Читать книгу Tryna du Toit-omnibus 1 - Tryna du Toit - Страница 7

Оглавление

Hoofstuk 4

“O, Moeder,” sê Annie toe sy die middag die eetkamer binnegestap kom, “weet Moeder wie die nuwe skoolhoof is?”

Stienie Celliers sit voor die oop venster en brei in ’n ou stinkhoutstoel, nog deur haar pa self gemaak. Haar mooi gesig, glad en sonder rimpels, het liefderik opgehelder toe Annie die kamer binnekom.

“Natuurlik weet ek, my kindjie. Ek het dan al so baie van hom gehoor. Barry se vriend, meneer De Kock, nie waar nie?”

“Ja, Moeder,” sê sy ongeduldig, “maar ek bedoel dit nie so nie.” Sy aarsel en meteens merk haar ma dat iets haar hinder. Die mooi bruin oë is besorg.

“Wat is dit, Annie? Wat makeer?”

“O, Moeder, die man van wie ek Moeder-hulle gister vertel het, die vreemdeling in wie se motor ek vasgery het, is niemand anders as meneer De Kock nie.”

Verslae kyk haar ma haar aan.

“My kindjie! Maar dis ongelukkig. En was hy baie kwaad?”

Annie skud haar kop en ’n flou glimlaggie verskyn op haar gesig.

“Nee, Moeder, hy was nie kwaad nie. Hy het niks gesê nie, maar hy kon my natuurlik ook nie voor al die mense inklim nie. Ek het gister seker maar ’n baie treurige indruk op hom gemaak.”

“Maar hy was dan so onhebbelik teenoor julle, Annie,” herinner haar ma haar. “En so erg is dit ook nie. Enigeen kan ’n ongeluk oorkom en dan is ’n mens so oorbluf dat jy vir die oomblik nie weet wat jy doen nie. Ek sal Pappie vra om met hom te gaan praat,” probeer sy vir Annie troos.

“Wie moet Pappie gaan spreek?” vra meneer Celliers opgeruimd toe hy met Andries kort op sy hakke by die eetkamer inkom. Hy groet sy vrou en sy dogter en kyk hulle vraend aan.

“Dag, Moeder,” groet Andries. “Hallo, Annie. En toe, wat dink jy van ons nuwe skoolhoof? Ek vertel nou net vir Vader hoe gaaf hy is. En dat ons gaan RUGBY speel,” eindig hy triomfantelik. Hy neem ’n piesang van die buffet en begin daaraan eet.

“Andries, ons gaan nou eet,” probeer sy ma keer, maar die piesang is al halfpad weg.

“Wie moet ek gaan spreek, Stientjie?” vra meneer Celliers weer.

“Die nuwe skoolhoof wat so gaaf is en wat Annie gister amper doodgery het.”

Andries, besig om ’n tweede piesang af te skil, draai stadig om na Annie, stomme verbasing op sy gesig te lees.

“Annie!” sê hy, diepe teleurstelling in sy stem.

“Waarlik waar!” sê meneer Celliers, en skielik begin hy lag. “Was die man wat julle gister amper verongeluk het die nuwe skoolhoof? Die man wat jou op die rug wou slaan toe jy gestik het! En julle het nie eens die moeite gedoen om sy naam uit te vind nie. Dis vir jou vergelding, nè Annie?”

Die omstandighede waarmee die ongeluk gepaard gegaan het, is vir hom nou eenmaal te snaaks, en in die lig van vandag se onthullings vind hy dit éérs ’n kostelike grap. Maar vir die res van sy gesin is daar niks snaaks aan die hele episode nie en Andries wonder brom-brom wat die hoof van hom sal dink as hy moet uitvind dat Annie sy suster is.

“Wat het hy gesê, Annie, toe hy jou sien?” vra meneer Celliers nuuskierig.

Daar is ’n onwillige laggie om Annie se mond toe sy antwoord: “‘Goeiemôre, juffrou Celliers. Het ons nie al vantevore kennis gemaak nie?’”

“En toe, wat sê jy?”

“‘Heel moontlik, meneer De Kock. U gesig lyk my baie bekend.’”

Meneer Celliers lag weer tot hy die trane uit sy oë moet vee, en sy gesin moet maar saamlag.

Mevrou Celliers lui die klokkie vir ete.

“Hou nou op met lag, Andries. Kom ons gaan eet voor die kos bederf. Toe maar, Annie, ek sal sorg dat Pappie meneer De Kock gaan spreek en alles regmaak. Moenie jou verder daaroor bekommer nie, hoor! Was nou net gou julle hande, hier is die kos al.”

