Читать книгу Tryna du Toit-omnibus 1 - Tryna du Toit - Страница 9
ОглавлениеHoofstuk 6
Op skool gaan alles goed, bo verwagting goed. Die skooldebat is flink aan die gang en die leerlinge put oneindig veel plesier daaruit. Vrydagaand kan nie gou genoeg na hul sin kom nie. Getrou elke Vrydagaand is die personeellede ook daar.
Meneer Kriek is op voorstel van Johan gekies tot voorsitter en onder sy geesdriftige leiding is hulle gewoonlik verseker van ’n genoeglike aand. Hulle het besluit dat die debat, aan die begin altans, net deur leerlinge en personeel bygewoon sal word. Een of twee maal per kwartaal sal hulle ’n oueraand hou en die publiek ook nooi.
Op die mooi tennis- en ringtennisbane wemel dit elke middag van die kinders. So geesdriftig is almal dat diegene wie se beurt dit nie die middag is om te speel nie maar kom kyk hoe die ander speel. Annie moet ook gereeld haar beurt neem en trek smiddae haar tennisklere aan om saam met die kinders tennis en ringtennis te speel. Tot haar verbasing put sy baie genot daaruit. Die hoogtepunt van elke middag is blykbaar wanneer Johan daar aangefiets kom soos hy byna elke middag doen – soms in tennisklere as hy self tennis gespeel het, soms in sy gewone klere, af en toe in ’n kort kakiebroekie en hemp – en ’n rukkie kyk hoe hulle speel. Dan drom die kinders om hom saam asof hy een van hulle is. En tog, nooit kon Annie agterkom dat een van hulle vrypostig is met hom nie.
Sy doen weer een middag diens toe hy met sy fiets daar aankom. Hy het die fiets gekoop kort nadat hy op Saailaagte gekom het en gebruik dit oral waar hy wil gaan. Net skool toe stap hy. Tant Sannie woon nie ver van die skool nie.
Dit is dié middag die matriekleerlinge se beurt en Annie sit geïnteresseerd en kyk hoe hulle speel toe Johan ongemerk langs haar kom sit. Andries en Francis en twee standerdnegeseuns speel op die baan naaste aan Annie. Andries en Francis speel uitstekend; hulle is albei lede van die openbare tennisklub en is al ou tennisspelers. Dikwels gaan hulle ook op Wag ’n Bietjie se lekker tennisbaan speel, waar Barry groot behae daarin skep om hulle af te rig. Hulle is onder die bevoorregte paar wat nie gely het onder die ou hoof se heerssugtige en eng beleid nie, en tog is dit wonderlik hoe gou die ander kinders die spel baasgeraak het. Poppie het in dié klein tydjie ’n pragtige dryfhou ontwikkel en Tewie de Beer, wat nog nooit vantevore ’n raket in sy hand gehad het nie, het hulle almal met verbasing laat opkyk oor die snelle vooruitgang wat hy gemaak het.
“Middag, Juffrou,” sê ’n stem langs Annie.
“Middag, meneer De Kock,” groet sy terug en vestig maar weer haar aandag op die spelers. Vir ’n rukkie is daar stilte tussen hulle. Die bane is almal beset en die kinders wat net kom kyk het, is teen dié tyd al almal huis toe, almal behalwe Tewie. Hy leun daar eenkant teen die draad, sy oë onafgebroke op Andries-hulle gevestig.
“Waar is Maria Gerber dan?” vra Johan. “Ek het haar nog nooit hier gesien nie. Speel sy nie tennis nie?”
“Nee, sy speel nie, meneer De Kock.”
“Waarom nie, Juffrou? Het jy nie al probeer uitvind nie?”
Annie het Maria eendag by die skool laat roep en haar gevra waarom sy nie kom saamspeel nie, en Maria het gesê dat sy nie tyd daarvoor het nie. Annie het met haar gepraat, maar kon haar nie oortuig nie en het haar weer laat gaan met ’n vriendelike uitnodiging om een middag te kom probeer.
Maar nou prikkel Johan se woorde haar en krap haar onmiddellik weer om. Dis asof hy haar aanspreeklik hou vir Maria se afwesigheid. Die lieflike vrede en rus van die middag is nou meteens daarmee heen. Koel antwoord sy: “Ek het verstaan dat sport nie verpligtend is nie, meneer De Kock?”
“Nee, Juffrou, jy is heeltemal reg. Maar ons probeer darem om ’n belangstelling in minstens een soort sport by die kinders te kweek,” antwoord hy kalm. “En vind jy Maria nie ook ’n besondere leerling nie?”
“In watter opsig?” vra sy beleef. ’n Glimlag verskyn om sy mondhoeke. In haar kort wit tennisrokkie, onberispelik netjies, met ’n rooi lint om haar donkerbruin hare, lyk Annie soos een van sy skooldogters. Min het hy ooit kon droom toe hy met soveel huiwering Saailaagte se hoërskool binnegetree het dat die grootste verset en weerspannigheid nie sou kom van die kant van die dogters soos hy gevrees het nie, maar wel van die juffrou op sy personeel. Die juffrou wat hy so vuriglik gehoop het ’n ouerige, ervare dame sou wees wat hom op meesterlike wyse sou kon bystaan as daar moeilikheid kom. Gelukkig het alles sover voor die wind gegaan, maar die dag moet kom wanneer die teenwinde waai. Hy besef so goed soos enigeen dat dit nou nog maar ’n geval van die nuwe besem is. Die kinders is opgetoë met al die nuwighede, maar dit sal wel ook eendag ou nuus word.
Hy is nie van plan om moeilikheid te soek nie. Maar wat moet hy aanvang met die koppige juffroutjie wie se afkeer en onguns soos ’n koue wind in sy gesig waai elke keer as hulle mekaar ontmoet en wat tog nooit werklik met haar verset vorendag kom sodat hy ’n vinger daarop kan lê nie?
Toe Johan nie dadelik haar vraag beantwoord nie, kyk Annie vraend na hom en sê weer: “In watter opsig, meneer De Kock?”
“In watter opsig?” sê hy nadenkend. “Ek dink in alle opsigte, Juffrou. Maria Gerber is een van die sterkste jong karakters wat ek nog teëgekom het.”
Sy kyk hom verbaas aan. Maria Gerber! ’n Mooi, liewe meisietjie, slim, teruggetrokke, met fyn maniertjies, in elke opsig ’n voorbeeldige leerling wat nooit moeilikheid op skool gee nie. Maar nou juis so ’n besondere karakter het Annie haar nie gevind nie. Daarvoor is sy te kleurloos. Sy wil nog verder gesels, geïnteresseerd, bereid om haar eie argwaan vir tyd en wyl te vergeet, toe Andries-hulle van die baan af kom. Dadelik is hulle om Johan en Annie, hul jeugdige geesdrif en opgetoënheid soos ’n fris windjie wat ná ’n skroeiende somersdag waai.
“Hoe gaan dit met daardie handrughou, Francis?” vra Johan. “Dit lyk of jy hom nou regkry.”
“Ja, Meneer. Hy gaan nou soos seep. Ek het nooit gedroom dit was die moeilikheid nie.”
“Ja,” sê Johan, “met die onvoltooide armbeweging het jy die bal gesny en nie gedryf nie. En hoewel die snyhou baie effektief op sy tyd is, het hy nie die krag van die regte dryfhou nie.”
“Kom speel Meneer ’n slaggie saam met ons,” vra Francis. “Dis nog vroeg. Juffrou Celliers ook. Toe, ek en Andries sal vir Meneer en Juffrou uitdaag.”
“Skool teen personeel?” sê Johan laggend. “Julle sal maar bedroë daarvan afkom. Hoe lyk dit, Juffrou? Sal ons die kinders gou wys waar Dawid die wortels gegrawe het?”
Annie willig in en dadelik is hulle op die baan.
Dit is ’n vinnige wedstryd, vol spannende oomblikke, en die kinders wat nog daar is, skaar hulle opgewonde om die baan. Andries en Francis doen hul bes en slaan met tye die onmoontlikste balle terug, maar hulle is nie opgewasse teen Annie en Johan nie. Annie speel self goed, vinnig met pragtige, diep dryfhoue, maar Johan se spel is onverbeterlik. Altyd koel, bedaard, stuur hy die bal net waar hy dit wil hê. Ten spyte van die seuns se dapper poging is die wedstryd gou verby, 6 – 1 ten gunste van die personeel.
“Lekker pak gekry,” jou Tewie de Beer toe hulle afkom.
“Toe maar, ons sal jou volgende keer teen Meneer sit,” terg Andries goedig.
“Ek gaan nog eendag vir Meneer klop,” sê Tewie kalm.
“Eendag! Jy bedoel eendag as Meneer so oud is dat hy met kieries rondstap,” sê Andries honend en die ander spot Tewie ook, maar hy hoor nie eens nie; hy het Meneer se raket en is besig om dit soos watter kenner te betas.
“Meneer is darem te goed vir ons,” erken Francis toe hulle wegstap. Johan neem Annie se kleurbaadjie waar dit hang teen die muur van die afdakkie wat dien as beskerming teen son en wind en help haar dit aantrek.
“Dis maar net ondervinding, Francis,” lag hy. “Wag maar tot aanstaande jaar dat jy en Andries tussen al daardie tenniskampioene daar op Stellenbosch beland.”
“Dankie,” sê Annie nou. “Dit was baie lekker.”
“Jy kan gerus maar gaan, Juffrou, ek sal kyk dat hulle alles in orde laat.”
Terwyl die seuns die nette en balle versorg en Johan op hulle wag, neem Annie haar raket en stap huis toe, lui en moeg in die vroeë aandskemering.
