Читать книгу Tryna du Toit-omnibus 1 - Tryna du Toit - Страница 5

Оглавление

Hoofstuk 2

Toe Johan weer in die motor klim om sy reis te hervat, val sy oë op die dorpie wat nou voor hom uitgesprei lê. Snaaks dat hy so ver gekom het en hier by Saailaagte amper verongeluk. Die meisie het darem vreeslik onverskillig gery – soos die jeug maar so dikwels doen. Hy kan van geluk spreek dat hy met net ’n geduikte modderskerm daarvan afgekom het. Maar dis verby, en daar lê Saailaagte met al die probleme wat wag. Ten spyte van sy volwasse agt en twintig jaar is Johan de Kock bewus van ’n onverklaarbare opgewondenheid omdat hy eindelik by sy bestemming aangekom het.

Die Sabbatstilte rus swaar op die dorpie toe hy stadig die leë, stowwerige hoofstraat afry en met belangstelling alles rondom hom gadeslaan. Kaal en bruin, omring van klipkoppies wat lê en droom in die middagson, rustig en stil, afgesonder, lê Saailaagte. Trietsige peperbome so hier en daar geplant, lelike bruin baksteenhuisies amper vas op die straat gebou, lyk by die eerste aanblik allesbehalwe indrukwekkend – en tog het die dorpie ook iets van die kenmerkende weidsheid van die Karoo.

Johan de Kock is gebore en het grootgeword in die Boland met sy prag van berge, skilderagtige valleie, eikebome en sierlike ou gewelplase.

Hier lyk die wêreld bar, asof die mense nog gewikkel is in ’n stryd om te bestaan. En in ’n mate is hulle, teen die mees gevreesde en meedoënlose van alle vyande: droogte.

Hy ry stadig, want hy het nie die vaagste idee waar om mevrou Fourie se huis, waar hy op advies van die skoolkomitee gaan inwoon, te kry nie. ’n Entjie verder speel twee seuntjies albaster. Johan ry tot amper by hulle, leun by die venster uit en praat met die seuntjie wat naaste aan hom is. “Middag, seun. Kan jy my miskien sê waar mevrou Fourie woon? Haar huis is in Alidastraat.”

Die seun kyk hom verbaas aan en skud net sy kop, maar die ander seuntjie spring dadelik op en sê: “Ek weet, Oom. Ek sal Oom sê. Oom draai hier by die straat in en ry tot by die kerk en dan draai Oom …” Vir ’n oomblik aarsel hy en kyk na sy stowwerige handjies. “Dan draai Oom regs en dan ry Oom tot by oom Abraham se huis en dan draai …”

Johan, wat nogal aandagtig geluister het tot by oom Abraham se huis, lag en sê: “Ag, boet, ek sal nooit die huis kry nie. Sal jy nie maar vir my gaan wys nie? Is jou ma hier naby?”

“Nee, Oom, ek sal Oom gaan wys. Sy’s nie by die huis nie. Sy sal nie omgee as ek Oom gaan wys nie.”

“Nou kom dan. Wil julle al twee gaan?”

Sonder om ’n woord verder te sê klim die twee in die motor en bekyk met bewonderende oë alles binnekant.

“My naam is Attie Botha,” sê Johan se jong gids. “Sy naam is Willie Marais,” en hy knik in sy vriend se rigting. “Dis ’n mooi kar dié, Oom. Is hy nog nuut?”

“Nie juis so nuut nie, maar hy loop darem nog lekker.”

Hoe jammer tog, dink Johan, dat ek nie maar liewer as hoof van die primêre skool hierheen gekom het nie. Met kêreltjies soos Attie en sy stil maatjie kan ’n mens tog iets uitrig. Ouer seuns – hy dink nie eens aan die meisies nie – is soveel moeiliker om te hanteer. Hy weet, want hy het vier jaar lank met hulle gewerk. Baie dae gedurende die lang somervakansie wat nou agter die rug lê, nadat hy gehoor het sy aansoek was geslaag, het hy gewonder wat van hom en die tweehonderd seuns en dogters wat aan sy sorg en leiding toevertrou is, gaan word, maar jeug en spontane optimisme het gewoonlik die spookgedaantes verdryf en hy is vasberade om ’n sukses te maak.

“Meneer Strauss bly ook by tannie Fourie,” sê Willie Marais meteens.

“Wie is meneer Strauss, Willie?” vra Johan.

“Hy is ons onderwyser. Hy kan goed rugby speel. Tennis ook,” sê hy ná ’n oomblik.

“Speel julle ook rugby?” vra Johan weer.

