Читать книгу Tryna du Toit-omnibus 1 - Tryna du Toit - Страница 11
ОглавлениеHoofstuk 8
Maandagoggend reën dit toe.
Dit was ’n goeie somer in die Karoo gewees en die reëntjie het sag begin uitsak gedurende die nag, nie begelei van die swaar donderstorms wat gewoonlik volg op ’n tydperk van droogte nie.
Maar toe dit opstaantyd word, het die reën met mening begin toesak en dit het gelyk asof dit sommer dae aaneen sal aanhou.
’n Koel herfswindjie het ook skielik as voorloper van die winter sy verskyning gemaak.
“’n Landsreën,” sê Andries Celliers met genoeë aan die ontbyttafel. “Ek is baie bly om die boere se ontwil.”
Dit gaan vanoggend maar ’n bietjie halsoorkop aan die Celliers se ontbyttafel, want Kaatjie, die bediende, bedrieg deur die donker van die bewolkte môre, het verslaap en gevolglik is alles laat. Andries doen sy bes om die somberheid van die oggend te verlig … en maak die drukte daardeur nog erger … deur ‘Blou Maandag’ op te sê terwyl hy vir sy spek en eiers wag.
My mammie is laat,
En Pappie is kwaad
Die bediende het nie opgedaag …
“Auk, ek is hier. Dis maar net ’n bietjie laat vanmôre!” val ou Kaatjie hom in die rede toe sy met die koffie inkom.
Die stoof is vuil …
“Nee, dis nie waar nie: hy’s so blink soos ’n spieël.”
En Annie huil …
“Sy’t vreeslik pyn op haar maag,” verbeter hy algaande.
En dit, my ou broer, dink Annie, is die waarste woord wat jy nog vanoggend gesê het. Want ’n nare, leë kol op haar maag getuig van haar besluit om vanmôre, sonder verdere versuim, vir Johan de Kock die verskoning te gaan aanbied wat al so lank agterweë gebly het. Hardop sê sy vir hom: “Ek hoop, Andries, dat jy net so ’n meester van die woorde van ‘Die Vlakte’ is as wat jy skynbaar van ‘Blou Maandag’ is.”
“Juffrou,” sê hy met diepe waardigheid vir haar, “het ek al ooit nie my werk vir u geken nie?”
Glimlaggend staan sy op en sê: “Bewaar jou die dag as jy dit nie ken nie. Ek sal moet hardloop, Moeder. Tot siens. Tot siens, Vader.”
“Maar jy het nog niks geëet nie, Annie. Net ’n bietjie koffie gedrink.”
“Ek is nie honger nie, Moeder. Het ook nie tyd nie. Gou maak, Andries.”
“Is dit nie te nat nie, Annie? Kan Vader nie gou vir jou skool toe neem nie?”
“Ag, Moeder, dié ou bietjie nat!”
“Ons ou suikerklontjie,” spot Andries, nog houtgerus.
Haastig trek Annie haar reënjas en oorskoene aan, gryp haar tassie met boeke, en met ’n rooi hoedjie op haar kop is sy die reën in.
By die skool val die reën steeds harder en die kinders borrel in van alle oorde. Annie en Johan en ’n hele paar kinders kom gelyk by die deur aan, almal met koppe onderstebo teen die gietende reën, almal ewe haastig om binne te kom.
Die eerste wat Annie gewaar van Johan is toe sy sy stem net agter haar hoor, nie streng berispend soos meneer Fouché sou gewees het nie, maar kalm, gewoon, asof hy die seuns attent maak op iets waarvan hulle nie geweet het nie. Soos ook die geval was.
“Ernst! Johannes! Laat Juffrou asseblief verbykom.”
En Ernst ruk sy nat, verflenterde hoedjie van sy kop af en sê verleë: “Môre, Juffrou. Môre, Meneer,” en staan toe terug dat juffrou Celliers kan ingaan.
Sonder om om te kyk gaan Annie by die gebou in terwyl Johan en die seuns wag dat Maria, Poppie en nog ’n paar meisies wat terselfdertyd daar aangekom het eers agter haar ingaan.
In die personeelkamer trek Annie haar reënjas uit en sy is besig om haar oorskoene, nou vol modder, versigtig en kieskeurig met twee vingers te probeer uittrek toe Johan inkom.
“Nee, Juffrou,” sê hy onmiddellik en kom na haar toe, “so trek ’n mens nie oorskoene uit nie.”