En teen wil en dank moet meneer Celliers die middag die nuwe skoolhoof gaan spreek. Hy is ook glad nie so onwillig soos hy hom voorgedoen het nie, want hy wil nogal graag met die man kennis maak.

Hy tref hom gelukkig in sy studeerkamer aan, besig om te werk by tant Sannie se lessenaar.

“Meneer de Kock? Ek is Andries Celliers.”

Hy gaan sit in een van die gemakstoele wat Johan hom aanbied terwyl hy die jong hoof noukeurig bestudeer. Hy is al jare lank prokureur hier op Saailaagte en die sukses wat hy in sy werk behaal het, is nie soveel te danke aan die grondige wetskennis wat hy besit nie as aan sy nog grondiger mensekennis. Die aantreklike jong man hier voor hom dra sy onmiddellike goedkeuring weg. ’n Besliste jong man, ’n man van aksie en tog met die oë van ’n dromer en ’n idealis. ’n Man wat drome sal droom en die geleentheid sal skep om sy drome in dade te verander. Sy ou maat en vennoot, Ben Pienaar, kan van geluk spreek dat die jong man, in sy vlug na sy eindelike bestemming, hier op hul dorpie neergestryk het juis in dié kritieke tydperk van hul skool se geskiedenis.

Lank sal dit seer sekerlik nie wees nie!

Johan de Kock, al gewoond aan die geïnteresseerde, opsommende blikke van almal wat hy deesdae teëkom, kyk self ook die man hier voor hom met buitengewone belangstelling aan. Klaarblyklik ’n intelligente, ontwikkelde man en beslis ook die pa van die juffroutjie op sy personeel en die seun Andries in die matriekklas.

Wat sou die rede vir die vroeë besoek wees, of het hy maar net kom kennis maak?

“Meneer de Kock,” sê Andries Celliers nou, “ek kom eintlik vanmiddag hier as ’n afgevaardigde.”

Johan glimlag effens. Nou weet hy waarom meneer Celliers kom besoek aflê het.

“Ek sien jy kan raai waarom ek hier is. Meneer de Kock, ons hele gesin is baie jammer oor wat gebeur het. My dogter het ons gister van haar ongeluk vertel en vandag kom sy baie ontsteld uit die skool met die nuus dat die vreemdeling van gister haar nuwe hoof van vandag is.” Onwillekeurig plooi ’n laggie sy mondhoeke, maar hy vervolg ernstig, met prysenswaardige kalmte: “Volgens Annie is dit geheel en al haar skuld. Gewoonlik is sy baie versigtig en sy kan goed motor bestuur. Daar moes êrens ’n storende invloed gewees het wat aanleiding tot haar onverskilligheid gegee het.”

Johan merk op dat meneer Celliers nou nie meer lag nie, inteendeel, daar is ’n ernstige, half bekommerde uitdrukking op sy gesig te bespeur en Johan wonder meteens of die kêrel dan nie sy vaderlike goedkeuring wegdra nie.

Hardop sê hy: “Wel, dis nou verby, meneer Celliers, en ons almal het baie gelukkig daarvan afgekom. Kom ons vergeet dit maar.”

Meneer Celliers kyk hom stip aan.

“As jy dit kan vergeet, meneer De Kock, sal ek baie bly wees. Maar ek twyfel of jy dit dadelik sal kan doen. ’n Mens kan nie help om bevooroordeeld te wees teen so ’n persoon nie. Ek wed die ontmoeting was vir jou net so ’n onaangename verrassing as wat dit vir Annie was. Eerlik nou?”

Johan aarsel ’n oomblik, maar erken toe laggend: “Vir ’n oomblik, miskien. Maar om ’n heeltemal ander rede as wat u meen. U sien, ek het verwag – waarom weet ek nie, maar ek het – dat die dame op my personeel ’n bejaarde, ervare dame sal wees, en toe kom dié dogtertjie …”

“Onverantwoordelik, onverskillig, ligsinnig, onervare?” val meneer Celliers hom in die rede. “Dit moes ’n skok gewees het, meneer De Kock.”

“Meneer Celliers,” protesteer Johan, maar Andries Celliers val hom weer in die rede.

“Toe maar, meneer De Kock,” sê hy glimlaggend, “ek het nie ’n pleidooi vir my dogter kom lewer nie. Sy verdien die verleentheid waarin sy beland het ten volle, en sy sal haar self by jou in ere moet herstel. Ek is net baie jammer dat so ’n onhartlike verwelkoming jou te beurt moes val. My vrou wil graag hê dat jy gou een aand by ons sal kom eet sodat ons in minder ongunstige omstandighede nader kennis kan maak.”

