Читать книгу Tryna du Toit-omnibus 1 - Tryna du Toit - Страница 12

Оглавление

Hoofstuk 9

“Binne,” sê sy stem in antwoord op haar sagte klop.

Annie haal vir oulaas diep asem en sit haar hand vasberade op die deurknop. Haar laaste vae hoop op uitstel is weg. Johan is in sy studeerkamer. Nou maar deurdruk, alhoewel sy seker nie maklik ’n meer ongeleë dag kon gekies het om Johan haar trae verskoning aan te bied nie.

Wat tussen meneer Nieuwenhuys en Johan gebeur het, sal niemand seker ooit weet nie. Maar die vonke het gewis gespat. Hulle het net ná die elfuurpouse reguit na Johan se studeerkamer gegaan en was meer as ’n halfuur lank saam daar opgesluit.

Toe hulle instap, was meneer Nieuwenhuys se gesig rooi en gedetermineerd, sy oë het kwaai geglinster en Annie sou nie graag die een wou wees op wie sy opgekropte toorn gaan losbars nie. Maar Johan was koel en onverstoord, en net sy grys oë, koud en onverbiddelik, het sy ontstemde gemoed verraai.

En tog sou sy veel liewer, so bang soos sy was, teenoor meneer Nieuwenhuys se onbeteuelde woede te staan gekom het as om die een te wees wat so in onguns by Johan verval het.

Sou hy nog so kwaad wees?

“Kom binne,” roep Johan se stem weer, harder, en sy draai die knop en gaan in.

Hy sit voor sy lessenaar, maar toe sy binnekom, staan hy op. Vlugtig gaan haar oë na sy gesig in ’n poging om sy gemoed te peil, maar sy gesig is geslote en onleesbaar.

“Ja, Juffrou?” vra hy beleef, maar dit kon maar net sowel ’n vreemdeling gewees het wat voor hom gestaan het, en voor daardie koue, onpersoonlike blik wankel Annie se moed.

“Sit, Juffrou” sê hy en gaan self ook sit nadat sy dankbaar in die stoel neergesak het. Haar moed is weg, maar, wat nog erger is, die krag is ook uit haar bene.

Sy kan nie eens weghardloop nie.

“Ja, Juffrou?” vra hy weer op dieselfde toon, en toe is dit skielik asof iets jonks, iets wondbaars, in die ongelukkige gesiggie voor hom deur die harde kors van bitterheid en teleurstelling waaragter hy posgevat het, breek. Daar kom weer lewe in sy gesig, die grys oë word weer warm.

“H’m, nog een uit die kamp van die vyand.”

Uit daardie kamp? Nooit nie!

“Nee!” protesteer sy heftig. “Nie uit daardie kamp nie.”

“Wie nie teen my is nie, is met my.” Haar eie gedagtes van vanmôre. “’n Bondgenoot in elk geval.”

Sy lig skielik haar kop op en glimlag verontskuldigend.

“’n Boetvaardige een,” sê sy pleitend.

In stilte neem hy haar waar en sê toe sag: “’n Vredespleidooi? Onmoontlik!”

“Kon dit op ’n meer ongeleë oomblik gekom het?”

“ls dit ’n vredespleidooi?”

“Ja,” sê sy byna onhoorbaar.

“Laat ek hoor,” gebied hy.

So, hy is nie van plan om haar te help en die wil vir die daad aan te neem nie. Sy moet maar die hele pad alleen kom.

Trots lig sy haar ken en kyk hom vas in sy oë.

“Ek is jammer, meneer De Kock, oor alles wat gebeur het. Oor daardie eerste middag toe ek in jou vasgery het en oor wat daarna gebeur het. Ek het myself skandelik teenoor jou gedra. En baie van die dinge waarvan jy my beskuldig het, is waar, maar nie almal nie. Ek ís geïnteresseerd in die kinders en in my werk. Die … die wrywing wat daar was,” sy begin swaar kry, “was tussen my en jou persoonlik …”

“Was, Juffrou?” vra hy en Annie bloos.