“Nee, Oom, ons is nog te klein. Maar ons gaan kyk altyd as die groot seuns speel. My boetie speel ook. Party maal dra ek die bal vir hulle.”

Eindelik bereik hulle mevrou Fourie se huis. Nadat Johan hulle bedank het vir hul hulpvaardigheid, is die twee daar weg, elkeen met ’n sikspens styf in die hand. Johan klim uit en loop nader. Dit is ’n groot wit huis op ’n groot erf vol vrugtebome. Daar is ’n mooi wingerd aan die westekant, en die huis en tuin sien rustig en versorg daar uit. Byna onmiddellik nadat Johan aan die swaar voordeur geklop het, gaan dit oop en ’n kort, gesette vrou, netjies geklee in swart, kom te voorskyn. Haar goedige gesig is vol verwagting, maar sy lyk effens teleurgestel toe sy Johan sien. Sy kyk hom vraend aan.

“Goeiemiddag, Mevrou,” sê hy. “Is u mevrou Fourie? Ek is Johan de Kock.”

“My mintag! Is jy die nuwe prinsipaal, meneer De Kock? Ek is jou al die hele middag te wagte, maar ek het nie so ’n jong … maar ekskuus, meneer De Kock, kom binne. Hoe sal ek jou dan nou hier buite laat staan. Jy is seker moeg en dors. Kom binne.”

Johan stap die koel voorportaal binne en mevrou Fourie, ietwat oorbluf deur die jeugdige voorkoms van die nuwe skoolhoof, maak ’n deur aan die linkerkant oop. “Hier is die studeerkamer waarvoor u gevra het.”

Die kamer is ruim en lugtig met ’n kaggel en is eenvoudig gemeubileer. In die middel van die kamer is ’n groot lessenaar. Min weet Johan watter moeite en ergernis dit tant Sannie Fourie gekos het om ’n lessenaar vir die nuwe skoolhoof in sy studeerkamer te kry, want ’n lessenaar moes hy kry. Wie het dan ooit van ’n skoolhoof gehoor wat nie ’n lessenaar het nie? Verder is daar twee diep leerstoele en ’n stoel voor die lessenaar, ook ’n boekrak teen die een muur.

“Hoe lyk dit vir u?” vra mevrou Fourie besorg. Vir haar lyk dit maar ’n bietjie leeg, alhoewel die dominee se vrou haar verseker het dat dit baie mooi is. Sy het ook nie vergeet om ’n paar rose in ’n glaspotjie op die lessenaar te sit soos mevrou Marais haar gesê het nie, alhoewel sy nie juis gedink het die skoolhoof sal daarna oplet nie. Maar sy was tog verkeerd, want hy stap dadelik nader, tel die potjie met rose op en ruik daaraan.

“Dis baie gaaf, dankie Mevrou,” sê hy vriendelik. “Dit lyk vir my u het baie moeite gedoen. Kyk net die heerlike lessenaar waarby ek so lekker sal kan werk.”

’n Voldane laggie skud tant Sannie se liggaam. “Ja, Meneer, dit het ’n bietjie moeite gekos, maar ek het dit tog reggekry. En noem my tant Sannie, kind. Kom kyk, hier is jou slaapkamer.”

Die slaapkamer loop uit die studeerkamer en het ’n buitedeur op die stoep. Die kamer is ook eenvoudig gemeubileer maar alles is skoon en sindelik.

“Dankie, Mevrou – ek bedoel tant Sannie,” lag Johan. “Ek is seker ek sal baie lekker hier bly.”

Tevrede draai tant Sannie om en sê: “Die huishulp sal jou goedjies help indra, Meneer. Dan sal jy seker wil bad. Of is jy eers lus vir ’n bietjie koffie?”

“Dankie, tant Sannie, ek sou baie graag eers die stof wil afwas. Dan sal die koffie nog lekkerder smaak.”

Tant Sannie loop, maar sy draai eers om. “Mintag, Meneer is darem nog baie jonk. Dit kom my voor of meneer De Kock een van die jongste lede op die personeel kan wees, en nou is jy die prinsipaal. Maar die skoolkomitee sal darem nie ’n fout maak nie, en as hulle dink jy is die regte man, dan is dit seker reg so. Ek kon net nie my oë glo toe jy sê jy is meneer De Kock nie.”