“Dankie, meneer Celliers, ek sal graag kom.”

“Gaaf. En dan moet jy toelaat dat ek die skade aan jou motor herstel.”

“Nee, meneer Celliers, dit is nie nodig nie.”

“Asseblief, meneer De Kock.”

“Die skade is so gering …”

“Nie een van ons sal ooit gelukkig voel as ons dit nie doen nie. Kom ons neem sommer nou die motor na die garage.”

Ná nog ’n bietjie teëstribbeling willig Johan in en nie lank daarna nie is die twee op pad na die garage.

“So ’n meisiekind moes darem gery het!” is al wat meneer Celliers sê toe hy die motor sien. “Geen wonder dat jy so kwaad was nie.”

“Ek was nie kwaad nie.”

Meneer Celliers se oë flikker ondeund. “Annie verseker my dat jy onhebbelik was … daarom dat sy ook so onhoflik was.”

Johan kyk vinnig na meneer Celliers, toe glimlag hy ook effens.

“Meneer Celliers, u dogter was so wit geskrik dat ek bang was dat sy enige oomblik flou kon word. En dan sou ek waarlik nie geweet het wat om aan te vang nie. Ek het maar probeer om haar so kwaad te maak dat sy die skrik kon vergeet, en dit lyk tog of ek daarin geslaag het. Moet asseblief net nie vir haar sê nie.”

Meneer Celliers se lag is diep en aansteeklik. “Nee, ek sal nie vir haar sê nie. Ons sal maar die hele geselsery van vanmiddag as vertroulik beskou. Maar waar was Piet Grové die hele tyd?”

“Hy was blykbaar so besorg oor die skade aan sy spoggerige motor dat hy nie juis opgelet het in watter toestand u dogter verkeer het nie,” antwoord hy, sy stem sonder enige gevoel.

Johan het toe die Vrydagaand by die Celliers’s gaan eet. Barry Retief was ook daar en hulle het ’n genoeglike aand saam deurgebring. Barry het natuurlik ook sommer met die intrapslag vir Annie begin terg oor die ongeluk.

“Toe, Johan, ek hoor Annie het jou so ’n warm ontvangs gegee.” Maar toe hy sien hoe verleë sy en Andries word, het hy dit maar gelos.

Annie het inderdaad self nog geen woord met Johan de Kock gewissel oor die ongeluk nie, daarom dat sy so bitter verleë is.

Sy het Piet Maandagmiddag gebel en hom gevra om saam met haar hul skoolhoof te gaan spreek, maar Piet het botweg geweier.

“Ek skuld hom nie ’n verskoning nie, en jy ook nie. As hy wil hê ek moet sy motor regmaak …”

“Dis nie dit nie, Piet. Vader sou vanmiddag gaan om sy motor te laat regmaak …”

“Nou wat wil jy dan nog hê, Annie?” vra hy ongeduldig. Om die een of ander rede is Piet lelik gebelg.

“Ek moet heeldag saam met hom werk, Piet. Dit sal tog nie aangenaam wees as daar ’n gevoel tussen ons is nie.”

“Het hy jóú al om verskoning gevra?”

“Toe maar, Piet, laat staan maar.” En sy het afgelui en besluit om hom maar op eie houtjie om verskoning te vra sodra sy ’n gepaste geleentheid kry.

Maar Johan het dit nog so druk op skool gehad dat sy hom nooit alleen te sien kon kry nie en sy kon hom tog nie in die teenwoordigheid van ’n klomp ander mense bydam en sê sy is jammer oor die on-geluk nie. Haar pa het hom nou wel gaan sien en die motor laat regmaak, maar dit skeld haar nog geensins vry van haar verpligting nie.

Daarna het Annie, ook maar gewoond dat haar weg deur die wêreld sover moontlik vergemaklik word deur die liefde en sorgsaamheid van haar ouers, nooit sover gekom om ’n oomblik te vind om Johan te gaan sien nie. Hy het nooit ’n woord gerep in verband met die ongeluk om haar sodoende te help nie, en die woorde van spyt het toe maar in haar hart weggebêre gebly. Dit het byna begin lyk asof hulle vir altyd daar weggesluit sou bly.

Die eerste personeelvergadering is gehou aan die einde van die tweede week nadat die skool begin het, net ná die elfuurteepouse.