“Nee!” antwoord sy koel. “Is.”

“Gaan aan,” sê hy ná ’n rukkie, maar sy staan op.

“Dit is al,” sê sy koel.

“Sit asseblief weer, Juffrou. Daar is nog iets waaroor ek met jou wil praat. En hierdie saak is nog nie afgehandel nie. Gaan die vredesonderhandeling dan sommer so doodloop?”

“Dit sal nie die eerste vredesonderhandeling wees wat skipbreuk ly vanweë die kille ontvangs wat dit te beurt geval het nie.”

“Hierdie een mag nie,” sê hy en die grys oë flikker. “Sit asseblief.”

“Annie, sê my nou eerlik: waarom was daardie wrywing tussen ons? Dit het tog alles oorspronklik van jou kant gekom.”

Annie kyk weer verleë weg. Hoe kan sy nou aan hom verduidelik! Hoe kan sy vir hom sê dit was omdat Kobie en ander haar daarvan beskuldig het dat sy hom sou probeer vang, dat sy, alreeds prikkelbaar en ongemaklik ná die ongeluk, maar soos ’n ystervark al haar penne uitgesteek het wanneer hy in die nabyheid was. Dit was tog buite die kwessie.

Meteens sê sy: “I do not love thee, Doctor Fell, but why I cannot tell.”

Hy kyk haar skerp aan en glimlag toe skielik.

“Nou ja, ek kan nie kla nie. Ek het self vir jou die verskoning aan die hand gedoen! En is dit nou ‘was’ Annie, of ‘is’?”

“‘Was’,” sê sy skaam.

“Ten spyte van die eiegeregtigheid, die selfvoldaanheid en al die dinge waarvan jy my beskuldig het?”

Die ferm ken wip weer op.

“Ek moes dit nie gesê het nie, maar jy het my daartoe gedwing.” En met ’n fyn spotlaggie: “Maar ons het almal foute. Jy het my ook op ’n hele paar attent gemaak.”

Glimlaggend staan hy op en stap om die lessenaar na haar.

“Nou goed. Ons begin dan weer van voor af!”

Hy buk vooroor, steek sy hand uit na haar, en sy lê hare daarin. Toe sy vingers ferm om hare sluit, kyk die grys oë ’n lang oomblik in die bruines.

Toe val haar oë voor syne en sag trek sy haar hand weg. “Waaroor wou jy nog met my gepraat het?” vra sy om die intimiteit van die oomblik te verbreek.

Johan leun teen sy lessenaar aan.

“Ja,” sê hy, en sy gesig is weer somber. “Dis maar weer oor die kinders. Maar as ’n mens so baie het, wat kan jy nou maak? Annie, kan jy onthou of julle al ooit sop vir die kinders in die skool bedien het?”

Sy skud haar kop.

“Nee, nooit nie. Nooit solank ek hier op skool was nie en ook nie later nie. Mammie sou my altyd van so iets vertel het.”

“En wat word van kinders soos Ernst Marais solank sy pa siek is?”

“Die ACVV, die Kindersorg, die kerk, enige van hulle sal help. Die Marais’s is nog nie lank hier op Saailaagte nie, seker daarom dat hulle nêrens aangeklop het om hulp nie. Miskien …”

“Miskien?”

“Miskien was hulle ook te eergevoelig om hulp te vra. Dit moet maar baie swaar wees om genadebrood te moet eet. Ek sal Mammie vra om dadelik vir hulle iets oor te stuur.”

“Dankie, dit sal seker baie welkom wees. Ek is van plan om vanmiddag self daarheen te gaan en te kyk wat ’n mens vir hulle kan doen.”