Toe Annie stadig die stoeptrappies van haar ouerhuis oploop, dink sy daaraan dat sy nog vanaand saam met Piet moet uitgaan, en as sy nie gou maak nie, is sy laat. Piet haat dit om vir enigiemand te wag.
“Hallo, Mammie. Het Kaatjie my rok gestryk?” vra-groet sy haar ma toe sy die huis inkom.
“Hallo, Annie. Ja, kindjie, dit lê op jou bed.”
“Dankie, hoor. Jammer ek is so haastig, maar ek sal moet gou maak.”
Sy bad gou en trek aan, fraai en koel in ’n wit rok met fyn groen geborduurde blommetjies.
“Hoe lyk ek, Moeder?” vra sy glimlaggend toe haar ma in die deur kom staan en haar buitengewoon vreemd aankyk. “Makeer daar iets?”
“Natuurlik nie. Jy lyk koel en mooi, skat,” en haar oë rus liefderik en vol goedkeuring op haar mooi dogter.
Meneer Celliers kom ook in en gaan sit op die stoel in Annie se kamer.
“Al weer uit?” vra hy, maar speels, sonder strengheid.
“Ons gaan by tant Ella eet. Ons sal vanaand seker nie laat tuis kom nie.”
“Wie’s ons?” frons meneer Celliers, “Piet?”
“Ja, Pappa. En moenie so kwaai wees nie.”
“Kwaai! ’n Man wat so onder die pantoffelregering staan! Dis darem die een plek waar ’n man nie baas is nie – in sy eie huis. Tot ou Kaatjie het meer te sê as ek.”
“Ek hoor darem nou iets brom,” terg Annie. “Het Moeder al weer ’n nuwe rok gekoop of is dit boetie Andries wat Vader so omgekrap het? Kom, sê vir Annie,” paai sy hom spottend.
“Almal behalwe Annie. Dié kan dit mos nie wees nie,” skerts hy terug.
“Nou wat het Annie gedoen? Loop sy te veel rond?”
Die voordeurklokkie lui en hul skerts, wat tog ook nie alles skerts is nie, word onderbreek. Annie weet dat haar pa nie baie van Piet hou nie, dus neem sy maar aan dat dit hom hinder dat sy so dikwels saam met Piet uitgaan. Maar hy is verniet nou al bekommerd. Sy het nog geen plan om met Piet te trou nie … as hy haar ooit sou vra. Piet het sy jongkêrelslewe lief en sal nie maklik daarvan afstand doen nie. Maar nou terg sy hom weer, moedswillig.
“Dis een voordeel van so ’n gejaagde lewe, ’n mens kan nie eens luister as jou pa kwaad is nie.” Sy buk oor hom en gee hom ’n soentjie. “Toe maar, Pappa, ek sal hom vanaand vra wat sy plan is.”
Die gesig wat hy na haar keer, lyk so hewig geskok dat Annie uitbars van die lag. Sy gee haar ma ook ’n soentjie en met ’n “Tot siens, kinders, soet bly, hoor,” is sy weg.
Vir ’n rukkie nadat sy weg is, is daar stilte in die kamer. Mevrou Celliers begin sorgvuldig al die klere wat rondlê, optel en wegbêre en maak die gekreukelde bedjie liefderik glad.
“Jy moenie Annie so bederf nie, Stienie.”
“Ag, liefie, sy is so haastig en dis nie lekker om in so ’n deurmekaar kamer terug te kom nie. Dit neem my net ’n minuut of twee.”
“Toe sy klein was, moes sy self haar kamer netjies hou.”
“Ja. En as dit nodig is, sal sy dit weer doen. Maar sy het nou so min tyd.”
“Sy is ook die hele tyd aan die gang. Ek is seker sy kry nie genoeg slaap nie.”
“Ag, Andries, dis maar dieselfde beskuldiging wat die jeug geslag ná geslag toegewerp word. En jy weet wat hul antwoord daarop is: Ons is maar net vir ’n klein rukkie jonk; ons wil ons jong lewe geniet. Laat haar dit maar geniet. Ek het so ’n gevoel dat Annie se jong, kommervrye dae nie meer so baie lank gaan duur nie.”
“Piet Grové?” vra meneer Celliers.
“Nee, Andries,” antwoord sy haastig. “Ek is seker Annie is nie ernstig oor Piet nie. Soos ek sê, sy is jonk en geniet maar die lewe. Sy is nog onaangeraak, jy kan dit mos sien. Piet is nou nog maar net ’n lekker speelmaat. Of hy uiteindelik die een sal wees, weet ek nie, maar ek hoop saam met jou dat dit nie die geval sal wees nie. Dis sommer maar ’n gevoel wat ek vanaand gekry het. Sy het so mooi gelyk, so … so begeerlik, dat ek skielik gevoel het dat ons haar nie meer lank in ons huis sal hê nie.”
Haar man lyk bekommerd en berouvol sê sy: “En nou het ek jou omgekrap. Jy weet mos van beter as om sulke ou vroulike voorspooksels te glo.”
“Maar as die vroulike voorspooksels maar net my heimlike vrees beaam, wat dan?”
Beslis sê sy: “Dan kan ons ook niks daaraan doen nie. Kom, ons praat sommer onsin. Annie is nog pure kind. Loop haal jy gou vir Francis en Andries uit die dam uit dat ons kan eet. Dis jou waarlik waar al stikdonker en hulle baljaar nog steeds soos twee visse.”
Piet wag vir Annie op die stoep, foutloos geklee in ’n ligte pak met ’n snit soos maar selde op Saailaagte gesien word, en saam stap hulle na sy motor.
“Ek het jou lank laas gesien, Annie. Amper ’n week gelede,” begin hy.
“En wie se skuld is dit?” vra sy kalm.
“Myne, ek weet.”
“Lekker tyd gehad?”
“Ja, dankie, so lekker soos ’n mens kan hê as jou perd verloor.”
Piet was gedurende die naweek Johannesburg toe vir die perdewedrenne, ’n lang naweek wat gestrek het van Woensdagmiddag tot Maandagmôre. Dit is vir Annie asof sy rustelose gees hier op Saailaagte nie herberg of rus kan kry nie, asof hy telkemale moes weg om weer sy verlore gemoedsrus te probeer herwin. Hy is nie ’n man wat rus en rustigheid kan put uit die vlaktes nie, vir hom is dit so beklemmend soos ’n benoude kamer vir iemand anders sou wees. Die vlammende strale van ’n wonderlike sonsondergang is slegs die teken dat hy sy tennis vir die dag moet staak, want die lig word nou te sleg; die skemeruur is die uur om ’n drankie te maak.
Annie weet dit alles, en nog meer. Sy weet van sy dobbelaande wanneer hulle tot in die vroeë ure van die môre vir groot somme geld speel; sy weet van die knaende ongeduld wat aan sy siel vreet vanweë sy verpligte verblyf hier op Saailaagte, maar sy vind hom nietemin interessant en aantreklik, en sy gedrag teenoor haar was nog altyd onbesproke. Sy het baie maal gewonder of sy ouers reg optree deur hom hier op Saailaagte vas te hou terwyl hy so hunker na die stad, maar aan die ander kant is sy ma siek en baie agteruit en wil hulle graag vir ’n tydjie hul geliefde en enigste seun by hulle hê.
As hy dan ook weer ’n keer so weggevlug het na die stad het hy weer ’n ruk lank gelukkiger en meer tevrede gelyk, en hulle het hom verstandiglik nooit gekeer nie.
“Waarom soek jy dan ook die verkeerde perd uit?” vra sy nou.
“Volgende keer soek jy hom vir my uit, hoor. Dan sal ons sien.”
“Goed,” belowe sy laggend.
Toe hulle by mevrou Pienaar kom, ontdek Annie tot haar verbasing dat sy en Piet nie die enigste gaste vir die aand is nie. Omdat mevrou Pienaar niks gesê het nie, het sy aangeneem dat net sy en Piet daar gaan eet, want die Pienaars het haar dikwels uitgenooi om by hulle te kom eet en kuier. Hulle twee dogters is albei getroud en weg, die een op ’n plaas in Natal, die ander in Kaapstad, en hul enigste seun, Kosie, studeer in Holland. En om die brandende verlange na haar eie kinders te stil vul mevrou Pienaar maar gedurig haar huis met Saailaagte se jongmense. Hulle verjaag gewoonlik die ondraaglike stilte wat so swaar op die mooi huis rus en laat herlewe die ou dae toe haar woelige kinders die huis laat weergalm het.
In die groot voorkamer sit die Du Prés alreeds. Liesel en Abie Greef is daar en ook Colin Buys, Abie se mededinger om Liesel se gunste. En Nellie Vermeulen, die tikster wat in Ben Pienaar en Andries Celliers se kantoor werk. Kobie is daar, baie opvallend in ’n tamatierooi rok waarteen haar blonde, glansende hare en die waswit vel pragtig afsteek. Sy lyk soos ’n duur, uitheemse blom daar tussen hulle en Annie kyk met ongeveinsde bewondering na haar.
“Hallo, skat,” groet mevrou Pienaar haar. “Hoe kry jy dit reg om so koel te lyk?”
Die voordeurklokkie lui weer en die volgende oomblik is Johan de Kock ook in die kamer. Annie staan naby die deur waar mevrou Pienaar nog met haar gesels, en sy is die eerste persoon wat Johan sien toe hy inkom. Onmiddellik, soos ’n sluier wat val, verloor die bruin oë hul opgewektheid. Koel en beleef soos gewoonlik beantwoord sy sy groet, en meteens draai Johan vererg en sonder om ’n woord verder te sê sy rug op haar. En daar is Kobie, mooi en warm en vriendelik, die algehele teenstelling van die ysnooientjie daar by die deur. En hoe lyk dit dan of ons vriend Piet ook weifel vanaand! Trek die geurige rooi roos vanaand sterker as die koel, afsydige sneeuklokkie? Want Piet en Kobie sit in ’n hoek van die kamer, Piet op die armleuning van Kobie se stoel, en die twee is vir die oomblik geheel en al verdiep in mekaar se geselskap.