Die twee skole het ouder gewoonte saam tee gedrink: in die somer in die laerskoolgebou waar hulle met lekker weer op die stoep kon sit en in die winter in die sonnige personeelkamer van die hoërskool.

Annie, wat die dag net voor elfuur ’n periode vry gehad het, het so ’n rukkie voor die ander by die laerskool aangekom en reguit na die geïmproviseerde kombuis toe gegaan om te kyk of sy kan hand bysit. Volgens reël was die dames om die beurt verantwoordelik vir die maak en die bediening van die tee, maar gewoonlik was daar een of twee by om te help of sommer net rond te staan en geselskap te hou.

Liesel Roux was die dag besig om tee te maak en Kobie Louw het rondgestaan en gesels.

“Hallo,” groet Annie hulle. “Het jy hulp nodig, Liesel?”

“Nee, dankie, ek is amper klaar. Miskien kan jy solank die koek sny.”

“Koek! Waar?” vra Kobie. “Hoekom het jy nie lankal gesê nie?”

“In daardie blik,” sê Liesel kalm. “Mevrou Badenhorst het dit vanmôre gestuur. Ons was darem vir jou gelukkig vandat die skool weer geopen het, nè?”

“Ja,” stem Annie in terwyl sy die mooi versierde koek aanskou. “En dié een is vir jou ’n pragstuk. Ek wens al die ouers is so waarderend soos mevrou Tim Badenhorst. Timmie is in jou klas, nie waar nie, Liesel?”

“Ja, en ’n regte klein rakker. ‘Klein Ondeug’ kon vir hom geskryf gewees het. Maar ek vermoed die koek is nog ter ere van jou nuwe hoof, Annie. Ons het nog feitlik elke dag van die kwartaal iets gehad om te eet … en dit is tog iets seldsaams. Wat sal ons vir hom sê as die koek nie meer kom nie, Annie? Hy verwag nou miskien dat dit altyd so sal gaan,” terg Liesel.

“Ag, loop, jy’s verspot, Liesel. Mevrou Badenhorst het nie eens kinders in die hoërskool nie. Watter belang het sy nou by die nuwe hoof?”

“Haar mooi blouoogdogter, Elsabe, het miskien baie belang by hom,” kom dit blitsvinnig van Kobie. “En terwyl ons nou op die onderwerp is, Annie, gaan jy jou handjies en jou ogies van die nuwe hoof afhou en hom vir ons laat staan, of stel jy ook belang?”

Annie het stilswyend die koek uit die blik getel en daaraan begin sny.

Dit is Liesel wat vererg vir Kobie berispe: “Skaam jou, Kobie. ’n Mens praat mos nie so nie.”

“Waarom nie? Ek wil mos maar net weet. Sy het hom byna katswink gery en sodoende ’n blywende indruk gemaak; nou werk sy nie alleen die ganse dag saam met hom nie, maar sy het nog waarlik waar ’n neef wat saam met hom skoolgegaan het en op wie se mooi plaas hulle kan gaan kuier. Ek vra maar, dan weet ek mos of ek sal wedywer, of nie.”

Annie is bitter vererg, maar sy is ook jammer vir Kobie, want die uitlatings wat so onverbloemd gekom het, het uit ’n seer hart gespruit. Sy is egter nie van plan om vir Kobie te wys dat haar steke haar raak nie. Dit is nou wel miskien as ’n grap bedoel, maar ’n grap met ’n tamaai groot angel in sy stert.

En die rede daarvoor is Piet Grové.

Piet het Kobie in die begin, ná hy op Saailaagte gekom het, dikwels uitgeneem, maar in die jongste tyd bepaal hy sy aandag byna uitsluitlik by Annie, en dit is net as Annie die aand ’n ander afspraak het – en sy sorg met taamlik gereelde tussenposes daarvoor – dat hy Kobie soms uitneem. En Kobie weet, soos ’n vrou maar intuïtief dié dinge weet, dat sy maar net ’n plaasvervanger is, dat Piet die eerste die beste geleentheid sal aangryp om hom weer na Annie te haas. En in haar hart het ’n grief teen Annie ontkiem. Aangevuur deur haar jaloesie het dit gedreig om haar hele uitkyk op die lewe te vertroebel.

Annie sny dus maar die koek klaar, uiterlik kalm, innerlik erg ontstem deur Kobie se onverdiende aanval en tog terselfdertyd jammer vir die meisie wat so sonder skroom haar wonde aan die wêreld kan blootlê.