Hy haal sy sakboekie uit sy binnesak en vervolg: “Gee my tog die name van die verskillende voorsitsters of sekretaresses of wie ek ook al moet nader by die Kindersorg en die ACVV. Ek wil graag vanjaar gedurende die wintermaande vir die kinders sop gee, hier is so baie behoeftige kinders. Meneer Lubbe wil ook baie graag saamwerk.”

Meneer Lubbe is die hoof van die laerskool en Annie het opgemerk dat hy en Johan die hele teepouse in ’n druk gesprek gewikkel was.

“Mevrou Van der Byl is voorsitster van die Kindersorg.”

“Ek het haar al ontmoet, sy speel ook tennis.”

“Ja. Ek dink hulle sou graag help. Daar was al meermale sprake van ’n sopkombuis stig of vir die skoolkinders sop gee, maar die planne is nooit verwesenlik nie. Ek hoop jy kry dit reg.”

Hy sit sy sakboek op die tafel om gemakliker te skrywe en met die beweging val ’n visitekaartjie uit en land teen Annie se voete. Sy buk en tel dit op.

Dit is dokter Piet Grové se visitekaartjie, natuurlik die een wat hy daardie middag aan Johan gegee het.

Sy onthou sy woorde: “En die kaartjie sal ek hou as ’n herinnering aan ’n ontmoeting met ’n meisie wat my eers amper doodgery het en my toe nog gruwelik beledig het.”

“Dankie, Juffrou,” sê hy en hou sy hand uit.

Annie se wange word warm, maar ongeërg, asof dit haar eie is, wil sy dit in haar sak steek toe sy sterk vingers blitsvinnig haar pols vang.

“Dankie, Juffrou, dis myne,” en met sy ander hand neem hy die kaartjie by haar en sit dit weer agter in sy sakboek.

Ongeërg, asof daar nooit enigiets gebeur het nie, vra hy: “En wie nog?”

Annie staan op, haar wange rooi.

“Mevrou Marais, die dominee se vrou, of mevrou Ben Pienaar sal jou enige verdere inligting kan gee. Sal dit dan al wees?”

“Ja dankie, Juffrou.”

Iets in sy stem, so anders as die koel, saaklike manier waarop hy haar gewoonlik in die skool aanspreek, laat haar vinnig na hom kyk.

Die grys oë lag heerlik vir haar.

Sy draai om en loop kop in die lug by die kantoor uit.

Die somer het te midde van die lieflike reëns gewyk en die einde van die eerste kwartaal het aangebreek.

Dit is ’n heerlike najaarsoggend, die lug blou en onbewolk, met oorvloedige sonskyn.

Die kinders is opgewek en uitgelate, en hul uitbundige gelag dring keer op keer deur die vensters na buite.

Johan het so ’n rukkie nadat die skool begin het ’n briefie by die verskillende klasse omgestuur. Toe dit by Annie kom – sy was in die standerd sewe-klaskamer – maak sy dit oop, lees dit en glimlag onwillekeurig.

“Luister, kinders,” sê sy. “Hier is ’n kennisgewing van meneer De Kock.”

Toe lees sy dit hardop: “Daar sal vanoggend om elfuur ’n konsert in die skoolsaal gehou word. Van elke klas word verwag om die gehoor tien minute lank te vermaak. Ek het ’n formele uitnodiging aan die laerskool gerig om die verrigtinge by te woon. Begin maar dadelik met julle voorbereidings.”

Daarna is die gort gaar.

Verstom en verras kyk die kinders mekaar aan en toe styg daar ’n ekstatiese “O-o-o-o” na die dak.

En kort daarna: “Maar Juffrou! Wat sal ons doen?”

“Dit moet julle self besluit,” sê sy glimlaggend.

Die konsert, wat ná die teepouse gehou is, was ’n groot sukses. Op haar beurt was Annie, soos die res van die personeel, verras deur die oorspronklikheid en vindingrykheid waarmee die kinders vorendag gekom het, en dit op sulke kort kennisgewing.