Toe tant Sannie nou werklik aanstap, gaan staan Johan voor die venster, hande in die sakke, so verdiep in sy gedagtes dat hy nie eens die blomme voor die venster raaksien nie. Dieselfde vraag het al baie keer by hom opgekom. Waarom is hy as hoof van Saailaagte se hoërskool aangestel? Hy het natuurlik die nodige kwalifikasies – M.Sc., M.Ed., met lof behaal aan die Universiteit van Stellenbosch – maar hy is baie jonk en bitter onervare. Vier jaar as Matesisonderwyser aan een van die puik Bolandse seunskole het hom nie juis toegerus vir die prinsipaalskap van ’n gemengde skool op die platteland nie. En ondervinding is maar die alfa en die omega van die meeste professies in die ou wêreld, en seker by uitstek van die onderwyswêreld. Maar hy het gesmag na verandering, aansoek gedoen … en die betrekking gekry. Hy ken Barry Retief, ’n jong boer van Saailaagte, goed. Hulle was saam op universiteit en Barry het af en toe terwyl hulle nog op universiteit was kort vakansies by hulle deurgebring. Maar of Barry iets met sy aanstelling te doen het, weet hy nie. Hy hoop maar saam met tant Sannie Fourie die skoolkomitee het nie ’n fout begaan toe hulle die dag op hom as skoolhoof besluit het nie.

Die aand is stil en rustig, bekoorlik soos aande in die Karoo kan wees. Verby is die lang, stowwerige somersdag met sy skroeiende hitte, en alles, lelik sowel as mooi, lê gehul in die vriendelike duisternis.

Hy lê uitgestrek in ’n leunstoel op die stoep, kop agteroor teen die kussing, en wonder wat die dag van môre vir hom sal bring. Tant Sannie is kerk toe. Sy het gevra of hy wil saamgaan, maar hy het verskoning gemaak en tuis gebly. Gelukkig het hy klaar uitgepak en huis toe geskrywe. Hy sal maar vanaand vroeg gaan inkruip, want hy het ’n lang dag agter die rug. Na regte moes hy gister al hier aangekom het, maar dit was toevallig die troudag van ’n vriend vir wie hy strooijonker moes wees. Johan het toe maar die omstandighede per brief aan die sekretaris meegedeel en gesê hy sal nie voor Sondagmiddag aankom nie.

Die tuinhekkie klap en iemand kom die paadjie vinnig opgestap. Johan sit stil in die donker, maar toe die persoon aan die deur klop, staan hy op en loop nader. “Goeienaand,” sê hy in antwoord op die vreemdeling se groet. “Ek is bevrees die mense is almal kerk toe. Kan ek miskien ’n boodskap gee? Of sal u wag? Dit sal seker nie meer lank wees nie.”

“Ek wou eintlik die nuwe skoolhoof gespreek het,” antwoord ’n forse stem.

“Hy staan voor u, Meneer.”

“Ek het so ’n vermoede gehad. Ek is Ben Pienaar, voorsitter van die skoolkomitee. Welkom by ons, meneer De Kock,” en hy steek sy hand na Johan uit.

“Sal ons binnegaan, meneer Pienaar, of wil u liewer buite sit?”

“Binne. Netnou kom die mense uit die kerk, en ek wil ’n bietjie gesels.”

Hulle gaan die studeerkamer binne en Johan maak die deur toe. Meneer Pienaar, ’n groot, fris man met wakker blou oë wat nie veel mis van wat om hom aangaan nie, gaan sit in een van die gemakstoele, maar kyk Johan al die tyd stip en ondersoekend aan. Die oomblik waarna hy so lank uitgesien het, het eindelik aangebreek: Saailaagte se nuwe skoolhoof staan hier voor hom. ’n Sterkgeboude jong man, so iets oor die ses voet, met ’n pragtige paar skouers. Dit verwag ’n mens ook immers van ’n Springbokrugbyspeler! Maar dit is die sterk jong gesig waarop Ben Pienaar se ondersoekende oë rus: die ferm mond, die rustige grys oë, die man se gemaklike houding … dit is die soort jong man wat hy gehoop het om te kry. Hy slaak ’n sug van verligting en leun agteroor in sy stoel, en Johan, onbewus daarvan dat hy nou net ’n streng ondersoek deurstaan het, gaan ook sit.

“Jy lyk darem baie jonk, meneer De Kock,” sê Ben Pienaar laggend. “Maar dis miskien omdat ek soveel jare aan meneer Fouché gewoond was. Meneer Fouché was die vorige prinsipaal.”

Johan glimlag effens. “Dit is die tweede maal in ’n baie kort rukkie dat ek daarvan beskuldig word dat ek jonk lyk, meneer Pienaar. Die komitee het tog geweet hoe oud ek is toe hulle my aangestel het, nie waar nie?”