“Kobie,” sê sy nou net om iets te sê, want sy kan sien dat Liesel ook ongemaklik voel oor Kobie se uitlatings, “voor jy dinge verder reël, dink jy nie dit sal miskien latere teleurstelling voorkom as jy eers uitvind of die man ’n nooientjie in die Boland agtergelaat het, of nie?”

“Het hy ’n nooi? Is hy verloof?” vra sy, en met moeite verberg sy haar teleurstelling.

Liesel lag: Kobie het dít nie verwag nie.

“Nee,” protesteer Annie sag, “ek het nie gesê hy is verloof nie. Ek het maar net gesê jy moet uitvind.”

Maar Kobie is oortuig daarvan dat Annie weet waarvan sy praat en ongeduldig stoot sy haar hare van haar voorkop weg. Kobie kan soms so mooi lyk met haar ligte hare wat sy lank tot op haar skouers dra, haar blou oë en pragtige vel.

“Toe maar, Kobie,” troos Liesel laggend, “solank ’n voël vlieg, kan enigeen nog skiet.”

“Ag, julle is verspot,” sê Kobie gesteurd. “’n Mens kan ook nie eens ’n grap maak nie.”

Meteens steek Abie Greef sy kop om die deur.

“Wat babbel julle vroumense weer vandag so? Is die tee nog nie klaar nie?”

Annie sien dat sy oë reguit na Liesel gaan en op haar rus. Die statige, kalm Liesel met haar blonde hare, rustige blougrys oë en innemende glimlag. Liesel is al meer as ’n jaar kindertuinonderwyseres op Saailaagte, maar dit is eers in die jongste tyd dat Abie skynbaar bewus geraak het van haar statige sjarme.

En nou is ’n ander kêrel hom ’n ent voor.

“Die tee is al lankal klaar, ons het net gou ’n koek gebak,” skerts Annie. En sy voeg by, waarom weet sy nie: “Nié ter ere van die nuwe hoof nie.”

Sy tel die koek op om dit uit te dra en toe sy opkyk, staan die nuwe hoof in die deur. Soos ’n skuldige skooldogter, op heterdaad betrap, staan sy klein en verleë voor hom. Die nuwe hoof kom na haar toe, neem die koek uit haar kragtelose hande en sê kalm: “Geen rede dat jy dit op die grond moet laat val omdat ek nie mag kry nie, is daar?”

En aan Liesel sê hy, terwyl hy die koek weer veilig op die tafel neersit: “Meneer Lubbe wil graag ’n bietjie kookwater hê. Een van die seuns het sy been lelik gesny met ’n stuk doringdraad.”

“Ek sal gou weer ’n bietjie kook,” belowe Liesel, haar oë simpatiek gevestig op Annie wat nog roerloos in die middel van die vloer staan.

Abie lag heerlik en onbeskaamd en toe Johan weer uitloop, begin Kobie onbeheerbaar giggel.

“Skaam julle om so te lag,” berispe Liesel hulle, maar Annie skud meteens haar kop en sê met ongewone bitterheid in haar stem: “Laat hulle lag, Liesel, dit was seker vreeslik snaaks.”

“Dit was, Annie! Ons sedige, perfekte juffroutjie so op heterdaad betrap,” terg Abie laggend, en hy neem die tee en dra dit na die stoep toe.

Liesel slaan haar arm om Annie en sê troostend: “Toe maar, dit was mos maar net ’n grap.”

“Liewer Annie as ek,” giggel Kobie nog steeds.

Die twee hoofde is nog albei weg toe hulle buite kom.

“’n Stukkie koek, Annie?” terg Abie weer en hou moedswillig die koek reg voor haar.

“Neem weg die ellendige koek,” sê sy en probeer om die knop in haar keel met die warm tee weg te sluk. Onmiddellik nadat sy klaar is, stap sy weg, nog voordat Johan de Kock en meneer Lubbe terug is.

Dit is Kobie wat lieftallig vir hom ’n stukkie koek aanbied en toe hy glimlaggend sy kop skud, teleurgesteld sê: “Ek het dit dan spesiaal vir meneer De Kock gebêre. Toe, dis so lekker. Of het Annie dit nou vir jou bederf?”

“Nee, dankie,” herhaal hy, “ek is sommer nie lus nie.”

En Annie sit alleen in ’n klaskamer, ’n oop boek voor haar, maar haar gedagtes is nie by “Uit Oerwoud en Vlakte” nie. Sy is kwaad en ongelukkig oor die voorval in die kombuisie en sy voel dat dit alles Kobie se skuld is.