Die meeste van hul nommers was daarop uit om snaaks te wees en die humor was meestal met ’n kwistige hand aangedik, maar dit was gesond en soms werklik snaaks, en die kinders het dit vreeslik geniet.

Die blyspel deur die matriekstudente was ’n juweeltjie.

Hoe verskil vandag tog nie, dink Annie, van al die ander laaste dae wat ons met meneer Fouché as hoof saam deurgebring het nie. Dit was gewoonlik ’n pyniging des geestes, want die kinders was opgewonde, onwillig om te werk of te konsentreer, en hulle moes besig gehou word tot amper op die laaste minuut terwyl registers en rekordboeke en rapporte intussen reggemaak word.

Vandag het hulle hulself besig gehou, geïnteresseerd en maklik regeerbaar, en wie sê hulle het nie vandag net soveel geleer as die ander dae nie? Met watter konsentrasie is die nodige reëls nie geleer nie, hoe gretig is die boeke in die lamlendige ou bibliotekie wat Johan so graag van die grond af wil opbou nie deurgesnuffel om die regte agtergrond en kleur vir hul skeppings te kry nie!

En kyk nou hoe geniet hulle die konsert!

En toe, te midde van die opgeruimdheid en vrolikheid wat hier om haar heers, dwaal Annie se gedagtes weg na die vorige aand toe Johan die eerste oueraand gehou het.

Was dit maar net gisteraand dat sy die ontdekking gedoen het?

Die kerksaal was tot oorlopens toe vol en nog nooit vantevore het Annie so ’n stralende klomp gesigte gesien nie.

Die kinders het gestraal, gelukkig en hoogmoedig om vir hul ouers te wys wat hulle kan doen en hoe hulle presteer; en die ouers het gestraal, bly om te kan deelneem aan dié deel van hul kinders se lewe. Veral op so ’n klein dorpie waar daar so min gebeur en waar daar so min is wat werklik interessant is, het Johan gedink dat so ’n aanknopingspunt tussen huis en skool van groot waarde vir kinders en ouers sou wees.

En vir die meeste van hulle was dit ’n heuglike aand.

Meneer Kriek het vir ’n uitstekende program gesorg – Annie het ook belowe om te sing – en daar is verversings bedien.

Die verversingstorie het Annie se oë oopgemaak.

Johan het tentatief, ’n bietjie onseker, in haar teenwoordigheid vir meneer Kriek gevra of hy nie dink dis moontlik dat hulle die aand verversings kan bedien nie, en meneer Kriek het net so getwyfel soos Johan.

Dit sou ’n grootse onderneming wees.

Dis toe dat Annie, bekend met haar ma se organisasievermoë wat dié soort funksies betref, sommer tussenin gepraat het.

“Natuurlik kan julle verversings bedien. Ek sal dit met Moeder bespreek en voor julle weet waar julle is, sal sy en mevrou Pienaar alles gereël hê.”

Dit was ook so.

Mevrou Pienaar en mevrou Celliers het met genoeë die werk onderneem en dit was die heelhartige, gulle ondersteuning van die ouers se kant af wat Annie so verbaas laat opkyk het. Dit was asof hulle net gewag het vir ’n geskikte geleentheid om te wys hoe bereid hulle is om te help en wat hulle kan doen. Die heerlikste lekkernye het uit alle oorde ingestroom; tant Sannie Fourie het voorgestel dat sy pannekoek bak en Annie, met die oog op die toekoms, het haar sommer dadelik gevra om liewer vroeg volgende kwartaal met die skoolkermis te kom bak.