“Natuurlik! Natuurlik! Dit is ook juis waarom jy die aanstelling gekry het. Ons het iemand nodig wat jonk is, vol nuwe planne en idees, met die krag en energie om dit deur te voer.” Hy lag en sê: “Maar ek wil glo tant Sannie kon beswaarlik glo jy is die nuwe skoolhoof. Sy het heel moontlik ’n stokkerige oujongkêrel verwag. Ek wil ’n bietjie oor jou gesels en oor jou werk, en ek dink dis noodsaaklik dat ons gesels voor jy die eerste maal skool toe gaan, daarom dat ek vanaand al hier is.”

Johan kyk hom afwagtend aan.

“Meneer De Kock, ek sou graag vir jou in ’n paar woorde, as dit moontlik is, ’n prentjie skilder van ons skool in die verlede. Meneer Fouché was vyf en twintig jaar lank hoof van ons skool. Vyf en twintig jaar, en hy was nie ’n man wat van veranderings gehou het nie. Streng en nougeset het hy op sy manier aangegaan en nooit kon ons hom ’n haarbreedte van sy koers af kry nie. Die skool is daar om te werk, nie om te speel nie. Sy werk het hy so goed gedoen as wat in sy vermoë was, goed genoeg om aan die einde van die jaar nie te onbevredigende resultate te kry nie, en so het dit aangegaan, jaar ná jaar.

“Hy het nie tyd gehad vir sielkunde, komplekse en dié dinge nie, nie dat ek veel daarvan weet nie, maar my magtie, dit is tog die rigting wat die moderne opvoeding lankal ingeslaan het. Vyf en twintig jaar, meneer De Kock, terwyl die res van die wêreld sy gang gegaan het en opvoeding tred gehou het met veranderde landstoestande, het ons skooltjie nie stilgestaan nie, maar geleidelik agteruitgegaan. En daar is baie mense, komiteelede ook onder hulle, wat heeltemal tevrede was met die verloop van sake. Solank ’n klompie kinders net aan die einde van die jaar suksesvol was met hul eksamen kon meneer Fouché maar sy gang gaan.

“Mense wat dit kon bekostig, het hul kinders na ander, moderner skole gestuur. Ek het dit self gedoen. Maar die dag het aangebreek dat meneer Fouché ook moes aftree. En dis waarom jou aansoek suksesvol was. Baie van die komiteelede was sterk gekant teen jou, bloot vanweë jou jeug, maar jou uitstekende getuigskrifte en jou vriend, Barry Retief, en sy oom, Piet van der Merwe, se heelhartige ondersteuning het gewen. En so is dit nou: Jy is jonk, jy het ’n uitstekende universiteitsopleiding gehad, vier jaar ondervinding aan een van die beste skole in ons land, ’n Springbok om alles te kroon – met ander woorde die regte man om ons ou skooltjie uit die ellendige groef waarin dit verkeer te haal.”

Meneer Pienaar bly stil, haal sy pyp uit sy sak en stop dit stadig. Dit het hom nog altyd diep gegrief dat hul vooruitstrewende dorpie so ’n treurige toestand van sake so lank geduld het. Hy is ’n wakker, versiende man en die hardnekkige verset van die ou hoof teen alles wat nuut en modern is, het hulle baie laat bots terwyl sy kinders nog op skool was. Toe hy sien dat daar met die ou man niks uitgerig kon word nie, het hy maar sy kinders Boland toe gestuur, en so geduldig as wat hy kon die dag afgewag dat ou meneer Fouché aftree.

Johan, wat aandagtig na hom geluister het, praat nie. Is dit hoe sake staan? dink hy. Diep in sy binneste het hy die hele tyd geweet dinge is nie pluis nie, vandaar sy onrus aangaande die nuwe betrekking. “Is u seker dis jeug wat u nodig het, meneer Pienaar? Sou ’n bietjie meer ervaring nie verstandiger gewees het nie?”

Meneer Pienaar se lag is stroef. “Nee, meneer De Kock, ons het oorgenoeg gehad van ervaring. Ervaring het van ons skool ’n kille, leë plek gemaak waar daar nie gelag of gespeel word nie. Ons seuns en dogters is beroof van iets wat vir hulle altyd dierbaar moet wees, iets wat hulle in hul later lewe moet help en sterk: gelukkige herinneringe aan hul skooldae. En dit alles omdat ons ’n ervare maar bitter man gehad het in wie se lewe daar nie plek was vir pret en plesier nie. Nee, ons het besluit om ervaring maar ’n bietjie te laat vaar en die jeug ’n kans te gee. En jy is darem nie totaal sonder ondervinding nie!”