Daar is baie ander mense wat soos Kobie dink – omdat sy saam met ’n aantreklike jong man werk, moet sy noodgedwonge op hom verlief raak of probeer om hom te vang, en dit nog voordat hy behoorlik kans gehad het om sy intrek by hulle te neem.

As hulle maar weet wat Johan de Kock van haar dink!

En nou moet haar ma ook nog een van die eerstes wees wat hom vir ete nooi. Gasvry en gulhartig soos haar ouers se manier nou maar is, het hulle niks buitengewoons daarin gesien om die nuweling, wat ook hul dogter se kollega en hul seun se hoof is, vir ete te nooi nie. Johan de Kock sou nog oorweldig raak deur die vriendelikheid van die dorpie, maar slegs in haar geval sou dit natuurlik verkeerd vertolk word.

Dié Kobie met haar mooi gesiggie en haar venynige, skerp tongetjie! Sy het Annie so speel-speel al meer as een dag ’n lelike messteek gegee wat Annie met seldsame verdraagsaamheid maar so laat verbygaan het; deels omdat Kobie se venyn haar tog nooit werklik geraak het nie, deels omdat sy vermoed het dat die skerp woorde maar net ’n hart verraai wat vervul is met teleurstelling en jaloesie, wat telkemaal weer opnuut aangewakker word as sy Annie en Piet so saam sien. Maar aangenaam is dit beslis nie.

Nietemin voel Annie dat haar gedrag van vanoggend onvergeeflik was. Dat sy kon toelaat dat Kobie se woorde haar so uitlok dat sy so ’n belaglike, kinderagtige ding kon sê, is onbegryplik. Al hou sy nie van die man nie, is sy tog immers ’n bietjie lojaliteit teenoor haar hoof verskuldig. En die feit dat hy, en nie sy nie, die beste daarvan afgekom het, het haar ook nie eintlik beter laat voel nie.

Dis met ’n taamlik ontstemde gemoed dat sy na die personeelkamer loop om die eerste personeelvergadering, waarna almal met soveel spanning en afwagting uitgesien het, by te woon.

Buitengewoon stil neem almal hul plekke om die tafel in, iedereen doodnuuskeurig om te weet wat die jong skoolhoof gaan voorstel en doen. Tot dusver het hy nog geen woord eenkant of anderkant toe gesê nie, en dinge maar gewoonweg hul gang laat gaan, maar eindelik het die dag aangebreek waarop hy sal praat.

Johan de Kock sit aan die een punt van die tafel, meneer Kriek aan die ander. Meneer Du Pré en Annie sit aan sy regterkant, Annie so ver van hom verwyder soos moontlik, en regoor hulle is Abie en meneer Nieuwenhuys. Daar is ’n gevoel van spanning in die lug, miskien ’n gevoel van afwagting, en ongeduldig druk Annie die mooi skerp punt van haar potlood vas in die aantekeningboek wat voor haar lê.

Waarom moet hulle almal hier in spanning die woorde sit en afwag van ’n man jonger as al sy kollegas wat saam met hom om die tafel sit – met die uitsondering van haarself – net omdat meneer Pienaar, bitter ontevrede met meneer Fouché en sy metodes van opvoeding en keer op keer gestuit in sy pogings om hul skooltjie te moderniseer, besluit het dat dit ’n jong man soos Johan de Kock sal neem om die skool weer reg te ruk! ’n Man aanstel as hoof van ’n skool omrede sy voetbalrekord!

Vir ’n oomblik vergeet sy haar eie ongeduld en afkeer van ou meneer Fouché se afgeleefde metodes; sy vergeet hoe sy gesmag het om die skoollewe vir die kinders te verryk en aangenamer te maak terwyl sy kwaad en onthuts in die personeelkamer sit.

Aanvanklik luister sy krities na alles wat die nuwe hoof te sê het. Hy is kalm, bedaard en heeltemal seker van homself. Nie een keer verwys hy na meneer Fouché nie. Meneer Fouché is van die verlede en daar sou hulle hom laat. ’n Nuwe man het die leisels in sy hande en, goedkeurend of nie, hulle sou maar moet saamgaan. Maar dis maklik genoeg om bevele te gee en planne te beraam, dink Annie. Tussen teorie en praktyk in die opvoeding is daar ’n hemelsbreë verskil. Vir die eerste een het jy maar net ’n bietjie boekkennis nodig, maar vir die ander intuïsie, beginselvastheid, uithouvermoë, jobsgeduld en … ondervinding!