“As hulle so vol modder is, wel.”
Nog in sy reënjas, wat hom groter as gewoonlik laat lyk, hurk hy voor haar en gou en behendig trek hy die modderige oorskoene uit.
“Dankie,” sê sy. “Maar kyk nou hoe vol modder is jou hande.”
Hy staan op en begin sy jas uittrek.
“Dis niks nie,” sê hy, “maar wat gaan ons met al die nat kinders maak?”
“Goeiemôre,” sê meneer Du Pré, wat toe net die personeelkamer binnekom. “Lekker weer vir eende en Bolanders, meneer De Kock!”
“Ja,” sê Johan droogweg, “en dit lyk my vir Karoo-boere ook. Ek het lank laas op ’n Maandagmôre so ’n opgeruimde klomp gesigte gesien.”
Dit is waar. Ten spyte van die gietende reën het elkeen wat inkom ’n breë glimlag op sy gesig. Die ander korswel nog, maar Johan stap na die venster en kyk met ’n gefronste voorhoof na buite.
“So baie van die kinders het nie eens jasse aan nie,” sê hy besorg, sy oë op die kinders wat instroom van buite, en weer herhaal hy: “Wat vang ’n mens aan met so ’n klomp nat kinders?”
“Onkruid vergaan nie,” sê meneer Nieuwenhuys koel en ongevoelig terwyl hy van sy lekker warm jas ontslae raak. Buite onder een van die bome staan sy motor.
Johan sê niks nie, maar sy grys oë kyk strak na buite en dit is weer meneer Du Pré wat die ongemak van die oomblik oorbrug.
“Ag, meneer De Kock, ek dink nie ons kan iets vir hulle doen nie, behalwe om die kinders wat te nat is huis toe te stuur.”
Die klok lui en elkeen gaan na sy klaskamer, Annie opnuut beskaam dat sy, deur nie vír Johan te wees nie, haar so lank aan die kant van so ’n verbitterde ou suurknol soos meneer Nieuwenhuys geskaar het.
Johan, nog besorg oor die kinders, is ’n paar minute later op pad uit sy studeerkamer om die rondte van die klaskamers te doen toe Andries ’n goeie agt minute laat druipstert by die voordeur inkom.
Vlugtig gaan Johan se oë oor die seun, sy lekker warm jas, sy langbroek, die hoed diep oor die wakker blou oë getrek, en koel sê hy: “En toe, Andries?”
Vinnig is die hoed van sy kop.
“Ek is jammer, Meneer,” antwoord hy verontskuldigend. “Ek is laat.”
Nog kyk Johan hom skerp en ondersoekend aan en meteens sê hy, onverwags: “Kom saam met my studeerkamer toe, Andries.”
’n Bietjie verslae, ten spyte van ’n rein gewete omtrent sy werk, trek hy sy jas uit en volg Johan na sy studeerkamer.
Gaan Meneer nou regtig moeilikheid maak oor die paar minute wat hy laat is? wonder hy onrustig.
In sy studeerkamer staan Johan voor sy venster en tuur met onsiende oë na buite terwyl hy op Andries wag. Wat makeer vanmôre dat hy hom so laat omkrap deur die ongevoeligheid van ’n man soos Nieuwenhuys wat tog van die eerste dag af sy geswore vyand was? Maar hy besef dat dit nie net meneer Nieuwenhuys was nie. Dit is die kinders: nie dié wat in warm jasse gekom het met ’n lekker warm maaltyd binne hulle nie, maar die ander, die minderbevoorregtes wat sonder jas of baadjie in die dunste rokkies en met verslete hempies en broekies deur die reën gehardloop het, miskien sonder ’n behoorlike maaltyd om hulle te sterk, wat hom so omkrap.
Hy begin al sy kinders ken, en met kennis en ’n beter begrip van hul omstandighede tuis het medelye en meegevoel gekom, en meneer Nieuwenhuys se onverskillige woorde grief hom diep.
Die winter met sy verdere ontberings lê nog voor.
“Kom binne,” sê Johan in antwoord op Andries se klop, en eers toe Andries voor sy tafel staan, draai hy stadig om.
In stilte betrag die twee mekaar, toe sê Johan: “Waarom is jy laat, Andries?”
“Ek het verslaap, Meneer. Die bediende het ook verslaap en die ontbyt was laat.”