Terwyl die ouers en kinders besig was om koffie te drink en van die lekker gebak te eet, het Johan, so mooi en deftig in ’n donker pak, geselsend tussen hulle rondbeweeg. En dit was toe hy wegdraai nadat hy met ou ryk Isak van Zyl gesels het en met dieselfde vriendelike, innemende glimlag na Ma De Beer luister wat stokstyf in ’n swart satynrok gesit het, die hare so indrukwekkend gekrul, met haar kinders blink en skoon in ’n lang ry langs haar, dat Annie meteens bewus geword het van ’n yslike knop in haar keel. Dis toe dat sy die ontdekking gedoen het.

Hoe lank dit al daar in haar hart weggebêre was, weet sy nie, maar skielik was dit vir haar asof dit maar altyd daar was: haar liefde vir Johan.

Daarom natuurlik die gevoel tussen hulle, die stremming wat van die eerste dag af daar was. Omdat die aantreklike jong man haar van die begin af soos ’n magneet getrek het en sy, noodgedwonge, met alle geweld en krag daarteen geveg het. Daarom wou sy nie insien, nie glo dat hy is wat hy is nie: ’n eenvoudige, opregte, besonder aantreklike jong man, geheel en al verdiep in sy werk. Daarom moes sy hom uitskel vir eiegeregtig, selfvoldaan en wie weet wat nog alles. Dit was maar skyn om haar armsalige prestige te red.

Want soos ’n jong, gevoelige skooldogter het sy ongevraag verlief geraak op haar hoof en soos ’n skooldogter sal sy maar die verliefdheid moet ontgroei. Want of die nooientjie in die Boland nou werklik bestaan of nie – en sy bestaan seker – een ding is onteenseglik waar: in Johan de Kock se oë is sy bloot ’n jong, onvolwasse, onverantwoordelike meisie, omtrent soos Maria of Poppie, en hy sal seker baie geamuseerd wees as hy die ware toedrag van sake moet agterkom. Want sy is nie eens die enigste nie. Soos ’n epidemie het dit al deur die skool gegaan, soos masels of een van die kindersiektes wat almal moet kry as hulle jonk is. Maria, Joan, Poppie, Kobie … almal wat in aanraking was, het deurgeloop, en geamuseerd, uit die hoogte, het sy maar die meisies se aanbidding vir hul jong skoolhoof aanskou.

Sy was natuurlik immuun. Sy het tog al vantevore deurgeloop.

Hoe goed onthou sy nog daardie eerste kwartaal op universiteit en die sjarmante sangonderwyser wat so ingenome was met haar stem. ’n Hele maand lank was die musieklesse al waarvoor sy bestaan het, sy goedkeuring kon haar beker van geluk laat oorloop En toe vind sy uit dat hy alreeds getroud was, en die ekstase het in wanhoop verander. Met die ewige liefde in haar hart weggesluit, sou sy maar alleen die wêreld bewandel en onsterflike roem behaal as sangeres.

Maar daar was so baie om te doen, so baie jong seuns wat gewedywer het om die bruinoognooientjie se gunste dat die groot liefde eendag sommer net spoorloos verdwyn het.

En as sy vandag terugdink aan professor Zimmerman en sy vergelyk hom met Johan, hoe kan sy dan die jong dogters blameer as hulle dink dat Johan die verpersoonliking van dié ideaal is waarvan elke jong meisie bewustelik of onbewustelik droom?

Sy dink self so … en dit met haar ryper ervaring van die lewe.

Kobie?

Kobie is heeltemal ’n ander storie.

Annie was nog heeltemal verdiep in haar gedagtes toe hulle haar vra om te sing. Haar ma sou haar begelei en saam het hulle na die klavier gestap, Annie vir die eerste maal in jare totaal ontsenu en verbouereerd.

Alles was verkeerd. Sy was ontstem deur haar ontdekking van so pas en haar keuse van sangstukke het meteens heeltemal verkeerd gelyk. Sorgvuldig het sy dae aaneen na iets gesoek wat by haar gemengde gehoor sal pas, iets ligs en moois wat hulle almal kan geniet, en uiteindelik Liszt se “Liebesträume” gekies.