En op ’n skielike ingewing, met ’n innerlike spotlaggie vir homself, stap Johan ook nader. Hy neem ’n stoel en gaan ook langs Kobie sit.
Die volgende oggend laat Johan Maria na sy kantoor roep.
’n Bietjie huiwerig, meer as ’n bietjie verbaas, kom staan sy onseker voor hom en wonder waar haar werk tog te kort geskiet het. Seker maar Matesis. Dis die een vak wat sy ten spyte van die grootste inspanning tog nie heeltemal kan baasraak nie. Ongelukkig is dit nou meneer De Kock se vak. En sy wou so graag hê dat hy tevrede moet wees met haar werk.
Met ’n angstige, vraende blik in haar mooi oë kyk Maria op na die hoof, maar hy glimlag vriendelik en gerusstellend en vra haar om te sit.
Op die puntjie van die stoel gaan sit sy, haar hande in haar skoot gevou en bewegingloos, haar oë vas op hom gerig, en wag vir Johan om te praat.
Die kamer, stil, afgesonder van die gewoel en rumoer van die druk skoollewe daar buite en tog die spil waarom alles draai, het vir haar pynlik onaangename herinneringe, en hoewel vanoggend nooit ’n herhaling van dáárdie oggend kan wees nie, is sy allesbehalwe gelukkig. Maar niks van die ongemak en onrus is op die stil jong gesig te bespeur nie. Uiterlik kalm wag sy geduldig haar hoof se woorde af.
Die buitengewone kalmte en selfvertroue wat Maria aan die dag lê, het Johan van die eerste dag af opgeval. Hy vind so ’n mate van kalmte in so ’n jong kind vreemd en onnatuurlik. En tog sou hy dit miskien ook maar aanvaar het, soos almal skynbaar doen, as dit nie was vir ’n klein, en vir iemand anders moontlik onbeduidende, voorvalletjie in sy klaskamer nie.
Hy het dié dag, glad nie volgens gewoonte nie, met ’n paar vreemde probleme gekom en ’n paar van die kinders gevra om dit op die swartbord te probeer doen. Andries het die eerste een geneem en foutloos gedoen, amper net so gou as wat hy dit self sou gedoen het.
“Mooi, Andries,” het hy hom gekomplimenteer en die tweede opgeskryf. En dis toe hy omdraai om vir Maria te vra om dit te probeer doen dat hy die onverbloemde angs in haar oë gewaar het. Intuïtief het sy aangevoel dat hy haar gaan vra om dit te doen en sy kon nie. Nie onvoorbereid nie. So iets het nog nooit met hulle gebeur nie. Meneer Fouché het hulle altyd genoeg tyd gegee om die probleme voor te berei, en dan het sy hulle op die punte van haar vingers geken. Nou het haar brein botstil gaan staan sodat sy nie eens die warboel van x, y, z’s kon uitmaak nie. Die figuur wat hy so netjies daar op die swartbord geteken het, het haar vyandig aangestaar. Waarom? Omdat sy nie graag so haar onkunde voor die hele klas wil toon terwyl sy as een van die slimmes beskou word nie? Sy weet self nie, maar sy is totaal paniekbevange.
Asof dit nooit sy bedoeling was om haar te vra nie, gaan sy oë by haar verby en hy stuur Freek Nieuwenhuys na die swartbord. Maar sy bly gespanne en selfs toe hy tien minute later daar weg is, het sy nog nie van haar skok herstel nie.
Tog, toe hy ’n paar dae later weer dieselfde probleme nagaan, het sy onmiddellik opgestaan en dieselfde probleem kalm en foutloos gedoen. Maar die angstige oë wat die ferm mondjie so weerspreek het, het sy oë oopgemaak. Dis toe dat hy agtergekom het dat Maria se kalmte nie aangebore is nie. Dit was asof sy, jonk soos sy is, al klaar ’n stryd te stry gehad het, en of daar alleen berusting en kalmte gekom het indien sy oorwin het.
“Maria,” sê hy nou aan haar. “Waarom kom speel jy nie saam met ons tennis en ringtennis nie?”
’n Verligte glimlaggie verhelder haar gesig. Is dit maar al wat Meneer wil weet!
“Ek het nie tyd nie, Meneer.”
Nie tyd nie! Wat ’n tragiese verskoning vir enige jong kind om te maak. Nie tyd om ook te speel nie!
“Speel jy nie graag tennis nie, Maria? Hou jy nie daarvan nie?” probeer hy weer.
Sy aarsel ’n oomblik.
“Nee, Meneer, ek dink ek sal baie daarvan hou. Maar ek het nie tyd nie,” herhaal sy.
“Moet jy jou mammie baie by die huis help?”
“Nee, Meneer, dis my skoolwerk wat my so besig hou.”
“Andries en Francis kry dan tyd om te speel.” Met opset noem hy dié twee name en hy is die wolkie wat oor haar gesig trek heeltemal te wagte.
Lank aarsel sy dié slag en toe sê sy sag, byna onhoorbaar: “Andries en Francis is slim, Meneer. Ek nie.”
Lê die hele geheim van Maria se jong lewe in daardie woorde opgesluit? Asof hy nie verstaan nie, vervolg Johan: “Jou punte het in die verlede dan so uitstekend vergelyk met hulle s’n, Maria.”
“Ja, Meneer, maar ek moes baie hard werk.”
“Hoe hard, Maria? Vertel ’n bietjie vir my. As jy nou vanmiddag uit die skool gaan, wat is jou program?”
“Ek begin dadelik met my skoolwerk as ek klaar geëet het. En dan werk ek maar min of meer die hele tyd tot ek gaan slaap.”
“Hoe laat?”
“So elf- of twaalfuur. Party maal later …”
“Elke dag, Maria?”
“Ja, Meneer.”
“En naweke?”
“Naweke ook. Dan gaan ek gewoonlik weer die hele week se werk oor.”
“En word jy nie moeg nie?”
“Ek is dit al gewoond, Meneer. Party maal word ek so ’n bietjie moeg, maar as ek gerus het, gaan ek maar weer aan.”
Onbegrypend kyk Johan na haar. Waarom moet sy dan so hard werk! Sover hy weet, is haar ouers nie arm nie en sy is hul enigste kind. Is dit maar die verterende vuur van ambisie wat haar so meedoënloos dryf, haar alle wette van die natuur so onverstandiglik laat verontagsaam?
“Wat is jy van plan om volgende jaar te doen, Maria?”
Weer verhelder die bleek gesiggie.
“Ek wil graag kindertuinonderwyseres word, meneer De Kock. Ek is baie lief vir kinders,” vervolg sy skaam.
Kindertuinonderwyseres! Baie lief vir kinders! En om kindertuinonderwyseres te word is sy besig om haarself te breek, haar gesondheid te ruïneer en so haar hele toekoms te verpand, terwyl sy probeer tred hou met ’n seun soos Andries, intellektueel veel ryker bedeeld as sy en vir wie arendsvlerke nie sterk genoeg is om hom te voer na die hoogtes van sy droomwêreld nie.
Hoe sou dié kinkel in haar jong lewe gekom het? Teen al sy vaste voornemens in sal hy moet teruggaan na die verlede. Daar êrens begrawe, miskien so diep dat sy al heeltemal daarvan vergeet het, moet die oorsaak van haar buitengewone gedrag te vinde wees. Dit is nie elke dag dat ’n skoolhoof dit nodig ag om ’n kind te berispe omdat sy te veel tyd aan haar werk bestee nie.
“Was meneer Fouché tevrede met jou werk, Maria?”
“Ja, Meneer, hy was baie tevrede.”
“Het hy geweet jy werk so hard? Of het jy nie altyd so hard gewerk nie?”
“Hy het geweet, Meneer. Ek werk maar … van lankal af so hard.”
“Was hy nooit ontevrede met jou werk nie, Maria? Nie een enkele keer nie?”
’n Pynlik skuldige blos verkleur Maria se wange en versterk Johan se suspisie dat sy vermoede reg was.
Verleë, byna verbouereerd, antwoord sy: “Net een keer, Meneer. En dit was baie lank gelede.”
“Maar dié een keer sal jy nooit vergeet nie.”
Dit is nie ’n vraag nie, maar Maria fluister tog sag: “Ja, Meneer,” haar donker oë diep ongelukkig by die herinnering aan daardie dag. Dit was amper drie jaar gelede, maar dit gee haar nog ’n bitter gevoel net om daaraan te dink. Nog nooit het sy met iemand daaroor gepraat nie, maar die gevoel van skaamte, byna van vernedering, wat sy daardie oggend deurgemaak het, sal seker by haar bly tot die einde van haar dae. En dit het alles so onskuldig begin.
’n Klompie seuns en dogters het saam gaan aandblomme pluk. Verlei deur die lieflike lentemiddag, het hulle verder afgedwaal as wat hulle bedoel het agter die geurige, ontwykende blommetjies aan wat maar net een maal in die jaar, en dan net vir ’n klein rukkie, die wêreld met hul skoonheid verbly het. Daar by die Drielingkoppie het hulle die middag die wonderlikste aandblomme met lang, regop stele gekry, en dit was al sterk donker toe hulle eindelik weer huis se kant toe gestaan het.