Nie juis die regte antwoord vir ’n man in Johan se stemming nie, en Andries begryp glad nie die snaakse glimlaggie om Meneer se mond nie.
“Jou suster was betyds.”
“Annie is sonder ontbyt skool toe, Meneer.”
“En vir jou, Andries, was dit noodsaakliker om jou ontbyt te kry as om betyds by die skool te wees?”
Andries bloos en toe word sy wange bleek, maar manmoedig kyk hy sy hoof in die oë.
“Ek het nie so daaraan gedink nie, Meneer.”
Die verslae uitdrukking op die gesig van sy staatmakerleerling waarsku Johan dat sy straf reeds voldoende was. Maar hy het nog iets op die hart en met ’n innerlike bestraffing aan homself oor sy eie onbestendigheid, wat hom ontsteld en ongelukkig laat mor oor die kinders wat miskien nie genoeg ontbyt gehad het nie en terselfdertyd besig is om ’n ander te straf wat gewag het vir sy ontbyt, vervolg hy, minder streng: “Ek weet, dis baie keer die moeilikheid, dat ’n mens nie dink nie. Het jy byvoorbeeld al ooit daaraan gedink dat jy ’n baie bevoorregte seun is, Andries?”
Met oë vol verbasing oor die nuwe wending wat sake neem, kyk Andries na hom.
“Hoe bedoel Meneer?”
“Dink ’n bietjie na: verstandelik, geestelik, liggaamlik – is jy nie in alle opsigte ryklik geseën nie?”
Verleë kyk Andries na hom en sê: “Ek is seker, Meneer.”
“Jy is, ongetwyfeld. Jy besit ’n helder, vernuftige verstand om mee te begin. Dit vereis nie groot inspanning van jou kant om bo-aan jou klas te staan nie, nè Andries?”
“Ek werk hard, Meneer.”
“Nee, Andries, jy werk speel-speel, omdat jou werk jou plesier is. Daarom is jy bevoorreg, daarom en oor nog veel meer. Jy word groot in ’n huis waar die waardering van alles wat skoon en mooi en eg is ’n integrerende deel van die lewe uitmaak … en het jy al ooit twee keer daaroor nagedink? Jou vernuf op die gebied van sport, die feit dat jou pa in staat is om jou geldelik te help solank jy wil studeer … al dié voorregte aanvaar jy as vanselfsprekend. Maar tegelykertyd maak dit jou verpligting teenoor die samelewing soveel groter en sal jy moet rekenskap gee van soveel meer. En omdat ek weet wat jou ideale vir die toekoms is, sou ek nie graag wou sien dat een van die seuns wat vanmôre koud en nat en miskien honger betyds by die voordeur ingehardloop het, jou eendag op die pad moet verbygaan nie. Nie omdat ek hulle dit nie gun nie, maar omdat dit sal beteken dat ’n veelbelowende seun weer eens nie sy belofte gestand gedoen het nie. Want jy weet, Andries, dit is ’n voldonge feit dat teenspoed en ontberings en teleurstellings ’n man staal, verhard, ’n man maak van hom, terwyl daar baie briljante manne is wat met al die kanse in die wêreld tog nooit presteer het nie omdat daardie staal ontbreek. Jy het baie voorregte, moenie dat dit ’n meulsteen om jou nek word nie. Gebruik dit as ’n swaard om vir jou ’n weg deur die lewe te baan, miskien in ’n rigting waar daar nog geen voetspore lê nie.”
Hy kom na Andries, sit sy hand op sy skouer en sê: “Nou toe, loop na jou klaskamer. Ek preek nie dikwels nie, maar terwyl ek dit nou gedoen het, probeer onthou wat ek gesê het.”
In Andries se mooi blou oë, gewoonlik so lewenslustig, is ’n vreemde uitdrukking asof daar onverwags ’n visioen aan hom openbaar is wat hom geen genoeë verskaf nie.
“Dankie, Meneer,” sê hy bedees, “ek sal dit nooit vergeet nie.”
Toe Andries weg is, gaan Johan by sy lessenaar sit, sy gedagtes nog by die jong seun wat nou net daar weg is. Het hy nie miskien verkeerd gedoen nie? Is dit geregverdig om enigiemand, en veral ’n jong man aan die begin van sy loopbaan, een greintjie van sy selfvertroue te ontneem terwyl dié selfvertroue miskien gebruik kan word as ’n staf en ’n stut op die moeilike weë wat voorlê? En tog, die gevaar is werklik daar. Hy het dit menigmaal self gesien. Is dit dan nie beter om hom te waarsku dat die staf wat hy in sy hand het nie onfeilbaar is nie? Dat hy liewer saggies moet leun?