Liszt se “Liebesträume”!

“A.G. Visser, Moeder,” sê sy sag, toe haar ma voor die klavier sit, alhoewel “As die blare verkleur” maar as ’n moontlike toegif saamgekom het, maar haar ma het alreeds die eerste note gedruk en het nie Annie se sagte gefluister gehoor nie.

Annie moes maar voortgaan. Nou ja, dink sy toe, laat ek dan maar vir hom van die liefdesdrome sing! So ’n drastiese behandeling sal seker die gouste genesing bring! Haar senuagtigheid het verdwyn en sy het gesing, en dit was ’n jong nooientjie wat haar geliefde toegeroep het.

Vir ’n paar oomblikke nadat sy klaar was, was daar stilte. Toe maak mevrou Celliers die boek toe en luid het die applous gevolg. Sy moes ’n toegif gee. En sy was bly daaroor. As haar stem haar net wil gehoorsaam, sal sy haar gehoor en haarself liggies terugbring aarde toe met A. G. Visser se spottende “As die blare verkleur”.

En sy het dit goed gedoen.

O, dit was in die tyd toe die blare verkleur,

En die aandwind was swaar met die najaar se geur

In ’n outydse tuin, met ’n brug oor ’n stroom,

Teen die stam aangeleun van ’n eeu oue boom,

Heel die wêreld vergeet, sit daar twee hand in hand,

Die verliefste, gelukkigste paar in die land!

Iets romanties, natuurlik, sal altyd gebeur

In die tyd – skone tyd – as die blare verkleur.

Ag, die tyd vlieg so snel, en verby is ’n jaar.

Op die brug in die tuin staan liefkosend ’n paar;

En, ja wel! dit is sy – Juliet van weleer;

Maar, o wee! dis nie hy – dis nie Romeo meer.

“Weet jy wat?” suis die wind, “Nie so ver hiervandaan

Is dit net wat hy doen; vra gerus aan die maan!”

“Kan dit wees?” ruis die boom. “Kan so iets gebeur?

Dis ook dit wat my blare aljare verkleur.”

’n Opgewekte, geamuseerde glimlag was op iedere gesig merkbaar toe sy klaar was en Annie het meer tevrede gaan sit.

Daarna het meneer Pienaar haar bedank, nog ’n paar woordjies aan die ouers gerig en so is Saailaagte se eerste oueraand, ’n skitterende sukses na almal se mening, beëindig.

Annie het met haar pa en Ben Pienaar gesels terwyl hulle wag op die vrouens wat nog in die kombuis besig is. Annie kon ook gaan help het, maar die kombuis was alreeds vol en sy het tog nie lus gehad vir die drukte wat daar heers nie. Sy sou veel liewer alleen wou wees êrens om die nuwe ontdekking wat sy vanaand gedoen het van alle kante te besigtig voor sy dit weer sorgvuldig wegbêre. Want niemand mag weet nie. Ag, dit is tog al wat sy vra: Niemand moet weet nie. Gedurig sal sy op haar hoede wees om haarself nie in ’n onbewaakte oomblik te verraai nie.

Toe sy weer sien, staan Johan langs haar.

Stil en ongemerk het hy daar aangekom en hom by hulle gevoeg.

Ben Pienaar klop hom goedkeurend op sy skouer en sê laggend: “Mooi so, Johan. Nou wil ek nog net sien dat julle vanjaar die Pienaar-beker huis toe bring.”

“Wel, as dit van die seuns se geesdrif afhang, dan sal dit seker gebeur, meneer Pienaar,” antwoord Johan glimlaggend. “Hulle is al weke lank besig om vir wind te hardloop en ons het nog nie eens begin oefen nie.”

Hulle gesels nog so ’n bietjie hieroor en daaroor, toe draai Johan na haar toe. Sy oë rus op haar gesig terwyl hy sê: “Hoe is ons juffrou dan so stil vanaand?”