Ongelukkig het hulle meneer Fouché op pad terug ontmoet, en sy oë het afkeurend en onheilspellend oor die groepie jong seuns en meisies gegaan. Die volgende dag het hy hulle ’n toets gegee en Maria, wat die vorige aand te moeg was om te leer, het hopeloos swak gevaar.
Meneer Fouché het haar na sy studeerkamer laat roep – hierdie selfde kamer, hulle was toe nog nie lank in die nuwe gebou nie – en lank en ernstig met haar gesels, en die meisie wat uit die studeerkamer gekom het, was nooit weer dieselfde meisie wat daar ingegaan het nie. Nooit weer was dit vir meneer Fouché nodig om met haar te praat oor haar werk nie. Met byna bomenslike inspanning het sy haarself gedryf om werk van so ’n gehalte te lewer dat sy nooit weer teenoor meneer Fouché in sy studeerkamer te staan hoef te kom nie. Dat dit ten koste was van alles wat die jeug as sy regmatige erfenis beskou, was onvermydelik.
Sy het die middag huis toe gegaan en sy het beweeg soos een wat in ’n droom verkeer; en die eerste wat sy sien toe sy inkom in die huis was die pragtige aandblomme wat haar ma so fraai gerangskik het en wat die hele huis met hul soet geur gevul het. En sy het gevoel asof sy hulle kan verbrysel, asof sy hulle met geweld kon uitruk en vertrap onder haar voete.
“Ek voel nie lekker nie, Moeder,” het sy gesê en na haar kamer gegaan, en haar ma het besorg by haar bed gestaan. Maria het nie goed gelyk nie. En dis toe sy daar op haar bed gelê het dat sy die besluit geneem het.
Sy het Andries as haar ideaal gekies, doelbewus, met oop oë, omdat Andries soos ’n ster bo die ander uitgeblink het, omdat hy die een was met wie meneer Fouché nooit hoef te praat nie, en het haar dit ten doel gestel om sy werk te ewenaar.
In die begin het dit moeilik gegaan, die opwellende jeug het teëgestribbel, die lieflike wêreld daar buite het so aanloklik geroep, maar sy het dit reggekry. Dit het bitter moeilik gegaan, maar sy het dit reggekry; sy het werk gelewer wat byna gelykstaande aan Andries s’n was.
En nooit weer was dit vir haar nodig om teenoor daardie eienaardige oë, inkblou en kil asof ’n siel daaragter in boeie sit, te staan te kom nie; en sy het die prys wat sy daarvoor betaal het, nie te hoog geag nie.
Sy kyk meteens op en die grys oë van haar hoof is vas op haar gerig, en sy kry die onverklaarbare gevoel dat Meneer verstaan. Hy praat ook nie verder oor meneer Fouché nie.
“Is jou ouers tevrede met jou werk, Maria?” vra hy nou.
Sy dink aan haar pappie wat so spog met sy slim dogter en ’n teer glimlaggie verskyn op haar gesiggie.
“Ja, Meneer, hulle is heeltemal tevrede.”
“Dan is ek al een wat nie tevrede is nie, Maria.”
Vinnig kyk sy op om te sien of Meneer miskien ’n grappie maak, maar hy is doodernstig, en ongelukkig en verslae laat sy haar oë weer op haar hande val. Sy het vir ’n oomblik die gevoel gehad Meneer verstaan. Maar wat wil hy dan nou hê? Meer as wat sy gedoen het in die verlede kan sy nie doen nie. Daar kom reeds dae, nou meer dikwels as tevore, dat haar gedagtes botstil gaan staan en dat sy die boeke voor haar suf aanstaar. En as sy dan probeer om die onwillige, moeë gedagtes bymekaar te bring en terug te dwing na die boeke daar voor haar, dan is dit asof ’n ysterband om haar hoof saamgetrek word en is sy verplig om alles opsy te stoot en ’n rukkie voor die venster te staan of na buite te loop. En gewoonlik kan sy dan nie slaap nie en is sy die volgende oggend amper te moeg om op te staan. En Meneer wil nou hê sy moet nog meer doen.
“Maria,” vervolg Johan toe sy nie antwoord nie, “ek kom vandag na jou met ’n buitengewone versoek, en ek wil hê jy moet baie ernstig nadink oor wat ek vir jou gaan vra. Ek wil hê dat jy in die vervolg veel minder tyd aan jou boeke moet bestee.”
Uiters verbaas rig sy haar oë weer op Johan.
“Maar hoe kan ek, Meneer? Ek … ek sal dadelik agter raak by Andries en Francis.”
“Maar is dit dan so belangrik dat jy nie mag agter raak by Andries en Francis nie? Maak dit dan soveel saak dat jy ’n bietjie meer punte agter is as wat jy nou is? Is jou gesondheid, jou sielsgeluk, dit waarlik werd?” vra hy streng.
Lank staar sy hom aan, die verwarring wat sy woorde in haar gemoed veroorsaak duidelik leesbaar op haar gesig.
“Ek … ek het so gedink, Meneer,” fluister sy met bewende lippe.
“As jy volgens jou eerlike oortuigings gehandel het, Maria, wie kan jou blameer? Jy het jou pad voor jou gesien en jy het dit bewandel, en die feit dat dit bykans onbegaanbaar was, het jou nie afgeskrik nie. Dit het moed gekos, Maria, baie moed, en ’n algehele opoffering van jouself. Maar onthou jy, toe ek die eerste dag met julle gepraat het, het ek vir julle gesê ek hoop ons gaan baie gelukkig saam werk en saam speel. Want die lewe bestaan uit werk en speel. Jy kan nie op die een konsentreer ten koste van die ander nie. En dit is wat jy doen. Jy is besig om jou gesondheid te verbeur en jou hele lewe uit verband te ruk omdat jy wil tred hou met twee seuns wat jy self erken slimmer is as jy, en wie se paaie netnou van joune gaan wegdraai om nooit weer saam te loop nie. En wat jou beweegrede ook al mag wees, en ek neem aan dat dit ’n baie grondige een is, dink ek nie jy het die regte pad gekies nie. Sonder dié vreeslike inspanning behoort jy maklik ’n eersteklas te behaal. As jy aangaan op die pad wat jy loop, twyfel ek of jou gesondheid sal hou tot die einde van die jaar. Ek dink jy sal ’n uitstekende kindertuinonderwyseres wees, maar onthou dat jy nie heeldag skoolhou nie. Daar is ’n sosiale lewe waaraan jy ook verwag word om deel te neem, waaraan elke jong mens graag wil deelneem, maar as jy nie nou geleer het om te speel nie, sal jy maar sukkel om dan te begin. En hoe sal jy ooit weer die agterstand inhaal, Maria? Dink aan al die sonnige ure wat jy opgesluit gesit het in jou kamer en sê vir my eerlik: Was dit dit werd?”
Maria sit haar hande voor haar oë en bars uit in trane. Sy huil oor die dae wat haar vriende haar gevra het om saam te speel en sy met ’n seer hart geweier het omdat sy moes werk; sy huil oor die dae toe haar vriende haar nie meer gevra het nie en sy ook met ’n seer hart gewerk het; sy huil oor die dae toe sy moeg en amper moedeloos maar weer haar verslappende kragte aangespoor het en vorentoe gebeur het; en sy huil van louter dankbaarheid en geluk dat dié dae verby is.
Want haar hoof se woorde het soos ’n weerligstraal gekom en die engheid en armoede van haar ordelike jong lewetjie blootgelê. Haar hele lewensbegrip was verkeerd.
Johan het opgestaan en voor die venster gaan staan. Sy hart was bitter teenoor die ou man vir wie die sonskyn van die lewe nie bestaan het nie. Hoeveel gevoelige jong siele dra vandag nog die letsels van die slae wat hy hulle so genadeloos toegedien het?
Toe haar snikke bedaar, gaan hy na haar en sit op die hoek van sy lessenaar voor haar. Hy haal ’n skoon sakdoek uit sy sak en sit dit in haar hand. Sy droog haar trane daarmee af en kyk met ’n onsekere glimlaggie na hom op.
“Ek is jammer, Meneer …” het sy begin.
“Jammer? Waaroor, Maria?”
“Om … omdat ek so gehuil het.”
“Ek is nie jammer nie. Die trane het mos beteken dat jy ’n nuwe blaadjie gaan omslaan, nie waar nie?”
“Ek … ek sou graag wou, Meneer.”
“En ons gaan jou almal help. Dink jy dan dit gaan so swaar wees om weer te leer om te speel, Maria?” het hy glimlaggend gevra.
“Nee, Meneer,” sê sy, maar sy weet dit sal swaar gaan. Sy sal skaam voel om haarself by die kinders te voeg. Hulle sal haar mos nie vra nie. Dit is jare gelede dat een van hulle haar uitgenooi het, hulle is al so gewoond daaraan dat sy altyd weier.
“Toe maar, Maria,” sê meneer De Kock weer en die glimlag is nog daar. “Ek sien jy dink dit sal baie swaar wees. Gaan jy nou maar die hele ent pad terug tot daar waar jy die verkeerde pad geneem het en ons sal jou daar kom haal.”
Met onverwagte moed en ’n wysheid vreemd vir iemand van haar jare, sê sy: “Ek weet nie of daar vir my toe ’n ander pad oop was nie, Meneer.”
Daar word sag aan die deur geklop. In stede van te roep “Kom binne,” soos sy gebruik is, stap Johan self na die deur toe. Dit is juffrou Celliers.
“Meneer De Kock, hier is ’n dame om jou te spreek,” sê sy kort en saaklik.
“Wie is dit, Juffrou?”
“Mevrou De Beer. Mattheus de Beer se ma.”
“Sal jy haar asseblief solank na die personeelkamer toe neem, Juffrou, en ’n bietjie met haar gesels. Ek is nou klaar.”