Nie dat hy vir Andries vrees nie. Hy is oortuig daarvan dat die seun standvastigheid van karakter het en dink ook nie dat hy werklik sy jeugdige selfvertroue geskaad het nie. Hy sal hom in elk geval maar ’n bietjie dophou.
En nou om sy nat, verkluimde kuikens te gaan opsoek, en in die besonder dié een wie se gesig hom hinder vandat hy sy nat, verflenterde hoedjie van sy kop geruk en opsy gestaan het dat juffrou Celliers moet instap.
Hy gaan dan ook eerste na die standerd agt-kamer waar hy weet hy hom sal kry en vind juffrou Celliers daar besig.
“Enige eerstehulp of tuisverpleging nodig hier?” groet hy glimlaggend en die spontane groet van die kinders laat Annie weer eens besef hoe hoog hy by hulle aangeskryf staan.
“Ons het alles gedoen wat ons kon,” antwoord sy, “maar ongelukkig was dit nie veel nie.”
Sy skerp grys oë gaan stadig deur die kamer, vertoef vir ’n oomblik op Ernst Marais se skraal, bleek gesiggie voor dit weer verder gaan, toe draai hy om na Annie.
“Juffrou,” sê hy sag, sodat net sy kan hoor, “ek dink hier is ’n paar kinders wat te nat is om te bly sit. Gebruik tog maar jou eie oordeel en stuur hulle huis toe. En stuur Ernst Marais so oor vyf minute na my studeerkamer sonder om dit opvallend te maak, asseblief.”
“Hy is veral baie nat, meneer De Kock.”
“Ja,” sê hy instemmend, “maar hy is meer as dit.”
Toe hy die kamer uit is, sê sy die kinders wat sy dink te nat is om te bly sit, aan om huis toe te gaan. Sy stem saam met Johan. Liewer nog ’n keer die ongunstige weer daar buite trotseer om gou daarna droog en warm te wees as om ure lank in die trekkerige klaskamers in nat klere rond te sit.
Ernst laat sy vir laaste staan om sodoende die nodige vyf minute om te kry.
“Jy ook, Ernst,” sê sy vriendelik. “Droog gaan aantrek by die huis, hoor. En sal jy asseblief as jy loop dié boek vir meneer De Kock in sy studeerkamer neem?”
“Goed, Juffrou,” sê hy gewillig, ’n flou glimlaggie op sy bleek gesig, en meteens, diep ontsteld, weet sy wat Johan in sy gesiggie gesien het. Dit is honger!
Johan sit voor sy lessenaar toe Ernst lusteloos en sleepvoet die studeerkamer binnekom en die boek voor hom neerlê. Medelydend kyk hy na die seun voor hom, onseker wat om vir hom te sê.
Dit is sy eerste kennismaking met kinders wat waarlik gebrek ly. In die Bolandse skool waar hy vandaan kom, was daar ook minderbevoorregte seuns, seuns wat gehelp moes word om verder te studeer, maar nooit ’n seun soos hierdie, by wie gebrek naak en onbeskaamd sy wese deurstraal nie. Sy hele klein persoon soos hy daar staan, kaal voete, verslete hempie en broekie wat oor en oor gelap is, blougrys oë te groot vir die smal wit gesiggie, is ’n stomme verwyt teen die ontoereikendheid en wanbestuur van die beskawing.
“Ernst,” sê hy sag, “het jy vanmôre geëet?”
’n Beskaamde blos verkleur meteens die bleek wange en die blougrys oë soek verleë die vloer.
“Nee, Meneer,” fluister hy skaam.
“En gister, Ernst?”
“Gistermôre het ons pap gehad.”
“Niks anders nie?”
“Nee, Meneer.”
“Wat makeer dan, Ernst? Dit het mos nie altyd so gegaan nie, het dit?”
“Nee, Meneer. My pa is siek en hy is al vyf weke uit die werk.”
Die berusting in die jong stem sny soos ’n mes deur Johan se hart.
“Hoeveel kinders is julle, Ernst?”
“Vyf, Meneer.”
“En jy is die oudste?”
“Ja, Meneer.”