“Sy luister maar as die grootmense praat,” sê Ben Pienaar tergend.

Ja, dink Annie, dis nie net vir Johan wat ek ’n kind is nie. Oom Ben spot nou, maar in hulle oë, net soos in my ouers s’n, is ek nog maar altyd die kind wat voor hulle grootgeword het. Hoe kan ek dan ooit waardigheid bereik, volwasse wees, as hulle almal my die hele tyd behandel soos ’n kind wat grootmens speel?

“Kom, dan neem ek jou solank huis toe,” sê Johan aan haar. “Mag ons maar, meneer Celliers?” en haar pa knik instemmend.

“Gaan julle gerus maar solank. Mammie sal seker ook nie meer lank besig wees nie.”

Waarom nie? dink sy, en gaan saam met Johan na buite.

Veel liewer sou sy stil langs hom sit, dink sy toe hulle in die motor is, en haar gedagtes vrye teuels gee, maar dit mag nie, dis te gevaarlik. Sy sal maar toneelspeel soos hy haar geleer het. Die geïnteresseerde juffrou sal seker vanaand haar veiligste rol wees, en sy vra: “Tevrede met die verloop van die aand?”

“Ja, baie. Is jy nie ook nie?” sluit hy haar in.

“Ek dink dit was ’n reusesukses.”

“Jou ma-hulle was wonderlik. Alles het sonder haakplek verloop en die koffie was warm en heerlik soos koffie behoort te wees.”

“Mammie sal in haar slaap so ’n funksie kan reël. Daar word elke jaar so baie van hulle gehou en dis maar gewoonlik dieselfde vrouens wat alles doen.”

“So baie funksies!” sê hy agter haar aan. “En dis die eerste een in belang van die skool.”

“Ja,” sê sy instemmend.

Vinnig kyk hy na haar, en toe sit hy vir ’n oomblik sy hand liggies op haar hande wat gevou lê in haar skoot.

“Ek kritiseer nie, Annie.”

“Jy het alle reg om te kritiseer.”

“Nee. Daardie tydperk behoort tot die verlede. Maar niemand kan ons nou keer nie. Daar is net so baie wat ek nog graag wil doen.”

Sy antwoord nie en ’n paar sekondes later kom hulle tuis.

“Annie,” sê hy toe hy stilhou, en sy stem is weer tergend, “as ek ’n dogter gehad het met so ’n mooi stem sou sy seker ook maar bederf en selfsugtig gewees het.”

“Dis nie ’n kompliment nie,” antwoord sy, haar stem sag, byna onhoorbaar.

“Dis so bedoel,” antwoord hy plaend en vervolg: “Sê vir my, Annie, jou keuse van sangstukke vanaand … Was daar êrens ’n berisping vir ’n Bolander bedoel?”

“Die Bolander vlei homself,” antwoord sy koel en Johan moet maar lag. Saam stap hulle die donker paadjie op na die huis en toe hulle daar kom, nooi Annie hom binne.

“Ja, dankie,” sê hy, “ek sal wag tot jou ouers kom. Ek wil graag weer vir mevrou Celliers dankie sê.”

En daar het hy gesit nog lank nadat haar ouers gekom het. Meneer Celliers het vir hulle elk ’n drankie geskink en hy en Johan het oor visvang begin gesels en kon blykbaar nie uitgesels raak nie. Meneer Celliers was ook op sy dae ’n geesdriftige hengelaar gewees en Johan en Barry sou die volgende dag met hul visvangvakansie vertrek. Daar moes natuurlik raad gegee word oor die beste aas om te gebruik en daar was ’n stryery oor waar die grootste kabeljou gevang kan word. Eers ná twaalf het Johan met ’n skuldige glimlag opgespring.

“Ek is vreeslik jammer, mevrou Celliers, ek het nie besef dis so laat nie. En u is seker baie moeg ná die vermoeiende dag.”