Laat hom maar sy kop stamp. Laat hom maar leer deur sy eie bittere ondervinding!

Die hoof is nog besig om te praat, die roetinewerk afgehandel.

“Julle weet,” sê hy, “dat ons opvatting van die opvoeding vandag heeltemal anders is as wat dit dertig jaar of so gelede was. Nou besef ons dat opvoeding ’n voorbereiding vir die lewe is en dat blote feiteversameling van geen kind ’n nuttige en ’n gelukkige burger sal maak nie. En terwyl daardie opvoeding grotendeels in die skool ontvang word, kry ons die toenemende eise wat aan die skool en gevolglik aan die onderwyser gestel word. Op die gebied van sport, van kuns, in alle buitemuurse aktiwiteite van die jeug, word van die onderwyser verwag om die voortou te neem. Dit maak natuurlik die onderwyser se lewe soveel drukker en moeiliker, maar terselfdertyd ook baie interessanter, en terwyl hy dit as sy lewenstaak aanvaar het, is daar geen manier om dié verpligtinge en verantwoordelikhede te ontduik nie. Ek vertrou dan ook dat ek julle volle steun sal geniet met die paar voorstelle wat ek vandag hier wil maak. En as daar enige voorstelle is wat julle wil maak, sal ek dit verwelkom.”

Almal luister aandagtig, Annie ook. Hulle kan hulself nie help nie. Die jong hoof praat met krag en oortuiging.

Sy voorstelle in verband met sport is met geesdrif begroet deur almal behalwe meneer Nieuwenhuys. Hy het ook gemeen om die kinders meer geleentheid te gee vir sport as hy hoof word, maar natuurlik wil die jong snuiter dit hopeloos oordryf.

“Solank dit te vroeg is vir rugby en korfbal,” sê Johan, “sal ons met tennis begin. Meneer Retief het belowe dat die bane binne twee weke gereed sal wees, met balle, nette en vier rakette wat as klubrakette beskou moet word vir die kinders wat nie hul eie kan bekostig nie. Ons het ook uitgevind dat daar oorgenoeg ruimte is om vier ringtennisbane op te rig en dié sal ook dieselfde tyd klaar wees. Ons is meneer Retief oneindig baie dank verskuldig vir wat hy vir ons skool doen, veral omdat ons nie ’n blou duit het om mee te begin nie, maar hy wil van geen dank hoor nie. Hy sê dis maar net ’n ou belofte wat hy nakom.”

Meneer Du Pré glimlag tevrede. As Barry Retief ’n ding doen, doen hy dit goed. Hy het vanmôre op pad skool toe daar verbygeloop om te sien hoe dinge vorder en die bedrywigheid wat daar geheers het, het sy hart goed gedoen. ’n Kaal, lelike stuk grond wat jaar ná jaar gelê het tot nut van niemand behalwe ou Rooi Sarel se donkies nie, word uiteindelik omskep in ’n heerlike speelterrein vir Saailaagte se kinders.

“Natuurlik gaan dit vir ons almal meer werk beteken. Die kinders moet elke middag gehelp word en moet altyd onder toesig speel. Ek verstaan dat julle almal tennis speel. Het iemand beswaar om een middag in die week af te staan en te help?”

Sy stem is vriendelik en aangenaam, maar dit is nie ’n versoek nie. Meneer Nieuwenhuys, wat van plan was om te sê dat Abie Greef in die verlede verantwoordelik was vir sport by die skool, skuif ongemaklik op sy stoel rond en besluit om maar nie beswaar te maak nie. Die res is gewillig, selfs gretig, om te help.

Sy volgende voorstel is ’n skooldebat wat elke Vrydagaand in die skoolsaal gehou moet word. Meneer Kriek, wat jare lank aan meneer Fouché getorring het vir ’n skooldebat, is hoog in sy skik. Andries-hulle sal dit geniet, dink Annie, en kyk meteens op.

“Bedoel jy, meneer De Kock, dat die hele personeel elke Vrydagaand teenwoordig moet wees?” vra sy vinnig, en kan die volgende oomblik haar hare uit haar kop trek van spyt omdat sy haar mond oopgemaak het.

“Dis presies wat ek bedoel, juffrou Celliers. As ons ’n sukses van die vereniging wil maak, moet ons almal saamwerk. En ek wil baie graag julle almal se heelhartige steun hiermee hê. Dit sal nie langer as ’n uur of wat duur nie en behoort nie veel inbreuk op die res van die aand te maak nie.”