Annie draai om en stap weg en Johan gaan terug na sy kantoor waar Maria nou op hom staan en wag. Sy sakdoek lê netjies opgevou op sy lessenaar. Hy kyk na die traanbevlekte gesiggie en sê: “Ek dink jy kan maar vir die res van die dag huis toe gaan, Maria.”
“Dankie, Meneer.”
“Ek sal een van die seuns vra om jou boeke huis toe te bring. En sê vir jou ouers ek wil baie graag vir hulle kom kuier. Ek sal vanaand ’n bietjie kom as hulle tuis sal wees.”
“Hulle gaan nooit uit nie, Meneer. Hulle sal bly wees om Meneer te sien.”
“Goed.” Sy glimlag is bemoedigend en begrypend. “En mooi loop op die nuwe pad, Maria; en as jy ooit alleen of vreemd voel … sal jy vir my kom sê?”
“Ja, Meneer.”
Heeltemal ongemerk het Maria nie weggekom nie. Toe Annie wegloop nadat Johan mevrou De Beer kom haal het, het sy en Maria amper in mekaar vasgeloop.
“Ekskuus, Juffrou,” het Maria skaam gesê.
Annie het ook na die traanbevlekte gesiggie gekyk en was menslik genoeg om te wonder wat in Johan se studeerkamer plaasgevind het dat Maria, die leerling van wie hy so ’n hoë dunk het, met duidelike spore van verdriet op haar gesig daar uitkom. Tot haar verdere verbasing gee Maria haar ’n skitterende glimlag, druk haar hoed onverskillig op haar kop en hardloop by die voordeur uit!
In Johan se kantoor laat mevrou De Beer haar groot, swaar liggaam versigtig in die stoel neersak. Sy stoot haar swart hoed ’n bietjie terug en kyk Johan nuuskierig aan.
Aangetrek in haar Sondagklere, ’n swart rok wat knellend om haar groot liggaam span, slaan mevrou De Beer ’n imposante figuur.
“Ja, meneer De Kock, ek wou ook al lankal kom kennis maak het, maar ek is ’n arme weduwee met ’n klomp kinders en hulle hou maar vir my vas. Ek sê vir Meneer, dis ’n gewerskaf sonder einde om vandag vyf kinders alleen groot te maak. Maar vanmôre toe ek die brood uit die oond haal, sê ek skielik vir myself: ‘Kyk Siena, nie ’n dag langer uitstel nie. Vandag gaan jy die nuwe hoof groet’.”
“Ek stel dit baie hoog op prys, mevrou De Beer,” sê Johan. “Ek wil so graag met al die kinders se ouers kennis maak, maar my werk hou my ook vas en dit vorder maar stadig.”
“Ja, meneer De Kock, ons is maar almal besig. Dominee kla ook maar oor dieselfde ding – die huisbesoek wil maar nie vorder nie. Daar is altyd ’n paar wat hy oor en oor moet gaan sien, en dan is daar siekes wat besoek moet word en sondaars wat bestraf moet word, en die gesonde mense wat in hul spoor trap, moet maar sien kom klaar sonder Dominee se hulp. Meneer se werk is seker ook maar baie so.”
Mevrou De Beer het die spyker op die kop geslaan. Gewoonlik is dit nie die normale, gesonde kinders wie se ouers eerste aan die beurt kom nie – tensy hy natuurlik op spesiale uitnodiging na hulle toe gaan – maar wel die ouers van die kinders wat geestelik of liggaamlik afwyk van die normale.
“Ja, Mevrou, u is reg. Dit wil voorkom asof die dominee se werk en myne nogal op plekke ooreenstem. Daarom dat ek ook seker nog nie by u was nie. Mattheus is in elke opsig ’n doodnormale seun.”
“Ja, meneer De Kock, hulle is maar almal ewe onnutsig. Ek wil juis vir meneer De Kock vra om Tewie tog maar saans vroeg huis toe te stuur van daardie nuwe tennisbane wat julle gemaak het. Hulle het my al baie sonde en ergernis gekos, want vandat Hannes begin werk het, moet Tewie nou saans die koei melk, en hy kom jou by my siel so laat dat ek al twee maal self veld toe moes stap om vir Blommetjie te gaan haal. En so kan dit nie aangaan nie. Ek meen te sê, wat te erg is, is nou darem te erg …”
In dié trant gesels mevrou De Beer nog ’n hele rukkie en dit is byna teetyd toe sy eindelik vertrek. Johan stap daarna na die personeelkamer waar hy die res van sy personeel vra om ’n oomblikkie te versuim voordat hulle gaan tee drink.
Terwyl hy vir hulle wag, dink hy weer aan die jong meisietjie wat met ’n vasberade mondjie en verlangende oë letterlik en figuurlik die sonskyn uit haar lewe gesluit het as gevolg van ’n hopeloos verdraaide pligsbesef. En aan ’n jong seuntjie met ’n sproetgesiggie wie se oë soos twee sterre glinster as hy een van die klubrakette in sy hand vasvat en die tennisbal agterna sit met ’n geesdrif en ’n konsentrasie wat seker ’n beter doel waardig is; en wat smiddae vroeg huis toe gestuur moet word sodat hy die koei kan gaan melk. Nou ja, dink hy, so word ’n mens gestaal, voorberei vir die lewe wat baie maal vir hom lyk asof dit meer stampe en stote het om uit te deel as liefkosings.
“H’m. Ek hoor Ma De Beer was vanmôre hier,” sê Abie Greef die oomblik toe hy die personeelkamer binnekom waar hulle almal op hom staan en wag. “Hoe lyk jy dan vir my so ’n bietjie bedees, meneer De Kock? Ek hoop julle het nie handgemeen geraak nie?” vra hy kamtig besorg.
Johan se aantreklike glimlag verhelder sy gesig.
“Nee, so erg was dit nie. Maar julle moet asseblief almal onthou dat Mattheus smiddae vroeg genoeg huis toe moet gaan om die koei te gaan haal en te melk. Mevrou De Beer moes al twee keer self die koei gaan haal en soos dit my voorkom, gaan die spaanders waai as sy dit ’n derde maal moet doen.”
“Die spaanders het seker al klaar gewaai,” sê Abie. “Ek verstaan dat Ma De Beer vroeër dae elke week ’n besemstok gekoop het. G’n wonder ook dat Pa De Beer later soos ’n groot speld verdwyn het en nooit weer sy verskyning gemaak het nie.”
“En mevrou De Beer is seker ook maar dank vader bly om van hom ontslae te wees,” voeg Annie warm by. “Jy vergeet om te sê dat sy nog die ou slegte dronklap moes kos gee ook …”
“Nee, so skinder ek nie van my medemens nie,” sê Abie vroom.
“En wat noem jy die insinuasies in verband met die besemstok?”
“Dis geskiedenis. Een van die oorsake van die Groot Trek,” korswel hy tot groot vermaak van die res.
Toe hulle tot bedaring kom, met Annie heeltemal in die minderheid, sê Johan sober: “Buiten Tewie het ek nog iets op my hart. Ek sal gou praat, julle is seker dors ná die hewige argument van so pas. Dis oor Maria Gerber. As haar werk in die komende weke tekens van verslapping toon, slaan tog asseblief geen ag daarop nie. Veral nie ’n woord van kritiek nie. En as sy smiddae by die tennisbane aankom, kyk tog dat sy inval saam met die ander kinders en die middag geniet.”
Meneer Du Pré kyk Johan vreemd aan.
“Moet die twee dan noodwendig saamgaan, meneer De Kock? Ek bedoel Maria se verskyning op die tennisbaan en ’n verslapping in haar werk?”
“Ek dink so, meneer Du Pré.”
Abie Greef sê ongelowig: “Ek glo dit nie. Maria sal elke middag kan tennis speel en ek is seker haar werk sal nie die minste tekens van verslapping toon nie. Sy is een van die slimste meisies wat ek nog teëgekom het.”
Johan skud sy kop. Dit sal Maria help as hy sy kollegas so ’n bietjie voorberei vir wat gaan kom. “Nee, meneer Greef, jy maak ’n fout. Maria is al jare lank besig om almal om die bos te lei. Sy is maar ’n doodgewone meisietjie met ’n doodgewone intelligensie, maar sy besit ’n ysterwil en ’n kapasiteit vir werk soos ek nog maar selde teëgekom het. En jare lank al is sy besig om haar kragte heeltemal te ooreis. Ek dink sy is vinnig op pad na ’n algehele ineenstorting as ons haar nie nou help nie. Al glo julle my dus nie vandag nie, voldoen asseblief aan my versoek. Ons kan later weer daaroor praat. En kyk tog ook dat Tewie ’n paar lekker stelle tennis kry voor hy die koei moet gaan melk. Kom ons gaan drink nou tee!”
“Watter kaf praat die man,” sê meneer Nieuwenhuys smalend aan Annie en meneer Kriek toe hulle drie voor uit stap. “Ons werk al jare lank met Maria en ken haar deur en deur en nou wil hy, ’n vreemdeling, vir ons kom sê Maria is so, en sy is nie so nie, en ons moet so met haar maak. Weer ’n klomp sielkundige bog wat hy hier op ons kinders wil kom toepas in plaas daarvan om hulle met hul werk te laat aangaan.”
“Maar wat nou as die vreemdeling reg is, Nieuwenhuys? Miskien kan hy met nuwe oë iets sien wat ons almal al so lank in die gesig gestaar het dat ons geen waarde meer daaraan heg nie,” sê meneer Kriek ernstig.
Meneer Nieuwenhuys trek minagtend sy bolip op, maar praat nie verder nie. Annie stap swyend langs hulle en dink wat ’n skande dit sal wees as die vreemdeling tog reg is.