“Ek is glad nie moeg nie en het julle gesprek baie geniet. Sorg nou maar net dat julle ’n paar grotes uithaal, hoor.”

Toe Johan weg is, het Andries, wat nie ’n woord van die gesprek gemis het nie, vir sy pa gesê: “Hoe kan Vader dan nou vir meneer De Kock sê hoe en waar om vis te vang? Oom Barry sê vir my hy vang al vis vandat hy groot genoeg is om ’n stok vas te hou en daar is nie ’n plek aan ons kus waar ’n vis van belang al uitgehaal is wat hy nie van weet nie.”

Dít van Andries wat eens op ’n tyd, ook nie so lank gelede nie, gedink het sy pa se gelyke met ’n visstok moet nog gebore word.

Mevrou Celliers het met ondeunde oë haar man se verontwaardigde gesig waargeneem en dit was Annie wat hom te hulp gesnel het. “En wie sê hy het al ooit self ’n vis van belang uitgehaal? Die Bolanders kan maar baie grootpraat.”

Andries wou haar eers ’n verpletterende antwoord gee, maar bedink homself en met ’n trek van ag-wat-weet-jy-tog-jy-is-maar-net-’n-onkundige-meisiemens op sy gesig het hy gaan slaap.

Die konsert is eindelik verby en Johan staan op om ’n paar woorde te sê voor die skool sluit. Op sy gemak, seker van homself soos hy van die begin af was, doen hy dit. Met reg ook, dink Annie, is hy so seker van homself. Hy ken sy eie krag. Die afgelope kwartaal, wat volgens haar mening tog die moeilikste was, het skitterend afgeloop.

Maar ag, Johan, dink sy, moet jy so bly lyk omdat jy weer Boland toe gaan? Het ons jou dan so sleg behandel hier? Is dit dat jou hart en gees maar net juigend vooruit gaan by die gedagte dat jy die berge van jou geboortewêreld weer gaan sien; is dit die lokstem van die see waarvoor jy so lief is wat jou vandag so roep; of gaan jou hart maar net weer huis toe na daardie Bolandse nooientjie van jou?

Johan, sy toespraak klaar, is besig om te groet onder die laerskool se personeellede en hy lyk so jonk en so opgewonde soos ’n skoolseun. Hulle gesels klaarblyklik oor sy hengelvakansie en is besig om hom te terg, want meneer Lubbe wys skertsend met sy hand na ’n tamaai groot vis en die klomp om Johan lag almal heerlik.

“Haai, Annie!” Abie kom nader en neem haar arm. “Wat staan jy so en droom! Hoe lyk dit vir my jy hou al klaar vakansie?”

“Maar dit is mos al klaar vakansie,” skerts sy terug, haar lippe styf, maar sy laat toe dat Abie haar nadertrek na die klomp.

Dit is ’n deurmekaar gegroetery en tot siens-sêery en toe kom hy by haar.

Meneer Du Pré het net vir hom gesê: “Nou toe, Johan, kerrie vir my een van daardie grotes. En bring hom saam, hoor, of ek glo wragtie nie jy kan visvang nie.”

“Ek sal hom bring,” belowe Johan laggend en toe is haar hand in syne, die grys oë kyk in hare.

“En wat moet ek vir Annie saambring?” terg hy.

“Niks nie, dankie,” antwoord sy snipperig. “Ons het darem alles hier wat ons nodig het.”

“Ondankbare skepseltjie,” lag hy en ná ’n warm handdruk is hy weg.

Toe hulle die middag aan tafel sit, sê Annie se ma: “Pappie het jou kaartjie gekry, Annie. Het jy al begin pak?”

Sy het nooit een maal gedurende die loop van die oggend weer daaraan gedink dat sy vanaand met die trein na haar tante in Pretoria gaan nie.

Tryna du Toit-omnibus 1

Подняться наверх