Is hy sarkasties? wonder Annie. Sy het haar natuurlik blootgestel aan so ’n aanval. Sy praat nie verder nie en die res is ook doodstil. Sy is al een wat dit gewaag het om te probeer beswaar maak teen enige van die voorstelle, hoewel sy kan raai dat meneer Nieuwenhuys baie te sê sou hê as die vergadering eers verby is.

“En daar is nog een ding: fondse. Ons skool is geheel en al sonder fondse en dis ’n toedrag van sake wat so gou moontlik reggestel moet word. Dus sal daar ’n skoolkermis moet wees en baie gou ook. Dink solank daaroor, dan kan ons volgende week of so ’n vergadering hou. Miskien kan ons die primêre skool ook vra om saam te werk. Sal julle asseblief daaroor dink wanneer julle tyd het?” eindig hy glimlaggend.

“Seker, meneer De Kock,” antwoord meneer Du Pré. “En sal die kinders dit nie geniet nie! En, meneer De Kock,” hy kyk tergend na Annie, “asseblief, ’n konsert later. Ek en Annie, juffrou Celliers, is lankal lus vir ’n konsert.”

Johan kyk ook na Annie, maar sy antwoord koel: “Dink julle nie ons het vir die oomblik genoeg hooi op ons vurk nie?” Meneer Nieuwenhuys stem volkome, dié slag hardop, met haar saam. En daar het hulle dit gelaat.

Toe die vergadering oor was, het meneer Kriek ’n ent saam met haar huis toe gestap, in die wolke oor die nuwe wending wat sake uiteindelik geneem het, maar Annie is ontevrede.

Ek wil glo, dink sy toe hy wegdraai en sy alleen verder stap, dat meneer Kriek in sy skik is. Hy is so ’n ou hen dat daar niks is wat hy liewer sou wou doen as om die kinders op te pas en hulle te leer om tennis te speel en om skooldebat te hou nie. Maar waarom moet ék al my vrye tyd aan hulle wy?

Meteens skaam sy haar oor haar onwaardige gedagtes en vinnig hardloop sy met die leiklippaadjie langs tot op die breë, koel stoep voor die huis, asof sy haar weerspannige gedagtes buite wil laat.

Meneer Nieuwenhuys is binne die vesting van sy eie huis openlik veragtend toe hy die vergadering met sy vrou en seun bespreek.

“Die jong man probeer hoog vlieg,” sê hy smalend terwyl hy ’n lekker stuk gebraaide vleis op sy bord sit en groente hoog daar rondom opstapel. “Dis tennis en ringtennis en rugby en korfbal met interskoolwedstryde, dis skoolkermisse en skooldebat en die joos weet wat alles. Ons rustige, ordelike skool sal verander word in ’n malhuis van skreeuende, dissiplinelose kinders – die meneertjie wil mos hê ons moet dit eers met hom bespreek voor ons een van die kinders lyfstraf toedien. Dié bedorwe klomp goed wat vir niks anders as ’n rottang respek het nie! Dis maar ’n treurige dag vir ons skool as dissipline en orde oorboord gegooi word.”

Frederik sê niks nie. Hy weet baie goed wat sy pa met dissipline bedoel.

“Probeer hy regtig om al daardie dinge te doen, James?” vra mevrou Nieuwenhuys. “Dit klink of hy ’n jong man met groot ondernemingsgees is.”

“Hy is ’n onnosele snuiter,” snou hy haar toe. “En hy sal sy rieme gou styfloop.”

Dat Frederik deel van die geselskap uitmaak, hinder hom glad nie. Hy het nog nooit ag geslaan op die ongeskrewe wet dat onderwysers nooit voor hul leerlinge bespreek, veel minder gekritiseer, mag word nie, en Frederik is in die verlede vryelik toegelaat om saam te praat.

“Die seuns hou van hom,” sê Frederik terwyl hy weer groente op sy bord skep. Hy weet dis ’n bietjie gewaag om in sy pa se teenwoordigheid so iets te sê, maar hy waag dit tog. Meneer Nieuwenhuys snork van verontwaardiging.

“Natuurlik sal hulle van hom hou. Watter seun hou nie daarvan om die gek te skeer nie? Of hul ouers heeltemal soveel daarvan sal hou, is nou weer ’n ander storie. Ons resultate was nog nooit briljant nie en dit sal ongetwyfeld aan die einde van die jaar hopeloos wees.” Meneer Nieuwenhuys hoop vuriglik dat hy reg mag wees.

Tryna du Toit-omnibus 1

Подняться наверх