“En toe, waar bly julle vandag?” wil Kobie weet by hul aankoms. “Almal op skool gesit?”
“Al hul geld op die verkeerde perd verwed volgens hul gesigte,” merk meneer Lubbe, die hoof van die laerskool, op.
“Nee,” sug Abie swaar, “dis maar net Ma De Beer wat kom kuier het.”
Ma De Beer was in die laerskool ook goed bekend en die skaterlag wat op Abie se woorde gevolg het, het die lug meteens laat opklaar.
’n Paar dae later is Johan in die openbare biblioteek besig om boeke uit te soek.
By sy aankoms op Saailaagte was dit een van die dinge waardeur hy baie aangenaam verras is: die mooi, moderne biblioteek waar die vernaamste dagblaaie van die land en die gewildste tydskrifte van die dag te vinde was, die jongste romans en ander moderne boeke sowel as die volledige werke van die ou, erkende skrywers – dié boeke wat met die verloop van die jare niks van hul bekoring prysgee nie. Wie ook al verantwoordelik was vir die keuse van die boeke wat hier op die rakke pryk, was goed belese, onbekrompe, deeglik op hoogte van sake wat betref die letterkundige wêreld, en het alle eer van hul werk.
Nog ’n pluimpie vir Ben Pienaar en sy medestadsraadslede. Oral op die dorpie is tekens van hul versiende, vooruitstrewende beleid sigbaar. Net sy skool het nie in die vooruitgang gedeel nie. Neem nou sy skoolbiblioteek. Dit is so karig toegerus, so betreurenswaardig, so ontoereikend dat niemand die moed het om dit as ’n biblioteek te bestempel nie. Nooit het hy kon droom dat hy kinders in so ’n toestand van geestesverwaarlosing sou aantref as hier op Saailaagte nie. En hoe moet hy die kinders leer sonder behoorlike toerusting, hoe moet ’n mens ’n leeslus by hulle wek sonder boeke?
Soos gewoonlik is dit maar weer die minderbevoorregte kind wat daaronder ly, nie kinders soos Andries en Francis nie – en daar is nog ’n paar in sy skool, maar hulle is maar ’n handjie vol – wat jare lank reeds toegang het tot die biblioteek en pragtig gebruik maak daarvan onder die verstandige leiding van hul ouers. Nee, dit is die groot meerderheid van sy skoolkinders wat die skool vroeg verlaat, en vir wie daar ná ’n saai, kleurlose skoollewe wat hulle met ongeveinsde dankbaarheid vaarwel sê, dan maar weer ’n lewe van geestelike armoede en gebrek wag.
Maar dis een van die eerste dinge wat hy gaan regmaak sodra hy die nodige fondse het. Die skoolkermis gaan nou aan die begin van die tweede kwartaal gehou word, as die ouers maar net sy saak goedgesind is en saamwerk. Sonder hul hulp en steun kan hy tog niks tot stand bring nie. Maar hy het vertroue in sy medemens, en sy toekomsplanne berus stewig en vas op hul welwillende samewerking.
Hy is net klaar en begin al so kuier-kuier langs die rye boeke deur toe stap toe Kobie daar aangewaai kom en hom vriendelik en opgewek die hand toewuif.
“Middag, Kobie,” groet hy glimlaggend toe sy by hom kom.
“Hallo, Johan. Ag, wat is daar tog vir ’n mens om te lees? Toe, gee vir my ’n mooi boek. Nie iets so swaar soos lood nie. Die lewe is swaar genoeg,” verklaar sy met ’n pruilmondjie.
Johan kyk haar geamuseerd aan.
“Wat weet jy van die lewe se swaar!” spot hy. “Laat ek sien watter boeke jy teruggebring het, hoe sal ek nou anders weet waarvan jy hou.”
Maar sy weier speels om haar boeke aan hom te oorhandig en sê: “Jy sal tog net sê dis kaf. Maar ek weet nie hoe julle mans die ou dik, dik boeke kan deurlees nie. My arms word moeg net om hulle vas te hou, wat nog te sê van hulle huis toe dra,” en die mooi blou oë loer so skuins onderlangs na Johan.
Laggend antwoord hy: “Nou toe, loop haal dan self gou jou boeke, dan sal ek hulle vir jou huis toe dra.”
Kobie laat haar ook nie twee maal nooi nie. Sy neem gou-gou haar boeke na die meisie toe en kom byna onmiddellik terug met die nuwes.
“Wat? Is jy al klaar?” vra hy verbaas. Met ’n streng gesig maar laggende oë sê hy: “Kobie, ek sweer jy het vandag jou boeke toe-oë uitgeneem. Kom, sê my wie is die skrywers.”
Kobie, wat letterlik met onsiende oë twee boeke gegryp en gou laat omruil het, kon om haar lewe te red nie sê wie hulle geskrywe het of eens waaroor hulle gaan nie. Op heterdaad betrap, giggel sy maar en sê: “Ek was bang jy sou vir my wegloop.”
Dit is op hierdie oomblik dat Annie ook by die biblioteek ingestap kom en die eerste mens op wie haar oe val, is Kobie, haar mooi, laggende gesig opgehou na Johan, wat ook breed glimlag terwyl hy laggend iets vir haar sê.
Vir ’n oomblik voel dit vir Annie asof sy wil omdraai en weghardloop van die toneel daar voor haar oë. Dit is meteens meer as wat sy kan verdra om Johan en die mooi Kobie so vertroulik saam te sien.
Kobie vorder vinnig, dink sy bitter. Sy laat nie gras onder haar voete groei nie.
En toe wonder sy waarom die toneeltjie haar so moet ontstel, waarom sy so onthuts moet voel. Wat gaan dit haar aan? As Johan de Kock regtig verlief raak op Kobie, wat gaan dit haar aan? Sy haat die man en sy haat skielik ook vir Kobie! Hulle pas by mekaar. Sy hoop hulle sal gelukkig wees!
Johan sien haar eerste en groet haar bedaard, geensins onthuts of van stryk gebring nie. Maar die laggende grys oë lag nie met haar nie. Koel, byna krities, kyk hy haar aan, en sy word bewus van ’n eienaardige gevoel. Dis asof die grys oë, so skerp, so deurtastend, die ongetwyfeld aantreklike uiterlike waarmee sy bedeeld is soos ’n gordyn opsygeskuif het en niks daar binne gevind het wat sy verdere belangstelling werd is nie. Annie ondervind ’n oomblik van vertwyfeling en onsekerheid, so groot soos sy in haar lewe nog nie gehad het nie.
“Kom, Kobie,” sê Johan, en met ’n gevoel dat sy uitgesluit is van ’n plek waar sy graag wou ingaan, bly Annie alleen in die biblioteek agter.
Op pad huis toe vra Johan vir Kobie dat hulle by die poskantoor moet aangaan. Hy wil kyk of daar briewe is. Kobie gee nie die minste om nie. Hoe langer die pad vanmiddag is, hoe genotvoller sal dit wees. Maar Johan is stil en afgetrokke. Sy gedagtes is nie by Kobie nie; hulle dwing om terug te gaan na die meisietjie wat hulle in die biblioteek agtergelaat het. Daar was iets byna weemoedigs in haar gesig toe hulle daar wegstap, ’n verslaentheid wat ’n mens nie gewoonlik by die koel, besliste Annie Celliers aantref nie, en wat hom hinder. Sy is nie gelukkig nie. Die stremming wat daar nog altyd tussen hulle was, oorspronklik geheel en al van haar afkomstig, die doelbewuste onverskilligheid wat hy van die aand dat hulle saam by die Pienaars was teenoor haar openbaar, begin haar raak. Nou ja, dink hy geïrriteerd, waarom maak sy nie ’n einde daaraan nie? Moet die toenadering dan van sy kant af kom?
“Johan!” klink Kobie se ongeduldige stem hier langs hom, en hy kyk af in haar beskuldigende blou oë. “Ek het al twee maal met jou gepraat en jy hoor nie eens wat ek sê nie.”
“Ek is jammer, Kobie,” sê hy verskonend, “my gedagtes het gedwaal. Wat het jy gesê?”
“Waar het jou gedagtes gedwaal?” wil sy weet.
“By die baie moeilikhede wat maar die daaglikse lot van ’n arme skoolhoof is. Maar ek is jammer,” sê hy nog eens. “Ek sal nou mooi luister. Wat het jy gesê?”
Daar is twee briewe in sy posbus. Johan kyk vinnig na hulle, glimlag tevrede en steek hulle, sonder om hulle oop te maak, in sy sak. Dit is te veel vir Kobie.
“Is jy dan nie nuuskierig om te sien wat sy skryf nie?” vra sy.
“Sy?” vra hy, en vervolg tergend, “en wat weet jy dan van haar af?”
“O … ’n voëltjie het my alles vertel.”
“Glo jy nog alles wat die voëltjies vir jou sê?”
“Wel, hierdie voëltjie behoort te weet waarvan sy praat.”
“So? En waarvan het sy nogal gesels?”
“Van jou nooientjie in die Boland.”
Maar Johan is al klaar moeg vir die speletjie. Sy gedagtes wil nog maar steeds dwaal.
“Kobie,” berispe hy haar, “’n mens suig nie dinge so uit jou duim nie.”
Diep verontwaardig sê sy: “Ek suig dit glad nie uit my duim uit nie. Annie het vir my gesê.”
Annie! Wat het Annie van hom te sê gehad! Hy sou wat gee. Maar wag, hy moet versigtig wees sodat Kobie nie agterkom nie. Kobie het egter klaar agtergekom, en hoe hy ook al probeer, hy kan niks meer uit Kobie kry nie. Oortuig dat sy Johan se belangstelling geprikkel het, is sy so ontwykend soos ’n vlinder op ’n lentemiddag en Johan probeer nie verder nie.