“U sê die komitee voel nie almal soos u oor die saak nie?” sê Johan ná ’n rukkie.

Ben Pienaar maak keel skoon. “Nee, meneer De Kock, ongelukkig nie, of dalk moet ek liewer sê hulle staan onverskillig teenoor die saak. Daar is ’n paar soos dokter Piet van der Merwe, Barry se oom, wat byna net so sterk voel soos ek.”

Daar is weer ’n rukkie stilte voor Johan vervolg: “En die personeel? Ek vertrou ek sal hul heelhartige ondersteuning geniet?”

Ben Pienaar trek sy skouers op en plooi sy mond. “Ek weet nie, man. Party van hulle is al baie, baie jare hier en het lankal opgehou spartel. Die nuwes, ná vergeefse pogings om ’n paar veranderings teweeg te bring, het maar gou tou opgegooi en saam met die stroom gegaan; dit was soveel makliker. Meneer Fouché was ’n kwaai man, gevrees deur personeel en skoliere. Meneer Nieuwenhuys, dink ek, is ’n bietjie ontevrede. Hy het gehoop, op grond waarvan weet ek nie, meneer Fouché se mantel sal op hom val. Hulle neem jou dit moontlik kwalik dat jy so jonk is.” Hy lag en sy oë glinster van plesier. “Maar wat daarvan, meneer De Kock? Maak dit nie alles interessanter nie? En as dinge op ’n rusie uitloop … nou ja, ek baklei liewer saam met jou as teen jou.”

Onwillig glimlag Johan saam. Die voorsitter se woorde het hom geraak. Al loop dinge in die begin nie so vlot nie, wat daarvan? Solank hy maar die stryd wat voorlê met alle mag en krag aanpak, sal alles regkom. Hy is jonk en sterk, en as skoolhoof het hy tog die hef in die hand. Laat kom wat wil, hy sien kans vir alles.

“En daar is nog iets,” hervat meneer Pienaar. “Fondse. Sover ek weet, is daar nooit die geringste poging aangewend om fondse in te samel nie. Ek kan nie onthou dat daar ooit ’n basaar, konsert, skoolsport of iets dergeliks ten behoewe van die skool gehou is nie. Ons het ryk boere in die distrik wat maar te gewillig sal wees om te help as hulle op die regte manier benader word. Weet jy, meneer De Kock, drie jaar gelede het Barry Retief ’n pragtige stuk grond aan die skool geskenk om vir tennisbane gebruik te word. Hy het aangebied om die bane te laat maak, van nette te voorsien, en meneer Fouché het gesê, baie dankie, maar die tyd is nog nie ryp daarvoor nie. Later miskien. Die grond lê nog daar en Barry se aanbod staan nog.”

“Maar waarom was hy dan so bitter gekant teen die kinders se deelname aan sport?”

Ben Pienaar haal sy skouers op. “Ek dink hy het ’n hele reeks besoeke aan ’n psigiater kortgekom. Maar miskien oordeel ek die man verkeerd. Hy het seker gehandel volgens sy eerlike oortuiging. Hy het gedink die jeug is ’n tydperk van losbandigheid en onverskilligheid en kinders moet gedurig onderdruk word om ongeskonde deur dié tyd te kom. Nou ja, ons dink nie almal eenders nie. Ons het ook nie almal,” vervolg hy bitter, “so ’n uitmuntende geleentheid om ons teorieë ongehinderd toe te pas nie.”

Daar word aan die deur geklop en tant Sannie kom binne met ’n koppie tee en ’n bordjie beskuitjies op ’n skinkbord. “Hier is vir jou ’n koppie tee, meneer De Kock. O … naand, meneer Pienaar. Ek het nie geweet jy is hier nie. Wag, ek gaan haal gou vir jou ook ’n koppie tee.”

“Dankie, tant Sannie, dit sal baie lekker smaak. My keel is eintlik droog gepraat met die Bolander. Hy lyk darem jonk om ’n prinsipaal te wees, of hoe, tant Sannie?”

Maar tant Sannie het al klaar vir Johan onder haar moederlike vlerk geneem en wil geen lasterpraatjies teen haar beskermling hoor nie. “Ons sal hom maar eers ’n kans moet gee om te wys wat hy kan doen,” antwoord sy glimlaggend.

Ben Pienaar lag. “Jou eerste oorwinning!” sê hy toe die deur agter haar toegaan.

Tryna du Toit-omnibus 1

Подняться наверх