg te kry.” Hy haal sy sakboek uit, neem ’n visitekaartjie daaruit en oorhandig dit aan Johan. “As jy met my in verbinding wil tree, hier is my adres.”

Johan se grys oë rus ’n oomblik op die kaartjie, toe neem hy dit. “Dankie, Meneer,” sê hy hoflik. Hy sit die kaartjie in sy sak. “Daar lê ons spore baie duidelik op die pad. Ek glo nie ’n verantwoordelike persoon sal vir ’n oomblik twyfel wie se skuld dit was nie. Maar dit was nie my bedoeling om te kibbel of te twis nie. Ek het maar hoflikheidshalwe stilgehou – ons maak maar so in die wêreld waar ek vandaan kom. Slaan jy maar jou ou duikies uit, ek sal myne uitslaan. En die kaartjie sal ek hou as ’n herinnering aan ’n ontmoeting met ’n dametjie wat my eers amper doodgery het en my toe nog gruwelik beledig het. Tot siens.”

’n Oomblik aarsel die meisie, haar gesig skaam en ongelukkig, maar voordat sy ’n woord kan sê, skakel Johan sy motor aan en ry stadig weg.

“So ’n Bolandse meneertjie!” sê Piet Grové terwyl hy die motor met die Kaapse nommer agterna kyk. “Wat sou hy hom verbeel!”

“Nee, Piet, die man is reg. Ek skaam my waarlik oor my gedrag.”

“Bog. Hy het maar net gekry wat hy gesoek het. Kom klim in. Ons kan tog nou niks aan die motor doen nie. Ek sal dit môreoggend vroeg garage toe neem.” Hy kyk haar aan en vra: “Jy het tog nie regtig geskrik nie, of hoe? Sal ek nou die stuurwiel vat?”

“Ja, asseblief. Natuurlik het ek geskrik. En ek is baie kwaad vir jou, Piet. As jy my nie so gepla het nie sou ek nooit so onverskillig gery het nie. Ek wil nie nou verder ry nie. Neem my asseblief huis toe.”

“Moenie kaf praat nie, Annie. Waarvoor sal jy jou aanstel? Natuurlik gaan ons verder ry.”

Maar die meisie dring daarop aan dat hulle moet omdraai en dis nie lank daarna nie of die blou motor is ook weer in die pad met sy blink neus in die dorp se rigting.

Annie se ouers het pas op die koel, breë stoep uitgekom om koffie te drink toe hulle voor die huis stilhou.

Andries Celliers is groot en sterk gebou met pikswart hare en vriendelike bruin oë. ’n Stil, ingetoë man met ’n fyn humorsin en ’n innige voorliefde vir alles wat eie is aan sy volk en taal. Sy mooi, slanke vrou lyk amper te jonk om die ma van so ’n groot dogter te wees. Hulle kyk verbaas op toe Annie en haar gesel – nog met ’n ietwat nukkerige uitdrukking op sy gesig – daar aankom en wil natuurlik dadelik weet wat dan voorgeval het om die besoek aan Annie se neef, Barry Retief van Wag ’n Bietjie, te verhinder.

Annie vertel hulle die hele storie, eers met ’n mate van kalmte, maar hoe verder die storie vorder, hoe meer opgewonde raak sy. Grotendeels omdat haar ouers so ontsteld lyk, maak sy die ongeluk ligtelik af en beklemtoon die vreemdeling se onhebbelike gedrag.

“Verbeel Moeder,” gaan sy voort, “hy sê vir Piet as hy dan so ’n gevaarlike speelding vir ’n kind wil gee, moet hy bereid wees om die gelag te betaal.” Onwillekeurig vonkel haar bruin oë en ’n fyn glimlaggie verjaag die erns van haar gesig.

Ten spyte van hul onrus kan Annie se ouers hul lag nie hou nie. Andries Celliers lag dat hy die trane uit sy oë moet vee en Annie haal weer vryelik asem. Blykbaar is die hele episode verby. Maar sy hou nie rekening met haar pa nie. Hy hou meteens op met lag, kyk haar ondersoekend aan en vra: “Maar wie se skuld was dit nou eintlik, Annie?”

Piet wil nog praat en ’n ontwykende antwoord gee, maar Annie antwoord verleë, dog sonder aarseling: “Ek dink dit was alles my skuld, Vader.”

“En wie was die man?”

Annie antwoord nie. Piet skuif ’n bietjie ongemaklik rond op sy stoel. “Wel, om die waarheid te sê, oom Andries, ons het nie gevra nie. Alles was so gou verby. Maar ek het hom my visitekaartjie gegee. Die skade was ook so gering …”

Annie val hom in die rede. “Is daar nie vir ons ook koffie nie, Moeder? En kom ons vergeet nou van die ongeluk en die nare man. Ons sal hom tog seker nooit weer sien nie.”

“Ek hoop so, my kind. Natuurlik is daar koffie. Gaan haal net vir julle koppies. Kaatjie is nie vanmiddag hier nie.”

“Kom, Piet, kom help my dra.” En die twee is die huis in.

Andries Celliers kyk hulle peinsend agterna. Mens se bekommernis oor jou kinders is ook nimmereindigend. As hulle klein is, is dit tande kry wat jou slaaplose nagte besorg; later, as hulle groot is, en alles van oorpyn tot groen appelkose ’n beurt gehad het om jou uit die slaap te hou, is die bekommernis maar nog daar. Nou is dit net baie erger. Daardie ou bekommernissies was nietig in vergelyking met vandag s’n. Annie was maar altyd ’n klein waaghals, maar mens verwag tog dat die jare ’n bietjie omsigtigheid sal meebring, veral aangesien sy nou onderwyseres by die hoërskool is. En dokter Piet Grové, ten spyte van sy aantreklike voorkoms, sy sjarme, is nie die man wat Andries sou uitsoek as metgesel vir sy dogter nie. Die enigste seun van welgestelde ouers, vertroetel en verwen sedert sy jongste jare, het hy sy lewe lank alles gekry wat sy hart begeer. Hy het die beroep van tandarts gekies en heelwat tyd vermors op universiteit en in die buiteland – omdat dit nie altyd so voorspoedig gegaan het met die studie nie – maar eindelik het hy klaargekry en hom ’n paar maande gelede op Saailaagte kom vestig waar sy ouers, vroeër in Kaapstad woonagtig, hulle ’n paar jaar gelede al gevestig het weens sy ma se swak gesondheid.

Dokter Piet Grové is ’n goeie tandarts en hy het gou ’n goeie praktyk gehad. Heel gou ook het sy kennersoog op Annie geval en het hy haar begin uitneem, eers net af en toe, maar later al hoe meer. Hy kan baie goed tennis speel, goed dans, kaartspeel, en hy is seker ’n aantreklike maat vir enige jong meisie. Saailaagte se deure is dan ook wyd oopgestel vir hom, maar dit verskaf Andries Celliers geen genoeë dat hy blykbaar in sy dogter sin gekry het nie.

Tryna du Toit-omnibus 1

Подняться наверх