Toe Kobie en haar boeke veilig tuis besorg is, gaan hy huis toe, sy gedagtes nog altyd besig met Annie, haar gesiggie soos hy dit daar in die biblioteek gesien het nog steeds voor sy oë. Dit is haar verdiende loon, dink hy een oomblik, sy wil mos met hom kragte meet. En dan weer: Sy is nog so jonk, nie veel ouer as Maria of Poppie nie. Ek moes haar gehelp het, nie toegelaat het dat dinge so ver ontwikkel nie. Ek is tog ouer en verstandiger as sy.
Hy put ook geen werklike plesier uit die houding wat hy teenoor haar ingeneem het nie. Hy wou haar maar net ’n bietjie terugbetaal vir haar koel afsydigheid teenoor hom, maar dinge het nou ver genoeg gegaan.
Hy sal maar ’n plan moet beraam om ’n einde daaraan te maak.
Barry Retief kom ’n dag of wat later dorp toe vir sake en kom die middag laat ná tennis daar by Annie-hulle aan.
Annie het ook die middag tennis gespeel, maar nie so laat soos Barry en Johan-hulle nie. Klaar gebad en aangetrek in ’n koel groen linnerok, is sy in die roostuin aan die kant van die huis besig om die dooie roosknoppe uit te breek toe Barry daar by haar kom.
Andries Celliers se mooi huis staan in die middel van ’n paar groot erwe. Daar is ’n windpomp en ’n lekker groot dam in die een hoek van die tuin waar Andries en sy maats in die somer na hartelus baljaar, en Annie-hulle swem ook dikwels daar. Veral in die aand, ná so ’n snikhete somersdag, is dit ’n verkwikking vir siel en liggaam om in die koel damwater te ontspan. Dikwels het Annie en Andries ook eers weer in die dam gaan klim na hul werk vir die volgende dag klaar is en voor hulle bed toe gaan.
Die tuin getuig ook van vrugbare Karoo-grond en volop water; daar is baie vrugtebome, ’n mooi groentetuin met reguit walletjies en vore, ’n prieel. Maar dit is die mooi roostuin aan die noordekant van die huis waarin Andries Celliers die grootste behae skep.
Daar is rose van alle kleure en geure en soorte, en soos ’n ware liefhebber ken Andries Celliers die laaste een by sy naam. Hy is meestal daar te vinde as hy smiddae uit die kantoor kom en die rose betaal die sorg en tyd wat aan hulle bestee is met rente terug. Vir Annie, wat in baie opsigte haar pa se dogter is, het die roostuin ook ’n onweerstaanbare aantrekkingskrag en as sy ’n vrye tydjie het, is sy ook maar daar te kry.
“Hallo, Barry,” groet Annie vriendelik. “Lekker tennis gespeel?”
“Ja, heerlik. Johan en Piet was albei op hul stukke en ek en Nico is na hoogtes meegesleep wat ons nie eens gedink het binne ons bereik is nie.”
“Bog. As jy net gereeld oefen, hoef jy vir niemand terug te staan nie. Maar ek het gesien julle speel so lekker. Saailaagte het vanjaar ’n kans om die Karoo-beker te verower, dink jy nie so nie?”
“Ongetwyfeld. Met Piet en Johan en mevrou Coetzee by is ons span myns insiens onoortreflik.”
“Het jy nog nie gehoor watter span hulle gekies het nie?” vra Annie.
“Ja. Ben Pienaar het daar by die bane aangekom net nadat jy weg is.”
Ben Pienaar is ook voorsitter van Saailaagte se tennisklub. “So? En wat het hulle besluit?”
“Johan en mevrou Coetzee speel saam en jy en Piet moet Woensdagmiddag teen hulle speel vir die eerste plek op die lys. Die komitee voel hulle kan nie besluit nie, alhoewel ek kan sien dat Ben Pienaar se geld op Johan-hulle is. Ek dink ook self jy en Piet sal moet speel soos nog nooit tevore nie as julle eerste op daardie lys wil wees.”
Annie reageer nie daarop nie, maar sy voel geneig om met Barry saam te stem.
“Ek en Letty kom derde en dan moet Nico du Plessis en Kobie teen Abie Greef en juffrou Marais uitspeel.”
“Abie-hulle behoort te wen. Kobie en Nico sal dit nooit uithou teen juffrou Marais se veilige spel nie.”
“Ja-a. Maar as Nico weer die dag op sy stukke is, sal juffrou Marais nooit die bal in die hande kry nie. In elk geval, dit behoort baie interessant te wees, en ek kom spesiaal Woensdagmiddag om te kyk hoe jy en Piet pak kry.”
“Skaam jou, Barry. ’n Mens staan gewoonlik by jou eie familie.”
“Nou toe, kyk dan wat julle kan doen. Annie, ek wil jou ’n guns vra.”
“Kyk, Barry, hier is die nuwe rooi roos waarvan Vader jou vertel het. Het jy al ooit in jou lewe mooier gesien?”
Annie pluk die roos af en wys dit vir Barry: ’n rooi roos, só donker fluweel dat dit amper swart lyk, ’n lang, perfek gepunte knop op ’n sterk, regop steel, met ’n geur soos alleen ’n roos kan hê.
“Ja, dis wonderlik. Oom Andries is ook altyd vir my een voor. Nes ek dink my roostuin is nou in alle opsigte syne se gelyke dan kom hy weer met ’n splinternuwe roos soos dié te voorskyn. Maar luister, Annie, ek wil hê jy moet Saterdagmiddag, oormôre, saam met Johan kom tennis speel op Wag ’n Bietjie.”
Sy oë is op haar gerig en hy sien hoe haar gesig onmiddellik verander by die noem van Johan se naam.
“Nee, Barry,” begin sy kopskuddend, maar hy val haar vasberade in die rede.
“Kyk, Annie,” sê hy streng aan haar, “ek is nou moeg vir die ding. Johan is ’n ordentlike, beskaafde mens en ’n baie goeie vriend van my, en ek hou niks van die manier waarop jy hom behandel nie. Wat het jy teen hom? Kom, sê nou vir my. Asseblief.”
Annie aarsel lank, haar oë op die rooi roosknop wat sy saggies tussen haar vingers draai, toe kyk sy ongelukkig op na hom.
“Ag, Barry, alles het sommer van die begin af skeef geloop. Johan de Kock het my met ons eerste ontmoeting kwaad gemaak en gevolglik het ek my sleg gedra teenoor hom en dit het natuurlik ’n gevoel tussen ons geskep … en die gevoel is nog altyd daar. En ek hou ook nie van die man nie. Hy’s te … te baasspelerig en … en, ag, ek hou sommer nie van hom nie. En dan kom julle nog almal met die bog van die man ‘vang’ …”
Barry se bruin oë, baie soos Annie s’n, tintel van plesier.
Saggies sê hy: “Ek dink jy opper te veel besware.”
Annie kyk hom vererg aan.
“Sien jy nou?” sê sy kwaad.
Barry plooi weer sy gesig ernstig.
“Annie, ek het nie gedink jy is so kinderagtig nie. ’n Mens maak mos maar heeldag sulke grappies en niemand vererg hom daaroor nie. Jyself het my al baie met meisies geterg, maar ek het hulle nie daaroor onhoflik behandel nie. Niemand wil hê jy moet vir Johan ‘vang’ nie, maar jy kan darem vriendelik wees teenoor hom. Die gevoel wat daar is, kom alles van jou kant af en ek dink dit het nou lank genoeg aangehou. Dis seker maar vir hom baie onaangenaam om heeldag teen so ’n suur gesig vas te kyk.”
Onwillig glimlag sy.
“Nou toe, sal jy kom?”
Maar Annie bly onwillig.
“Ek is seker hy sal liewer vir Kobie wil bring, Barry. Dit lyk my jy weet glad nie wat hier op die dorp aangaan nie.”
“Dankie, ek wil nie vir Kobie hê nie en ek wil ook nie vir Piet hê nie. Ek wil hê jy moet kom. Die Steyns en Letty kom ook. En Rita wil hê ons moet almal die aand op Swartkoppies kom eet. Toe, dis die laaste Saterdag wat julle kan kom. Volgende week begin die toernooie en dan is ons almal vir ’n lang ruk vas. Sal jy?”
“Goed,” sê sy, nog weifelend, maar nie bestand teen Barry se gepleit nie.
“Mooi so, Annie.” Hy neem haar hand, trek dit deur sy arm en hulle stap saam na die huis. Toe hulle die stoeptrappies oploop, sê hy: “Johan is ook hier. Oom Andries het ons genooi om ’n drankie te kom maak.”
Annie gaan staan botstil en kyk op in Barry se laggende oë, maar sonder om ’n woord te sê stap sy voor hom die huis in.
Johan en haar ouers is in die ruim, gesellige voorkamer. Johan, ook nog in sy tennisklere, sit luilekker in ’n gemakstoel, sy drankie langs hom, en terwyl hulle gesels, dwaal sy oë goedkeurend deur die mooi voorkamer. Die kamer laat hom aan sy eie ouerhuis dink. Stinkhoutstoele en -banke is ’n verfrissende afwisseling van die gewone rusbankstelle wat ’n mens oral aantref. Die skilderstukke teen die mure is almal oorspronklike werke van Suid-Afrikaanse skilders.
’n Rustige, gesellige kamer wat getuig van die goeie smaak van die huisvrou, maar terselfdertyd is dit ’n warm kamer wat die spore dra dat daarin geleef word. Meneer Celliers se ou pyp het op die stinkhouttafeltjie langs hom omgeval, maar blykbaar hinder dit niemand nie, een van Andries se skoolboeke lê op die rusbank se leuning en van Annie se musiekboeke lê bo-op die klavier.