Johan neem ’n stukkie papier uit sy laai, skryf iets daarop en neem tien sjielings uit sy beursie.
“Neem dit, Ernst,” sê hy, “en loop gou by die winkel langs voor jy huis toe gaan en koop dié goed vir jou mammie. Sê sy moet vir julle kos maak. En ek sal haar vanmiddag ná skool kom besoek.”
Ongelowig, sonder begrip, kyk hy Johan aan en toe, stadig, dring die besef tot sy dowwe verstand deur. Gretig sluit sy vingers om die geld en met ’n haastige dankie is hy by die deur uit.
Teen elfuur reën dit nog steeds, ’n sagte, deurdringende reën wat ’n goeie winter vir die skaapboere voorspel, maar die wêreld daar buite is oortrek van ’n groue, gryse mistigheid.
“As ek darem nie so lus was vir daardie koppie tee nie, het julle my nie met stokke en swaarde nou buite gekry nie,” brom Abie Greef toe hy die personeelkamer binnekom. “Dis tyd dat die teedrinkery nou weer hier by ons gehou word.”
“Ag, jy’s maar te bly om die teedrink-ekskuus te hê,” terg meneer Du Pré. Almal weet dat Abie baie van die gawe onderwyseressie hou en dit begin nogal lyk of hy so stadig veld wen. Abie lag maar goedig saam met hulle en trek sy jas aan.
Annie is nog besig om haar oorskoene aan te trek toe Johan inkom, sy jas wat net langs hare hang van sy kapstok neem en dit aantrek.
“Kry jy hulle aan, Juffrou?” vra hy.
“Ja, dankie,” antwoord sy, en toe, sonder dat sy bedoel het om dit te doen, vra sy: “Wat het jy toe in verband met Ernst uitgevind?”
“Wie? Ernst Marais?” vra meneer Kriek wat net langs hulle staan. “Die mannetjie se werk is darem die laaste tyd so hopeloos.”
“Ja,” sê Johan. “Ek het dit ook agtergekom. Ek was juis van plan om ’n bietjie ondersoek in te stel. En vanmôre vind ek uit dat dit ellendig by sy huis gaan; sy pa is al weke lank siek en daar is broodgebrek by die huis. Hy het gisteroggend laas ’n bietjie pap geëet.”
Hy neem Annie se jas by haar en hou dit reg vir haar om aan te trek. Onberispelik hoflik was die Bolander nog altyd teenoor haar gewees, dink sy met ’n deel van haar brein, die ander deel besig om na te dink oor wat hy gesê het, toe meneer Nieuwenhuys se smalende woorde meteens soos ’n emmer koue water oor haar val.
“Jy is nog jonk, meneer De Kock. Moenie dat hulle vir jou enigiets wysmaak nie. Ons werk al lankal met dié soort kind en hulle is slegter as sleg. Ek dink hy is ’n lui, onnosele skepsel en ek het hom Vrydag nog ’n deftige loesing gegee.”
Dit is asof die spanning in die kamer tasbaar word. Niemand roer nie, behalwe meneer Nieuwenhuys wat, so uit sy humeur soos Annie hom maar selde gesien het, blykbaar onbewus van die uitwerking van sy woorde, onverskillig sy jas aantrek.
Bekommerd gaan Annie se oë na Johan se gesig.
Hy staan roerloos, ’n uitdrukking van pyn in sy grys oë.
Toe sê hy: “Wie het jou die reg gegee, meneer Nieuwenhuys, om aan die kinders te slaan?”
“Ek het nog altyd die reg gehad,” antwoord meneer Nieuwenhuys koel.
“Nie vandat ek hoof is nie. Dit was een van my eerste versoeke aan julle, om geen lyfstraf toe te dien sonder om my te raadpleeg nie. Het jy dit die hele tyd verontagsaam?”
“Wanneer ek gedink het dit was nodig,” antwoord hy en sy klein ogies blits venynig.
Nog ’n paar sekondes lank, wat soos ’n oneindigheid voel vir die toeskouers, kyk Johan hom aan, gespanne, sy gesig wit, toe bedink hy homself en sê koel: “Ons sal die gesprek later hervat, meneer Nieuwenhuys.”
Die toeskouers haal weer asem en met meneer Nieuwenhuys vooraan loop hulle deur die reën na die primêre skool waar hul tee wag, ook heerlike warm botterbroodjies wat Annie se ma gestuur het.