Waarlik, dink Johan, dit is een van die strelendste kamers wat ek nog teëgekom het, en heimwee na sy ouerhuis, sy mense en sy wêreld oorval hom skielik. Hoe graag sou hy nie vanaand die son wou sien ondergaan het agter die berge nie; nog liewer sou hy op die rotse staan, die seeskuim verkwikkend teen sy gesig en arms en bene terwyl hy wag vir ’n grote om te kom kennis maak met die aas aan sy hoek; en hoe graag sou hy nie weer sy ma se gesig wou sien nie, vriendelik en bly en warm soos sy altyd is as hulle weer ’n keer terugkom huis toe. Maar kom, berispe hy homself, jy is nie ’n kind om te sit en treur oor jou ouerhuis nie. Jy is ’n man en hier is nog baie werk te doen. Hy het ook reeds hard gewerk, al sy kragte ingespan, en hy sien uit na die vakansie wat voorlê. Hy wil hê Barry moet saam met hom gaan sodat hulle weer kan gaan visvang soos hulle in die ou dae so graag gedoen het.
Net toe hy begin wonder waar hulle dan bly, kom Annie en Barry by die deur in. Barry knipoog laggend vir hom toe hy langs hom kom sit. Dit beteken seker sy sal saamkom, dink Johan. Mooi so. Ek is seker dit is al wat kortkom: dat ons die ding ’n slag goed uitpraat en uit die weg ruim om dan sonder spanning verder saam te werk.
“Toe maar, oom Dries, ek sal self skink,” sê Barry toe Andries Celliers wil opstaan uit sy stoel. “Annie het nou net vir my oom Andries se nuutste spogroos gewys. Oom bly maar vir Wag ’n Bietjie voor, nè?”
“Kom al die rose uit die tuin?” vra Johan geïnteresseerd.
“Ja,” antwoord meneer Celliers. “Jammer dit word nou te donker, anders sou ek graag vir jou my tuin gaan wys het, meneer De Kock. Die rose is nou so pragtig. Maar kom kyk gerus ’n ander dag.
“Graag, dankie.”
“Wil julle nie saam met ons eet nie?” vra Annie se ma toe Annie en Barry ook hul drankies gekry het. “Daar’s lekker sosaties, Barry.”
“Alte graag, tant Stienie. Wat sê jy, Johan?”
“Net so graag,” antwoord Johan sonder aarseling. “Maar ek dink ek het ’n bad nodig voor ek aan enigiemand se tafel kan sit.”
Graag sou hy nog ’n tydjie wil versuim in die gesellige atmosfeer van die Celliers se huis. Vanaand is hy tog nie lus vir sy studeerkamer nie. Tant Sannie se pynlik netjiese bedrywigheid laat sy kamers darem so koud en ongesellig lyk. Nooit is daar ’n boek uit sy plek nie en die stoele staan so stokstyf teen die mure.
“Kan ons nie sommer in oom Dries se dam spring nie? Ek sien Andries en Francis is al besig om te spat,” vra Barry.
“Natuurlik. Die dam is vol en gooi die seuns gerus maar uit as hulle in die pad is. Hier lê ’n paar swembroeke rond en ek sal darem vir julle elkeen ’n skoon hemp kan leen.”
“Dit sal heerlik wees,” stem Johan geesdriftig in. “Maar ek weet nie hoe dit daarna met die sosaties sal gaan nie.”
“Toe maar, daar is baie,” sê mevrou Celliers.
“Kom jy saam swem, Annie?” nooi Barry.
“Ek het klaar gebad, Barry. Ek is tog te lui om weer uit en aan te trek.”
“Jy’s bang ons sal jou duik, nè? Nou ja, bly dan heeltemal weg, hoor.”
“Moet Mammie nou vir hulle vra om hier te eet?” vra Annie, ’n plooi tussen haar wenkbroue toe Barry en Johan, vergesel van haar pa, dam toe is.
“Maar kindjie,” sê haar moeder sag. “Ek verstaan jou glad nie. Waarom kan ek nie vir hulle vra om hier te eet nie? Die man is tog Andries se skoolhoof, al wil jy ook nou geen verpligting teenoor hom erken nie. En Vader sal baie ontevrede wees as jy onhoflik is teenoor hom.”
“Ek is nie van plan om onhoflik te wees nie, Moeder,” sê Annie met ongewone ongeduld. “Wat kan ek vir Moeder help doen?”
“Alles is klaar, dankie.” Haar oë rus bekommerd op Annie en sag sê sy: “Waarom hou jy nie van hom nie, Annie? Ons dink dan almal hy is so gaaf.”
Annie druk haar wang ’n oomblik teen haar ma s’n.
“Hy is gaaf, Moeder. Dis sommer ek wat so ’n naarheid is.”
Die sosaties en vars tuisgebakte brood smaak heerlik.
Francis du Pré eet ook daar, maar gaan kort ná ete weg en Andries verdwyn ook na sy kamer om met sy skoolwerk aan te gaan.
“Het jy lus om bioskoop toe te gaan, Annie?” vra Barry toe hulle almal lui op die stoep sit.
“Nee, dankie, Barry. Dis vanaand te lekker buite om in ’n bedompige bioskoopsaal te gaan sit.”
“Ek stem volkome saam, Juffrou,” sê Johan lui, en Annie dink weer aan Kobie. Sou hy nie gretiger gewees het om saam met Kobie uit te gaan nie? Byna in antwoord op haar gedagtes vervolg hy: “Ons kan die bioskoop vir ’n ander aand bêre.”
“As julle nou regtig die sosaties wil verdien,” sê meneer Celliers, “kan julle ’n bietjie brug saam met my kom speel.”
“Ag nee, Andries, hulle is seker nie daarvoor lus nie,” protesteer mevrou Celliers, maar die twee jong mans is gretig om te speel, en ná hulle nog so ’n rukkie buite vertoef het, is hulle sitkamer toe. Mevrou Celliers, wat net so graag toekyk as wat sy speel, gaan haar breiwerk haal en kom sit by hulle.
Toe hulle trek, kom Johan en Barry saam.
“Watter kaarte gaan julle trek, Juffrou?” vra Johan.
“Kan julle nie maar die meneer- en juffrou-storie laat staan vir die skool nie?” wil Barry weet. “Die gedurige beleefdheid bring my totaal van stryk.”
“Ons kan seker,” sê Johan. “Maar ek het nog nie juis veel aanmoediging daartoe gekry nie. En jy weet ek is ’n verstandige man.”
Die aanval kom totaal onverwags en vang haar heeltemal onvoorbereid. Niemand wend ook die minste poging aan om haar te help nie, almal dink seker sy kry maar net wat sy verdien. Annie ignoreer dit dus maar en, volgens die beginsel dat aanval die beste manier van verdediging is, sê sy: “Kom, Pappie, dat ons die jong kêrels wys hoe om kaart te speel. Barry het seker al weer alles vergeet wat ons hom geleer het. Dis tyd dat ons hom ’n Culbertson gee om te bestudeer terwyl hy sy skapies oppas.”
“Sit, meisiekind,” sê Barry en plak haar in ’n stoel neer, “dat jou neef Barry vir jou wys waar Dawid die wortels gegrawe het.”
Andries Celliers is ’n ou brugspeler, ongetwyfeld die beste speler daar by die brugtafeltjie. Maar die ander drie is nie ver agter nie en die kaarte val mooi onpartydig. Die eerste pot gaan na die Celliers-gesin nadat dit halfpot elk was.
“Wil julle oortrek?” vra Andries Celliers.
“Nee,” sê Barry, “ons het hierdie een amper gehad. Die volgende een is ons s’n. Kom, Johan, hierdie pot moet ons neem, of ek hoor nooit die end daarvan nie.”
“Hulle raak senuweeagtig, Annie. Ons sal maar gou die genadeslag toedien,” sê Annie se pa.
Dit is later halfpot elk en dit gaan maar wurg-wurg aan albei kante toe Johan weer begin met twee skoppens. Geleidelik gaan hulle op tot Barry hom tot ses skoppens opstoot.
Annie het die aas, die boer en twee klein skoppens in haar hand gehad en nie ’n enkele kaart van hartens nie.
“Doebleer,” sê sy, en Johan betrag lank en versigtig sy kaarte. Hy kyk skielik op na Annie, asof hy wil vasstel wat sy in haar hand het, en vind haar bruin oë met ’n ondeunde flikkering in hul dieptes op hom gerig, ’n geamuseerde glimlag om haar mond terwyl sy sy ongemak geniet. Maar toe hy opkyk, verdwyn die laggie en sedig gaan haar oë na haar kaarte.
“Ek herdoebleer,” sê hy beslis. “Toe Barry, pak oop dat ek kan sien wat jy het.”
Hy maak ses, maar hy moet daarna mooi speel om dit te maak.
“Pragtig gespeel, Johan,” juig Barry. “Jy het Annie heeltemal koudgelei.”
“Ja, dit was oulik. Jy moes die aas van hartens op die klawers weggooi anders kon jy dit nie maak nie,” prys Andries Celliers.
Johan se oë gaan na Annie waar sy besig is om die telling op te skryf. Sy kyk op en glimlag effens.
“Mooi gespeel. Ek moes ook beter geweet het as om ’n wiskundige te doebleer.”
“Ja-nee, ons is ’n bietjie sterk vir julle,” spog Barry. “Negehonderd. Nie so sleg nie, nè, Annie?”
En Johan, sy oë weer op Annie se opgewekte gelaat, wonder hoe hy haar ooit met ’n koue sneeuklokkie kon vergelyk het.